Psalm 118:22-29; Filippense 4:4-7

Die gawe van vreugde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In nadenke oor die sake wat tydens huisbesoek die afgelope tyd in gesprekke met lidmate na vore gekom het, het dit my opgeval dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde.

Lidmate, en ook baie ander mense, vra deesdae een vraag al hoe meer: hoe kan ‘n mens, in tye soos hierdie, in omstandighede soos ons deesdae beleef, nog vreugdevol leef. Dit is eintlik nie moontlik nie. Want ons tyd laat dit nie toe nie.

Maar die behoefte is duidelik daar. Dit is baie duidelik. Anders sou mense nie hierdie behoefte, op een of ander manier, opgehaal het nie. Mense wil vreugde ervaar, hulle wil blye mense wees, hulle wil hulle lewens sinvol ervaar.

Oor die behoefte om bly te wil wees, om vreugde te wil ervaar, moet ons aan die begin een opmerking maak. Dit is nie maar net ‘n selfsugtige behoefte van mense nie. Nee. Ons is nie in hierdie behoefte besig met ‘n opsionele ekstra in die lewe nie. Inteendeel. Om vreugdevol te leef, is ‘n opdrag van God.

Dit sê Filippense 4:4 baie duidelik: ‘Wees bly’. Asook Psalm 118:24: ‘ dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees!’.

Dit is miskien te sterk gestel, maar ek glo dat ons geskape is om, naas baie ander dinge, gelukkig te wees. En as ons vreugde in die lewe misloop, loop ons daarom een belangrike rede vir ons bestaan mis. Want vreugde, leer God ons, is in ‘n sekere mate een van die grootste geheime van die lewe.

Hoekom, broers en susters, is ons egter baie min kere blye mense? Wat is die probleem? Ons sou seker baie redes kan noem. Maar miskien is die belangrikste rede vir ons gebrek aan vreugde dat ons so dikwels juis nie die dinge doen waarvoor ons geskape (en gered!) is nie. Dit is soos iemand een keer gesê het: ons sluit onsself in ‘n donker hok in die middel van ‘n donker kamer toe, en dan kla ons dat God ons daar hou. In kort: ons weier eintlik om die vreugde van elke dag, van elke dag wat God vir ons geskape het, te ervaar.

Maar kom ons vra eers, voor ons aangaan: as ons van vreugde praat, die vreugde waartoe God ons ‘n opdrag gee, waarvan praat ons? Die vreugde waartoe God ons opdrag gee, is nie oppervlakkige of gewone plesier nie. Gewone plesier is iets wat ons tydelik bly kan maak, kan maak dat ons tydelik van ons sorge en kommer kan vergeet, maar as die soort plesier verby is, is die kommer en sorge maar weer daar.

Die vreugde en blydskap waartoe God ons opdrag gee, broers en susters, is egter nie ‘n vreugde wat ons vir onsself kan skep nie. Ons kan dit net ontvang. As gawe uit God se hand. Vreugde wat ons nie maar net in staat om tydelik van ons kommer en sorge te vergeet nie, maar juis, desnieteenstaande ons kommer, probleme en sorge, elke dag, in elke omstandigheid, blye mense te kan wees.

Ware vreugde, broers en susters, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir die feit dat ek vandag, in hierdie dag wat die Here vir my gegee het, nog te kan leef, al is alles in hierdie dag nie reg nie. Want die lewe is mos maar so, broers en susters: ons lewens is hoofsaaklik werk en worsteling. Die meeste van ons bring die meeste van ons tyd deur, deur te wonder, te tas, te sukkel, soms te kruip en soms weer te hardloop, en dit alles teen die getik van die horlosie.

Hoe ervaar ‘n mens vreugde in sulke omstandighede? Wanneer ‘n mens besef: my lewe is ‘n geskenk uit die hand van God. Dit is goed dat ek lewe. Maar selfs meer: my lewe, ek, is ‘n gawe aan hierdie wêreld, en van my vra God nie om net self vreugde te ervaar nie, maar ook om die bron van ander se vreugde te wees. Juis omdat hierdie dag, elke dag, deur God aan my gegee is, en omdat, sê Filippense 4:5, in hierdie dag God naby aan my is.

Maar het ons enige aanspraak op vreugde, broers en susters? Mense vra hierdie vraag baie gereeld. Moet ons nie meer net eerder van hierdie opdrag om bly te wees vergeet en eenvoudig maar net aanvaar dat die lewe net moeite is nie? Nee, is God se antwoord. Julle het ‘n aanspraak op vreugde, want elke dag word deur My gegee. Wees daarom en daaroor bly!

Kom ons kyk na hierdie dag, elke dag, wat God vir ons gegee het in sy eenvoudigste betekenis. Hierdie dag, broers en susters, is elke dag. Daardie bladsy in die dagboek of daardie blokkie op die kalender. Hierdie dag is ook nie ‘n herhaling van gister nie. Hierdie dag is nie gister toe alles nog reg was en ek ongekende sukses beleef het nie. Hierdie dag is ook nie môre nie. Nie die toekoms waarin jy miskien die gejaagdheid van die lewe sal ontkom nie, of wat jy ook al sal bereik nie.

As die Here sê ‘wees bly oor hierdie dag’, dan is dit nie gister of môre nie, dit is vandag. Wat as dag op ‘n keer gelewe moet word.

Hoekom moet ons dit so letterlik verstaan? Omdat vandag die lewe — die ware lewe — is wat God moontlik gemaak het deur te sterf en op te staan en so die God te word wat elke dag by ons is. Wat beteken dat elke nuwe dag nie maar net dag is nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe toekoms, met die belofte van hoop wat daarmee saamkom. Die hoop dat môre beter sal wees.

Maar kom ons neem dit nog een stap verder. Wanneer Psalm 118:24 sê dat God hierdie dag gemaak het en dat ons die voorreg het om op hierdie dag te lewe, dan het God nie meer net nog ‘n dag gemaak nie, maar ook aan ons die lewe in nog ‘n dag gegee. Daarom, nie alleen ‘n dag wat aan Hom behoort nie, maar ook lewe wat aan Hom behoort. Lewe waarin ons die vreugde kan ervaar hoe God versorg, troos en help. ‘n Dag waarin ons die vreugde kan ervaar om God by ons te kan hê, en daarom te kan lag en te kan huil, te kniel en te kan bid.

Want ons lewe nog. In ‘n dag wat aan God behoort, terwyl ons in hierdie dag aan God behoort. Nog ‘n dag waarin ons nie alleen is nie, maar ‘n dag waarin die Here naby is. Daarom kan ons vreugde ervaar. Kan ons bly wees.

Want al kan alles in hierdie dag hoe verkeerd wees: God is by ons. Ons is nie alleen nie. En God gee nie alleen elke dag aan ons nie, Hy onderhou dit ook. En daarom kan ons bly wees. Moet ons bly wees. Want in hierdie dag leef ons dan waarvoor ons geskape is: om in God se teenwoordigheid, as God se kinders, onder God se versorging te kan lewe.

Tog, broers en susters, beleef baie mense hulle dae nie so nie. Miskien ons ook nie. Al stem ons saam met alles wat ons vanaand tot dusver gesê het. Hoekom nie. Ek verwys net na drie moontlike redes.

Sommige mense oordeel dat hulle dit nie verdien om vreugde te kan ervaar nie. Hulle is te sleg daarvoor. En bo alles, vreugde val nie maar net in ‘n mens se skoot nie. Daarom soek hulle daarna. Werk hulle daarvoor. Span hulle hulleself daarvoor met oorgawe in. Maar dit bly hulle ontwyk. Hoekom?

Omdat al die inspanning om vreugde te vind, juis die vreugde uit die lewe neem. Hulle span hulleself so in dat hulle vergeet dat elke dag uit die hand van God kom om te geniet en te beleef.

‘n Tweede rede hoekom sommige mense so vreugdeloos lewe is die illusie dat hulle die verantwoordelikheid dra vir al die ellendes in die wêreld. Dit is ons skuld dat alles so sleg en verkeerd is. Daarom moet ons iets aan alles doen.

God vra dit nie. God vra om te doen wat ons kan. Geniet elke dag, vind vreugde in die lewe as gawe en bring vreugde in ander se lewe. En dit wat, en dit waaraan ons niks kon doen nie, dit is so omdat ons nie anders kon nie.

‘n Derde rede vir ‘n gebrek aan vreugde is ongeloof. Ons maak van niks iets, en van iets rampe wat ons glo vir ons lê en wag. En in plaas daarvan om te glo dat God van ons rampe niks sal maak nie, maak ons van niks rampe. So steel ons ons eie vreugde, en voor ons sien, is ons lewens een stuk paniek.

Ek sluit af. Ware vreugde is nie plesierigheid nie. Dit kan nie self geskep of selfs gevind word nie. Dit is ‘n gawe uit die hand van God. Dit is dankbaarheid vir die gawe van elke dag, en die gawe van lewe in daardie dag.

Dit is om bly te wees dat God nog ‘n lewensdag, spesiaal vir my, aan my gegee het. Dit is om te weet dat in elke dag God naby aan my is. Dit is om te weet dat vreugde nooit sonder pyn en hartseer is nie. Want hierdie dinge is soms deel van elke dag.

Ware vreugde is ook om vir ander ‘n vreugde te wees. Om, soos God naby aan ons is, vir ander naby te wees. Om te doen wat ons hand vind om te doen. En in die aand tevrede te wees met wat ek vandag met my lewe gemaak het. En in die vertroue te gaan slaap dat môre nog beter sal wees.

Ware vreugde is die leef van die lewe, saam met God. Dit is nie om vreugde te gaan soek iewers waar alles in my lewe, volgens my, in plek sal wees nie. ‘n Geloof dat dit moontlik is, steel ons vreugde.

Wat wel moontlik is om elke dag, as gawe van God, uit God se hand, en soos God se hand teenoor ander te gaan lewe. Dan vind ons vreugde in ons bestaan. Dan vind ons vreugde in die wete: ek lewe saam met God.
Amen