1 Korintiërs 4:1-5

Die gawe van vryheid



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Iemand het op ‘n keer gesê dat een van die kunsies om goed en beskaaf te kan lewe, die kuns is om met jou kritici te kan saamleef.

Ons almal het diegene wat ons kritiseer. Daar is geen manier waarop ons dit kan ontduik nie. Kritici is oral. Sommiges is welkom, ander onwelkom, sommiges is baie nodig, en ander is eintlik maar net lasposte. Mense som ons op, takseer ons, weeg ons in hulle skale, en vorm menings oor ons lewens, oor ons doen en late. Soos ons ook maar soms te maklik met ander mense maak.

Sommiges mag dink ons is wonderlik, ander weer mag miskien dink ons is wandelende rampe. Party sê ons is te konserwatief, ander weer sê ons is i te liberaal, party oordeel ons te ongeërg, ander weer as te ernstig, sommiges reken ons is te heilig en ander weer dat ons alles behalwe heilig is.

Verder, broers en susters, het almal van ons ten minste drie kritici. En al drie hierdie kritici tel ons bates op en trek ons laste af. Maar sonder hulle kan ons eintlik nie lewe nie. Want ons het hulle eintlik broodnodig. Die vraag is egter, weet ons hoe om sinvol met hulle saam te leef?

Wie is hierdie drie kritici wat ons almal het? Die eerste kritikus in ons elkeen se lewe is hulle wat ons regtig liefhet, en regtig vir ons omgee. Hierdie mense is dikwels my pa of ma, ‘n baie goeie vriend of vertroueling, ‘n onderwyser of iemand vir wie ons baie respek het.

Hierdie mense oordeel en beoordeel ons omdat hulle ons liefhet en vir ons omgee. Hulle raas soms met ons, praat baie hard met ons, maar net omdat hulle vir ons omgee. Want as hulle nie omgegee het nie, sou hulle nie die moeite gedoen het om op hierdie manier ons te wou bystaan in die lewe nie.

En gewoonlik, broers en susters, omdat ons weet hierdie mense het ons lief en gee vir ons om, is hulle kritiek vir ons belangrik. En juis dit maak dit vir ons so moeilik om met hierdie kritici van ons saam te leef: ons wil hulle graag tevrede stel, en dit is nie al altyd moontlik nie.

Ons tweede kritikus, broers en susters, is onsself. Die mens beskik oor die unieke vermoë om een kant te gaan staan, en onsself aan te stel as jurie en regter oor ons eie lewens. En so kan dit gebeur dat ‘n mens self jou beste — of slegste — kritikus kan wees.

‘n Kritikus wie se stem ‘n mens in jouself nooit mag doodmaak nie. Ons mag nooit ophou om onsself te kritiseer nie. Want ons is nie altyd reg nie, ons tree nie altyd reg op nie, ons doen en leef nie altyd reg nie. Ons neem nie altyd die regte besluite nie. En omdat ons dikwels eintlik die enigstes is wat weet hoekom ons sekere dinge op ‘n sekere manier doen, moet ons maar so dikwels as moontlik in die spieël kyk.

Om jou eie kritikus te wees, het natuurlik ook sy nadele. Ons kan neulpotte word. Ons eie standaarde kan te hoog wees. Ons kan ons later self so oordeel dat dit lei tot veroordeling, en kort voor lank kan ons so maklik glo dat daar niks goeds of positiefs in onsself teenwoordig is nie.

Ons derde Kritikus, broers en susters, is Iemand wat ons nie kan sien nie, maar wat ons maar alte goed kan sien. Dit is God. Party reken natuurlik dat ‘n mens nie van God ‘n regter moet maak nie. Dat ons net oor God moet dink as die een wat liefhet en ons onvoorwaardelik aanvaar.

Maar dit is verkeerd. God se onbegryplike genade maak Hom nie minder krities nie, maak nie dat God sy oë sluit vir wat op aarde en in ons elkeen se lewens aangaan nie.

God, sê Paulus, verwag van ons om getrou te wees. God, sê hy, het ons almal bestuurders gemaak. Hy het ons elkeen bepaalde verantwoordelikhede gegee, ons aangestel om vir iets te sorg. Dus: Hy het aan ons elkeen bepaalde verantwoordelikhede gegee. En wat God vra is dat ons ons plig getrou sal uitvoer.

God vra nie van ons om onberispelik, fantasties en ongelooflik te wees nie. Net getrou. En om getrou te wees is om vas te stel waarvoor jy verantwoordelik is, en om dit na die beste van jou vermoë te doen. En daarom: juis omdat ons van nature so sondig is en altyd maar weer neig om juis die doel van ons lewens mis te lewe, is God die moeilikste kritikus om mee saam te leef.

Kom ek vat saam: dit is nou eenmaal maar moeilik om met jou kritici saam te leef. Die rondom ons kan ons nie altyd tevrede stel nie. Dit laat ons voel of ons vasgedruk word deur die lewe. As jou eie kritikus kan ons soms te hard op onsself wees, wat so maklik lei tot selfveroordeling. Later kan ek nie met myself saamleef nie. En God, voel ons, kan ons nooit tevrede stel nie.

Dit alles laat ons soms so vasgedruk voel, vasgevang in verwagtinge en eise en verantwoordelikhede en wat ook al, so vasgevang dat ons later nie meer vry voel om myself te wees nie.

En juis daarom, broers en susters, het ons die gawe van vryheid nodig. Hierdie gawe waarvan Paulus in ons gelese gedeelte praat. Hoe, sê Paulus hier, word ‘n mens vry om met ons kritici saam te leef?

Wat ons eerste kritikus betref, dié wat vir ons omgee en ons liefhet, sê Paulus, in vers 3: dit is nie vir my belangrik of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslik regbank beoordeel word nie. Wat bedoel hy hiermee?

Julle kan my gedrag evalueer en beoordeel. Dit is goed en reg so. En ek sal luister, want julle gee vir my om. Maar ek wil ook hê dat julle sal weet, nadat ek met my gewete voor God geworstel het, nadat ek goed oor dit nagedink het en daaroor gebid het, en dan met ‘n skoon gewete ‘n bepaalde besluit voor God geneem het, julle oordeel nie meer so belangrik is nie.

Julle oordeel is van belang, maar dit is nie alles nie. Want ek sal nie toelaat dat julle oordeel my voorskryf hoe ek moet voel oor wat ek doen en nie doen nie. Want in die laaste plek dien my saak nie voor julle nie.

Is dit werklik wat Paulus hier sê, broers en susters? Het hierdie selfde Paulus dan nie ook gesê dat ons diensknegte van mekaar moet wees nie? Dat God aan ons ander gegee het wat ons liefhet wat ons wil help en daarom goed na hulle geluister moet word nie? Dat ons bereid moet wees om onsself ook in die hande van ander te plaas wat ons liefdevol wil vorm nie?

Ja, broers en susters, dit is dieselfde Paulus wat hier praat. Verstaan egter mooi: Paulus sê nie hier dat hy nie vir die gevoelens van onder mense omgee nie. Wat hy wel sê is dat hy nie lewe om ander te behaag nie. Wanneer dit kom by die belangrike dinge in die lewe, moet ‘n mens maar rustig jou kritici opsy skuif en jou lewe in die eerste plek voor God leef. En nie toelaat dat ander jou intimideer, veroordeel of verdoem nie. Nee, sê Paulus, so lank ek weet dat ek betroubaar voor God lewe, sal ek vry hiervan wees.

Ek sal na ander luister, my eie gewete raadpleeg, bid oor dit wat ek moet doen, ernstig daaroor nadink, en as my gewete rustig voor God geraak het, dan sal ek dit doen. En my dan nie steur aan wat ander sê nie. Want in die eerste plek lewe ek voor God, en nie ander mense nie. In die eerste plek wil ek hê dat God met my tevrede sal wees, nie ander mense nie.

En kom ons vra onsself maar gerus op hierdie punt af: wie wil ons hê moet met ons tevrede wees? En wie se kritiek en verwerping ontstel ons die meeste? Mense se kritiek, of God se Gees wat ons aanspreek? Laat ons hier versigtig wees: as dit ander mense is wie se kritiek ons die meeste ontstel, en nie God se sagte stuur en praat deur sy gees nie, moet ons mooi gaan dink oor wie ons nou eintlik met ons lewens wil behaag.

Paulus sê: bevry jouself hiervan. Wat ander dink is natuurlik belangrik. Maar dit is nie die belangrikste nie. Want ons leef nie vir hulle nie. Ons leef in die eerste plek voor God.

Ons tweede kritikus — onsself — is soms die wreedste van al die kritici in ons lewens. Ek, sê Paulus in vers 3, laat dit egter nie toe nie. Ek beoordeel nie self my eie lewe nie. En dadelik wil ‘n mens sê dat Paulus hier seker ‘n grap maak. Want is Hy nie die een wat elders sê dat hy die grootste sondaar van almal is nie? Dat ‘n mens jouself moet ondersoek, die tyd moet uitkoop, jouself moet afvra waarheen jy op pad is, en seker maak wat jy glo nie? Is dit nie selfbeoordeling nie?

Hoe moet ons dit verstaan? Sou so antwoord: natuurlik ondersoek ek myself. Maar ek weet ek is sondaar, ek weet dat my eie onderskeidingsvermoë nie altyd gesond is nie, ek weet dat ek soms doodeenvoudig verkeerd kan wees. Daarom neem ek nie my eie oordeel altyd so ernstig op nie.

En is dit nie waar nie? Is ons eie oordeel nie soms maar net te onbetroubaar nie? Party van ons kyk na die lewe vanuit ‘n ligte kant, en daarom is niks vir ons ernstig nie. Ander weer kyk na grys en sien pikswart. Party van ons verskoon onsself te maklik, ander weer kritiseer hulleself te veel.

Ja, party van ons kry dit selfs reg om ons eie gewete voor God te bedrieg. En party van ons kan, op grond van ons eie oordeel, ons eie optredes soms met die grootste gemak regverdig, al sou dit hoe verkeerd wees. Maar net so is baie van ons met niks tevrede nie, ons kom onsself met swepe by, en vind niks goeds in onsself nie. Mense word so maklik die gevangenes van hulle eie onbillike standaarde en oordele.

En juis om hierdie rede oordeel Paulus dat ‘n mens nie altyd jou eie oordeel kan vertrou nie. En daarom moet ‘n mens in wese eintlik ook vry van jou eie oordeel word.

En dan, sê Paulus, kan jy voor God gaan staan. Vry van ander, en vry van jouself, staan jy dan voor God, die een Kritikus wat jy nie maar net kan ignoreer nie. Is dit goeie nuus of slegte nuus?

Dadelik klink dit soos slegte nuus. Want om voor ‘n Regter te staan wat volmaak in liefde, geduld en vergifnis is, wat nooit kompromieë aangaan nie, is eintlik verskriklik. Want God weet alles, Hy is oral, altyd oral. Teenwoordig tot in die diepste van ons menswees. Tot in die verborge van ons menswees. En wat meer is, Hy gee ons soveel geleenthede om foute te maak. Hy het nie van ons robotte gemaak nie. Hy stoot ons in sy wêreld in vol slaggate en lokvalle. En Hy gee ons die vryheid om oor alles te kan besluit en te kan kies. Besluit, sê Hy! Ek is en sal jou God wees, maar dit is jou lewe. Besluit, besluit, besluit!

Om so voor God te staan, broers en susters, laat ‘n mens in wese eintlik net met twee keuses: sommige leef asof God nie bestaan nie. Daarom hoef ek oor niks skuldig te voel nie. Die probleem is net, broers en susters, dat op’ n dag in elke mens se lewe hulle sal besef dat God toe wel daar was, en dan sal dit te laat wees.

Die tweede keuse wat ‘n mens kan maak, broers en susters, is om God te leer ken soos Hy werklik is. En dit was Paulus se geheim. Hy het die goddelike Regter op ‘n manier geken wat hom vrygemaak het. Hy het hierdie Regter aan die kruis ontmoet.

Daar, sê Paulus, het die beskuldigende vinger wat na ons reik, verander in ‘n hand wat na ons uitreik. Sy uitgestrekte arm met ‘n swaard van vergelding het daar verander in ‘n arm wat God se mense omhels.

En nou bly net die genade oor. Waar God sê: gaan lewe, poog om in alles betroubaar te wees. Ek is daar om jou te help. As jy foute maak, kom na my met opregte berou, en probeer dan weer. Poog om my te behaag. Nie ander nie. Nie jouself nie. Net vir my.

Kyk op na my. Hoor wat ander sê, wees eerlik met jouself oor jou lewe. Maar kyk op na My. Lewe met jou gewete voor My. En poog om betroubaar te wees.

En as jy fout maak, probeer net weer. En harder. Daar is geen veroordeling meer nie. Maak jou vry van alles, van ander, van jouself, behalwe van My. Ontvang die gawe van vryheid.

En gaan leef opreg en betroubaar voor My, dan sal jy waarlik vry wees!
Amen