Psalm 16; Prediker 11:7-12; Lukas 9:23-24

Die hoekom en die hoe van die lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Daar is twee vrae wat ons onsself dikwels in die lewe afvra, twee vrae wat enigiemand - wat erns met die lewe en lewe voor God maak - nie verby kan kom nie. Die twee vrae is: Waarom lewe ek? En hoe moet ek lewe?

Wat hierdie twee vrae impliseer, broers en susters, is dat die lewe tegelyk die mees vanselfsprekendste ding en die mees onvanselfsprekendste ding. Of, anders gesê: die lewe is tegelyk baie maklik maar tog baie moeilik, verstaanbaar en onverstaanbaar. En kom ek verduidelik dadelik wat ek hiermee bedoel:

Aan die een kant is die lewe vanselfsprekend omdat dit vir ons almal eenvoudig ‘n gegewe is. Niemand van ons het gekies om te lewe nie. Op ‘n bepaalde dag (of ons nog babas was of ouer - almal van ons onthou nie ons kinderjare ewe goed nie) was ons net skielik vir onsself daar. Het ons besef: ek lewe, ek is ‘n mens, ek is iets en ek is iemand. Met ander woorde, op ‘n dag het almal van ons besef dat “ek” deel is van al die dinge op hierdie aarde.

Dit het maar net gebeur. En nou is dit so. En of ek nou vir my ouers kwaad is omdat ek lewe, of vir myself kwaad is omdat ek lewe, of vir die lewe self kwaad is dat ek lewe, ek kan niks daaraan verander nie. Want ons is nou hier, ons lewe, en ons is deel van hierdie wêreld.

Maar tog, broers en susters, by al die vanselfsprekendheid van die lewe, is die lewe net so onvanselfsprekend. Want ons is nie soos plante of diere wat maar net op prikkels reageer of maar net kom en gaan soos die seisoene nie. Nee. Ons weet ons lewe. En omdat ons weet ons lewe, kan ons afstand doen van onsself, afstand neem teenoor die lewe, kan ons begin dink en besin oor die lewe. Met die gevolg: ons besef alte gou dat die lewe nie maar net ‘n vanselfsprekende of afgehandelde saak is nie. Dat die lewe nie maar net ‘n vanselfsprekende feit/gawe is nie, maar ook ‘n onvanselfsprekende opdrag/taak. Met ander woorde: ons besef gou dat die lewe nie maar net sy loop neem nie, maar dat die lewe gelewe moet word, dat met die lewe iets gedoen moet word.

Want die lewe werk nie sommer maar net vanself uit nie. Dit is ‘n verantwoordelikheid, ‘n kuns wat bemeester word. En daarom, om ons inleidende opmerkings af te sluit, is die vraag nie net “hoekom lewe ek” nie, maar ook, en veral, “hoe moet ek lewe”?

Psalm 16, broers en susters, antwoord albei hierdie vrae, te wete, hoekom ek lewe en hoe ek moet lewe. In die eerste plek leer die Psalm ons hoe ons dit moet kleinkry/verstaan dat die lewe ‘n gawe is wat ons nie self gekies het nie. Want alle mense, broers en susters, en kom ons wees maar eerlik, vind die feit van die lewe nie so aantreklik nie. Wanneer ‘n mens lief is vir lees, kom jy dit gou agter: dalk as gevolg van die twee Wêreldoorloë, die atoombedreiging, die agteruitgang van die wêreld, of selfs dalk as gevolg van die tye waarin ons persoonlik leef, sien baie mense/skrywers die lewe as die mens se tragiese lot, ‘n lewe waarin daar geen hoop is nie.

Soos een skrywer dit byvoorbeeld stel: daar is net een belangrike vraag wat die mens vir homself behoort of te vra, en dit is: moet ek selfmoord pleeg of nie. En kom ons wees maar eerlik: soos hy beleef baie mense die lewe as iets absurds, as ‘n dolle gejaag, ‘n verlore stryd, ‘n tevergeefse passie, ‘n gejaag na wind, iets wat eindig by ‘n hopie grond in die begraafplaas.

Die verrassende is, broers en susters, dat ons niks hiervan in die Psalm lees nie! Want vir die Psalmskrywer is daar een groot rede hoekom die lewe as gawe sin maak: die lewe is daar, sê die skrywer, omdat God daar is, omdat God wil hê ons moet lewe. Die lewe is God se gawe aan ons. Ons kies dus nie om te lewe nie, God het gekies dat ons sal lewe. En daarom lewe ons. Daarom is ons hier!

Maar meer nog, broers en susters. Die Psalm sê ook: God kies nie net dat ons sal lewe nie, maar kies ons om vir Hom te lewe. Want, sê die Psalm, wie God ontdek as die bron, oorsprong en sentrum van die lewe, ontdek dat die lewe ‘n bron van vreugde is en nie maar net ‘n stuk noodlot wat eindig in ‘n oop graf en later ‘n hopie grond waaroor die wind waai nie. Want kyk wat sê hy: Here, U is my lewe. U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. En later: By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.

Hoeveel van ons, broers en susters, is vanoggend bereid om hierdie woorde met dieselfde oorgawe te herhaal? Wie van ons is bereid om, omdat ons besef dat ons lewe omdat God wil hê ons moet lewe, bly te wees, vreugde te hê oor die feit dat die lewe vir ons gegee is? Of bly die lewe maar net vir ons ‘n bron van kommer, iets waaroor ons ons verkommer, ‘n bron van vrees en onsekerheid, van twyfel en verbittering.

Dus: Psalm 16 wil ons in die eerste plek leer hoe onchristelik dit is om so bekommerd te wees oor die sorge van die lewe, dat ons teen die lewe en teen onsself in opstand kom, en so al die blydskap wat die lewe kan bied, by ons laat verbygaan.

Ons tweede vraag was, “hoe moet ek lewe?”. Hierdie vraag antwoord die Psalm ook. Die lewe, sê die Psalm, is nie net vreugde nie. Dit is ook ‘n plig. Die lewe neem ‘n mens nie maar net saam nie. Ons moet dit gaan lewe. Ons moet iets daarvan gaan maak. Dit is iets wat geleer moet word. En daarom, impliseer die Psalm, is die vraag “hoe moet ek lewe” ‘n vraag wat niemand van ons maar net opsy kan skuif nie. Dit moet geantwoord word deur elkeen wat erns wil maak met die lewe, want dit is ‘n belangrike vraag.

Hoekom is die vraag so belangrik? Ten minste om twee redes.

Eerstens, sê die Psalmskrywer en Prediker, omdat die lewe nie vir altyd aanhou nie. Die lewe - hoe goed of vreugdevol dit ook al mag wees - gaan verby. Daarom, terwyl ons nog die gawe het om te lewe, moet ons dit reg gebruik.

Tweedens is hierdie vraag belangrik omdat, soos Prediker 11:9 dit stel, ons nie moet vergeet dat God van ons rekenskap sal eis oor alles nie. Met ander woorde: die lewe gaan nie maar net verby nie, daar kom ‘n punt wanneer die rekenmeester aan die deur klop en vra om die boeke te sien. En dan word die lewensboek geoudit, ‘n balansstaat word opgestel, ‘n staat van al die gawes wat God gegee het, en wat ons daarmee gemaak het.

En die ouditverslag sal net een van twee dinge sê: jy het die doel bereik waarvoor God jou laat lewe het, of, jou lewe het tot niks gekom.

Daarom, sê die Psalmis: die lewe is ‘n kuns wat ons moet aanleer. En by wie sal ons dit aanleer? Eenvoudig, sê die Psalm, by God. God self is die leermeester, Hy bring regte insig, die gawe om tussen goed en kwaad te onderskei, die wysheid om die afgode in ons lewens te herken, Hy bewaar teen struikeling.

Maar goed, sal u miskien nou sê, ons weet mos hierdie dinge, en dit klink alles wel baie mooi. Maar hoe leer God ons? Waar is Hy wanneer ons soms baie moeilike keuses moet maak? En, sal die jongmense onder ons miskien wil toevoeg, is God en die Bybel nie maar net dikwels die gerieflike iets wat ons ouers, die dominee, grootmense en ander gebruik om hulle eie voorkeure en idees oor ‘n korrekte lewe op ons af te dwing nie? Buitendien, kan ons die kerk, wat so vol gebreke is en in die verlede self al gedwaal het, ernstig opneem oor die manier van lewe?

Daar is nie maklik en eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie, broers en susters. Ek wil en kan nie ook op almal antwoord nie. Maar tog meen ek dat ons miskien vir ‘n slag weer die Psalmskrywer ernstig moet opneem wanneer hy sê: Here, U leer my om te lewe. Hoekom?

Want hierdie U (d w s, God) wat ons leer om te lewe, het ons kom wys hoe om te lewe. Eers het ons by ‘n stal in Bethlehem die voorreg gehad om God se menslike gesig te sien, en 33 jaar later, aan ‘n kruis, die voorreg om sy hart te sien. Sy hart van liefde wat gemaak het dat Hy kom sterwe het sodat ons die lewe - vir altyd - kan hê.

God is daarom, broers en susters, sonder enige teenspraak dié Een wat ons kan leer hoe om te lewe. En hoe, het Hy geleer, deur eie voorbeeld, lewe ‘n mens? Miskien vir baie van ons baie moeilik, maar eintlik tog so eenvoudig: jy lewe die ware lewe deur jou eie lewe weg te gee. Want eers as jy jou eie lewe weggegee het werk die Gees van God in jou lewe en word ons geleer hoe om te gaan lewe.

Of, anders gesê: ons leer hoe om te lewe, ons bemeester die kuns van die lewe, deur dit te verloor, deur as’ t ware jouself uit jou eie lewe weg te neem, en die ruimte wat daardeur geskep word, te vul met God, en die dinge wat God aan jou gee, wat beslis bestaan uit ander mense.

Dus, broers en susters: die twee vrae wat ons aan begin gestel het, naamlik “waarom lewe ek” en “hoe moet ek lewe”, is eintlik maar dieselfde vraag. Want om waarlik te lewe, is omdat God wil hê ek moet lewe, en wil hê ek moet vir Hom lewe.

Dit sal ons egter eers verstaan as ons woord vir woord saam met die Psalmskrywer kan en wil sê:

U leer my hoe om te lewe
By U is daar oorvloedige blydskap
Uit U hand kom net wat mooi is.

As ons egter blydskap op ‘n ander plek soek, en glo iets of iemand anders kan ons leer hoe om te lewe, sal ons nie aan die einde van ons lewens anders kan as om te sê: maar is alles tog nie maar tevergeefs nie!
Amen