Efesiërs 4:17-5:5

Die krag van die kruis



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar word vertel dat op 'n keer die inwoners van 'n klein dorpie op 'n dag besluit het om 'n houtkruis op te rig as simbool van die Christelike godsdiens wat eeue lank al in die dorp beoefen is. Die plaaslike skrynwerker, alles behalwe die vroomste onder die vromes, het die opdrag gekry om die kruis te maak. Die man het hom baie goed van sy taak gekwyt en binne dae was die kruis klaar, mooi afgewerk en blink gepoleer. 'n Biskop van Rome sou kom om die kruis in te seën op die dag van oprigting, maar iets gebeur toe wat sy koms vertraag, en vir drie weke het die kruis in die skrynwerker se werkwinkel gestaan, daar in die hoek tussen sy ander maaksels en skeppings.

Die houtkruis het egter so 'n bietjie op die skrynwerker se senuwees gewerk, want wanneer hy so bietjie geswets het, of so 'n bietjie te veel gedrink het, het hy skuldig gevoel. En wel in so 'n mate dat hy na 'n week of wat heeltemal ophou swets en drink het, en selfs in die aand, net voordat hy toegesluit het, na die kruis gekyk en saggies geprewel het: `Goeie nag'.

Luister maar na die verhaaltjie vir wat dit werd is, broers en susters, maar dit laat 'n mens wonder: as 'n dooie houtkruis iemand se lewe so kan verander, hoeveel te meer kan die Here — wat gesterwe het en weer lewe — dit nie doen nie? Want die evangelie is, sê Paulus, 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Romeine 1:16). Met ander woorde, die evangelie is 'n krag van God wat mense verander.

Oor hierdie verandering wat die evangelie in 'n mens se lewe bring, broers en susters, is Paulus baie duidelik in veral Efesiërs. Kyk watter pragtige beelde gebruik hy om iets te sê van die verskil tussen die wêrelde van die ou mens sonder Christus en die nuwe mens in Christus: dit verskil soos lig en duisternis (Efesiërs 5:8), slaap en wakker wees, lewe en dood (Efesiërs 5:14), verstandig en onverstandig (Efesiërs 5:15), en soos Gees en sondige natuur (Galasiërs 5:16). Of, soos Paulus in 2 Korintiërs 5:17 sê: iemand wat aan Christus behoort, wat aangeraak is deur die evangelie van redding as krag van God, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Wat meer is, sê Paulus, hierdie verandering raak die hele mens, dit raak sy gees en gedagtes (Efesiërs 4:23), sy tong en sy taal (Efesiërs 5:14), sy sedelike lewe (Efesiërs 4:19; 5:3), selfs sy dagarbeid (Efesiërs 4:28). Met ander woorde, sê Paulus eintlik, die evangelie eis alles van die mens op. Daarom kan hy in Efesiërs 4:22 en 24 dit benadruk: Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens, lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Hou op, breek, volkome — dit is sterk woorde wat Paulus hier gebruik broers en susters. Maar tog: woorde waaroor ons geen illusies moet hê nie: daar is nie iets soos 'n halwe gelowige, skyngelowige of skramsgeraakte Christene nie. Want die evangelie, sê Paulus baie duidelik hier, is nie tevrede met 'n ‘en – en’ aanpassing van ons lewens nie, maar alleen 'n ‘of - of'’verandering.

Hoekom, sal u miskien vra, broers en susters, benadruk ek vanaand hierdie saak van verandering so geweldig? Ons ken dit mos. Ons weet dit mos. Ons het mos al baie daarvan gehoor. Ons probeer dit mos. Kom ons antwoord hierdie vraag met nog 'n vraag: hoekom benadruk Paulus, die Bybel hierdie saak van verandering so geweldig, die feit dat as jy werklik in die evangelie glo, dit eintlik nie sonder verandering van lewe gepaard kan gaan nie?

Paulus beklemtoon dit so intens, broers en susters, omdat daar blykbaar die verskriklike — amper haas onmoontlike — moontlikheid bestaan dat die mens die evangelie kan hoor, vir Christus kan leer ken, onderrig kan word in die waarheid aangaande Christus, en selfs oënskynlik sy volgeling kan word (Efesiërs 4:20-21), en dat niks aan jou en in jou verander nie. Dat jy nog steeds leef in die duisternis, in die ou bestaan, in die bestaan van die dood.

Ek meen, broers en susters, dat dit die verskriklikste is wat met 'n mens kan gebeur. Dat iemand die evangelie hoor, Sondag na Sondag die evangelie hoor, hoor van die kragte van die toekomstige eeu, die verlossing, die wederkoms, die ewige lewe by God, die sinvol-maak van hierdie lewe deur God, maar dat so iemand die Gees bly weerstaan in sy of haar lewe, 'n streep bly trek deur die kruis, die Heilige Gees bedroef (Efesiërs 4:30), dieselfde ou mens bly wat gewetenloos in die sonde bly voortwoeker, niks verander nie, en hoegenaamd nie groei na die beeld van God nie.

Dink u, broers en susters, dat so iets nie moontlik is nie? Dit is. En wat meer is, miskien het dit al met ook ons gebeur, sonder dat ons dit besef. Want kan ons nie sê: ons het mos Christus leer ken, ons is mos onderrig in sy waarheid, en ons het mos sy volgelinge geword. Die kruis is immers al langer as drie eeue in ons land, nie net drie weke soos in die skrynwerker se winkel nie.

Wat meer is: baie van ons kom uit 'n ‘Christelike’ huis, ons behoort aan 'n ‘Christelike’ kerk, ons is gedoop in 'n ‘Christelike’ kerk, ons het belydenis van geloof afgelê in 'n ‘Christelike’ kerk, die meeste van ons is en word geskool in 'n ‘Christelike’ instansie, ons vorm deel van ten minste 'n ‘Christelike’ omgewing/gemeenskap, en ons tree soms heel ‘Christelik’ op. Daarom moet ons mos deur en deur ‘Christene’ wees. Maar ons moet pasop, broers en susters, want met so ‘n houding kan ons net so wel deur en deur verlore wees.

Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog wat in 1945 deur die Duitse regering vermoor is omdat hy onder andere Hitler se regering as onmenslik/goddeloos beskryf het, het oor hierdie saak 'n aangrypende boek geskryf. Die groot kwaal van die kerk, het hy gesê, is goedkoop genade: wanneer genade op die vlooimark as 'n spesiale aanbiedinge op 'n uitverkoping uitverkoop word, en die sakramente, die vergifnis van sonde en die troos van die evangelie sommer so by die winskopies ingesluit word, word hierdie dinge (genade, versoening) 'n gevaar en 'n dodelike vyand van die Kerk.

Goedkoop genade, het Bonhoeffer gesê is

  • die verkondiging van vergifnis sonder die oproep tot ware en opregte berou en skuldbelydenis;
  • die bediening van die doop sonder kerklike toesig en opsig oor die ouers daarna;
  • die gebruik van die Nagmaal sonder ware berou;
  • vryspraak/versoening sonder gehoorsaamheid;
  • genade sonder dissipelskap;
  • ja, dit is eintlik geloof sonder Christus en die krag van die kruis wat mense verander, dit is geloof en godsdiens as vorm en gewoonte.

Nou wil ek beweer, broers en susters, dat as ons waarlik kerk wil wees, as ons kerk vir onsself en ander wil wees, ja, ek wil selfs sê, as ons kerk wil wees vir 'n land vol van doodslag, geweld en korrupsie, sal ons weer die betekenis van duur genade moet ontdek. Om maar net een voorbeeld te noem: ons lewe in tye van geweldige verandering. En nie nou maar net weer politieke nie, maar ook sedelik, moreel/eties, ook wat byvoorbeeld ons skole se leerplanne betref.

As ons nie verlore wil gaan nie, sal ons, waar ons kan, wanneer ons kan, en soveel as wat ons kan, aan hierdie veranderinge evangeliese inhoud moet gee. Wat nie beteken dat ons die evangelie verdun om by die veranderende tye aan te pas nie, maar die tye by die evangelie.

Ons moet die genade duur hou deur die boodskap van die krag van die kruis in te dra in die woon- en werkplek, in die wetenskap, in die kuns, in die kultuur. In die skool, en, glo dit as u wil, in die kerk. Veral in die kerk. Dat ons in die kerk nooit vergifnis sal verkondig sonder om kragdadig op te roep tot ware en opregte skuldbelydenis nie, dat ons na die bediening van die doop die kerklike toesig en opsig konsekwent sal toepas, dat ons mense ernstig sal waarsku teen die gebruik van die Nagmaal sonder ware berou, dat ons ernstige vrae sal begin vra waar die vryspraak/versoening sogenaamd aanvaar is, maar geen gehoorsaamheid sigbaar is nie, ja, dat ons die wenkbroue sal begin lig waar gesê word ‘loof die Here vir sy genade’, maar geen dissipelskap sigbaar word nie.

Of, in kort: dat waar mense sê hulle glo in Jesus Christus, in die krag van die kruis, dit wat mense verander, maar geen verandering sigbaar is nie, dat ons vir 'n slag daaroor sal praat. Veral in die kerk. Want hier is ons tog sogenaamd met God besig. Hier handel ons tog primêr oor die versoening. Hier leef ons tog in die eerste linie, en eintlik die maklikste — want hier is mos net Christene saam met ons — waarin ons die krag van die kruis moet uitleef. Doen ons dit, broers en susters?

Ek sluit af. Paulus sê: die evangelie is 'n krag van God, redding vir elkeen wat glo. Die evangelie is 'n veranderende krag, dit is 'n krag wat mans genoeg is vir die donkerte, vir hartseer, vir die dood. Dit is 'n krag wat mans genoeg is om ons elkeen so te rig en stuur dat ons werklik voor God gehoorsaam wil en kan lewe. Die krag van die kruis is nooit te min of skiet nooit tekort nie.

Ons kan mense en onsself nie verander nie, maar die evangelie kan. Want deur die hoor van sy evangelie, en deur sy genade maak die Here ons van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe, selfs al tel ons nie onder die vroomste van die vromes nie.
Amen