2 Korintiërs 4:1-6, 16-17

Die lewe is net ‘n oomblik



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Voor die sonde in die wêreld gekom het, het niemand almanakke gedruk, horlosies gedra of begraafplase nodig gehad nie. Adam en Eva het in ‘n wêreld sonder tyd gewoon. Daar was nie ‘n begin en ‘n einde nie. Want die mens was na die beeld van God geskape.

Maar toe kom die sonde. Toe rebelleer die mens teen God. En toe verander alles. Die lewe het begin bestaan uit jare, weke, dae, ure, minute en sekondes: meetbaar en telbaar. En daarom sit ons vanoggend hier, broers en susters, met tyd in ons sak, maar hoeveel tyd weet ons nie presies nie. Dit kan dalk dekades wees, dalk jare, of miskien minder. Dalk net ‘n paar weke, dae of selfs net oomblikke. Want ons sakke sal leeg word, en ons tyd sal verbygaan. Ons lewe is net tydelik.

En dit geld vir almal van ons, en vir alles op hierdie aarde. Behalwe vir God. Hoor wat sê Jesus in Johannes 8:58: ‘Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is’. En Jesaja 57:15: ‘Hy wat hoog verhewe is, Hy wat ewig leef ... Hy lewe in ‘n hoë en heilige plek’.

En so kan ons aangaan, broers en susters. Kom ek noem u nog ‘n paar voorbeelde: God is van altyd af daar (Ps 93:2); Hy is die Koning vir altyd (Jer 10:10); Hy is onverganklik (Rom 1:23); Hy alleen besit onsterflikheid (1 Tim 6:16); die hemel en die aarde sal vergaan, maar God bly dieselfde (Ps 102:28), en Job 36:26 sê dat die mens eerder al die sout in die oseaan sal kan meet, eerder as om God se jare te bereken.

Dus: volg ‘n boom terug na die saadjie, speur ‘n rok terug tot sy begin in die fabriek, neem ‘n kind terug tot by sy ouers en sy geboorte. Dit kan. Maar speur God terug tot by wat? Of by iets?

Dit kan nie. Nie eers God het God gemaak nie. Daarom sê Jesaja 43:13 ‘nou en vir altyd is Ek God’, en daarom sê Jesus in Johannes 8:58 ‘voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is’. Let mooi op wat Jesus nie sê nie. Hy sê nie voordat Abraham gebore is was Ek al wat Ek was nie. God sê nooit ‘Ek was nie’. Want Hy is. Want Hy is ewig. Hy leef nie in opeenvolgende oomblikke of sekondes nie. Sy wêreld is een groot, ewige oomblik.

Daarom, broers en susters, as ‘n mens ‘n bietjie oor hierdie ewigheid van God wil nadink, sien God die geskiedenis nie as ‘n reeks eeue nie, maar as ‘n enkele foto. Hy vang u en my lewe in ‘n enkele oogopslag vas. Hy sien ons geboorte en begrafnis in een raampie. Hy ken ons elkeen se begin en einde, want Hy het nie ‘n begin of einde nie.

Dit is ‘n mondvol, broers en susters. En daar is ‘n rede voor. Want ons leef so tydgebonde, en die hier en die nou is soms vir ons so oorweldigend dat dit al is wat ons kan raaksien en beleef. Ons dink in terme van tyd, ons leef in terme van tyd. Ons lewe is tyd. En tydgebonde. Daarom is ons begrip van dit wat ewig is, van dit wat ewigheid beteken, so gebrekkig.

Maar die feit van die saak is: al verstaan ons nie wat ewigheid beteken nie, ons besit dit. Al is ons tydelik gebore, in Jesus Christus is ons deur die geloof weer gebore, en so het ons deel van dit wat ewig is geword. Deur die geloof strek ons lewens verby die agterplaas van tyd, en lok die ewigheid by God ons. Ons lewe hier tydelik, maar eendag by God ewig.

Hoe sou ons hierdie twee lewens met mekaar kan vergelyk om iets daarvan te verstaan? Ewigheid sal soveel wees as al die sandkorrels op elke strand in die wêreld (plus nog, want dit is ewig), en ons aardse lewe sal een honderdste van een sandkorrel wees. Of kom ons sê dit anders: in terme van die ewigheid, is ons aardse lewe eintlik net een oomblik. Ons hele aardse lewe. Net een oomblik. En niks meer as dit nie.

Paulus sê presies dieselfde in 1 Korintiërs 4:17. ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering (lui die NAV), dit is maar net ‘n oomblik (lui die OAV): ‘Want ons ligte verdrukking wat net vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewigheid...’.

Wat hierdie opmerking van Paulus merkwaardig maak, broers en susters, is wanneer ons in ag neem hoe sy lewe gelyk het toe hy hierdie woorde geskryf het: ek was dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar, vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry, en een maal is ek met klippe gegooi, drie maal het ek skipbreuk gely, en een maal het ek ‘n dag en nag op die oop see deurgebring. Ek het gevaarlike rivierreise onderneem, was op swerftogte in die woestyn, en was blootgestel aan koue, aanvalle, honger en dors (2 Kor 11:23-25).

En, sê Paulus, dit was alles maar net ‘n oomblik. ‘n Kort sekondetjie. Want as ek dit moet vergelyk met die ewigheid wat wag, was dit eintlik niks. En die moeite werd.

Wat sal gebeur, broers en susters, as ons dieselfde houding teenoor die lewe inneem? Of, kom ek sê miskien eers wat normaalweg ons houding teenoor die lewe is. Wanneer ons swaar kry, wil ons uit die lewe uit. Ons wil hê dit moet verbygaan. So gou as moontlik. Ons wil daaruit. En wanneer ons voorspoed beleef, wil ons hê dat dit moet aanhou. Ons wil nie daar uit nie. So asof dit alles is waaroor die lewe gaan.

Maar wat sal gebeur, broers en susters, wanneer ons besef dat ons hele lewe, of dit nou 50, 60 of 70 jaar is, eintlik maar net ‘n oomblik is in terme van die ewigheid waaraan ons almal deel het? Ons sal in die lewe inklim, met alles wat ons het. Ons sal elke oomblik lewe asof dit die laaste oomblik is.

Ons sal, soos Paulus in vers 1 sê, die praktyke wat nie die lig kan verdra nie, vermy. Ons sal nie met bedrog omgaan (en wat dit alles beteken), en nie die evangelie van God vervals nie (wat dit ook alles beteken; vers 2). Ons sal ons lig in elke stukke duisternis laat skyn (vers 6). En ons sal nie moedeloos word nie (vers 16).

In kort: ons sal elke oomblik (van swaarkry of voorspoed) voluit lewe. Ons sal met alles wat ons het in die lewe inklim. Ons sal nie ophou om goed te doen nie. Ons sal nie een geleentheid laat verbygaan om iets van die vrede, liefde en genade wat God vir ons het, aan ander uit te deel nie. Hoekom nie? Want as ons sal besef: ek lewe hier maar net ‘n oomblik.

Ons het net een oomblik, broers en susters, om betrokke by ander te wees. Ons het net een oomblik om by ons gemeente betrokke te wees. Ons het net een oomblik om vir ons kinders en ander lief te wees. Ons het net een oomblik om onvoorwaardelik te vergewe. Ja, ons het eintlik net een oomblik om te leef. Want die lewe is net een oomblik. Die ewigheid wag, maar hier is ons deel van net een oomblik.

Ek sluit af: Jesus sê in Johannes 11:26 die volgende woorde wat op ons elkeen, op almal wat glo, betrekking het: ‘en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nie sterwe nie’. Wat eenvoudig beteken: ons lewe reeds ewig. Ons sal eendag almal sterwe, maar eintlik ook nie. Ons lewe reeds ewig saam met God. En ‘n gedeelte van hierdie ewige lewe saam met God is ons aardse lewe. Wat, in terme van ons ewigheid by God, maar net ‘n oomblik is. Niks meer as dit nie. Niks minder as dit nie.

Daarom moet ons elke oomblik gebruik. Om goed te doen. Om te lewe. Om bly te wees. Om te vergewe. Om lief te hê. Want voor ons sien, is die oomblik verby. Is die oomblik wat ons lewe is, verby.

Of het ons vergeet hoe kort ‘n oomblik regtig is?
Amen