Johannes 4:19-5:5

Die misterie van die evangelie?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die bekende kerkvader Augustinus het op ‘n keer die volgende oor God gesê: God se oordeel het my nog nooit verbaas nie, maar sy genade verstom my steeds.

Wanneer ‘n mens so bietjie nadink oor dit wat Augustinus gesê het, broers en susters, kan ‘n mens amper nie anders as om met hom saam te stem nie. Want kyk maar net na ‘n paar voorbeelde van God se oordeel in die Bybel:

  • Sodom en Gomorra, die sondige stad waarvan ons in Genesis 19 lees, word deur God verwoes met vuur en swael. Reg so, sê ons, want in daardie stad kon God nie eers vyftig gehoorsame mense kry nie.
  • Adam en Eva word verban uit die tuin. Reg so, voel ons, want die een verbod, die enigste verbod (om nie van die boom in die middel van die tuin te eet nie), wou hulle nie eers gehoorsaam nie.
  • Die Egiptenaars verdrink in die Rietsee wanneer hulle Moses en die Israeliete vervolg om dood te saai. Goed so, sê ons, hulle het immers die volk Israel vir baie lank verdruk. Eintlik verdien hulle dit.
  • Die volk word vir hulle sonde deur God gestraf deurdat hulle veertig jaar in die woestyn moet rondswerf sodat God hulle van hulle hardkoppigheid kan genees. Heel waarskynlik reg, voel ons , hulle het mos ‘n keuse gehad om van die begin af gehoorsaam te wees.
  • ‘n Laaste voorbeeld: Ananias en Saffira word gedood omdat hulle vir God (die Heilige Gees) probeer bedrieg het. Hulle verdien dit, voel ons.

Ons verstaan dit, broers en susters. Al hierdie voorbeelde wat ek so pas genoem het. God het tog immers gehoorsaamheid gevra. Van hierdie mense het tog duidelik so opgetree dat hulle God se oordeel verdien het. Daarom, as God dan besluit om te oordeel en te straf, verstaan ‘n mens dit.

Maar God se genade, broers en susters? Verstaan ons dit altyd? Ek wil amper sê: verstaan ons enigsins ‘n fraksie daarvan? Want kyk maar net na ‘n paar voorbeelde in die Bybel van hoe groot God se genade is:

  1. Dawid die digter word Dawid die moordenaar (deur Uria reg voor in die oorlog te laat veg), maar hy word later, deur God se genade, weer Dawid die digter.
  2. Petrus verloën Jesus, desondanks al sy vrome beloftes. Maar later word Petrus die een op wie God sy kerk bou. Die verloënaar word verkondiger.
  3. Dink maar aan Saulus, die vervolger van die volgelinge van Christus, wat Paulus word en so Jesus Christus verkondig dat hy later self vervolg word omdat hy in Jesus Christus glo.
  4. Of neem Saggeus, die skelm belastinggaarder. Hy het so min tyd vir sy naaste, sy eie mense gehad, dat hy hulle besteel het. Maar Jesus roep hom uit die boom, vergewe hom en gaan tuis in sy huis.
  5. Dink aan die misdadiger aan die kruis. Een oomblik op pad na die ewige verdoemenis, die volgende oomblik op pad na die ewigheid by God.
  6. ‘n Laaste voorbeeld: Aan die kruis hang Jesus Christus. Aan daardie kruis word die hele wêreld se opstand en sonde teen God vasgespyker. Ook joune en myne. En ons verdien niks, maar niks, daarvan nie.

En so, broers en susters, sou ‘n mens een voorbeeld, een geval na die ander kon opnoem. Die bladsye van die Bybel staan vol geskryf daarvan. Een verrassing na die ander. Soveel voorbeelde dat ‘n mens amper wil sê: God vind maniere om ons sy kinders te maak, keer op keer, soveel meer as die kere wat hy oordeel en straf.

Wat meer is, broers en susters, is dat ons op die bladsye van die Bybel geen voorbeeld kan vind van mense wat in opregtheid, met nood, na God gekom het, en deur God weggewys is nie. Mense op soek na genade, op soek na redding, mense met leë hande, wat nie een keer met leë hande weggestuur is nie. Blaai maar deur die Bybel, broers en susters. Lees die verhale, veral in die evangelies. Stel u daardie ontmoetings voor. En ons sal nie een, nie een, voorbeeld vind van mense, belaai met skuld en sonde, wat kom soek het na genade, en moes weggaan met ‘n afranseling nie.

Dink maar aan die kindertjies wat na Jesus gebring is, of gekom het. Die dissipels wou hulle wegkeer. En Jesus? Sy antwoord was: die koninkryk is juis vir mense soos hulle. Hulle wat kom in totale afhanklikheid. Dink maar aan die blinde daar op die pad na Jerigo. Hy het gehoor Jesus kom verby. Hy het om hulp gesmeek. Die dissipels het hom probeer stilmaak, want Jesus was immers besig om die skare toe te spreek. Maar Jesus het dit gehoor, en hom uitgered uit sy nood.

God, broers en susters, gee baie meer genade as wat ons kan dink. Dit is hoe ek God verstaan. Dit is wat ek lees as ek deur die bladsye van die Bybel blaai. Maar wat meer is: God verwag dieselfde van ons.

Wanneer ons sê dat God se oordeel deur sy genade oorskadu word, broers en susters, glo ek nie dat ons die evangelie iets soetsappigs maak, of God se oordeel afwater nie. 1 Johannes 4:7 sê immers duidelik, God is liefde. Hy kan nooit uit sy liefde vir die sondaarmens tree nie. Want dan sou Hy, impliseer 1 Johannes, nie meer God wees nie. Hy het ons eerste liefgehad, sê 1 Johannes 4:19. Daar is en was vir ons groot genade: En daarom: ons moet ook liefhê, by ons moet ook genade wees. Want wie sê ‘ek het God lief’, maar so iemand haat my broer, so iemand is ‘n leuenaar.

Gryp die genade, sê God, ontvang die liefde, dit is nie ‘n afgewaterde aanbod nie, maar moet nie dit wat julle ontvang gaan afwater deur te dink wat julle ontvang nie ook uitgedeel moet word nie.

Maar hoe kry ‘n mens dit reg, broers en susters? Ons is dan so anders as God, die sonde oorwoeker dan so dikwels ons lewens. Al is dit so dikwels alles behalwe ons bedoeling. Daarom is hierdie vraag, broers en susters, ‘n belangrike vraag, dit is allesbehalwe ‘n vraag om uit te kom uit dit wat God van ons vra.

Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, is wat ek die misterie van die evangelie van Jesus Christus wil noem. Of kom ons gee dit ‘n korter naam: geloof. 1 Johannes 5:1-5 verduidelik dit so: ons is God se kinders, ons noem God Vader, omdat hy aan ons die geloof geskenk het. Wanneer God geloof skenk, skenk God aan ons soveel dinge dat ons dit nie eers kan opnoem nie.

Hy skenk ons sy Gees, Hy skenk ons nuwe harte en gedagtes, Hy skenk ons die insig om te kan oordeel, om te kan onderskei, Hy skenk ons ‘n nuwe gesindheid, Hy skenk ons liefde. Liefde wat ons, totaal onverstaanbaar, soos ‘n misterie, oorwoeker, ons van binne af uit nuut maak, ons anders laat dink en kyk. Ons verstaan dit nie. Dit is amper iets soos ‘n geheimenis, dit wat met ons gebeur. Ons dink anders. Ons behoefte is nie meer om ons natuur te volg en God en ons naaste te haat nie, nee, ons behoefte, ons begeerte, is nou om God lief te hê, na Hom te soek in ons lewe, en soos hy ons vind, soos Hy ons in liefde vind, ander te gaan soek in liefde en te vind.

Hoekom dit so is, weet ons nie. Hoekom ons hierdie begeerte, hierdie drang het om te soek, te versorg en lief te hê, verstaan ons nie, maar dit is daar. Dit is daar omdat God ons die geloof gegee het, ons eerste liefgehad het. Omdat God, toe ons na Hom gegaan het met ons laaste krag, as ons laaste hoop, nie met ‘n teregwysing weggestuur het nie, maar ons sy kinders gemaak het.

Verstaan ons dit? Kan ons dit verstaan? Kan ons die omvang van daardie genade en liefde begryp? Kan ons dit probeer beskryf? Ek dink nie so nie.

Maar wat ons kan doen, is om deur God se liefde meegevoer te word. Wat ons kan doen is dat ons God kan vra om ons in hierdie misterie saam te neem. Watter misterie? Dat ons, wat God Vader noem, eenvoudig net nie meer anders kan as om hulle rondom my broer en suster te noem nie, want saam is ons kinders van die Vader, kinders van God.

Ons het so pas, broers en susters, Pinksterdag gevier. En voor dit Jesus se hemelvaart. En voor dit sy opstanding, kruising, sy lyding en sy geboorte. Alles tekens van God se genade. Sy liefde vir ons. Wat bly oor? Dat Hy weer sal kom. Dat Hy weer na sy kinders toe sal kom. ‘n Dag van oordeel sal dit wees, ja beslis, maar ook ‘n dag van finale verlossing vir hulle wat in God geglo het.

Hoe gaan God ons besig vind op daardie dag wanneer Hy weer gaan kom? In gebed, waar ons Hom Vader noem, maar nie een van sy ander kinders broer en suster nie? Of: gaan Hy ons vind, oorweldig deur die groot misterie, die groot misterie dat God, wanneer Hy geloof skenk, sondaarmense hom Vader begin noem, en almal rondom hulle broers en susters?

Ek wil afsluit met ‘n laaste vraag. Dink u, my broer en suster, as ons gemeente môre sy deure moet sluit, om watter rede ook al, die gemeenskap waarin ons woon en werk, die gemeenskap waarin ons ons geloof uitleef, iets sal mis? Ek hoop so. En wat ek hoop hulle sal mis iets sal wees wat nie beskryf kan word nie. ‘n Misterie, iets onverstaanbaars: mense wat anders is en anders geword het, mense wat anders leef, omdat hulle sê hulle ‘n Vader het wat hulle liefhet. En daardie liefde, teen alles in die wêreld in, in hulle lewens sigbaar geword het op so ‘n manier dat dit amper nie moontlik is om dit te verstaan nie.

Mag God ons so werksaam vind. Dit kan so wees, want Hy het ons eerste liefgehad. Genade wat ons nie kan verstaan nie.
Amen