Jesaja 35:1-10

Die moontlike onmoontlikheid?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit moes 'n dominee vol van moed gewees het wat hierdie preek — Jesaja 35 — so ongeveer 500 v C vir sy gemeente gepreek het. Hoekom?

Die gemeente van hierdie dominee sit in ballingskap in Babilonië, terwyl hulle huise, besittings en grond in Palestina is. Ook hulle koning is saam met hulle 'n krygsgevangene. Wat meer is, die kerk waarin hulle gewoonlik bymekaargekom het, die tempel in Jerusalem, is net so ver van hulle af.

En tussen waar hulle nou is, en waar hulle huise en kerk is, lê die ontsaglike groot en onverdraagsame Arabiese woestyn. Talle van hulle mense het al, in pogings om te ontsnap, in hierdie woestyn omgekom. Juis omdat baie van hulle, soos vers 7 impliseer, lugspieëlings in die woestyn vir water, of oases, aangesien het. Maar telkens, voor hulle hierdie sogenaamde water kon bereik, het die gloeiende son en warm sand hulle kragte uitgemergel. En het hulle kos vir die aasvoëls en hiënas geword.

Juis daarom wou hierdie gemeente nie meer sing nie, en het hulle hulle harpe aan die wilgerbome van die riviere van Babel opgehang. Want hulle harte was allesbehalwe 'n bron van lofliedere tot God. Hulle God, so het hulle van die dominees in Palestina gehoor, het Moses en hulle voorvaders deur dieselfde woestyn gelei (dan net aan die ander kant daarvan), uit Egipte uit tot in Kanaän.

En nou? Nou kan niemand weer by die beloofde land uitkom nie. Dieselfde woestyn is daar, maar nie dieselfde God nie. Nou is oorsteek van die woestyn nie meer moontlik nie. En as die woestyn dieselfde gebly het, en nie meer oorgesteek kan word nie, kan daar net een rede voor wees. God het verander, sy hart het verander, sy liefde vir hulle het verander.

Dus: Dominee Jesaja het hier 'n groot probleem. Sy gemeente wil niks meer van God weet nie, en wat meer is, hy kan die erediens nie eers met 'n lofsang laat begin nie — want sy lidmate wil nie meer sing nie.

Daarom begin dominee Jesaja sy preek deur te vertel van die dorre woestyn wat begin sing. Juis hierdie ongenadige stuk grond, hulle groot vyand, sê Jesaja, dit begin te sing. Want die dorsland, sê hy, sal waterryk word, daar waar nou net die wilde diere loop, daar sal gras en blomme groei. En wat meer is, die wat die woestyn wil oorsteek sal nie meer leeus of roofdiere teëkom nie. Daarom sing die woestyn, al wil hulle nie sing nie.

En dan gaan dominee Jesaja, sou party seker gesê het, heeltemal te ver: Daarom, sê hy, bemoedig die wie se knieë slap geword het en die wie se hande slap begin hang het (d w s, die wat nie meer krag het om te wil loop of werk nie), en sê vir hulle: wees sterk, moenie bekommerd wees nie. Want kyk, God kom om ons te verlos, Hy kom om ons te kom haal, al lyk dit nie nou so nie. Ons sal sy mag weer sien. Hy het ons nie vergeet nie.

Wat, dink u, broers en susters, was die gemeente se antwoord op Jesaja se preek? As u meen die enigste woord oor hulle lippe was `maar dit is mos totaal onmoontlik!', dan meen ek is u nie ver verkeerd nie. Want wat die dominee hier aan hulle wil opdis klink darem te belaglik, om die waarheid te sê, eintlik so 'n bietjie heeltemal onmoontlik.

En dominee Jesaja se antwoord aan hulle? Julle is reg, dit klink onmoontlik, net soos dit onmoontlik klink dat dowes ewe skielik kan hoor en blindes ewe skielik kan sien. Dit is juis my argument, sê Jesaja: dit wat sogenaamd onmoontlik is, gaan moontlik word.

Want God kan dit nie alleen doen nie, God gaan dit doen. God gaan wonders laat gebeur. Julle gaan nog dink dat julle baie slim en sê: ag, dit wat daar voor in die woestyn soos water lyk is maar net 'n lugspieëling, en wanneer julle daar kom, gaan julle sien: dit is werklik water. Wat ek daarom van julle vra is dit: glo vir 'n slag weer werklik in God, die God van Moses en die God van Abraham, die God wat in die tempel woon, die God wat julle altyd help.

Ek dink nie, broers en susters, dat Jesaja baie van hulle oortuig het nie. Want was sy lidmate nie juis aan presies die teenoorgestelde gewoond nie? Dat die sogenaamde moontlike juis die onmoontlike vir hulle geword het nie. Want die moontlikhede wat hulle land ingehou het, juis onder die regering van koning Josia, hulle planne om die land uit te brei en te ontwikkel, om te kan plant en te kan eet, om na hulle eie kerk te kan gaan, het juis die onmoontlike geword. Want kyk waar sit hulle nou: sonder al hierdie dinge.

Presies soos Prediker ook maar uitgevind het: hy het gedink dit is moontlik om geluk te vind deur vrolike partytjies opgekwik met wyn, in die aanskaf van eiendomme, in die bou van damme, in goud en in silwer. Maar wat moes hy uitvind? Dat al hierdie moeitevolle pogings en arbeid 'n gejaag na wind is, ja, dat sy moontlikhede ook onmoontlikhede geword het.

Daarom, broers en susters, en kom ons vat sommer hiermee saam: 'n mens kan verstaan hoekom hierdie lidmate van Jesaja nie veel gehad het aan sy preek nie. Want die man praat van dinge wat eenvoudig nie waar is nie. Hulle ervaring is eenvoudig: dit wat so moontlik gelyk het, het die ondenkbaar onmoontlike geword. En nou staan hy hier voor hulle te vertelle dat presies die teenoorgestelde gaan gebeur: die onmoontlike gaan die moontlike word. Wonders gaan gebeur, hulle gaan deur die woestyn terugkeer huis toe, en juis die woestyn wat in hulle pad staan, hulle grootse vyand is, gaan hulle grootste vriend word. Watter belaglike storie, en buitendien, wie kan nog in wonders glo?

Die woordjie wonder, broers en susters, bring vir u en vir my vanoggend ook by hierdie preek van Jesaja uit. Glo u en ek nog in wonders, broers en susters? Party van ons sal sê: Nee, dit kan nie. Want wys dit vir my, dan sal ek dit glo. Ander weer sal miskien sê ja, ek glo in wonders, maar dan sal die doemprofete weer kom en sê: goed glo maar in wonders, want al waarin julle glo is dat julle glo dit kan gebeur. En om te glo dat iets kan gebeur, beteken nog nie dat dit sal gebeur nie.

Ek wil vanoggend beweer, broers en susters, dat ons nie meer in wonders glo nie, en nou praat ek in die besonder van Godswonders, omdat ons te min van God af weet. Kom ek sê dit anders: ons glo nie meer in Godswonders nie, ons glo nie meer dat by God en deur God die onmoontlike moontlik kan word nie, omdat ons te min van God af weet. En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Baie van ons meen die wêreld gaan maar net sy gang. En wanneer ons ewe skielik geweldige droogtes beleef, dan sê ons: dit is die vinger van God. En net die volgende jaar, wanneer alles en almal wil verdrink, dan sê ons: dit is die vinger van God. Wanneer sekere dele van die wêreld deur aardbewings geruk word, sê ons: dit is die vinger van God. God is dus 'n towenaar. So nou en dan gryp Hy darem in, soms as dit nodig is en selfs soms as dit nie (dan is daar natuurlik ook hiervoor 'n verklaring: die sonde van die mens of wat ook al).

Hierdie, broers en susters, is 'n diep en grondige misverstaan van God. God is nie 'n towenaar nie. God is nie iemand wat soms werk en soms nie werk nie. God is nie soms teenwoordig en soms nie teenwoordig nie. Want die Bewaker van Israel, leer die Woord ons, sluimer of slaap nie. Hy werk altyd.

Wat meer is, en dit is wat ons hier moet verstaan, God werk nie net altyd nie, Hy werk dikwels op maniere wat ons nie verstaan of raaksien nie. Daarom: alleen die wat met die regte oog kyk, met 'n geloofsoog kyk, sal dit raaksien, sal raaksien hoe God werk.

Kom ek noem u 'n paar voorbeelde van hoe God werk, 'n paar voorbeelde van die wonders wat God elke dag doen: God werk in my bloedsomloop, God werk in elke klop van my hart, God werk in elke asemhaling wat my liggaam doen. God werk in die geboorte van my kind, God werk in die reën wat val, in die liefde tussen man en vrou en die liefde tussen ouers en kinders, in hoe my kind grootword, hoe mense mekaar vergewe, hoe mense mekaar verdra, en ook in hoe mense mekaar dra.

Maar ons sien dit nie altyd nie, want ons oë is te dikwels na onsself gedraai. Veral waar ons meen dat ons alles altyd self vermag. Dit is tog EK wat hierdie dinge in my lewe reggekry het. Dit is tog EK wat alles onder beheer gebring het en onder beheer hou.

En as daar dan so dan en wan iets buite ons beheer gebeur, soos 'n verwoestende aardbewing of oorstroming, dan sê ons: dit is God! Of iemand herstel wonderbaarlik van 'n ernstige siekte, en dan sê ons: God het genees (so asof geneeshere gewoonlik maar alleen genees). Of 'n gebroke huwelik word herstel, en dan sê ons: dit is 'n Godswonder. So asof alle ander verhouding wat in vrede en vreugde geleef word, maar net mensewerk is. Ja, wanneer hierdie dinge gebeur, roep ons uit: God is 'n towenaar! En sommige van ons juig: want God het hom weer `bewys'. En ander weer bal hulle klein vuisies na die hemel omdat God hulle nou so onredelik te na gekom het.

Dit, broers en susters, is wat dominee Jesaja aan sy gemeente wou oordra: God werk altyd, dat wonders sy werk is. Dat wonders sy manier van doen is. Dat 'n sogenaamde wonder nie die laaste of buitengewone kraginspanning van God is nie, maar doodeenvoudig die manier is waarop God werk. En daarom is die onmoontlike by God moontlik. Want hy is die wonderlike God, wonders is sy werkwyse.

En juis daarom, broers en susters, kon Jesaja met oortuiging praat. Want hierdie is die God in wie hy geglo het. Hy was daarom nie besig om sy mense te paai of valse hoop aan te blaas nie. Want, het Jesaja geglo, God werk nie maar net nie, Hy werk net by wyse van wonders, juis omdat dit 'n Godswonder is dat so 'n heilige God Hom met sondaarmensies — wat soms selfs die arrogansie het om met Hom en oor Hom met gebalde vuisies van woede te praat — besig hou.

Daarom, broers en susters, en ek sluit af, kan ons lewe saam met God 'n wonderlike lewe wees. 'n Lewe vol wonders, daagliks. Nie dat alles elke dag nou maanskyn en rose sal wees nie. Nie dat elke dag sonder frustrasies sal wees nie. Want ons verloor soms wel ons uitsig op die moontlikheid van die onmoontlike. Ons begin soms wel twyfel of God nog my huwelik kan red, my kan help in al my vrese, of wat ook al, maar in die geloof, sê Jesaja hier, in ware geloof, word 'n mens telkens weer teruggebring na God.

Na die wonderlike God. Na die wonderlike Vader, by wie die onmoontlike niks buitengewoons is nie, by wie wonders 'n werkwyse is, en nie 'n uitdaging nie. Die geloof leer 'n mens om hierdie wonders raak te sien. Die geloof leer 'n mens om jou hele lewe voor God as 'n wonder te sien.

En wie dit raaksien, glo ek met my hele hart, kan nie deur die sogenaamde onmoontlikhede van hierdie wêreld verstrik en verstik word nie. Juis omdat alle sogenaamde menslike onmoontlikhede, doodgewone moontlikhede by God is.
Amen