Eksodus 4:18-31

Die nag toe die Here Moses wou doodmaak



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die merkwaardigheid van hierdie vertelling in Eksodus 4:18-31 is die volgende: so pas, in Eksodus 3, het God aan Moses by wyse van die brandende besembos verskyn en aan hom die opdrag gegee om die volk Israel uit Egipte te gaan bevry. In Eksodus 4 vind ons Moses, saam met sy familie, op pad na Egipte om God se opdrag te gaan uitvoer. Presies soos God gevra het. Moses dus, so lyk dit vir ons, ‘n teken van volle gehoorsaamheid.

Maar dan, wanneer hulle oornag, kom die Here en wil Hy vir Moses doodmaak. Hoe dit gebeur het, word nie aan ons vertel nie. Heel waarskynlik het Moses miskien tot die dood toe siek geword, of dalk het een of ander akute kwaal hom skielik oorval. Ons kan nie presies sê hoe nie. Maar wat ons presies kan sê, want dit is absoluut duidelik uit die vertelling, is dat dit die werk van God was. God, en niemand anders nie as God, wou Moses doodmaak!

Hoe, broers en susters, moet ons dit verstaan? God roep Moses, Hy gee aan hom ‘n opdrag, aanvanklik stribbel Moses ‘n bietjie tee, maar dan gaan hy tog om te doen wat God van hom vra. En terwyl hy uitvoering gee aan God se opdrag, wil God hom doodmaak. Dit maak tog nie sin nie.

Of maak dit tog sin? Beslis, broers en susters, al lyk dit vir ons so met die eerste lees van die vertelling miskien nie so nie. Want as ons mooi gaan kyk na alles wat agter hierdie aksie van God lê, sal ons sien dat God terdeë geweet het wat Hy doen, maar ook dat God met hierdie daad Moses, en ook ons, ‘n ware geloofsles wou leer, om dit so te noem. En die les wat God Moses wou leer, meen ek, was ten minste vier sake. Kom ons kyk na een vir een.

In die eerste plek, geliefde gemeente, wou God aan Moses leer hoe belangrik Hy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Hom ag. God, broers en susters, kan ons as sy kinders nie gebruik as ons nie bereid is om onvoorwaardelik, stiptelik en nougeset aan Hom gehoorsaam te wees nie. Om dit sterker te stel: God verdra nie ongehoorsaamheid by sy kinders nie. En dan nie alleen wat betref die sake wat ons soms verkeerd doen nie, maar veral wat betref daar waar ons soms nalaat of versuim, daar waar ons sekere dinge behoort te doen, en dit nie doen nie.

Moses was juis skuldig aan so ‘n sonde, te wete dat sy tweede seun, Eliëser, nie die teken van die verbond, die besnydenis ontvang het nie. Gersom, sy eersgeborene, het die besnydenis wel ontvang, anders sou Sippora, sy vrou, altwee seuns met die klipmes besny het. Want dit is juis presies dit wat sy in vers 25 met Eliëser gedoen het, sy het hom besny.

Weer eens, broers en susters, word daar in die vertelling nie gesê hoekom Moses aan hierdie versuim skuldig was nie. Wat ons wel kan aflei is dat Sippora, sy vrou, wat ‘n Midianiet was, heel waarskynlik nie met Moses, ‘n Israeliet/Hebreër, saamgestem het oor hierdie gebruik nie. Moses het, miskien maar ter wille van die vrede, haar laat begaan en sy tweede seun, ter wille van die vrede in die huwelik, nie laat besny nie.

Die feit dat Sippora, onmiddellik toe haar man deur die Here getref is, die besnydenis toegepas het, is ‘n aanduiding dat daar heel waarskynlik waarheid steek in só ‘n vertolking van hierdie gebeure. Sy het dadelik geweet waarom die Here Moses wou doodmaak, want dit was op haar versoek dat Moses nie sy tweede seun besny het nie. Ook, die oomblik toe Eliëser besny is, sê vers 26 vir ons, het die Here Moses laat staan.

Dus, broers en susters, wat Moses gedoen het was seker een van die gevaarlikste dinge wat ‘n kind van God kan doen: hy het amper moedswillig, teen alle kennis in, die voorskrifte van die Here verontagsaam. En ons weet maar te goed wat ongehoorsaamheid aan ons doen: dit takel ‘n mens se geestelike lewe af, dit bring afstand tussen ons en God, dit beroof ‘n mens van jou vreugde en vrymoedigheid voor God, dit maak ons getuienis in die wêreld kragteloos, en laat ons ‘n gevaarlike voorbeeld stel. En bo alles: dit diskwalifiseer ons vir die diens van die Here.

Tweedens, broers en susters, wou God aan Moses met hierdie daad leer dat God, en God alleen, bo alles en almal gevrees moet word. Toe God Moses daar by die besembos geroep het, was Moses vol besware: hy het sy onvermoë as goeie spreker voorgehou om nie te gaan nie, hy het gemeen dat hy, juis as iemand wie in Egipte gesoek word as moordenaar, nie op ‘n magtige koning enige indruk sou kon maak nie, en daarby moes hy bo alles na die farao gaan met ‘n baie onpopulêre boodskap.

Dit sou dus net menslik wees, broers en susters, om van so ‘n sending/opdrag weg te skram. En daarom, glo ek, het Moses met meer as net ‘n bietjie vrees die tog Egipte toe aangepak.

Daarom, daar waar hy oornag, het die Here aan Moses getoon: God is meer te vrees as ‘n aardse koning. Hy is die een, Hy alleen is die een aan wie verantwoording gedoen moet word. En dit het Moses, na sy konfrontasie met God daar waar hy oornag het, sy lewe lank onthou. Juis daarom het hy later onverskrokke voor die farao gaan staan, en bewonder ‘n mens hom eintlik vir die moed waarmee hy telkens met God se boodskap voor die koning gaan staan het.

Ook hieruit, broers en susters, kan ons baie leer. Ons is soms so bang om aanstoot te gee. Ons wil soms so graag gewild onder ander wees. Juis daarom neem ons soms nie standpunt in nie, omdat ons weet dat dit ons ongewild by ander sal maak. Maar wat doen ons eintlik dan?

Ons bedroef die heilige Gees, God self, ons skaam ons liewer vir die evangelie as wat ons ons voor ander skaam. Dan swyg ons liewer waar ons eintlik moes gepraat het. Dan behou ons liewer die vriendskap van mense as om kinders van God genoem te word.

Derdens, broers en susters, moes Moses leer om God se verbond met hom te eer. In groot neerbuigende genade het God met Abraham ‘n verbond gesluit. ‘n Verbond waarvan die teken die van die besnydenis was. ‘n Verbond wat nie deur mense bedink is nie, maar deur die Verbondsgod self.

Soos ons vroeër gesien het, het Moses en Sippora skynbaar oor die belangrikheid van hierdie verbonds-teken verskil, en daarom versuim om hulle tweede seun te besny. Daarom leer die Here vir Moses daar langs die pad nou baie duidelik: die saak van die verbond en die verbondsteken wat daarmee saamgaan, is nie sommer maar net ‘n saak van willekeur nie. Dit is ‘n vereiste, ‘n ononderhandelbare vereiste.

Ook vir ons, broers en susters. En nie alleen wat betref die ten dope bring van ons kinders, of die toesien daarvan dat ons kleinkinders ten dope gebring word nie, maar veral die uitleef van die belofte wat ons as ouers tydens die doop van ons kind(ers) gemaak het. Ook dit is vir God ononderhandelbaar. Om die waarheid te sê, en ek meen dit kan ons met groot eenstemmigheid uit die vertelling aflei, dat versuim in hierdie verband God se toorn laat ontbrand. Ons mag God se Woord en sakramente nie verag nie (en dit geld natuurlik vir die doop en die nagmaal). Wie dit doen moet hoor, God kan dit nie toelaat nie.

Laastens, broers en susters, moes Moses leer wat die krag van die bloed is. Wanneer Sippora sê `jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word’ bedoel sy daarmee dat sy haar man nie anders sou kon behou as deur die bloed van die besnydenis van haar kind nie. Deur die bloed van haar seun het sy haar man teruggekry, as’ t ware terug uit die dood. Deur die bloed is haar man gered en aan haar teruggegee.

Wat sê dit vir ons, broers en susters? Ek meen dit sou nie ‘n verkeerde afleiding wees om te sê dat daar niks is wat twee mense se huwelik so saambind as die bloed van Jesus Christus nie. En hierdie afleiding, meen ek, kan ons met gerustheid maak, want ons weet mos dat die bloed van die besnydenis in die Ou Testament ons heenwys na die bloed van Christus wat die sonde van die wêreld weggeneem het.

Met ander woorde, soos Moses en sy vrou met God en ook met mekaar versoen is deur die bloed, so ook kan en word ons alleen met God en met mekaar, veral in die huwelik versoen. Ons kan dit ook sterker stel: alleen deur die bloed van Christus word die huwelik en huis heilig, alleen deur die bloed van Christus is huweliksvreugde en huislike geluk denkbaar. Want alleen mense wat weet wat dit beteken om deur God vergewe te word, kan ander vergewe en met ander saamleef soos God teenoor ons optree met liefde, geduld en versorging.

Ek sluit af: hierdie vertelling, wat op die oog af lyk nie sin te maak nie, spreek elkeen van ons in die diepste sin van ons kind-van-God-wees aan. Dit wil ons leer dat God volkome gehoorsaamheid eis, dat ons Hom moet eer bo alles en almal, dat ons die opdrag het om sy verbond te eer veral in die uitleef van ons doopbelofte, en dat dit alles moontlik is, omdat ons deur die bloed van Christus met God en met mekaar versoen is.

Deur hierdie soendood het ons nuwe mense geword wat met Christus in ‘n nuwe lewe kan wandel. Kom ons gaan doen dit, kom ons word in lewe en daad dit wat ons reeds is. Want so word ons Vader, wat in die hemel is, verheerlik. En dit is tog wat God van ons vra, niks meer nie, maar ook niks minder nie.
Amen