Johannes 4:5-29

Die verhaal van twee grafstene



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die verhaal van twee grafstene, dit is waaroor die prediking vanoggend handel. Die verhaal oor die eerste grafsteen klink so:

Iewers in ‘n begraafplaas staan ‘n grafsteen van ‘n vrou. Dit lyk soos baie ander, maar dit wat op dit uitgebeitel is, is anders. Bo-aan staan die name van twee mans, en dan lees die res soos volg:

Slaap, maar nie rus nie.
Het liefgehad, maar is nie bemin nie.
Het probeer om te behaag, maar kon nie.
Het gesterf soos sy geleef het — alleen.

Woorde, broers en susters, van absolute sinloosheid. Woorde waaroor ‘n mens maar net kan spekuleer. Hoekom hierdie bittere woorde? Het iemand haar hart gebreek? Hoekom het niemand haar liefde beantwoord nie? Hoekom kon sy ander nie behaag nie? Het sy nooit rus gehad nie? Het ander dalk gedink sy beteken niks nie? Was sy in ander se oë net nie goed genoeg nie? Of het niemand net nie omgegee nie?

Hoe dit ook al sy, sy het blykbaar gesterf soos sy geleef het — alleen. Haar hart het nooit aan iemand behoort nie, sy kon nooit rus vind nie. Sy, was, kan ons miskien sê, ‘n slagoffer van sinloosheid. Soos, en laat ek dit maar byvoeg, baie van ons soms voel.

Nou die tweede storie oor ‘n ander grafsteen. ‘n Grafsteen wat nie eintlik iets sê van iemand wat dood is nie, maar van iemand wat weer begin lewe het. Hierdie storie, vertel Johannes ons, begin so teen skemer. ‘n Figuur stap na ‘n put, met ‘n waterkruik op die skouer. Sy is ‘n Samaritaan, sy is ‘n vrou. Sy was reeds met vyf mans getroud. Vyf. En nie een keer het dit uitgewerk nie. Miskien het sy geweet wat dit beteken om lief te hê maar niks terug te ontvang nie. Miskien het sy probeer behaag, maar ook dit het nie gewerk nie. Miskien het sy nooit rus gehad nie. Beslis het sy nie nou nie. Want die man wat sy nou het, sê vers 18, wil haar nie eers sy naam gee nie. Hy wil haar nie regtig hê nie.

En hier kom sy. Sesuur die aand. Hoekom het sy nie vroegoggend saam met die ander vrouens gekom soos dit die gewoonte was nie? Ons weet nie. Maar miskien kom sy so teen die aand se kant omdat sy geglo het dat dit stil by die put sou wees. Daar sou nie ander wees wie sy in die gesig hoef te kyk nie. Sy kon by haarself wees, soos haar lewe eintlik maar is.

Maar toe is dit nie alleen en eensaam by die put nie. Want Jesus sit daar, moeg na die dag se gestap, heel waarskynlik met die rug teen die put en die bene uitgestrek. Hy is alleen , want sy dissipels is dorp toe om kos te gaan koop. Sy moes onmiddellik gesien het dat Jesus ‘n Jood was. Daarom het sy heel waarskynlik Hom probeer vermy. Bo alles was sy alleen by die put, op ‘n verkeerde tyd. Verkeerde indrukke kon dus maklik geskep word.

En dan, miskien om die verleentheid van die situasie te oorkom, vra Jesus vir haar ‘n bietjie water. Sy reageer egter effens skerp. Hoe kan Hy, wat ‘n Jood is, vir haar, wat ‘n Samaritaan is, water vra. Hulle albei weet mos dit werk so. Met ander woorde, wat wil Hy nou eintlik hê, as dit is wat Hy vra tog nie eintlik kan gebeur nie?

Haar aanvoeling was reg, broers en susters. Jesus was geïnteresseerd in meer as water. Hy was geïnteresseerd in haar hart. En toe praat hulle. En waaroor praat hulle? Jesus vertel haar van water wat nie maar net die dors les nie, maar die dors van ‘n sinlose siel les. En dit maak haar nuuskierig. Wat meer is, sy wil dit graag hê. Wil Hy nie maar vir haar daarvan gee nie?

En dan Jesus se opmerking wat deur haar hart moes gesny het. Hy sal vir haar van hierdie water gee, maar dan moet sy eers gou haar man gaan haal, want dan kan hulle sommer al twee van hierdie water kry.

Die vrou se hart moes seker tot in haar skoene gesak het. Hier was ‘n Jood wat nie omgegee het dat sy ‘n Samaritaan was nie. Hier was ‘n man wat nie op haar as vrou neergesien het nie. Hier was die naaste iets wat sy nog ooit aan sagmoedigheid en belangstelling gesien het. En nou vra Hy haar uit oor dit.

Sy kon oorweeg om te jok. ‘Ek kan nie, my man is nou te besig’. Miskien kon sy probeer om die onderwerp te verander. Maar sy besluit om eerlik te wees. ‘Ek het nie nou ‘n man nie’.

Ons ken die res van die vertelling, broers en susters, en eintlik is dit jammer. Want as ons die res van die vertelling nie geken het nie, sou ons nou almal — glo ek — grootoog gesit en wonder het wat nou gaan gebeur. Soos die vrou beslis gewonder het.

Nou dat hy die waarheid weet, hoe gaan Hy reageer? Gaan Hy kwaad word? Gaan Hy maar net wegstap? Gaan Hy dink sy is ‘n nikswerd? Gaan Hy haar daar los — en dan sal sy maar net weer alleen wees?

Hoe reageer Jesus? Jy is reg, sê Hy, jy het nie nou ‘n man nie. Jy het reeds vyf gehad, en die een by wie jy nou is, wil nie met jou trou nie. Hy wil jou nie sy naam gee nie. Net dit. Dit is al wat Jesus sê.. Let op. Hy spreek geen kritiek uit nie. Hy vertel haar nie dat sy ‘n gemors van haar lewe gemaak het nie. Hy wys nie vinger nie. Hy vra nie hoekom dit so gebeur het nie.

Hoekom nie? Want Jesus het gekry wat Hy gesoek het. Eerlikheid. Sy was eerlik. Sy het die masker afgehaal. Sy het opgehou om voor te gee dit wat sy nie is nie.

En hoe reageer sy? Ek kan sien, meneer dat daar iets anders aan jou is. Dit lyk vir my of jy ‘n profeet is. Kan ek jou daarom ‘n vraag vra? ‘Waar is God? My mense sê Hy is op ‘n berg. U mense sê Hy is in Jerusalem. En dit maak my deurmekaar. Ek weet nie waar Hy is nie’.

En hoe antwoord Jesus? ‘Ek is die Messias’. God is hier by jou. En jy is nou by God. Jy hoef nie meer te wonder of te soek nie. God praat nou en hier met jou.

En hoe reageer sy? Sy spring as ‘t ware op en haas haar na die dorp om ander (wie sy heel waarskynlik voorheen vermy het) te gaan vertel dat sy dink dat sy die Messias ontmoet het.

Het ons agtergekom wat sy vergeet het? Haar waterkruik. Dit is haar begraafplaas. Sy het haar waterkruik daar begrawe. Hoekom? Die kruik wat haar skouers laat insak het van die gewig, dra sy nie meer nie. Dit wat ‘n las was, het sy agtergelaat. Skielik het die skande van al haar liefdesverhoudings verdwyn. Skielik word die onbelangrikheid van haar lewe ingesluk deur die betekenis van die oomblik. God is hier, God het gekom. En bo alles — God gee vir my om!

Dit is waarom sy haar waterkruik daar begrawe het. Daardie water was nie meer nodig nie. Sy het nou lewende water gehad om te drink.

Aan party van ons, broers en susters, sal hierdie storie van die twee grafstene nie veel doen nie. Want ons het meer vriende as wat ons kan besoek, en meer mense as wat ons kan help. En ons het ook meer take as wat ons kan afhandel. Wees dankbaar dat dit so is.

Maar sommiges van ons is anders. Al is dit net sekere tye, of selfs sekere oomblikke. Soms voel ons dat daardie eerste grafsteen net sowel ons s’n kon gewees het. Ons weet hoekom die Samaritaanse vrou mense vermy het. Dalk het ons soms ook al probeer om te behaag, maar dit was nie goed genoeg nie. Dalk het ons ook al met liefde gedien en gegee, maar gevoel ons ontvang niks terug nie. En dalk het ons ook al gewonder waar God in die wêreld is.

Ons hoef nie te wonder nie, broers en susters!! God het die manier om van die doodgewone in ons oë iets skouspelagtig te maak. ‘n Doodgewone staf kloof ‘n see oop. ‘n Spoelklippie vel ‘n reus neer. Twee vissies en vyf brode word ‘n feesmaal vir baie. Modder laat iemand sien. ‘n Paar lang spykers word die hoop vir die hele mensdom. En vanoggend: ‘n verstote en alleen vrou word ‘n sendeling.
Hoe het dit gebeur? Sy was soekend, en het gevind. Sy was eerlik, en God het dit raakgesien. Sy was bereid om sekere dinge agter te laat. En sy was bereid om met haar lewe te gaan verkondig dat God lewe.

Soek u en ek, broers en susters, na God in ons lewens? Is ons eerlik met God oor ons lewens? Is ons bereid om dit agter te laat wat Hy ons wys nie meer nodig is om saam te dra nie? En is ons dan bereid om te gaan vertel dat God hier is?

Ons het elkeen ‘n begraafplaas. Inteendeel. Ons het almal dieselfde begraafplaas! Daar aan Jesus se voete, daar op Golgota by die kruis. Daar kan ons alles gaan neersit. En begin lewe.

Smag ons werklik daarna? Dit is miskien die belangrikste vraag vanoggend!
Amen