Filippense 2:1-11

Ek, soos Jesus?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit gebeur dikwels in die lewe dat diegene wat jou beste vriende is, dikwels jou grootste vyande kan word. En kom ek verduidelik dadelik wat ek hiermee bedoel: dikwels gebeur dit dat sekere mense in jou lewe, veral as jy nog jonk is, as jou rolmodelle dien. Hierdie mense is deel van jou lewe tot jou voordeel, deur hulle voorbeeld in woorde en dade help hulle jou lewe vorm, jy sien op na hulle, hulle wysheid gryp jou aan, jy volg hulle soms slaafs na.

Maar dan breek daar soms in jou lewe ‘n oomblik aan wat jy besef: hierdie mense — byvoorbeeld my leermeester, my vriend, my rolmodel — maak my eintlik moedeloos, hulle laat my soms so magteloos voel, want ek besef: ek sal daardie skoene nooit kan volstaan nie, ek sal hulle lewe vol wysheid nooit kan naleef nie. Nee wat, aanvaar maar ou maat, jy sal nooit uitkom by waar en wat hulle is nie. En so word jou grootse vriend soms jou grootste vyand.

So met die eerste lees van Filippense 2:5, broers en susters, wil ‘n mens amper net so begin voel. Want kyk mooi wat Paulus daar sê: dieselfde gesindheid moet in julle wees wat in Christus Jesus was. En dadelik wil ‘n mens amper vra: Wat? Is Paulus hier werklik ernstig? Dieselfde gesindheid van Jesus Christus in my? Meer nog: is Paulus hier nie bietjie te hard as hy bo alles die woordjie moet hier so lustig gebruik nie? Dit maak ‘n mens by voorbaat sommer moeg.

Ek, soos Jesus? Nee wat! Hierdie is eintlik maar net ‘n klassieke voorbeeld van die totale oorskatting van die mens se moontlikhede. Om so te wees, sal ook die algehele ooreising van gewone mense van vlees en bloed inhou. Want, voel ons, dit is darem nou regtig totaal onmoontlik.

Nee wat, dit is onmoontlik, Here. Want Here, in u teenwoordigheid weet ons mos nou al teen hierdie tyd so ‘n bietjie wie en wat ons regtig is. Ons is Here, presies anders as u. Die gesindheid wat in u was, waarvan Paulus hier praat, is presies die gesindheid wat nie in ons is nie. En nie van gister af nie, al van Adam se dae af. Want kyk net Here, hoe is ons en hoe maak ons:

U Here, kom van bo na onder, ons wil altyd van onder na bo. U wat God was, word mens. Ons, daarenteen, wil soms oor ander mense se lewens God speel. Ons, Here — u weet mos — klou dikwels so krampagtig aan al ons eie ou dingetjies vas: ons geld, ons aansien, ons eer, ons goed. U Jesus, het egter alles prysgegee. En wat was hierdie ‘alles’ nie!

Ja Here, ons sê so maklik: ‘dit is nie wie jy is nie, dit is wie jy ken’. Dit is hulle met wie jy gesien word, wat belangrik is. Dit is dit wat ander, saam met wie jy is, vir jou kan doen. Maar u Here, u geselskap was die magteloses van u tyd, die sondaars, die tollenaars, die straatvroue, die sogenaamde ‘slegtes’. Hulle saam met wie niemand wou wees nie.

Ons Here, wil so graag oor alles en almal heers, ons wil so graag gedien word. Maar nie u nie: u het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en u lewe te gee as losprys vir juis mense soos ons. Ons wil teen elke koste ons lewe behou, en u Here, gee u lewe gewillig oor aan die dood.

Moet ek aangaan, broers en susters? Ek dink nie een woord is meer nodig nie. Ons gesindheid is dikwels nie die gesindheid wat in Christus was nie. Ons is anders, so anders as God. En as ons ‘n laaste punt op die agenda mag plaas Here, onthou darem dat Jesus eintlik God was. Hy was uniek. Daar was nooit iemand soos Hy nie, en daar sal ook nooit weer iemand soos Hy wees nie. Sy hoogheid was geleë in sy nederigheid, sy mag het gelê in sy onmag, sy heerlikheid in sy onheerlikheid. Van watter ander mens, God, kan dit gesê word? Daarom Here, as ek maar weer mag vra: ek, soos Jesus? Nooit! Daar is nie ‘n manier nie! Geen kans nie!

As ons Filippense 2:5 verstaan soos ons dit tot dusver verstaan het, broers en susters, het ons dit tot vandag nog nooit werklik verstaan nie. As ons in hierdie teks nog nooit iets anders as wette, eise, opdragte — en die sogenaamde onmoontlike — gesien het nie, as ons nog altyd hier gelees het ‘wees soos Christus ..... of anders!’ lees ons hierdie teks mis.

Filippense 2:5, broers en susters, staan soos alle ander tekste in die Bybel, binne die raamwerk van God se omhelsing, God se genade, God se liefdevolle handeling met mense. Want die God wat ons in hierdie teks ontmoet, is nie die voortreflike, maar onverbiddelike, voorbeeld nie, maar in die eerste plek ons Verlosser.

Die God wat ons hier ontmoet is die God wat gesterf het en opgestaan het en lewe, die God in wie die moontlikheid van nuwe lewe aangebreek het, die God wat ons laat deel in die krag van sy opstanding, die God wie aan ons sy kragtige Gees gegee het, die God wat alles moontlik maak. Of, gesê in die woorde van ons gelese gedeelte: die God wat ons hier tegemoet tree is die God wat sy gesindheid aan ons openbaar het in Jesus Christus, en meer nog, hierdie gesindheid (reeds) aan ons geskenk het.

En dit is juis op hierdie punt dat ‘n mens nie alleen hierdie vers nie, maar ook die hele evangelie, kan misverstaan. Die Bybel, broers en susters, het vir so baie mense ‘n versameling van mooi moralistiese spreuke geword, met Jesus as oervoorbeeld van dit wat ware humanisme (liefde vir mense) en moralisme (die korrekte lewe) beteken. Wie dit Bybel so verstaan, verstaan die evangelie glad nie. Want dan is dit ‘n evangelie sonder Christus, ‘n evangelie van ‘red jouself’, ‘n evangelie van mense. Waar mense maar net goeie ou mensies wil wees, eintlik maar net probeer om van ons wêreld ‘n mooier plekkie te maak. Doen wat die Bybel sê, en jy sal nie alleen ‘n goeie mens wees nie, jy sal boonop die wêreld vir jou en vir ander ‘n beter plek maak.

Dit is nie evangelie wat ons in die Bybel vind nie, broers en susters. Die ware evangelie vra nie van ons om ander lief te hê en so die wêreld ‘n beter plek te maak nie. Inteendeel. Die ware evangelie vra eintlik absoluut niks van ons nie.

Die ware evangelie begin elders: dit begin by eerlikheid. Dit begin by ‘n diepe soeke in jouself. ‘n Opregte soeke na jouself, ‘n soeke wat, as dit opreg is, jou sal bring om jouself te vind. Te vind as sondaar voor God. En die oomblik as jy dit gevind het, dan sal jy — en dit is die vreemdheid van die ware evangelie — nie in sak in as gaan sit nie, nee, jy sal uitbars van vreugde. Van vreugde omdat jy saam met jou sondige self die Verlosser gevind het.

Jy sal in vreugde raaksien wat hierdie Verlosser vir jou gedoen het. Dat Hy as God mens geword het, Homself vir jou kom verneder het, vir jou ‘n slaaf geword het, en Homself selfs verder verneder het tot aan die kruis. Maar ook opgestaan het, en nou lewe. En juis daarom kan jy nou in vreugde lewe!

Dan, broers en susters, dan vra die evangelie van jou niks meer nie. Anders gesê: dan vra die evangelie van jou niks meer as wat jy alreeds ontvang het nie. Dan besef jy: die evangelie vra nie niks nie, maar eintlik alles, omdat God alles reeds aan jou geskenk het.

Dan sien jy raak: voor elke ‘moet’ in die Bybel staan die woordjie genade. Voor elke ‘moet’ staan daar ‘jy mag my kind, jy kan’ want Ek is die God wat jou uit Egipte gelei het, wat jou aan die kruis uit sondeslawerny gelei het. Jy het reeds die troos in Christus ondervind (vers 1), jy het reeds die liefde ontvang (vers 1), jy het reeds die gemeenskap van die Gees (vers 1). Jy het reeds die genade ontvang, jy is klaar nuut. Daarom kan jy, my kind, daarom mag jy groei tot ‘n volgroeide mens, so volmaak en volwasse soos Christus.

Ons kan, broers en susters, dieselfde gesindheid hê wat in Christus was, nie omdat ons so voortreflik onsself kan inspan om Jesus te volg nie, maar omdat ons reeds uit genade daartoe bevry is. Die gesindheid waarvan Filippense 2:5 praat is nie maar net ‘n mooi en pragtige voorbeeldige lewe nie, dit is ‘n gawe van God aan ons, dus, reeds ‘n Goddelike werklikheid in ons.

Dit sê: die ou Adam in ons is reeds doodgemaak, daarom kan ons nou die ou Adam doodmaak, die gesindheid wat in Christus was is reeds aan ons geopenbaar, daarom kan hierdie gesindheid nou ook in ons wees.

Stel jou voor: ‘n wêreld waarin die gesindheid van Christus in ons huis, werk en speel, ons besigheid en onderhandelings geopenbaar word. ‘n Wêreld waarin ons eerder gee as om te gryp, ‘n wêreld waarin ons eerder dien as om te wil heers, ‘n wêreld waarin ons die ander een hoër ag as onsself, ‘n wêreld waarin ons eerder nederig is as om so eiewys te wees. Die wêreld wat in Filippense 2:3-4 beskryf word.

Dit is moontlik, omdat dit in Christus vir ons moontlik gemaak is. Dit is egter nooit moontlik as ons dit self so wil maak nie. Johannes 15 sê so mooi: bly in My, dan sal julle vrugte dra wat pas by God se mense. Filippense 2 sê dieselfde: ontdek die vreugde om werklik aan God te behoort, dan sal die gesindheid van Christus in julle wees!

Of soos Luther gesê het: die Christen kan doen net wat hy/sy wil, want die Christen doen net wat die Here wil. Soek eers die koninkryk, sê Matteus, en dan sal God al die ander dinge vir jou gee. Sien eers Christus se gesindheid raak, dan sal jy ook deel wees van ‘n nuwe wêreld! Vind eers jou vreugde in die Here, dan sal jy vir die Here ‘n vreugde wees!

Die vraag is egter: vind ons werklik ons vreugde in die Here? Bly ons werklik in Hom? Soek ons werklik na die koninkryk? As dit nie so is nie, sal die gesindheid van Christus nooit in ons wees nie!
Amen