Kolossense 3:5-10; Efesiërs 4:17-24

God het ons lief net soos ons is, maar Hy weier om ons so te laat bly



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit bly maar altyd gevaarlik om groot waarhede, veral waarhede in die Bybel, in een sin te probeer saamvat. Tog wil ek vanoggend die kans waag, en dit wat God se begeerte vir elkeen van ons is, in een sin probeer saamvat. Die sin/stelling klink so: God het ons lief net soos ons is, maar Hy weier om ons so te laat bly. Hy wil hê dat ons al hoe meer soos Jesus moet word.

God, broers en susters, het ons lief net soos ons is. As ons so dink dat God se liefde vir ons meer sou wees indien ons geloof sterker was, maak ons ‘n fout. As ons dink dat God ons meer lief sal hê as ons nooit ‘n fout sou maak nie, maak ons ook ‘n fout. En as ons dink dat God se liefde vir ons dieper sou wees indien ons gedagtes dieper en reiner sou wees, maak ons nogeens ‘n fout. Ons moenie God se liefde vir ons verwar met menseliefde nie. Menseliefde word dikwels meer as ons goed vaar, en minder as ons fouteer. Maar nie God nie. Hy het ons gemaak, elkeen uniek, en daarom het Hy ons lief soos ons is.

God, broers en susters, los ons egter nie net soos ons is nie. Hy het ‘n plan met elkeen van ons. Wat is hierdie plan? Dat ons elkeen ‘n splinternuwe gees (soos Ef 4:23 dit stel), ‘n nuwe lewe (soos Kol 3:10 dit stel), of, in kort, ‘n nuwe hart sal kry. God wil ons harte vernuwe. Meer spesifiek gestel: God wil hê dat ons harte soos Jesus se hart sal word. Dat ons al hoe meer vernuwe sal word na die beeld van God (soos Kol 3:10 dit stel).

Hoe, broers en susters, het Jesus se hart gelyk? Of, kom ons gebruik die woorde van Efesiërs 4:20: hoe het ons Jesus leer ken? Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons hieroor.

In die eerste plek was Jesus se hart rein. Duisende mense het Jesus bewonder, Hy het die kans tot mag en aansien gehad, maar tog het Hy verkies om ‘n eenvoudige nederige lewe te lei. Die mense vir wie Hy gekom het, het Hom verneder en gespot, maar tog het Hy altyd in sy hart die ruimte gehad om hulle te vergewe. Daar was, soos 1 Johannes 3:5 dit stel, geen sonde in Hom nie.

Tweedens, broers en susters, was Jesus se hart vol vrede. Die dissipels was byvoorbeeld begaan oor hoe om die skare te voed , maar Jesus nie. Hulle het gegil van vrees in die storm op die see, maar Jesus het rustig gelê en slaap. Petrus het in die tuin van Getsemane sy swaard uitgepluk om aan te val, Jesus nie. Hy het sy hande gebruik om te genees. Toe al die dissipels Hom verlaat het, toe Petrus Hom verloën het, het Hy hom nie vererg nie. Toe die soldate in sy gesig gespoeg het, het Hy hom nie deur wraak laat lei nie.

Derdens was Jesus se hart doelgerig. Hy het geweier dat enigiets Hom aflei van sy roeping, om die mensdom te kom red. So baie van ons, broers en susters, mik met ons lewens na niks besonders nie, en tref dit ook gewoonlik. Nie Jesus nie. Hy het gekom om te soek en te red wat verlore was, en toe Hy aan die kruis sterf, het Hy uitgeroep: Dit is volbring.

Laastens, broers en susters (en hierdie is seker die mees besondere eienskap van Jesus se hart), was Jesus se hart geestelik, vol van die Gees. Jesus se eerste preek, soos deur Lukas 4:18 opgeteken, begin met die woorde: Die Gees van die Here is op My. Jesus se hart was gelei deur die Gees (Matt 4:1), was vol van die Gees (Luk 4:1). En Lukas 4:14 vertel ons dat Jesus, na sy versoeking in die woestyn, vol van die krag van die Gees teruggekom het. Met ander woorde, sy hart was geestelik.

Wanneer ons hoor, broers en susters, dat Jesus se hart rein was, vol vrede, doelgerig en vol van die Gees, besef ‘n mens dadelik (ek in elk geval), dat ons harte so anders is as Jesus s’n. Sy hart was rein, ons harte is soms so onrein, Jesus se hart was vol vrede, ons harte is so dikwels vol onvrede, bekommernis en haat, Sy hart was doelgerig, ons harte is so dikwels vol van al die verkeerde mikpunte en doelwitte in die lewe. En helaas, sy hart was geestelik, ons harte is so dikwels vol van die vlees en verkeerde motiewe en begeertes. Met nader woorde: as ons ons hart vergelyk met Jesus se hart, besef ons maar te gou dat daar ‘n oneindig groot afstand blyk te wees tussen wat ons harte is en wat dit behoort te wees.

Wat ‘n mens dadelik laat vra, natuurlik alleen indien ons ernstig is oor die oproepe in Efesiërs 4 en Kolossense 3 om ‘n nuwe gees/lewe en hart te wil hê,: hoe kan ek ooit hoop om ‘n nuwe hart, nuwe gees te hê soos God vra?

Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, sal u verras. Ons het dit reeds. Ons het reeds die hart van Christus in ons. Hoekom sê ek so? Omdat, broers en susters, die volgende verse in die Woord van God my eenvoudig net nie anders kan laat antwoord nie:

  • Galasiërs 2:20: wie glo dat Christus aan die kruis vir sy sondes gesterf het, glo dat God Hom uit die graf opgewek het, sê Paulus, is saam met Christus gekruisig, en ou is dit nie hy wat meer lewe nie, maar Christus wat in so iemand lewe;
  • 1 Korintiërs 12:3: Niemand kan sê Jesus is die Here nie, behalwe deur die Gees van God. Met ander woorde, alleen omdat die Gees, God drie-enig in ons woon, kan ons bely dat Jesus die enigste Verlosser is.
  • ‘n laaste voorbeeld: Efesiërs 1:12: In Christus het die Heilige Gees ons as die eiendom van God beseël. met ander woorde, hulle wat glo, het nie alleen die Gees ontvang nie, maar dit ontvang omdat hulle in Christus is.

Of, kom ons sê dit miskien net baie baie eenvoudig: wie in Christus glo, wie sy lewe aan Christus toevertrou het, in so iemand het Christus deur die Gees kom woon. Daarom: so iemand het Christus se hart ontvang. Christus ontvang, wat, sê 2 Korintiërs 3:18, ons nou al hoe meer wil verander om aan die beeld van God gelyk te word. Of, soos Efesiërs 4 dit sê: ons ‘n nuwe gees en nuwe lewe te gee waar ons al hoe meer aan die beeld van God gelyk kan word.

Goed, sal u miskien nou sê, ek verstaan dit. Maar as Christus dan reeds so in my woon, hoekom lyk my hart soos hy lyk? Hoekom lyk my lewe dan nie anders nie? Hoekom is ek maar net nog dikwels wat ek is, al wil ek soms so graag anders wees?

Die volgende kort vertelling gee miskien ‘n gedeelte van die antwoord. Daar was ‘n vrou aan die einde van die vorige eeu wat aan die kus van Ierland gewoon het. Taamlik welaf, maar effens suinig. Baie was dus verbaas toe sy besluit het om een van die eerstes te wees om elektrisiteit in haar huis te laat installeer. ‘n Hele paar weke later kom die meterleser, en sien dat sy skaars enige krag gebruik het. Op sy vraag of alles dan reg is, het sy geantwoord: ja, maar ek sit elke aand net die ligte aan om die kerse aan die brand te steek, en dan sit ek dit weer af.

Met ander woorde, broers en susters: sy het krag beskikbaar gehad, maar dit nie gebruik nie. Haar huis het krag gehad, maar nie anders gelyk nie. Sy was ingeskakel, maar alles het dieselfde gebly.

Is dit nie ook hoekom ons soms is soos ons is nie, broers en susters? Ons is gered, ons glo dan. Jesus het in ons kom woon, want ons glo dan. Hy het sy Gees ook aan ons gegee, want ons glo dan. Maar ons harte bly onveranderd. veral wat sekere aspekte van ons lewens soms betref. Ons vertrou Christus vir ons redding, maar ons weerstaan verandering. So nou en dan skakel ons die skakelaar aan, maar ons is meesal tevrede met skadu’s.

Wat sal gebeur, broers en susters, indien ons egter die skakelaar aanskakel en dit aan hou? Wat sal gebeur as ek toelaat dat die lig van die Woord die hele dag oor my lewe skyn? Wat sal gebeur as ek nie kan wag vir die leiding van die Gees in my lewe nie?

Dit help ook nie, broers en susters, dat ons sê dat mense nie kan verander nie. ‘n Mens hoor dit soms. Ek sal maar altyd ‘n pessimis wees. Dit is maar my geaardheid om my te bekommer. Ek is maar nou net eenvoudig so of so. Ek word maar maklik kwaad.

Sal ons, broers en susters, dieselfde oor byvoorbeeld ons liggame sê? Ag, dit is maar my geaardheid om ‘n gebreek­te been te hê. Ek kan niks daaraan doen nie. Natuurlik nie. Ons sal gaan aanklop by die dokter of die ortopeed.

Moet ons nie, broers en susters, dieselfde maak met ons hart nie. Moet ons nie maar gaan hulp soek vir ons somtydse skewe gesindhede nie? Of behandeling kry vir ons somtydse selfgesentreerdhede nie?

Waar lê die raad? By Jesus Christus. Sy hart was rein, vol vrede en doelgerig. Hoekom? Omdat sy hart ook geestelik was, vol van die Gees. En omdat die Gees Hom gelei het, was hy volmaak gehoorsaam aan die wil van God.

Dit verwag God nie van ons nie. Maar Hy verwag van ons dat ons bereid sal wees om die Gees van God se lig so op ons lewens, so in ons harte te laat skyn, dat ons meer en meer sal groei na die beeld van God.

En as ons dink, broers en susters, en hiermee sluit ek af, dat God nie hiermee ernstig is nie, luister gerus wat sê Romeine 8:29: Die wat Hy lank tevore uitgekies het, het Hy ook bestem om gelykvormige te wees aan die beeld van sy Seun.

Ja, God het ons lief net soos ons is, maar Hy weier om ons so te laat bly. Hy wil hê dat ons al hoe meer soos Jesus moet word. Die vraag is: wil ons?
Amen