Johannes 12:20-26

God se koringkorrelplan



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In 1976 het Michael Campus die film Jesus of Nasareth vervaardig waarin Jesus voorgestel word as die leier van 'n Joodse ondergrondse beweging wat die doelwit het om die Romeinse besettingsmag in Palestina omver te werp. Jesus het twee planne met sy volgelinge afgespreek: Plan A was gewoonweg om die Romeine met geweld uit te dryf, 'n plan wat klaaglik misluk het. Plan B het daaruit bestaan dat Jesus homself vrywillig sou oorgee om gekruisig te word, maar nie sonder voorsorgmaatreëls nie. Een van sy volgelinge, Jakob, sou Hom 'n baie sterk narkosemiddel ingee, sodat Jesus geen pyn sou ervaar nie, trouens, die narkosemiddel was so sterk dat dit sou lyk of Jesus werklik gesterf het. As Jesus dan uit sy beswyming kom, sou hierdie `wonderwerk' die Jode so aangryp dat almal bereid sou wees om die Romeine met geweld aan te durf. Maar die probleem: Jesus sterf toe werklik. En dan eindig die film: aan die een kant 'n dooie Jesus, en aan die ander kant die dissipels wat Plan B probeer red deur die gerug te versprei dat Jesus nie dood is nie, maar lewe.

Ek dink nie Christene kan vrede hê met die growwe verdraaiing van die waarheid van die evangelie in 'n film soos hierdie nie, broers en susters, maar tog moet ons miskien vir 'n slag goed dink oor wat die film wil doen, en of gelowiges dit nie ook soms doen nie, ja, vanaf die tyd van die Bybel tot vandag toe. Wat is dit wat ons doen? Ons wil Jesus los dink en los maak van sy pyn en lyding aan die kruis. Juis omdat sy opneem van die kruis impliseer dat ons ook die kruis moet opneem, sy lyding beteken dat ons ook bereid moet wees om te ly, wil ons Hom van sy kruis en lyding bevry, sodat ons ook van ons kruis bevry kan word. Ja, wil ons Hom, soos in hierdie film, op allerlei maniere narkosemiddels toedien.

Ons gelese gedeelte is 'n goeie voorbeeld hiervan. Op die oog af lyk dit na 'n onskuldige verhaal: Jesus het so pas vir die laaste keer die tempel verlaat en die skrifgeleerdes begin saamsweer om Hom dood te maak. Ten spyte van die groot skares wat Jesus gevolg het, het min Hom werklik verstaan. Dit lyk dus of Jesus se sending na die Jode misluk het, dat Johannes se woorde aan die begin van die evangelie (Johannes 1:11), naamlik `Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie’ onkeerbaar in vervulling gaan.

Maar dan, asof uit die bloute, staan 'n aantal Grieke daar. En hulle wil vir Jesus sien, Hom graag ontmoet. En is dit darem nie nou 'n deurbraak nie? Want pas het die deur na Israel vir Jesus toegegaan, en nou gaan daar vir Hom 'n nuwe deur na die heidendom oop. Dit moet tog God se beskikking wees.

En wat meer is, dat sal met soveel minder moeite kan geskied. Want as Jesus byvoorbeeld na Griekeland sou vertrek, sou Hy mos die pyn en lyding op Golgota gespaar kan bly. Is dit nie God wat hier ingryp soos Hy destyds met Abraham gemaak het toe hy Isak moes offer nie? Wil God nie sy Seun hier op die nippertjie 'n ander weg as die kruisweg laat gaan nie?

Op die oog af lyk dit miskien na 'n goeie plan, broers en susters, selfs na 'n plan wat haarfyn na God se plan lyk. Behalwe dat dit nie is nie. Want die uur waarin Jesus hier staan, is die van 'n ander soort heerlikheid, 'n ander soort verhoging, letterlik die oprigting van die kruis. Hierdie beskikking is skyn-beskikking, dit wil God se plan omseil, dit wil heerlikheid hê sonder 'n kruis.

Maar sonder die kruis is daar geen verlossing nie, geen evangelie nie. Daarom: in die skynbaar onskuldige versoek van die Grieke lê daar 'n geweldige stuk versoeking vir Jesus, soortgelyk aan die van die duiwel wat Jesus op 'n hoë berg gebring het en aan Hom sogenaamd die hele wêreld op 'n skinkbord aangebied het.

Maar, soos in die geval van Jesus se versoeking deur die duiwel, kies Jesus vir gehoorsaamheid aan die Vader, kies Hy die lydensbeker, kies Hy die pad wat God met Hom wil stap. Want kyk hoe antwoord Hy die wat daar staan: `As die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een, maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in'.

Jesus se hoorders sou die beeld goed kon begryp: Koring was in daardie tyd 'n alledaagse gebruiksartikel, dit was stapelvoedsel. Almal het geweet: as jy 'n koringkorrel maal tot meel en dit bak tot een brood kan jy miskien een mens daarmee voed. Maar wanneer dit in die grond val, by wyse van spreke begrawe word, prysgegee word, opgelos word in die grond, ontkiem dit tot 'n koringhalm en uiteindelik tot 'n ryp koringaar, en lewer dit 'n groot oes.

En so, sê Jesus, is die weg wat Hy moet gaan. Dit, sê Hy, is die enigste reël van die koninkryk van God. Uit die dood kom die lewe, uit die graf kom die groei, uit die prysgawe die oes. Dit kan nie anders nie, dit moet. Want dit is hoe God se koringkorrelplan werk.

Dat Jesus moes sterf, in die graf moes ingaan, maar toe die graf oopgaan, het dit 'n ongekende oes gelewer. Die kerk, bestaande uit alle gelowiges regoor die hele wêreld. En wat moet hierdie mense gaan doen om Jesus werklik na te volg? Hieroor is Jesus baie duidelik: `As iemand My wil dien, moet hy my volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees’

Met ander woorde: Ons kan nie 'n ander weg gaan as wat Jesus gegaan het nie. Ook ons moet soos 'n koringkorrel in die grond val en sterf. Want wie sy lewe bo Jesus liefhet, verloor dit, en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo Jesus liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. Dit, broers en susters, is die groot paradoks van die evangelie. Nog meer: dit is die punt waarby ons nie verby kan kom nie.

Dit is soos Kierkegaard, die bekende filosoof gesê het: daar is twee soorte Christene — die navolgers van Jesus en die goedkoper uitgawe daarvan, die bewonderaars van Jesus. En partykeer wonder 'n mens of dit nie waar is nie, broers en susters. Want soms lyk dit of daar baie bewonderaars is, maar min navolgers. Juis omdat werklike navolging van Jesus nie 'n maklike en gewilde saak is nie, dit is nie werklik mode nie, dit lewer ook nie sommer aardse dividende op nie.

Maar hier is nie 'n kortpad nie. Groei na God toe kom net na die sterf van myself. Daar is nie 'n ander weg nie. Sterf eers aan jou selfsug, jou eiebelang, jou eie koninkryk — en dan sal jy leef, en Jesus in jou!

Dalk het u, broers en susters, die afgelope tyd die nuwe debat oor die televisie en in die pers gevolg oor die betekenis van onder andere die piramides in Egipte. In een artikel daaroor het ek gelees dat Egiptoloë 'n aantal koringkorrels in Toetankamen se graf ontdek het. Hierdie Egiptoloë beweer dat, indien een van hierdie koringkorrels nou geplant sou word, dit sou groei. En hoe ironies is dit nie, broers en susters? Vir duisende jare lê die korrels daar, alleen, met die potensiaal om vrug te dra, maar dit gebeur nie!

Miskien geld dieselfde vir ons. Vir baie jare glo ons al, vir baie jare lees ons ons Bybels, bid ons en kom ons kerk toe. Maar het ons al werklik gesterf in onsself en vir Jesus begin lewe? Volg ons Jesus werklik, of bewonder ons Hom net? Hierdie vrae moet ons elkeen, ek ingesluit, maar vir onsself antwoord.

Die Woord sê vanaand egter vir u en vir my baie duidelik: daar is nie kortpad na ware Christenwees toe nie. Narkosemiddels help nie hier nie. Veral die narkosemiddels soos die sogenaamde wegdink van God se gebod of die ignorering van die werking van God se Gees in ons lewens nie. Want daar is nie 'n ander plan as God se koringkorrelplan nie. 'n Plan wat bestaan uit sterf en lewe, uit ondergaan en opstaan, uit weggooi en baie meer terugkry. Wie nie bereid is om dit te doen nie, sal egter alles verloor.
Amen