2 Korintiërs 3:1-18

God se spieëls



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is baie dinge in die lewe wat so deel van ons bestaan van elke dag geword het, dat ons moeilik daarsonder kan klaarkom. Dink maar hoe moeilik ons alles wat elke dag gedoen moet word gedoen sal kry sonder byvoorbeeld ‘n motor of ‘n telefoon. En in vandag se tyd, sonder ‘n rekenaar. Dink maar net hoeveel noodsaaklike kommunikasie daar deesdae plaasvind met e-pos. En hierdie lysie sou baie lank kon wees. Party mense kan nie sonder ‘n selfoon funksioneer nie. En ek het al baie gewonder wat ons jongmense deesdae sou maak as hulle nie sms’e sou kon stuur nie.

Nog so ‘n onmisbare iets is ‘n spieël. Almal van ons besit dit. Daar is gewoonlik ‘n spieël in ons almal se badkamer. En party van ons het spieëls in die res van ons huise wat dien as versiering. Ook ‘n teleskoop, kamera, verkyker of mikroskoop kan nie sonder ‘n spieël funksioneer nie.

Spieëls word egter ook vir nog iets anders gebruik, te wete om boodskappe mee te stuur. Dalk het u dit ook al op ‘n keer in ‘n film of op televisie gesien. Deur van die Morse kode gebruik te maak, en die son daarteen te laat weerkaats, kan ‘n spieël gebruik word om oor ‘n taamlike lang afstand ‘n boodskap, soos byvoorbeeld die internasionale SOS boodskap te stuur.

Een voorbeeld hiervan is dié van ene G R Tweed wat in 1941, toe die Japannese die eiland Gaum beset het, in die digte bos gaan wegkruip het. Drie jaar later het hy een oggend ‘n nie-vyandige skip verby die eiland sien vaar. Hy het ‘n klein spieëltjie, wat hy vir drie jaar saam met hom in sy sak gedra het, geneem en seine begin stuur deur die son in die rigting van die skip met die spieëltjie te weerkaats. Drie kortes, en dan weer drie langes. Vir ‘n paar keer. Iemand op die skip het sy SOS boodskap gesien, en so is die man toe gered.

Kom ons dink ‘n bietjie hieroor. En ek wil aan u ‘n baie lawwe gedagte voorhou. U sal later sien hoekom. Gestel die spieëltjie in die man se hand het sy eie agenda gehad. Kom ons veronderstel die spieëltjie het verkies om sy eie boodskap te stuur. In plaas van ‘n kort sein stuur dit ‘n lange. Immers, na drie jaar in die man se sak het dit gesmag na aandag. ‘n Nog lawwer gedagte is ‘n onseker spieël. Wat as ek ‘n gemors van alles maak? Wat as ek ‘n lang sein stuur in plaas van ‘n korte? So, in plaas van ‘n egoïstiese spieël, het ons nou ‘n onseker spieël. Of, ‘n spieël wat doodeenvoudig weier om die son te weerkaats. Dan sou ons dit ‘n moedswillige spieël kon noem.

Kry ‘n mens so iets, broers en susters, soos ‘n moedswillige, egoïstiese of onseker spieël? Dit sal u seker verbaas, maar ons kry sulke spieëls. Wat meer is, daardie spieëls is soms ons. En kom ek verduidelik.

In 2 Korintiërs 3:18 het ons so pas die volgende gelees: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van God gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is’.

In kort. God se mense is mense wat God, dit wat God is, en dit wat God vir sy mense doen, moet weerkaats in hierdie wêreld. Ons is God se spieëls. Ander moet iets van God in ons sien. Iets van sy liefde, genade en vergifnis. Presies dit wat Paulus hier bedoel.

Paulus gebruik in hierdie gedeelte ‘n pragtige voorbeeld om te sê wat hy hiermee bedoel. Die voorbeeld wat hy gebruik is die geleentheid waar Moses op die berg Sinai die twee tafels van die wet van God ontvang het. Nadat Moses God se heerlikheid daar aanskou het, skryf Paulus, het sy gesig so van God se heerlikheid geskitter dat die Israeliete nie na Moses kon kyk nie. Met ander woorde, nadat Moses God aanskou het, kon hy nie anders as om God te weerkaats nie. Dit wat Hy gesien het, het van hom besit geneem. Dit het hom verander. En sy hele gesig het daarvan gestraal. En almal kon dit sien.

In hierdie opsig, broers en susters, is ons God se spieëls. Dit wat God is, dit wat God vir sy mense doen, hoe God sy mense aanraak, iets daarvan moet in ons lewens sigbaar wees. Jesus self het dit gesê: ‘Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik’ (Matt 5:16).

En op baie ander plekke in die Bybel kry ons presies dieselfde boodskap: ‘Julle behoort nie aan julleself nie. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik’ (1 Kor 6:19-20). En in Kolossense 3:17 lees ons: ‘En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom’.

En dit is juis op hierdie punt wat die voorbeeld van ‘n egoïstiese, onsekere en moedswillige spieël wat weier om die son te weerkaats, nie so laf is nie. Want so dikwels, broers en susters, doen ons, soos vers 5 sê, net die dinge wat ons self uitdink en die dinge wat uit onsself kom. En dikwels is dit die dinge van die vlees, en nie dinge van die Gees nie. Dan weerspieël ons nie dit wat God is en wat God vir en aan ons doen nie.

As ons sê dat ons God se spieëls is, moet ons mooi onthou wat ‘n spieël doen. ‘n Spieël kan maar net weerkaats. Dit kan nie sy eie beeld skep nie. Dit wat dit ontvang, dit word terug weerkaats. God is die bron, God is die lig, en ons is die spieëls.

En wat ontvang ons nie alles van God nie? Dit is te veel om op te noem. Liefde genade, vergifnis, sorg, sy teenwoordigheid, Hy gee ons hoop, Hy hou ons regop, in Hom alleen is daar vir ons werklik vrede.

En wat weerkaats ons daarvan? Daar word die mooi storie van Martin Luther vertel (die bekende kerkhervormer). Op ‘n keer, toe hy baie moedeloos was oor ‘n klomp dinge in die kerk en sy lewe, het hy taamlik neerslagtig geword en heeldag met 'n lang gesig rondgeloop. Sy vrou besluit toe op 'n stadium dat wat te erg is, te erg is. Sy trek toe vir haar pikswart rouklere aan en, sonder om 'n woord te sê, gaan sy aan om haar dinge in die huis te doen.

Toe Luther haar sien, skrik hy hom boeglam. ‘Hoekom het jy so aangetrek? Wie is dood?’, het hy haar benoud gevra. Toe sê sy vir hom: ‘Weet jy dan nie? Jou God is mos dood! Want dit is hoe dit lyk – jy loop heeldag hier rond met jou lang gesig, met jou skouers wat hang, al sugtend – so asof die God van hemel en aarde nie leef nie, maar dood is!’

Is dat wat mense van ons sien? Is dit wat ons weerkaats van God se liefde, genade en vergifnis? God werk met sy Gees so in ons, sê vers 18, dat ons al hoe meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word. Ons vermoë, ons bekwaamheid om Christus te weerkaats, sê vers 6, kom van God. Die Gees doen dit vir ons.

En al wat ons moet doen, is om te gee wat ons ontvang. Wat God aan ons doen, moet ons aan ander doen. Kan dit so moeilik wees? Veral as ons dink dat God ons bekwaam wil maak om dit te doen? Kan dit so moeilik wees om net te gee wat jy ontvang?

Ja, dit kan, veral as jy ‘n onwillige, egoïstiese en onseker spieël is. Wat eintlik nie moontlik is nie. Want, sê Paulus in ons gedeelte, deur sy Gees verlig God ons lewens. Hy maak ons nuut. En waar die Gees ons lewens so verlig, is daar vryheid.

Watter vryheid? Die ongelooflike vryheid en voorreg om maar net te weerkaats. Maar net te weerkaats wat God vir ons is, doen en gee.

Wat, broers en susters, sien ander by ons? As ons soms so negatief lewe, soms so neerslagtig is oor alles en nog wat, so onwillig is, so op onsself gerig is, wat sien ander in ons lewens van ons grote God?

Mag ons hierdie week wat kom net een ding doen: kom ons weerkaats aan almal by ons en om ons dit wat God vir ons doen en gee. Kom ons wees God se brief vir hierdie wêreld, ‘n brief wat elke dag weer en weer deur sy Gees geskryf word.
Amen