Efesiërs 1:15-23

God tik ons op die skouer



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Tot en met 1543 was aardbewoners die toppunt van belangrikheid. Tot 1543 kon ek as pa my arm om my dogter se skouer sit en vir haar sê: ‘Kyk, my kind, die ganse heelal draai rondom ons’. Ons is die middelpunt van alles.

Hoekom? Want ek sou as pa geglo het wat die bevinding van Ptolemeus in die tweede eeu was. Druk ‘n speld deur die aarde op ‘n sterrekaart, en daardie speld is presies in die middel van alles. En wat meer is, ons staan doodstil. Al die ander planete sweef deur die hemelruim, rondom ons aarde. Ons staan stil. Want ons planeet is alles, reg in die middel van alles. Plat soos ‘n pannekoek. Ons draai ook nie om ‘n as nie. Ons is soos die rots van Gibraltar. Ons is die anker van alles. Alles draai om ons en ons aarde. As dit nie vir die aarde was nie, was daar niks.

Maar toe kom ‘n man met die naam van Nicolaus op die toneel. Nicolaus Copernicus. Met sy kaarte, tekeninge, benerige neus, met sy Poolse aksent en baie, baie lastige vrae:

  • Kan julle ‘n bietjie vir my sê hoekom die seisoene verander? Hoekom is dit soms warm, maar dan weer koud?
  • En sê my, hoekom verskyn sekere sterre in die nag en ander weer in die dag?
  • En weet een van julle miskien hoe ver ‘n skip kan vaar voordat dit by die einde van die aarde afval?

En wat was die antwoord wat hy gekry het? Sulke onbenullige vrae. Wie het in elk geval tyd vir sulke lawwe vrae. Spandeer liewer jou energie aan belangriker sake.

Maar Copernicus het volgehou. By wyse van spreke het hy die mensdom op die skouer getik, keel skoongemaak, met sy vinger na die son gewys, en vir almal wat kon en wou hoor gesê: ‘Sien julle daar? Dit is die middelpunt van die sonnestelsel. Die son is die middelpunt van alles, nie die aarde nie!’

Vir meer as ‘n halwe eeu, broers en susters, het mense hierdie feite ontken. En toe Galileo Galilei op die toneel verskyn, en gesê het dat Copernicus reg is, is hy in die tronk gestop, en die kerk het hom uitgeban. Want hoe kan iemand beweer dat die aarde, en nog meer, die mens op die aarde, nie die belangrikste en die middelpunt van alles is nie?

Wat Copernicus vir die aarde gedoen het, broers en susters, het God vir ons elkeen se siel kom doen. God het by wyse van spreke op die skouer van die mensdom kom tik, sy vinger na die kruis gewys, na sy Seun, Jesus Christus, en gesê: Sien julle daar, dít is die middelpunt van alles!

Hoe, kan u miskien vra, het God dit gedoen? Hoor hoe sê Efesiërs 1:20-22 dit vir ons (en ek vertaal die twee verse vry): God het Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. Nou regeer Jesus oor al wat mag of koning of regeerder is. Niks en niemand sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie, en ook nie in die toekoms nie. God self het vir Jesus hierdie magtige posisie gegee, om oor almal en alles te heers, en ook oor die kerk.

Wanneer God, broers en susters, na sy skepping kyk, na die middelpunt waarom alles draai, is ons nie wat Hy raaksien nie. Al dink ons soms dat ons tog so bietjie belangrik is. Natuurlik kyk God ons nie mis nie. Natuurlik word ons as waardevol geag. Ons is immers die hoogste en belangrikste wat God geskep het.

Maar die middelpunt van alles? Noodsaaklik? Die spil waarom alles draai? Jammer, broers en susters, dit is ons nie, al dink ons soms so. Al dink ons dat in die wêreldjie waarin ons leef, ons soms die belangrikste en die beste is. En daarom eintlik die middelpunt moet wees waarom alles draai. Nee, in teenstelling met Ptolemeus van die tweede eeu, draai die wêreld nie rondom ons nie!

Ons gerief, broers en susters, is nie God se prioriteit nie. As dit die geval was, is daar iewers groot fout. As ons alles was, waar pas God dan in? En as God net daar was om ons tevrede te stel, hoekom dan altyd so ontevrede? Dalk juis omdat ons nie die middelpunt van alles is nie?

Kom ek sê presies waarop ek afstuur, vanoggend, broers en susters: Ons het tog maar almal, of een of ander manier, ‘n Copernicaanse kopskuif nodig. Ons is nie die middelpunt van alles nie. God is nie daar om ‘n ophef van ons te maak nie. God is nie daar om ons te dien nie. Ons is hier om van God ‘n ophef te maak. Ons is hier om God te dien. Dit gaan nie oor u nie. Nog minder oor my. Dit gaan oor God. En dit is hoekom ons hier op die aarde gesit is.

En hierin (om die beeld van vanoggend verder te neem), is die maan vir ons ‘n rolmodel. Wat doen die maan? Die maan genereer geen lig nie. Die maan kan nie skyn nie (al sê ons soms so). Sonder die son (die middelpunt van die sterrestelsel) is die maan niks anders as ‘n stikdonker planeet vol pokmerke nie. Maar wanneer dit in die regte posisie is, straal die maan. Want dit weerkaats die strale van die son, dit weerkaats die groter lig wat dit as ‘t ware lewe gee en laat skyn.

En dit moet ons presies ook wees. Weerkaatsers van God se lig, van God se liefde, van God se genade. Maar, en dit weet ons almal, gebeur nie so maklik nie! Want ons is in sonde gebore en ontvang, en van ons geboorte af stamp ons eintlik maar so bietjie kop met God en almal rondom ons. Want eintlik wil ons maar ons sin hê. Word ons nie almal, broers en susters, soms maar gedryf deur selfsug nie? Ek wil ‘n huweliksmaat hê wat my gelukkig maak. Ek wil kollegas hê wat altyd my opinie vra. Dit moenie reën as ek sonskyn wil hê nie, en ander moet my dien. Alles gaan eintlik oor my. Dit is selfverheffing, selfbehoud, selfgesentreerdheid.

Die tragiese is dat ons ook dikwels dink dat dit inderdaad ‘n mens gelukkig sal maak. En van kleins af was dit eintlik ook maar die boodskap van almal rondom ons. Jaag die beste na. Kry jou plekkie in die son. Maak naam vir jouself. Presteer. Styg uit.

Geen wonder, broers en susters, dat ons huise soms so lawaaierig, almal so stresbelaai, die met mag in die hand so meedoënloos is en harmonie, vreugde en vrede so skaars geword het nie! Ons het so baie maer hase begin jaag, dat die een haas wat saak maak – ‘n God-gesentreerde lewe - rustig by ons verbygestap het.

Wat gebeur, broers en susters, wanneer ons God se tikkie op ons skouer voel wanneer Hy vir ons sê: Kyk daar, daar is my Seun, Hy is die middelpunt van alles! En ons dit hoor, en dit werklik begin uitleef in ons lewens? Daar kom ‘n verandering, ‘n duidelik sigbare verandering waar my hele lewe nie meer sê ‘dit is wat ek wil hê nie’, maar ‘ wat dink jy wil God hê?’

Dan sal ons enigste behoefte wees om God te weerspieël. Dan sal ek nie meer oor my liggaam sê ‘dit is myne, daarom kan ek daarmee doen wat ek wil nie’, maar dit is God se liggaam, ek moet dit respekteer’. Dan sal ek nie meer oor my medegelowiges sê ‘dit is my vriende, hulle is hier om my te dien nie’, maar ‘hier is mense rondom my wat ek kan dien en liefhê soos God dit wil hê’.

Dan word ons mense, soos Paulus hier bid, wat met wysheid lewe, wat God werklik ken, wat kan hoop, wat die rykdom van alles sy gawes werklik ervaar, en wat ervaar hoe groot die krag is waarmee sy Gees in ons werk. Want dan staan God in die middelpunt van ons lewe, en nie ons nie.

Hoe gebeur hierdie skuif in ‘n mens se lewe, broers en susters? Hoe kry ‘n mens hierdie selfgesentreerdheid, wat soms so deel van ons lewens is, afgeskud? Hoe kry ek dit reg om myself nie meer as die middelpunt van alles te sien nie. Hoe beweeg ‘n mens vanaf ‘n ek-fokus na ‘n God-fokus?

Deur eerstens met God besig te wees, en nie met onsself nie. Deur te vra wat God wil, en nie wat ek wil nie. Deur aan God te dink, en nie aan onsself nie. Deur van God te getuig, met ons hele lewe. Deur wat ons van God ontvang, ryklik, met oorgawe, en sonder voorbehoud uit te deel.

Ek sluit af: het ons vanoggend, broers en susters, God se tikkie op ons elkeen se skouer gevoel. Het u gesien waarheen God se vinger gewys het. Kyk maar weer. Kyk na die kleed hier voor die kansel. Dit is waarheen God se vinger wys. Hierdie kruis, Hy wat aan hierdie kruis gehang het, Hy is die middelpunt van alles.

Het ons dit werklik gehoor, werklik gesien? En ja, as ons sê ons het, gaan ons lewens dit toon?
Amen