Efesiërs 2:1-2, 11-22; Galasiërs 6:12-16

Kerknuut is kraaknuut



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Sedert 1990 word daar oral oor die sogenaamde `nuwe' Suid-Afrika gepraat. En sedert 27 April 1994 leef ons in die sogenaamde `nuwe’ Suid-Afrika. En vir die meeste mense, broers en susters, beteken die woordjie `nuut' in die term `nuwe’ Suid-Afrika dat die politieke bordjies verhang is: die wat vroeër geen politieke mag gehad het, swaai nou die politieke septer.

Hierdie verskynsel is egter nie vreemd nie. Dit was ook hoe Jesus se dissipels Jesus se idee van die ‘koninkryk van God’ verstaan het: 'n koninkryk waarin die Jode, voorheen onder die oorheer­sing van die Romeine — met geen politieke mag in hulle besit — nou die politieke mag sal hê. Dit is byvoorbeeld waarom Johannes en Jakobus se ma vroegtydig al vir Jesus gevra het, nog voor die Romeinse juk sogenaamd afgegooi sou word, dat Hy darem sal toesien dat hulle elk 'n stewige kabinetspos kry, een aan sy linkerkant en een aan sy regterhand.

Dit is ook waarom Petrus, toe Jesus van ly en sterf begin praat, Hom een kant toe geroep het en hard met Jesus gepraat het. Hoe kan Jesus dan nou kom met stories van kruis opneem, stories van lyding en sterf, as dit Hy is wat die Romeine uit die kussings moet lig? Dit is ook waarom die dissipels, op pad na die laaste nagmaal, so onsensitief was om onder mekaar te loop en stry oor wie van hulle nou eintlik die belangrikste is.

Met ander woorde, broers en susters, net soos destyds verstaan die meeste in die samelewing vandag nog — wanneer daar van 'n nuwe samelewing of 'n nuwe gemeenskap gepraat word — onder die woordjie nuut dikwels dat dit gaan oor magstrukture wat verskuif en politieke bordjies wat verhang word.

Die Bybel, broers en susters, praat en dink egter anders as die woordjie nuut gebruik word in begrippe soos nuwe wêreld/samelewing/aarde. Want as die evangelie oor die nuwe aarde en oor nuwe mense praat, gaan dit nie in die eerste plek oor die omgewing of strukture wat verander nie, maar oor mense wat verander. En voordat mense kan verander, sê die Bybel verder, moet hulle hulleself eers verloën.

Die lidmate in die gemeente Efese, broers en susters, het maar swaar aan hierdie definisie van ‘nuutheid’ gesluk. Party van hulle was Jode en ander was Grieke. Wat die Grieke betref was die Jode deel van die ethnê, die onbeskaafdes of barbare. Dit is immers van die Grieke waar ons die woord `barbaar' gekry het: mense wat nie verstaanbare Grieks gepraat het nie, het volgens hulle ‘barbar’ gepraat en is daarom barbare genoem.

Vir die Jode was die nie-Jode weer deel van die gojim, die heidenwêreld wat geen kennis van God en sy gebod gehad het nie. Juis daarom het hulle byvoorbeeld mense uit die gojim nie op hulle tempelgronde toegelaat nie. In 1871 is daar byvoorbeeld 'n inskripsie ontdek met uitgrawings op die tempelgronde wat min of meer soos volg lees: ‘Vreemdelinge word verbied om hier in te gaan. Oortreders loop die risiko van pyn en dood’. En uit die werke van die Joodse geskied­skrywer Josefus weet ons dat hierdie inskripsie op die hek van een van die voorhowe van die tempel gepryk het.

Die tempel in die tyd van Herodes het 'n voorhof gehad vir heidene, 'n voorhof vir die priesters, 'n ander een vir mans en 'n vierde een vir die vroue. Die een soort mens is nie toegelaat om in die voorhof van die ander te kom nie. Vroue het hulle plek gehad, die mans hulle plek, en vir die kinders was daar geen plek nie.

En nou lees ons in Efesiërs dat dié mense almal in dieselfde kerk sit. Mans en vrouens en kinders. Almal mense wat die evangelie aanvaar het — hulle sit immers in die kerk — maar mense wat nog niks verander het nie. Daar was nog steeds voorhofmure van vooroordeel tussen hulle. Die mans het gevoel die vroue hoort nie daar nie. Maar aangesien hulle daar was, sou die mans hulle verduur solank hulle net stilbly. En die kinders mog gesien word, maar glad nie gehoor word nie.

En dit was nie net die geval in Efese nie, maar ook in Galasië. Want ook in Galasië was mense besig om vir hulle 'n godsdiens of teologie uit te werk wat hulle sou toelaat om deel van die nuwe aarde — die koninkryk van God — te word sonder om nuwe mense te word. Hulle het vir hulle 'n teologie uitgewerk waarvolgens hulle dus hulle ou vooroordele teenoor byvoorbeeld kinders en vroue en hulle naaste kon behou en tog lidmate van die kerk kon wees.

Dit is min of meer, broers en susters, die agtergrond waarteen Paulus so effens ontstoke reageer in sy briewe aan die Efesiërs en Galasiërs. Die evangelie, sê Paulus kort en kragtig aan die Galasiërs, vra nie of jy besny of onbesny, man of vrou of kind, belangrik of sogenaamd onbe­langrik, ryk of arm is nie, maar of jy 'n nuwe mens is. Want net nuwe mense kan aan die kerk van Christus behoort. Net nuwe mense kan die koninkryk van God bevolk. Net nuwe mense kan die nuwe aarde, wat Jesus belowe het, bewoon.

En op die nuwe aarde, in die koninkryk, is alle vyandskap uit die weg geruim. Op die nuwe aarde lewe mense in vrede. In vrede omdat onderskeid soos man en vrou en kind, maar ook sake soos vyandskap, agterdog, nyd, haat, jaloesie, onvergewensgesindheid en eie belang verdwyn het. Soos Paulus dit in Galasiërs 3:26-28 stel: ‘Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie; want julle almal is één in Christus Jesus.

Daar is dus net een manier waarop die nuwe aarde 'n werklikheid word, sê Paulus. En hierdie manier het niks te make met wie die politieke septer swaai of die mag in sy/haar hand het nie, watter arbeidswetgewing aanvaar word, watter regte mense sogenaamd kan kry, of watter ekono­miese beleid jy volg nie. Nee. Die nuwe aarde word 'n werklikheid wanneer ek as man of vrou, werknemer of werkgewer, ouderling of diaken, lidmaat of predikant, my in Christus laat toevou, my sondige vooroordele uittrek en Christus aantrek.

Dan, sê Paulus, is jy nie alleen nuutgemaak nie, dan leef en lyk jy soos Christus. Dan trap jy op Jesus se voetspore, sê 1 Petrus 2:21-23. En hoe langer hoe meer lyk jy na Jesus. En waar mense so optree en so lewe, daar sien jy die nuwe aarde, die koninkryk van God waarvan Jesus so baie gepraat het.

Dit is waarom, broers en susters, die kerk die eerste plek is waar die vrede van die nuwe aarde sigbaar behoort te wees en word. Met ander woorde, as die mense van die ou aarde nog onder mekaar twis oor stand en geslag, moet hulle in die kerk sien: Christus het ons, man en vrou, wat twee was, een gemaak, een liggaam. Daarom lyk ons as Christene se huwelike soos dit lyk. En: by ons is daar nie 'n onderskeid tussen ryk en arm, belangrik en sogenaamd onbelangrik, die met sogenaamde status en die daarsonder nie. In Christus is ons almal gelyk. In die kerk vorm ons nie drukgroepies om mekaar te ondergrawe nie. Ons smee nie komplotte om mense te na te kom nie. Ons steek ook nie mekaar teen mekaar op nie.

En as die wêreld oorlog maak om te bepaal wie oor wie moet heers, mekaar op openbare podiums afbreek en afkraak om steun te wen, moet die wêreld in die kerk vrede sien. Waar mense, ongeag hulle verskille en voorbehoude, hulle eie oortuigings en beginsels (wat soms hemelsbreed van mekaar verskil en, let wel, gerus maar mag verskil) saamwerk en saamspan om iets van God se koninkryk in die wêreld sigbaar te maak.

So sigbaar dat dit mense moet laat wonder hoe op die aarde dit alles moontlik is. En as hulle dan vra: ‘Wat is julle geheim?’ moet die kerklike koor nie na hulleself wys nie, maar na Christus terwyl hulle sê: In Hom is ons nuwe mense, Hy is ons vrede. Hy maak dit moontlik dat ons vrede met mekaar kan hê desondanks al ons verskillende oortuigings, beginsels en voorbehoude (wat, soos reeds gesê, soms hemelsbreed van mekaar verskil en gerus ook maar mag verskil).

Broers en susters, ek sluit af: in evangeliese taal beteken nuwe aarde/wêreld/gemeenskap of dan, die nuwe Suid-Afrika, nie nuwe maghebbers, nuwe politieke, sosiale of ekonomiese strukture nie. Nuwe aarde beteken eerder die plek waar nuwe mense so in vrede met God leef, dat dieselfde vrede tussen mense sigbaar begin word. Sigbaar in ons verhoudings met mekaar op die kerkraad, in die gemeente, in die wyke, in ons gesinne, in ons huwelike, daar waar ons as Christene werksaam is, ja, waar ook al, dat ander mense na die geheim van die vrede sal begin vra.

En juis daarom ook, broers en susters, as die kerk die plek is waar die koninkryk eerste sigbaar moet word, sigbaar moet word in die lewenswandel van ons wat nuwe mense geword het en is, is die belangrikste sake in die kerk nie sy gesingery, gebelyery, gebiddery of geprekery nie, maar sy gedoenery. Want wie nie doen nie, maak niks sigbaar nie. En as ons gedoenery nie sigbaar is nie, sal die nuwe aarde ook nie sigbaar word nie.

Daarom, broers en susters, terwyl dit om ons woel en werskaf op ekonomiese, politieke en sosiale gebied, waar mense na mag gryp, korrupsie op korrupsie volg, die een Christelike oortuiging na die ander van die tafel gevee word, is die evangeliese vraag nie in die eerste plek of ons gereed is of moet wees vir 'n sogenaamde `nuwe’ Suid-Afrika nie. Nee. Die vraag is of ons regtig kans sien vir die evangeliese implikasies van nuwe mense word.

Hiermee moet ons ons besig hou. Eerstens in die kerk, maar ook in die wêreld. Dan sal ons die nuwe aarde sigbaar begin maak. Laat die ander maar spook daarbuite aan strukture en wette of wat ook al. Dit is nie die taak van die kerk in die eerste plek nie. Ons taak, in die eerste plek, is om aan die wêreld te toon dat kerknuut werklik nuut is, dat kerknuut kraaknuut is.
Amen