2 Korintiërs 4:1-18

‘n Brief van Paulus



Votum
Die Here sê vir ons: “Ek is julle lig en julle redder, julle hoef nie bang te wees nie. Ek is julle toevlug, julle hoef nie te vrees nie”.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here. Amen.

Lofsang Gesang 220:1-3
Na Wet Gesang 240:1
Belydenis Gesang Gesang 265:1 en 2
Gebed Prediking  
   

Wie van u broers, susters en kinders, het nie ook al gedroom van skatte nie? Ek glo die meeste van ons het sekerlik al iewers in ons lewe gedroom dat ons ‘n belangrike skat ontdek en dat dit vir ons baie bekendheid en roem bring. Wanneer ons na die films van byvoorbeeld Indiana Jones gekyk het, dan glo ek het die avonturier in die meeste van ons wakker geword. Ons het gedroom dat dit ons is wat die skatte ontdek en wêreld bekend is. Die werklikheid van die lewe is egter dat skatte skaarser is as die spreekwoordelike hoendertande. Bitter min mense raak bekend omdat hulle een of ander skat ontdek het. Ons besef dat ons maar sal moet werk vir dit wat ons wil hê.

Maar weet u gemeente, dat daar in die Bybel ook sprake is van skatte wat ons kan hê. Ons lees in Matteus 6 dat ons vir onsself hemelse skatte kan bymekaarmaak waar geen mot of roes dit kan verniel nie en waar diewe nie kan inbreek en dit steel nie. Paulus praat ook van ‘n skat wat elkeen van ons kan besit. Ook hierdie skat kan nie gesteel word nie, dit kan nooit verloor word nie. Ons kan dit met ander mense deel, maar sélf sal ons nooit ‘n tekort daarvan hê nie, want die krag van hierdie skat kom van God en nie van onsself nie. Kom ons gaan lees saam uit die Bybel waar Paulus skryf oor hierdie skat en ons luister ook wat God vanoggend vir elkeen van ons wil leer oor skatte. Ons lees saam uit 2 Korintiërs 4:1-18

(Liturg lees 2 Korintiërs 4:1-8)
Teksvers
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Kor 4:7)
(Bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou)
Sang Gesang 471

By ‘n geleentheid soos vanoggend kan dit baie maklik gebeur dat ons vergeet hoekom ons eintlik hier is. Die aandag kan so gevestig word op die mens en wat die mense doen, dat ons uit die oog verloor dat God die sentrale plek vanoggend en in elke erediens moet inneem. En dit is presies wat in Korinte gebeur het, en wat aanleiding gegee het tot die skrywe van hierdie brief waaruit ons vanoggend saamgelees het.

In Korinte was daar ‘n groep Joodse Christene wat loop en spog het dat húlle die ware lig van God aanskou het en dat die leer wat húlle oor Jesus Christus verkondig het, die regte een was. Volgens hulle stam hulle vanuit die regte Joodse bloedlyn, wat meebring dat hulle ‘n besonderse insig in die Jesussaak het. Verder kan hulle onberispelike aanbevelingsbriewe voorlê. ‘n Aanbevelingsbrief is in ons taal ‘n getuigskrif. Hulle het elkeen ‘n goeie getuigskrif, maar waar is Paulus se getuigskrif, het hulle gevra? Wat meer is, Paulus kan nie werklik ‘n gestuurde van Jesus Christus wees nie, want in hulle oë was hy wat Paulus is, ‘n swakkeling.

Waarskynlik was Paulus ‘n sieklike mens en was hy nie die mooiste van gelaat nie, vandaar die beskuldigings teen hom. Die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het is ‘n uittreksel uit die brief wat Paulus aan die gemeente in Korinte gestuur het en waarin hy homself en die boodskap wat hy verkondig het, verdedig. Alhoewel nie vir dieselfde redes, kan hierdie brief netsowel vanoggend aan ons as gemeente gerig gewees het. Miskien sou Paulus se brief aan ons dalk as volg gelei het:

‘Van Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus. Dat ek ‘n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het. Aan die gemeente (naam). Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen’.

Elkeen van julle is bewus van die aantuigings teen my as persoon en die verdagmaking van die evangelie wat ek verkondig. Ek het dit goed gedink om aan elke gemeente ‘n kort verduideliking te stuur van die inhoud van die brief wat ek aan die gemeente in Korinte gestuur het. Hierin poog ek om iets te sê van dít wat ek self eerstehands in die sendingveld ervaar het.

Dit mag miskien so wees, gemeente, dat ek nie baie gesond is nie. Ek bid onophoudelik tot God om hierdie doring in my vlees te verwyder, maar Hy het dit goedgedink om nie aan my versoek te voldoen nie. Nogtans vind ek deur God se genade die krag om aan te gaan met die opdrag wat ek ontvang het om die evangelie te verkondig. Ek is in die tronk gegooi en gemartel vir hierdie boodskap wat ek bring, maar nogtans het ek nooit moed op gegee nie. Ek was verdruk en vervolg, maar nooit het ek terneergedruk of eensaam gevoel nie, want God se krag het my voortdurend versterk.

Dit is nie maar bloot liggaamlike krag wat ek gevind het nie, dit was veel meer as dit. Dit is ook ‘n krag wat iets laat gebeur, wat verandering bring. Die woord wat ons in Grieks vir krag gebruik, dunamis, is die stam vir ‘n woord wat julle in Afrikaans ken, naamlik “dinamiet”. Soos reeds gesê, dit is ‘n krag wat verandering teweegbring. Wie van u kan nie meer onthou watter geweldige skade verlede jaar in ‘n woonbuurt in Pretoria deur dinamiet aangerig is nie? ‘n Hele woonbuurt is geskud deur daardie kragtige ontploffing.

En in onsself het ons ook hierdie “dinamiet”, hierdie krag wat verandering bring. Jesus Christus is die krag in ons lewe. In ons hart skyn die lig van die kennis van God. Hierdie kennis is die wete dat Jesus Christus waarlik geleef het en vir ons sonde gesterf het. Ons is reeds losgekoop van die mag wat die sonde oor ons het, naamlik die ewige dood. En dít is waarin ons ons krag vind. Liggaamlik sal ons oud word en doodgaan, maar dit is alleenlik die begin van die nuwe lewe saam met God. Ek wil dit aan julle verduidelik deur dit te beskryf as ‘n skat wat in ‘n kleipot bewaar word.

Anders as wat ons as mense sou doen, word God se skat nie in ‘n kluis of bank weggesteek nie, maar word dit in ‘n baie eenvoudige kleipot bewaar. Die houer waarin die skat gestoor word, mag nooit die glans en die prag van die skat oorskadu nie, daarom het God dit goedgedink om ons in ons swakheid te gebruik as die “kleipotte” waarin sy skat geberg word. Julle is bekend daarmee dat die priester die kleipot waarin van die offers gebring word, stukkend gooi wanneer die kleipot onrein raak. Dit is nie die houer waarin die offer gebring word wat belangrik is nie, maar die offer self. Net so moet ons ook onthou dat dit nie ons as kleipotte is wat belangrik is nie, maar die glans van God, Jesus Christus wat uit ons straal, wat al die eer en lof moet kry.

Paulus skryf verder: Ek wil julle waarsku gemeente, om nie soos die valse leraars in Korinte julleself hoogmoedig en meerwaardig te hou nie. Ons moet in nederigheid hierdie skat van God in ons dra en dit aan die wêreld vertoon. Jesus Christus het vir ons ‘n voorbeeld van nederigheid gestel, daarom moet ons ook in nederigheid ons opdrag uitvoer. En hierdie opdrag is om na die wêreld te gaan en te verkondig dat Jesus Christus die enigste Verlosser is.

Toe julle nog jonk was het julle altyd gedroom van skatte. Ek wil julle verseker dat julle kan ophou droom wanneer julle in die evangelie van ons Here Jesus Christus glo. Elkeen van ons ontvang die skat van God wanneer ons vashou aan hierdie evangelie.

Dit moet nooit vir julle belangrik wees om aardse skatte te versamel nie. Dit kan gesteel of vernietig word, maar die skat wat elkeen van ons in ons dra, duur vir ewig. Julle moet sonder ophou in die wingerd van hierdie gemeente arbei, sodat die skat van God mense se lewe kan verryk. Wat is vir julle die belangrikste? Om aardse skatte te versamel en roem en aansien in mense se oë te verwerf? Of om God se skat te laat skyn in hierdie donker wêreld van sonde en daardeur vir julle ewige skatte in die koninkryk van God te verseker?

U moet egter weet, medebroer en -suster in die geloof, dat wanneer ons kies om hemelse skatte te vergader, dit baie keer sal gebeur dat die kleipot beskadig sal word. Somtyds is dit nodig dat die kleipot moet breek sodat God se skat raakgesien kan word. Ander kere mag dit weer gebeur dat die pot dalk gaan kraak om sodoende God se almag aan ons te toon. Weet net dat soos wat God se krag my versterk het, sal dit ook vir julle krag wees in beproewing. Wanneer die kleipot breek, moet julle die skerwe optel, die krag sal van God kom. Dra mekaar se laste. Wees in God diensknegte aan mekaar. Wanneer julle dit doen, sal die skat van God die gemeente en die werksaamhede van die gemeente, helder verlig.

Waak daarteen om nie roem by mense te soek nie, maar wees opreg in alles wat julle doen en sê. Ek het aan die gemeente in Korinte hierdie slotwoorde geskryf: “Julle soek mos ‘n bewys dat Christus deur my praat, Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, want al is Hy gekruisig in die swakheid van ‘n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien”. ‘Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! Laat alles by julle in liefde geskied.’ Ek het nog ‘n versoek aan julle, broers: wees eensgesind en werk saam sodat God daardeur verheerlik kan word. “Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.” Hier eindig Paulus se brief aan ons.

Gemeente, miskien is dit wat Paulus vanoggend aan ons sou skryf as hy nog geleef het. Mag dit waar word dat God se skat in hierdie gemeente sal skyn. Dat die evangelie van God verkondig sal word, En dat ons skatte bymekaar sal maak. Nie vir hierdie wêreld nie, maar vir die koninkryk van God. Mag dit ook nooit vir ons nodig wees om menslike getuigskrifte te soek nie, want dit is nie die kleipot wat belangrik is nie, maar die skat van God.
Amen
Gebed
Slotsang
Gesang 532:1-3
Seën “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee”. Amen