Lukas 12:13-21

Om ryk by God te wees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die tyd van die Bybel was dit die gebruik dat, wanneer 'n vader sou sterf, van die broers verwag is om die erfenis wat hulle vader nagelaat het saam te behou en, soos Psalm 133:1 dit stel, `in eensgesindheid saam te woon’. As broers wou deel (soos ons die voorbeeld van Abraham en Lot het), is gewoonlik die hulp van 'n godsdienstige leermeester ingeroep om die saak te beredder, maar dan nie in die eerste plek om die erfporsie te verdeel nie, maar om te poog om die broers met mekaar te versoen.

Dit is egter nie waarvoor die een broer Jesus (gesien deur baie as godsdienstige leermeester van sy tyd) in ons gelese gedeelte nader nie. Hy wil nie met sy broer versoen nie, nee, hy wil die erfporsie deel. Want hy het geglo: as hy maar net die gedeelte van sy erfporsie kan kry, as hy net sy besittings kan vermeerder, dan sal hy gelukkig wees, dan sal sy toekoms verseker wees, dan sal alles reg wees. Hy wil dus nie na Jesus luister in 'n poging tot versoening nie, nee, hy wil Jesus gebruik om hom te help om sy plan uit te voer. Hy wil hê Jesus moet sy broer druk om 'n verdeling van die erfporsie te finaliseer (in lyn met wette soos Deut 21:15 en Num 27:8). Hy staan dus op sy sogenaamde `regte’, en verwag van Jesus om sy plan deur te voer.

Geen wonder, broers en susters, dat Jesus hom hier so 'n kortaf antwoord gee nie (wat ons letterlik sou kon vertaal met iets soos): My liewe land mens, wie het My as julle regter en verdeler aangestel. En gaan Jesus selfs ook verder: pasop liewer vir gierigheid, sê Hy, pasop vir 'n sug na net meer en meer, 'n onversadigbare drang na net nog en nog, want, sê hy, die mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloedigheid van sy besittings nie. Of, anders gesê: 'n vermeerdering van besit (soos die broer) bring nie geluk in die lewe nie. En om dan te verduidelik wat hy hiermee bedoel, gaan Jesus oor (en dit is so tipies van Jesus!) om 'n gelykenis te vertel.

Daar was eendag 'n man, sê Jesus, 'n ryk boer (dus iemand wat reeds meer as genoeg gehad het), wie se grond baie goed gedra het. Let wel: Jesus kritiseer nie sy rykdom nie, hy het dit waarskynlik eerlik bekom. Ook kritiseer Jesus nie die goeie oes op die lande nie, die man het immers seker hard gewerk in die plantseisoen, en buitendien: goeie grond en 'n goeie oes is tog altyd 'n gawe van God.

Hierdie boer, gaan Jesus verder, het egter 'n groot probleem gehad. Die oes moes ingebring word (wat dwaas sou wees indien dit nie gedoen word nie), maar waar sou hy die oes kon bêre? Maar ons weet mos, broers en susters, 'n boer maak altyd 'n plan, en daarom besluit die boer dat hy sy skure sal afbreek en groter skure bou: dan sal hy genoeg plek hê om alles weg te bêre. Hierteen, broers en susters, en dit moes ons goed raaksien, het Jesus dit in die gelykenis ook nie: om te beplan om jou besittings te behou is tog alleen nie net normaal nie, dit is ook verstandig.

Maar waarteen het Jesus dit dan met hierdie boer, sou u seker nou al vra? Teen dit: vir hierdie boer gaan dit nie om die wegbêre van iets wat in elk geval nie syne is nie, die oes is tog gawe van God, nee, by hom is daar 'n ander, verkeerde houding sigbaar. Want kyk wat sê hy: wat moet ek doen om dit vir my te bewaar.

Die oes word dus nie 'n geleentheid nie, maar 'n verleentheid, en in plaas daarvan dat sy voorspoed lei tot minder sorge, lei dit nou net tot meer. Wat meer is, hierdie boer se rykdom het daartoe gelei dat hy 'n eensame mens geword het. Want, sê Jesus, hy het by homself gedink, net ander woorde, hy staan alleen, hy is besig met 'n selfgesprek, iets wat baie vreemd was vir 'n Jood van daardie tyd, want Jode was groepsmense (en is, ons sien dit vandag nog).

Daarom, broers en susters, wanneer die boer sê: dan sal ek vir myself sê, mens jy het goed gedoen, hou nou op met werk, en leef lekker, is dit 'n gesprek van 'n eensaam geworde mens, want sy toespraak kom van homself, is gerig aan homself, en bly by homself. Dus was sy skure niks meer as bunkers waarin surplusse gebêre word vir sy alleengebruik nie.

Wat meer is: in die Ou Nabye Ooste is geglo dat die mens alleen ware vreugde oor sy besittings kan beleef as hy dit met ander deel. Maar so is dit nie by die ryk boer nie. Hy was 'n eensame mens. Dit het net gegaan oor sy oes, sy skure, sy besittings, selfs wanneer hy praat is dit nie met ander nie, maar met homself, sy siel, en dan net oor sy toekoms en sy voorspoed. Sy geluk, sy toekoms, sy vreugde, ja, selfs die sin van sy bestaan, was hyself, net hyself, en hy sou daarvoor sorg. In elk geval: volgens hom was sy lewensgeluk verseker.

Maar kom ons vra meer spesifiek, broers en susters: waarop wil Jesus presies sy vinger hier lê, waarin lê die dwaasheid van so 'n lewensontwerp, so 'n siening van die lewe? In die vergader van besittings as sodanig? Nee, Jesus wys dit nie af nie. In die beplanning om jou besittings te bewaar en te vermeerder? Ook nie, want ook dit wys Jesus in die gelykenis nie af nie.

So wat dan? In die illusie, broers en susters, dat 'n mens se besittings vir 'n mens alles in die lewe kan koop, ja, selfs geborgenheid teen die dood kan verskaf. Maar ook: dat die mens soms meen dat geluk in die lewe iets is wat met berekeninge kan beheer, dat geluk die somtotaal is van die dinge, die goeie dinge wat ons het.

En hierdie dinge kan baie wees, broers en susters. Dit kan my werk wees, my posisie, my motor, my lewenspatroon, my vermoë, my besittings, ja, selfs my kerk en my God. En as ons dit alles maar net kan behou, bymekaar kan hou, alles verseker, dan, ja dan sal ons klaarkom. Dan sal ons gelukkig wees. Dan sal ons niks meer nodig hê nie. Ons nie vir ander nie, en ander ook nie vir ons nie.

Hierdie lewenshouding, broers en susters, lei gewoonlik tot twee gevolge. Die eerste is die van geweldige optimisme: die optimisme van die selfversekerde ryk boer, die mens wat `vir homself’ kan sê: ‘Mens, maar jy het darem goed gedoen. En omdat ek so goed vir myself gedoen het, is alles goed, en sal alles altyd goed wees.’

Of, broers en susters, kan so 'n lewenshouding lei tot 'n nimmereindigende gejaagdheid: want die skuur is nooit groot genoeg nie, dit is nooit vol genoeg nie, nooit sterk genoeg nie. En miskien sal nog 'n skuur dinge beter maak, maar dan moet ek hom net ook vol kry. Maar daarvoor is nog grond nodig. Maar iewers sal ek dit kry. Ook die tyd om dit te bewerk, te besaai en af te oes. Maar vol sal ek hom kry. Ek moet net sorg dat ook die tweede skuur sterk genoeg is. En wie weet, mens, volgende jaar bou jy die derde skuur.

Met die gevolg, broers en susters? Ons raak so optimisties oor ons eie vermoëns, ons jaag teen so 'n spoed om ons eie bastion van geluk te bou, dat ons onsself begin verloor, die langs ons begin verloor, God begin verloor. Maar ook ons greep op die lewe self en die wêreld begin verloor. En voor ons sien plunder ons die wêreld, vergiftig ons ons omgewing, plunder en buit ons ons naaste uit, buit ons onsself uit, en bedreig ons ons eie toekoms en die van ander. En, helaas, die van die wêreld.

Dit is in so 'n selfgemaakte wêreld, broers en susters, dat God se stem inbreek in ons gelykenis van vanoggend. Want teenoor al ons plannetjies, teenoor al ons berekende skuiwe op die skaakbord van die lewe, skuif God sy swart doodspion in en sê: Skaakmat, jou dwaas. Alles wat jy oor die jare bymekaargemaak het, sal Ek in een nag van jou opeis. Want alles wat vir jou so belangrik was, wat sogenaamd geluk gebring het, was skyn. Jou skuur, jou tweede skuur, jou tweede stukkie grond. Die dinge wat jy sou lustig aan jouself gestaan en vertel het. Die dinge wat jy vir jouself tog so berekend wysgemaak het.

Want ware en diepe lewensgeluk het nie te make met wat jy het nie, maar met wat jy is: of jy ryk is in die rigting van God, of jy werklik vir God lewe.

En om vir God te lewe, impliseer Jesus hier, beteken nie maar net dat ek 'n paar lewensaanpassings sal/kan maak nie. Waar jy in elke geval doen wat jy wil, beplan soos jy wil, maar darem nou daarby God se seën daarvoor vra en Hom sogenaamd dank as die groot oes op grond van my plannetjies nou my geluk verseker het nie.

Nee. Om ryk vir God te wees, om in sy rigting te lewe, vra 'n lewensverandering. 'n Lewensverandering waarin ek al my rykdom aan God teruggee: my tyd, my kragte, my siel, alles wat vir my belangrik is, ook my rykdom aan sonde, ja, letterlik alles wat ek het, en dan begin om die arm man van Nasaret te volg.

Het ons dit al gedoen?
Amen