Markus 4:1-9

Toe ore, tweedehandse lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die woorde waarmee ons Skriflesing van vanoggend afsluit, ‘wie ore het en kan hoor, moet luister’ is nie die enigste keer wat dit in die Skrif voorkom nie. Agt keer in die Evangelies, en toevallig, ook agt keer in Openbaring, word ons daaraan herinner dat dit vir die gelowige nie net goed genoeg is om ore te hê nie: hulle moet ook gebruik word.

In Markus 4, sien ons, vergelyk Jesus ons ore met grond. Hy vertel van ‘n boer wat saad saai (of, iemand wat die Woord verkondig), wat op vier verskillende soorte grond (of, vier verskillende ore) te lande kom. Party gelowiges se ore is soos die harde pad: glad nie ontvanklik vir die Woord nie. Ander se ore, sê Jesus, is soos ‘n klipbank: hulle hoor die Woord, maar laat dit nie toe om wortel te skiet nie, laat hulleself nie toe om te dink oor wat hulle gehoor het nie.

Nog ander se ore is soos ‘n stuk grond vol onkruid: hulle hoor die Woord, hulle hoor egter ook baie ander dinge, en die ander dinge wat hulle hoor is so belangrik dat die Woord wat hulle hoor, nie eers ‘n kans het om te begin groei nie. En dan is daar diegene, sê Jesus, wat ore het wat hoor: hulle ore is gereed om God se Woord in te neem en daarop te reageer.

Let mooi op, broers en susters, wat Jesus in hierdie gelykenis by implikasie sê: in al vier gevalle word presies dieselfde saad gesaai, in al vier gevalle is dit dieselfde saaier wat saai. Met ander woorde, die boodskap en boodskapper bly presies dieselfde, dit is die ore, die luisteraars wat verskil. En as ons die persentasie in die gelykenis wat hoor as norm kan neem, broers en susters, wil dit amper lyk of 75% van alle mense wat God se Woord hoor, nie daarna luister nie. Nie na God se stem luister nie. Of die oorsaak nou ‘n harde hart, ‘n vlak lewe of bekommernis is, ‘n driekwart, sê Jesus, mis die boodskap. Het ore, maar hoor nie. Het ore, maar gebruik dit nie.

Die Bybel, broers en susters, heg groot waarde daaraan dat ons na God se Woord sal luister. Net nadat God in Deuteronomium 5 die gebooie aan die volk gegee het, en Moses opdrag gee wat daarmee gemaak moet word, sê God: ‘As julle luister’, sal julle voorspoedig wees, en ‘Luister, Israel, die Here is die enigste Here’. Ook Spreuke 8:34 belowe dat dit met die mens goed sal gaan indien hy luister. Ook elkeen van die sewe gemeentes in Openbaring word gemaan: wie ore het om te hoor, moet luister wat die Gees vir die gemeente sê. Romeine 10:14-17 sê dit ook pragtig: hoe kan ons glo as ons nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan ons hoor sonder iemand wat preek? Die geloof kom dus deur die prediking wat ons hoor.

Pilatus, daarenteen, bly seker die klassieke voorbeeld van iemand wat nie wou luister nie, en daarom verlore gegaan het. Eers het sy vrou hom gewaarsku, moet tog niks aan hierdie onskuldige man doen nie. Toe het Jesus self vir hom gesê: Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na My. Maar Pilatus het eenvoudig gehoor wat hy wou. Hy het toegelaat dat die skreeuende stemme van mense die stem van sy gewete en Jesus uitdoof. Daarom het Pilatus as ‘n man gesterf wat nooit die geloof gevind het nie.

Daarom hierdie duidelike woorde van Jesus: wie ore het, moet luister! Wanneer laas, broers en susters, het ons ons ore ondersoek, nie om net te kan hoor nie, maar om God se woord te hoor? Wat gebeur met ons, broers en susters, wanneer God se saad na ons kant toe val? Kom ons vra vanoggend ‘n vraag of twee om dit te toets, om te toets of ons regtig God se stem hoor.

Wanneer laas, broers en susters, het ons ons oopgestel vir God. Ek bedoel, werklik oopgestel? Wanneer laas het ons aan God ‘n stukkie onverdeelde, ononderbroke tyd gegee om na sy stem te luister? Soos Jesus gedoen het.

In Jesus se lewe, broers en susters, was daar amper ‘n patroon van hoe Hy na God geluister het. Hy het gereeld tyd saam met God deurgebring om te bid en te luister. Vroeg, sê Markus, het Jesus opgestaan om te gaan bid, en, sê Lukas, Hy het Hom altyd weer op eensame plekke afgesonder om daar te gaan bid.

As Jesus Christus, broers en susters, dit die moeite werd geag het om gereeld met sy Vader in gebed te tree en te verkeer, sal ons nie dalk net verstandig wees om Hom in hierdie voorbeeld te volg nie?

Jesus het egter ook, broers en susters, behalwe om met God tyd in gebed deur te bring, ook tyd met God se Woord deurgebring. Natuurlik het Jesus nie ‘n Bybel gehad nie. Maar kyk maar hoe antwoord hy die Satan telkens in die woestyn wanneer Hy versoek word: telkens met ‘n teks uit die Woord. Daar staan geskrywe, het Hy elke keer gesê.

Dan is daar ook die geleentheid toe Jesus gevra was om in die sinagoge te lees. Die boek Jesaja is aan Hom oorhandig, Hy het daaruit gelees, en toe verklaar. Wat hier staan, is vandag vervul. Met ander woorde, Jesus het nie alleen die Skrifte geken nie, maar ook die vervulling van die beloftes daarin gelees.

As ons dus ore het, broers en susters, wat God se stem kan hoor, het ons so pas op twee sake afgekom wat die moeite werd blyk te wees: die gewoonte van gebed en Bybellees, gewoontes wat ook deel was van Jesus se lewe.

Nou kan u as u wil broers en susters, maar u ore toemaak en aan ander dinge begin dink. Want wat ek so pas gesê het, het u mos al baie gehoor. Wat meer is, die meeste van ons hier bid darem en lees darem die Bybel. So, aangesien ek nou hier met die praat wat dit nie doen nie, dink maar gerus aan iets anders.

Ek verstaan as u so in die gedagte reageer, broers en susters. Ek verstaan ook dat daar by sommige van u so ‘n effense teësinnigheid mag wees. Want het baie van ons nie al probeer om elke dag stiltetyd te hou nie, maar dit eenvoudig net nie reggekry het nie. Ons is immers soms werklik besig. Daarom, eerder as om tyd met God deur te bring en na sy stem te luister, laat ander dit maar doen. Dan kan ek die voordeel daaruit trek. Laat die dominee sy preek voorberei, mooi gaan hoor wat God in hierdie gedeelte vir ons wil sê, en dan kan ek dit ook hoor. Laat ander maar deur die Skrif worstel en daaroor ‘n baie mooi geestelike boek skryf, en dan sal ek dit lees. En laat die predikant sommer in die gemeente of die ouderling aan huis ons almal in die gebed saam voorgaan. Hulle is immers goed daarmee, baie beter as ek.

As dit u ervaring is, broers en susters, is u geestelike ervarings tweedehands, en wil ek u graag uitdaag met die hierdie gedagte: doen ons dit met ander aspekte van ons lewens? Ek glo nie.

Ons doen dit nie met ons jaarlikse vakansie nie. Ons sê nie voor ons vakansie: vakansie is so ‘n lastigheid, al die inpakkery, uitpakkery en die ver ent pad, nie. As gaan liewers iemand in my plek stuur om te gaan vakansie hou. En wanneer die persoon terugkom, kan hy my van alles kom vertel wat gebeur het en wat gedoen is. So sal ek ook van alles kan hoor sonder die ongerief. Ons doen dit nie, broers en susters.

Ons doen dit ook nie met die romanse nie. Ons sê nie: ek is verlief op daardie wonderlike mens, maar romanse is so lastig en vat so baie tyd. Ek sal daarom iemand in my plek huur om die verhouding namens my aan die gang te kry. Dan kan hy vir my van alles kom vertel en ek kan met die verhouding aangaan.

Net so, broers en susters, stuur ons nie iemand om in ons plek te gaan eet nie. Ons sê tog nie: kou is darem baie harde werk, en die baie verskillende smake en keuses op die spyskaart oorweldig my. Laat iemand anders gaan, sit met al die keuses, en ek sal hoor hoe dit was. Eintlik belaglik, broers en susters, om dit so te beskryf.

Daar is sekere dinge wat iemand nie vir ons kan doen nie. Een daarvan, is om tyd saam met God deur te bring. Om na God te luister kan net ‘n eerstehandse ervaring wees. Wanneer God om jou aandag vra, wil Hy nie hê dat jy ‘n plaasvervanger sal stuur nie. God soek jou, Hy soek vir u en vir my. Hy nooi jou uit om in sy teenwoordigheid te kom. Hy nooi jou uit om die aanraking van sy hand te voel. Hy nooi jou uit om te kom aansit by sy feesmaal. God wil, broers en susters, kan ons amper sê, tyd met jou deurbring. Want dit is met jou lewe, met u en met my lewe, waaroor Hy met ons wil praat.

Luister wat sê Jakobus 1:25 hieroor: ‘Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen’’. Hoeveel van ons, broers en susters, is gelukkig in wat ons doen? Hoeveel van ons, broers en susters, is gelukkig met wat ons is en hoe ons lewens lyk? Hoeveel van ons is werklik gelukkig met die diepte van ons verhouding met God? Dalk, impliseer Jesus, in Markus 4, so ongeveer 25 persent.

Want die ander luister nie na wat ek sê nie. Hulle spandeer nie tyd saam met my dat Ek hulle kan wys wat die lewe is, die waarlike lewe is en wat Ek vir hulle lewens beplan en wat daarom vir hulle in hulle lewens voorlê nie.

Ons kan alleen werklik aan God behoort, broers en susters, God kan ons alleen werklik in besit neem, as ons ore het wat luister. Ore het wat werklik vir God oopgestel is. As ons ore nie luister nie, nie vir God self wil luister nie, sal ons ervaring van God tweedehands wees, en ook ons lewe tweedehands.
Amen