Filippense 3:7-16

Verstaan, vergeet en vat!


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In Kolossense 4:5 lees ons ‘n baie bekende teksvers: ‘Maak die beste gebruik van elke geleentheid’.  Wat dit vir baie beteken, kan ons aflei uit dit wat mense soms vir mekaar sê en wat ouers soms vir hulle kinders sê: ‘Doen wat jou hand vind om te doen en doen dit goed’; ‘Reik na die sterre’; ‘Moenie met tweede beste tevrede wees nie; ‘Wys my 'n goeie verloorder en ek wys jou 'n aanhoudende verloorder’; ‘Probeer die beste wees’; ‘Jy moet bo uitkom’; ‘Jy moet jou volle potensiaal verwesenlik’.  En nog baie meer.  En met elkeen van hierdie uitsprake bedoel ons eintlik: maak die beste gebruik van elke geleentheid.  Bedoelende: dit is tog wat die Bybel sê.

Die uitsprake wat ek hierbo opgenoem het, broers en susters, is seker nie heeltemal verkeerd nie.  Maar of dit is wat die Bybel bedoel met die beste gebruik maak van elke geleentheid, dink ek nie.  Hoekom nie?  Want geleenthede behoort nie aan die mens nie.  Die oomblikke, dae of jare wat ons leef, behoort nie aan ons nie.  Dit behoort aan God, omdat God dit skep.  Elke oomblik wat ek leef word deur God gegee.  En daarom behoort ek elke oomblik wat ek leef, te gebruik soos God wil hê ek moet.  Anders gesê: ek behoort van elke geleentheid gebruik te maak soos God wil hê ek moet.

In die gedeelte wat ons saamgelees het, Filippense 3:7-16, oordeel ek wil God vir ons sê wat dit beteken om die beste van elke geleentheid te maak.  Paulus sê hier vir ons dat drie dinge belangrik is om elke oomblik verantwoordelik voor God te lewe: ek moet verstaan, vergeet en vat.  Jy moet verstaan wat jou doel in die lewe is, jy moet vergeet van gister,  en jy moet vandag vat.

Om die beste gebruik te maak van elke geleentheid, is dit eerstens nodig dat ek sal verstaan wat my doel in die lewe is, met ander woorde, hoekom ek hier op aarde is (en laat ek dadelik sê: daar is natuurlik baie antwoorde op hierdie vraag, maar ons gaan ons vanaand bepaal by dit wat Paulus in Filippense hieroor sê).

Wat is ons doel in die lewe?  As God se mense?  Op hierdie vraag sal ons seker ‘n hele klomp verskillende antwoorde kry, soos om 'n goeie ma/pa vir my kinders te wees, om 'n goeie kind vir my ouers te wees, om my werk so te doen dat ek vir my gesin kan sorg, ensovoorts.

Almal goeie antwoorde, want dit is alles dinge wat ons moet doen, maar voor ons dié dinge doen is daar eers iets anders wat ons moet doen, iets anders wat ons eerste doel in die lewe behoort te wees.

Paulus stel dit so in vers 10 en 11: al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Die eerste doelwit vir God se mens behoort die wens te wees om Christus werklik te ken.  Wat nie beteken dat ek nou alles van God af sal weet of alles wat in die lewe gebeur, sal verstaan nie.  Nee.  Dit beteken eintlik om te besef dat Christus jou ken, so goed ken dat Hy vir jou sondes gesterf het, en ook die straf op die sonde (die dood) heeltemal weggevat het deur op te staan uit die dood.  Hierdie vergifnis van God, die feit dat Hy ons so nuwe mense gemaak het, behoort so 'n deel van 'n mens se lewe word dat dit as 't ware die dryfveer vir jou bestaan word: Om Christus te ken, om meer en meer onder die besef te kom wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het sodat ons as verloste mense meer en meer uit die krag van sy opstanding sal leef.  Hierdie doel, dit waarvoor God ons geskape het, moet vir ons so belangrik wees, dat ons – soos Paulus – ook sal kan sê: om Christus Jesus, my Verlosser te ken, oortref alles in waarde.

Die bekende teoloog, Dietrich Bonhoeffer, het oor hierdie doel van God se kinders se lewe die volgende raak opmerking gemaak: As jy op die verkeerde trein geklim het, help dit nie om in die treingang af in die teenoorgestelde rigting te hardloop nie.  Dit help nie – as God se mens – dat God met jou in een rigting op pad is, maar jy wil wegvlug van hierdie doel wat God vir jou gestel het nie.  Dan sal jy nooit beste gebruik kan maak van enige geleentheid nie.  Want elke geleentheid moet gevul word met hierdie doel: ek wil in alles Christus beter leer ken, ek wil die krag van die opstanding ervaar in hoe ek nuut en nuwer word, al moet ek ly.

In die tweede plek, om die beste gebruik te maak van elke geleentheid, moet ons vergeet van die verlede.  Hoor weer vers 13: Broers, ek verbeel my nie dat alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Jy moet jou losmaak van dit wat agter jou lê – soos Paulus.  Hy het nogal heelwat gehad om hom van los te maak!  Hy het as fanatiese Jood die Christene vervolg en laat martel.  Hy het baie mense baie seer aangedoen net omdat hulle in Jesus Christus geglo het.  En nou het Paulus 'n keuse gehad: hy kon hom aanhou verknies oor wat hy verkeerd gedoen het, oor al die foute wat hy in sy lewe gemaak het en so dit waarmee hy nou besig is - sy dienswerk ter wille van Jesus - ten gronde laat gaan.  Of hy kan hom losmaak van dié dinge een aangaan met sy lewe en sy bediening, omdat God ook dit vergewe het.

Dieselfde geld vir ons.  Baie van ons, almal van ons, het al 'n slegte ervaring(e) in ons lewens gehad, ons het al almal al dinge gedoen waaroor ons skaam kry elke keer as ons daaraan dink, ons het almal maar geraamtes in die kas wat tydig en ontydig by ons kom spook.

Die evangelie van Jesus Christus is egter hieroor baie duidelik: die kind van God kan nie toelaat dat ons verlede ons toekoms bepaal nie.  Wat verby is, is verby. Wat gebeur het, het gebeur.  Wat jy gedoen het, het jy gedoen.  En vir God, as vergifnis opreg gesmeek is, is dit verby.  Vir God bly gister gister, en gister word nooit vandag nie.  Ons kan in elk geval niks doen om dit te verander nie.  Wat ons wel kan doen is om God se vergifnis te aanvaar, en ons dan los te maak van wat agter is, en uit te strek na wat voor is.

Die Here hou nie ons foute uit die verlede teen ons nie:  In Jesaja 43:5 sê die Here dit tog duidelik: ‘En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie’.  En in Jeremia 31:34 lees ons dieselfde:  ‘Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie’.

Dus: om die beste gebruik te maak van elke geleentheid moet ons verstaan hoekom ons lewe, en vergeet van gister. Dan, sê Paulus, kan ons vandag vat.  Hoor wat sê Paulus in vers 16: In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

As jy koers wil hou, moet jy weet waar jy vandaan gekom het en jy moet ook weet waarheen jy op pad is.  Koers hou is iets wat jy nou, in die hede doen.  Koers hou begin met waar jy nou is.  Om koers te hou, is iets waarmee jy van oomblik tot oomblik aktief besig moet wees – en die beginpunt is daar waar jy op daardie oomblik is.  Vandag.

En hoekom kan ons vandag vat?  Want ons is losgemaak van gister (vergeet) en ons weet waarheen ons op pad is (verstaan).  Waar ons in alles wat ons vandag doen wens om Jesus Christus in alles wat ons doen, te ken.  En omdat ek weet dat ek dit alles al het of die doel al bereik het waarvoor God my geroep het nie, span ek my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het.

Kom ons gaan hierdie week, broers en susters, en ons gaan probeer om die beste gebruik te maak van elke geleentheid: kom ons verstaan wat ons doel hier in die lewe is, kom ons vergeet van gister en kom ons vat vandag!  Kom ons span ons in om dit te wees wat ons reeds in Christus Jesus is.
Amen