Lukas 2:41-49

Virusse in ons e-pos boodskappe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Tot ‘n aantal jare gelede was dit net mense (en diere) wat virusse kon optel. Virusse het siek wees beteken, ‘n besoek aan ‘n dokter, en wat gewoonlik gevolg het was antibiotika met of sonder kwarantyn.

In ons tyd, broers en susters, kry rekenaars egter ook virusse. Virusse met vreeslike name soos Netsky, Mydoom en Worm. Wanneer jy daardie e-pos met die virus in oopmaak, wurm hierdie virusse hulle letterlik in jou rekenaar in. Hulle vee jou data uit, hulle maak dat jou rekenaar baie stadig werk of sommer net afskakel, hulle verlam die rekenaar waarop ons deesdae so geweldig staatmaak. Wat jy dan nodig het is die virusdokter, ‘n program wat al die siektes uit jou rekenaar haal of die virusse onder kwarantyn plaas, en keer dat jou rekenaar nie weer verlam word nie.

Mense, broers en susters, is egter soms soos rekenaars. Ons laat toe dat verskillende virusse ons lewens binnedring, virusse wat ons verlam. Virusse soos angs, jaloesie, hebsug, bitterheid, woede, skuldgevoelens, skaamte en nog baie ander gedagtes wat ons koester en troetel. En voor ons dit besef het hierdie virusse ons lewens verlam. So verlam dat ons nie meer redelik, sinvol en dikwels ja, Christelik optree nie.

Wanneer ons suksesvolle mense sien, word ons soms jaloers? Dan het ‘n virus deel van ons stelsel geword. As iemand eers aan jou verkeerde kant is, is daar dikwels nie ‘n kans dat hy weer aan jou regte kant sal kom nie. Dan het jy ‘n virus opgedoen. Beleef jy seerplekke oor en oor, en bring dit by jou gevoelens van bitterheid en haat na vore? Dan het jy ‘n virus opgetel. Verwag ons altyd die ergste van die toekoms? Dan het jy iewers ‘n virus met die naam negatiwiteit, of selfs kleingeloof, opgetel.

Sukkel jy om te vergewe? Bring jou vergifnis nie werklike bevryding nie? Dan het u en ek iewers ‘n virus in ons sisteem. En voor ons besef, is ons hele menswees verlam.

Het ons al gedink, broers en susters, hoe ons lewens sou gewees het sonder hierdie dinge? Ons kan seker maar net raai. Maar dalk sou ons raaiskoot nie vêr uit gewees het nie. Ons sou nie skuldgevoelens met ons saamgedra het nie, ons sou nie ons tyd en energie gemors het met negatiewe en afbrekende gedagtes nie. Onsekerheid, gevoelens van wraak, jaloesie, afgunstigheid, vrees, onsekerheid en die steur aan skinderstories en alle ander onbenullighede sou nie deel van ons lewens gewees het nie. Maar wel vrede, rustigheid en vreugde.

Is daar so iemand, broers en susters, wil ‘n mens amper vra? Ja! Jesus Christus was so. Hoor wat sê die Woord van God oor Hom: Christus ‘was sonder sonde’ (2 Kor 5:21). Hy het ‘geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie’ (1 Pet 2:2). Johannes het drie jaar lank saam met Jesus geleef en tot die slotsom gekom: ‘Daar is geen sonde in Hom nie’ (1 Joh 3:5). Jesus se broer, Jakobus, het Hom ‘die onskuldige’ genoem (Joh 18:38). Judas het erken, nadat hy Jesus verraai het, dat hy ‘n onskuldige man verraai het (Matt 27:4). Pilatus kon in Hom geen skuld vind nie (Joh 18:38). En selfs die duiwels wat Jesus uitgedryf het, het sy unieke status beskryf: ‘Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!’ (Luk 4:34).

Nie, broers en susters, dat Jesus nooit versoek was nie! Hoor wat sê Hebreërs 4:15: ‘Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoekings onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie’. Jesus, as mens, was inderdaad versoek. Mag is Hom aangebied. Eer is Hom aangebied. Moedeloosheid wou Hom ook maar oorrompel. Koningskap is Hom aangebied. Maar Hy het geweier. In terme van ons beeld van vanoggend: Hy het geweier om daardie besmette e-pos boodskappe oop te maak. Hy was hier om die wil van sy Vader te doen. Hy was hier om te wys hoe God se liefde lyk en wat vergifnis en omgee beteken. Daarmee het Hy homself besig gehou. Geen wonder, soos Markus 1:22 dit stel, dat ‘mense oor sy leer verstom’ was nie.

Nou weet ek, broers en susters, dat u heel waarskynlik vanoggend nou al vir ‘n geruime tyd met die volgende vraag of vrae in u kop sit: Maar wat maak dit alles saak? Ek is tog nie Christus nie! En nooit sal ek of ons soos Hy kan wees nie. So dit maak nie regtig saak nie. Ek kan tog nie iets wil wees wat ek nie kan wees nie!

Hier moet ons baie versigtig en baie stadig wees, broers en susters. Want dit gaan nie hier oor wat ons wil en ons dink ons kan nie, dit gaan hier oor wat God met ons wil en wat God kan. Kom ons hoor weer wat Romeine 12:2 sê: Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle denke vernuwe. Dit is God se doel met ons. Hy wil ons denke vernuwe. Ja, ons is miskien gebore met ‘n vatbaarheid vir negatiewe gedagtevirusse, maar ons hoef nie so te leef nie.

Is ons kommerkouse en ewige klakouse? Ons hoef dit nie altyd te bly nie. Is ons vol skuldgevoelens en skaamte? Geneig tot woede? Altyd negatief? Ons hoef nie so te wees nie. Want God kan — en wil — iets daaraan doen. Ja, God kan ons gedagtes verander.

Hoe gereeld, broers en susters, is ons werklik met God in ons gedagtes besig? Wanneer laas het ons ernstig tot God gebid dat ons dit met alles begeer dat ons verhouding met Hom sal verdiep? Dat ons so graag nader aan Hom wil leef? Wanneer laas het ons onsself werklik tot die uitleef van God se gebod verbind? Hoeveel aandag gee ons aan ons gebedslewe? Dink ons na oor God, dink ons na oor ons lewe? Gee ons vergifnis onvoorwaardelik? Poog ons met alles dat die gesindheid wat in Christus was, ook in ons sal wees? Bid ons daarvoor? Vra ons daarvoor? Met ‘n opregte begeerte en met ware bedoeling?

God beantwoord sulke gebede, broers en susters. Hoor wat sê 2 Korintiërs 3:18: Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. ... Dit doen die Here wat die Gees is’. Ja, broers en susters, God verander ons deur ons gedagtes te verander.

En hoe gebeur dit? Ons weet seker nie werklik nie, broers en susters. Maar wat ons wel weet is wat God van ons vra en wat God se doel met ons is. Wat vra God? Dit sê Kolossense 3:2 baie duidelik vir ons: ‘Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op (en deel van) die aarde is nie. Wees met Christus besig. Wees met sy Woord besig. Wees met Hom in jou gedagtes besig. Vergeet van al die negatiewe virusse.

En dan, broers en susters, dan begin ons om in te skakel by God se doel en plan vir ons. Dat God toenemend en voortdurend ons gedagtes wil vernuwe. Gee God jou beste gedagtes, en sien hoe Hy — deur sy Gees — jou lewe en menswees nuut maak.

Dit alles, broers en susters, beteken nie, en dit wil ek ook nie vanoggend sê nie, dat ons soos Christus sal word nie. Ons kan tog nie. Wat dit wel beteken is dat ons dan, soos Romeine 12:2 dit stel, in staat sal wees om te kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en reg is.

Met ander woorde: dat ons saam met Hom sal leef, tot sy eer alleen. En tot voordeel van mekaar. En bo alles, tot voordeel van ons elkeen se eie menswees.

Wie van ons smag nie na vrede en vreugde nie? Almal, glo ek. Wie van ons wil nie positief wees nie? Wie van ons wil nie naby God leef nie? Niemand van ons nie, glo ek.

Kom ons rig daarom ons gedagtes op God. Kom ons gee ons opnuut as lewende offers aan Hom. Kom ons oordink sy woord. Kom ons rig ons gedagtes op Hom. Kom ons leef volgens die wil van God, kom ons doen wat goed en reg en vir God aanneemlik is. En God, broers en susters, deur sy Gees, sal ons nuut maak.

Ek gaan weer probeer. Al is dit die soveelste keer. En ek nooi u uit om dit saam met my te doen.
Amen