Matteus 25:31-46

Waar is God te siene?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons glo en bely dat Jesus van Nasaret, die Seun van God, mens geword het en onder die mense van sy tyd kom woon het. En soos 'n gewone mens, al was Hy ook God, tussen sy tydgenote beweeg het terwyl Hy die blye boodskap met woord en daad aan hulle verkondig het.

Kom ons veronderstel vanoggend, broers en susters, dat Jesus in ons tyd sou leef. En dat Hy vanoggend na ons kerk, ons erediens toe sou kom. Nie simbolies deur die Gees nie, maar fisies, liggaamlik, sigbaar, werklik. Sal ons Hom herken? Dit mag so bietjie moeilik gewees het. Jesus het byvoorbeeld nie, al was Hy die Godsman by uitstek, die godsdienstige klere van sy tyd gedra nie, soos byvoorbeeld die lang wit gewade van die priesters of Fariseërs nie. Daarom, as Hy vanoggend hier sou sit, sou Hy nie 'n toga aangehad het nie, maar heel waarskynlik aangetrek soos die broeders onder ons.

Verder sou Jesus 'n gewone naam hê, doodeenvoudig omdat die naam ‘Jesus’ in sy tyd 'n doodgewone, veel gebruikte en toegekende naam was. Kom ons sê maar sy naam sou iets wees soos Johan, Koos of Eben.

Verder sou Hy nie kom van 'n bekende plek soos Johannesburg, Kaapstad of Pretoria nie. Nee, eerder van 'n onbekende en sogenaamd agteraf plekkie soos Nasaret van sy tyd was. Dus van iewers soos Pofadder of Douglas of Fochville, by wyse van spreke. Verder sou Hy 'n ambagsman wees, soos Hy in sy tyd 'n timmerman was. Dalk 'n loodgieter, skrynwerker of elektrisiën.

Wat meer is, sekere mense sal vir ons teen die tyd al vertel het dat hierdie man 'n rukkie gelede op 'n rugbyveld naby 'n dam vir almal by wyse van 'n wonderwerk kos gegee het. Of dat Hy 'n parlementslid van Kaapstad se seun gesond gemaak het, dat party selfs beweer dat hy God is, die ware Seun van God. Ander weer sê Hy is maar net nog 'n dominee, en ander weer sê hulle weet nie wat om te dink nie.

En dan, een Sondag daag Hy hier by ons op. En so halfpad deur die diens staan Hy op en kom staan hier voor by die ouderlingskateder en kondig aan: die Een van wie julle hier sing is Ek. Ek is die Seun van God! En Hy hou 'n Nagmaalbroodjie vas en sê: hierdie brood is my liggaam, en hierdie wyn is my bloed. Wanneer julle Nagmaal vier, doen julle dit tot My eer!

Wat sal u en ek dink, broers en susters? Heel waarskynlik sal u aanstoot neem, soos u dalk miskien vanaand reeds so effens aanstoot geneem het dat ek so oor God kan praat. En as u het, het ek in my doel geslaag.

Ja, miskien sal ons sê: watter vermetelheid van hierdie man. Iemand met die naam Eben uit Douglas wat beweer Hy is die Seun van God. Ander van ons sal dalk sê: maar wag 'n bietjie, hoe kan Hy die Seun van God wees? Hy is dan 'n loodgieter. Hy was nie op universiteit nie, Hy was nie op kweekskool nie. Sal ons Hom glo, broers en susters? Of sal ons so 'n bietjie skepties wees? Sal ons nie so 'n bietjie versigtig wees nie? Of sal ons nie dalk selfs van die ouderlinge, hulle wat moet waak oor die suiwer verkondiging van die Woord — en in 'n sekere sin die skrifgeleerdes, priesters en Fariseërs van daardie tyd — verwag om hierdie man onder sensuur te plaas nie? Ja, sal ons nie miskien erg aanstoot neem nie?

Wanneer hierdie gedagtes deur ons koppe maal, broers en susters, word dit vir ons miskien makliker om te verstaan hoekom so baie van Jesus se tydgenote maar bra skepties oor Hom was. Dat party sy optrede en woorde as godslasterlik gesien het.
Want Jesus het eenvoudig nie ingepas in hulle idee van 'n Messias nie. Verkeerde agtergrond. Verkeerde stamboom. Verkeerde geboortedorp. Geen Messias sou tog van Nasaret kom nie. Dit was dan so klein agterlike plekkie, 'n plekkie uit die gebied wat bekend gestaan het as Galilea van die heidene. En omdat Hy nie ingepas het by hulle idee van 'n Messias nie het hulle, eerder as om hulle idees oor die Messias te verander, Hom eenkant toe gestoot.

Hulle het 'n koning, strydwaens en oorwinning verwag. Maar wat hulle gekry het was sandale en preke en 'n Galilese aksent. En so het hulle Hom misgekyk, so het hulle toegelaat dat die Seun van God, God self, by hulle verbygaan, so het hulle die geleentheid verbeur om met God self te kon praat. Ja, so het hulle Hom misgekyk.
Net soos sommige van ons, broers en susters, God ook elke dag in ons lewens miskyk. Want ons weet mos wie en wat is God. Ons weet mos hoe God handel en behoort te handel. Ons meen soms selfs dat ons Hom volledig ken. Die probleem is net, God is daarvoor bekend, meen ek, dat Hy ons dikwels verras.

Ons verwag van God om deur vrede te praat, maar dan praat Hy met ons deur pyn. Ons verwag van God om deur die kerk met ons te praat, maar dan praat Hy met ons deur die man op die straat, of deur die bedelaar op die hoek. Ons verwag van God om met ons te praat deur voorspoed en geluk, maar dan praat Hy met ons deur teëspoed en rampe.

Ook ons, broers en susters, moet daarom miskien ook maar ons vooropgesette idees van God eenkant toe skuif, en God toelaat om self aan ons te wys wie en wat Hy is. En wanneer ons dit doen, meen ek, wanneer ons God toelaat om aan ons te toon wie Hy werklik is, en wat Hy doen en kan doen, gaan daar 'n nuwe wêreld voor ons oop.

Hoe, sal u dadelik vra, hoe kan daar dan vir my 'n nuwe en totaal ander wêreld oopgaan? Kom ek verduidelik dit met 'n heel menslike verhaal.

Daar was eendag 'n man wie se lewe baie ongelukkig was. Hy het oud geword, sy dae was bewolk en sy nagte lank. Nie dat hy ongelukkig wou wees nie, maar hy was, want met verloop van die jare het sy lewe verander. Sy kinders was nou almal groot en uit die huis. Sy buurt het verander, die stad waarin hy gebly het, het onvriendeliker en gevaarliker geword. Hy het gevoel hy is alleen, dit was hy en net hy. Hy was doodeenvoudig ongelukkig.

Toe besluit hy om sy dominee te gaan vra wat verkeerd is. En sy vraag aan hom was: ‘Is ek ongelukkig omdat ek een of ander sonde gedoen het?’ ‘Ja’, is die antwoord wat hy gekry het, ‘jy het gesondig, die sonde van onkunde. Want een van jou bure is die Messias, maar Hy is vermom, en jy het Hom nooit raakgesien nie’.

Die ou man is verslae daar weg. ‘Een van my bure die Messias, dit kan tog nie wees nie’. Maar tog het hy begin wonder wie dit kon wees. Tom die slagter? Nee, hy is te lui. Maria, my niggie in dieselfde straat as ek? Nee, sy is te hooghartig en te vol van haarself. Abraham die koerantseun? Nee wat, hy is te gedienstig! Dalk my vrou? Nee, sy kla te veel oor die dinge wat ek behoort te doen en nie doen nie. En die man was heeltemal verward. Want almal wat hy ken, het gebreke. Maar een is die Messias, het die dominee gesê. En daarom het hy weer begin soek.

En in sy soektog het hy het dinge begin raaksien wat hy vantevore misgekyk het. Die winkelier het dikwels ouer dames se inkopies vir hulle na hulle motors toe gedra. Dalk is Hy die Messias. Die verkeersbeampte op die hoek het altyd 'n glimlag gehad vir die kinders. Kon dit hy wees? En die jong paartjie wat langsaan ingetrek het. Hulle is so goed vir hulle kat en die ander bure. Dalk is een van hulle die Messias.

En so, broers en susters, met verloop van tyd het hy een na die ander ding begin raaksien wat hy vroeër misgekyk het, en so stelselmatig het sy gevoel oor sy situasie begin verander. Daar was meer wip in sy stap en sy oë het weer begin blink. Hy was al hoe meer vriendeliker. As ander mense met hom gepraat het, het hy aandagtig geluister. Per slot van rekening, hy het dalk na die Messias geluister. As iemand hulp nodig gehad het, het hy onmiddellik, sonder om te wag vir 'n versoek, gehelp. Per slot van rekening was dit dalk die Messias wat hulp nodig gehad het.

Die verandering in sy lewe was so beduidend dat iemand hom eendag gevra het waarom hy so gelukkig was. ‘Ek weet nie’, het hy geantwoord, ‘al wat ek weet is dat dinge verander het toe ek na God begin soek het’.
En is dit nie merkwaardig nie, broers en susters? Die ou man het Jesus gesien omdat hy nie geweet het hoe hy lyk nie. Die mense in Jesus se tyd het Hom misgekyk omdat hulle gedink het hulle weet hoe Hy lyk.

Hoe lyk dit in ons lewens en in ons omgewing, broers en susters? Waar en hoe soek ons na God? Soek ons God in die dinge wat ons wil hê hy vir ons moet gee, en as ons dit nie kry nie, dan vind ons Hom sogenaamd nie? Miskien moet ons maar weer hoor: ons verwagtinge van God en dit wat God is, is nie altyd dieselfde nie. As ons dit verstaan, meen ek, sal ons makliker vrede maak met omstandighede wat ons graag ander wil hê.

Daar is egter 'n ander vraag wat ek meen nog belangriker is: hoe tree ons op in ons elke dagse lewe? Só, dat ander wat na God soek, God kan vind, of só dat hulle wat ons lewenspad kruis, God nooit vind nie. Let wel: ek sê nie dat ons God is nie. Wat ek sê is wat die gelese gedeelte vanoggend vir ons sê: vir sover ons dit nie aan een van die geringstes gedoen het nie, het ons dit ook nie aan God gedoen nie.

Of anders gesê: waar ons nie opgetree het soos Jesus sou nie, het ons nie God aan die wêreld sigbaar gemaak nie. Hoeveel mense, broers en susters, om nie eers te praat van dié naby aan ons nie, maak ons byvoorbeeld ongelukkig, soos hierdie ou man, omdat hulle niks van God by ons sien nie?

Ons kla so dikwels oor al die veranderinge rondom ons, oor die gemeente waaraan ek behoort, oor die gemeenskap waarin ek leef, of oor ons eie omstandighede. Soms is daar rede vir ons klaery. Soms nie. Maar kla, broers en susters, gaan niks verander nie. Al wat dinge sal verander is wanneer ons kragdadig met woord en daad so sal gaan leef dat, ja, ander iets van die Messias in ons sien. Juis wanneer hulle dit nie verwag nie. Wanneer ons hulle verras met byvoorbeeld liefde, belangstelling en ondersteuning.

En dit is vir ons almal moontlik. Al meen u u is doodgewoon. Al meen u u herkoms is nie reg nie. Al meen u u agtergrond is verkeerd. Dat u 'n verkeerde stamboom het. En 'n sogenaamd minder belangrike werk. Ja, al is u naam maar net Johan, Koos, Marie of Eben.
Amen