Romeine 15:1-13

Wandel saam met God



1Geliefdes van ons Here Jesus, ek wil vandag met julle praat oor die volgende tema: Wandel saam met God! En natuurlik sal dit seker van pas wees as ek die volgende vers uit ons gelese gedeelte aanhaal: “Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus” (v 6).

Broers en susters, ek wil hê dat julle vir ‘n oomblik eers die volgende toneeltjie moet beleef: Kom ons sê dit is baie vroeg, so om en by vyfuur op ’n Saterdagoggend. Jy word wakker van ’n gewoel in die kamer. Jou geliefde of maat is aan die opstaan. Terwyl jy so deur die slaap na hom of haar kyk, bromvra jy: “Wat’s fout? Gaan jy golf speel, of gaan jy koek bak? Is daar dalk weer rugby op die M-Net? Het jy sooibrand? Voel jy dalk siek?”

Terwyl die persoon besig is om aan te trek, antwoord hy of sy jou ewe rustig: “Toemaar, moenie bekommerd wees nie, daar’s niks fout nie. Ek gaan net so ‘n entjie stap.”

“Saam met wie?”, vra jy.

En dan kom die antwoord ewe doodnatuurlik: “Ek en God gaan so entjie in die tuin wandel.”

Kom, wees nou eerlik: Wie van julle sal dan nie wawyd wakker wees nie? In die tuin wandel? Saam met God?!

Maar weet julle wat? Henog se vrou sou nie geskrik het nie. O nee, al wat sy waarskynlik vir Henog sou geantwoord het, was: “Goed, onthou tog net om die deur agter jou toe te sluit, en moenie vergeet om die ganglig af te sit nie.”

Nou kan julle vir my vra: Wie is of was Henog? Wel, volgens Genesis 5 verse 22 tot 24 was hy iemand wat naby God geleef het, so naby dat hy as’t ware in God se skaduwee geloop het. Hy was iemand wat dus God se roepstem gehoor het, en besluit het om daardie pad saam met God te loop. Sy familie het dit geweet, en sekerlik ook sy vriende en bure. En hulle sou ook nie snaaks gedink het as Henog sou gesê het dat hy so bietjie saam met God gaan wandel nie. Hoekom nie? Omdat dit sy lewenswyse was. En ons verstaan ook dat Henog en God nie letterlik straataf gestap het nie, maar dat dit die manier was van hoe hy geleef het.

In die hele Bybel is dit al wat van Henog gesê word. ’n Skamele vier versies wat sê dat hy 365 jaar oud geword het, en soos ons lees in vers 24: “Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, wat God het hom na Hom toe weggeneem.” Nou kom die groot “jackpot”-vraag: Hoe lyk jou en my manier van met God saamleef? Sal mense kan sê dat ons naby God geleef het, dat ons saam met Hom gewandel het?

As ek egter na my eie lewe kyk - en ek is seker dat die meeste van ons dalk ook al so gevoel het - dan besef ek alte goed hoe ek baie keer uit pas raak met God se gang. Ja, ek ervaar dit gereeld dat ek by God agter raak, of dat ek soms so voorbarig raak dat ek probeer om Hom vooruit te loop. Ja, soms loop ek selfs van God af weg ... ek kies my eie rigting. En dan kan ek daarna my eie myself skop oor hoekom ek so onnosel kon wees. Dit is in sulke tye dat ek weer Paulus se bekende woorde van Romeine 7 vers 15 onthou: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.” Ken julle ook daardie gevoel? Raar maar waar!

Gemeente, wat bedoel ek daarmee as ek sê dat ons saam met God moet wandel? Wel, kom ek probeer dit soos volg verduidelik: Om met God te wandel, is ’n roeping. Máár .. ’n mens kan nie saam met God loop as Hy jou nie eers genooi het om saam met Hom te loop nie. Jy moet besef dat dit in die eerste plek nie Gód is wat saam met jóú loop nie, maar jý wat saam met Gód loop. Ja, God nooi jóú om sy kind te wees ... Hy nooi jóú om saam met Hom ’n sekere pad te loop. Dit is ’n roeping ... dít is God se roepstem! En hierdie roepstem van God hoor ons ook baie duidelik in Jesaja 55 vers 11: “So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê, en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” Hoor ons werklik vandag nog God se roepstem? Hoor ons nog die woorde wat uit God se mond gaan?

Maar ek moet natuurlik ook in dieselfde asem vir julle sê dat julle antwoord op God se roepstem ’n vrye keuse is. ’n Mens kan besluit of jy saam met God wil loop, en hoe jy saam met God wil loop. As jy natuurlik ’n keuse vir Jesus Christus gemaak het as die enigste Verlosser, dan het jy besluit om saam met God te loop ... dan het jy die woorde wat uit God se mond gaan, gehoor ... dan het jy besluit om “ja” te sê op sy roepstem. Ja, dan het jy tot geloof gekom en het God se Woord gedoen waarvoor Hy dit gestuur het, naamlik om jou op die regte pad na die ewige lewe te lei.

Sou jy egter “nee” antwoord op God se roepstem, dan verkies jy om nie saam met God te wandel nie, en sodoende sal God se Woord onverrigter sake na Hom toe terugkeer. Die keuse wat jy maak, is egter net die “of”-gedeelte van jou wandel met God, met ander woorde, of jy wil of nie wil nie, maar dit sê nog niks oor die “hoe” van jou wandel met God nie. Daarom, om met God te wandel, is nie ’n willekeurige uitstappie wat jý self beplan het nie. O nee, dit is ’n persoonlike uitnodiging aan jou om saam met Hom te loop. Nou is die vraag: Hoe wandel ’n mens saam met God?

Geliefdes van ons Here Jesus, in ons gelese gedeelte uit die Brief aan die Romeine, sê Paulus ook in vers 4 die volgende: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” Daarom wil ek vanoggend uit die Bybel ook ’n paar bekende persone se wandel met God vir ons voorhou. Nie een van hierdie Bybelfigure was volmaakte mense gewees nie. Inteendeel, hulle het net soos ek, en soos julle, ook baiekeer afgedwaal van die beproefde pad. Tog, elkeen van hulle het naby die Here probeer leef. Ek is seker dat ons by elkeen so ietsie kan leer oor hoe om saam met God te wandel, soos Henog gedoen het.

Die eerste persoon wat ek wil hê ons moet na gaan kyk, is Abraham, en meer spesifiek na wat in Genesis 22 vers 8 staan: “Abraham het geantwoord: ‘My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.’ Daarna het hulle twee saam verder gestap.” Uit Abraham se geskiedenis leer ons dat ’n saamloop met God ’n pad van volkome Godsvertroue is. Kyk, as daar nou een deel van Abraham se lewenspad met God was waar sy verhouding met die Here tot breekpunt toe getoets is, dan was dit daar op die berg Moira. Wat alles daardie dag deur die arme Abraham se gedagtes gegaan het, sal ons net oor kan wonder. Sal God werklik sy langverwagte en enigste kind laat doodmaak as ’n offer? Tog, Abraham loop, dalk moeisaam en sleepvoetend, voort op die pad wat God vir Hom aanwys ... met ’n geloofsbelydenis in sy hart: God sal self voorsien! Dít is onwrikbare geloofsvertroue in God. Ag, ek wens dat ek soos Abraham met God kan wandel ...

Dan is daar natuurlik ook nog Moses. En in Eksodus 33 vers 11 lees ons die volgende: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” Moses se persoonlikheid het weer heeltemal verskil met dié van Abraham, soos elkeen van ons van mekaar verskil. Hy het ’n baie skerp brein gehad, hy was iemand wat daarvan gehou het om dinge uit te redeneer. Ja, Moses was ’n man wat daarvan gehou het dat daar geregtigheid moes wees en dat orde gehandhaaf moes word. Dit is ook geen wonder nie dat God juis vir hom gebruik het as leier vir sy volk, en as ontvanger van die Tien Gebooie. As ek so na Moses se wandel met God kyk, dan sien ek dat God van orde hou, dat ons geleer word om nie links of regs van God se pad af te wyk nie; dat ’n mens op God se pad koers moet hou. Ja, die Hebreërskrywer stel dit baie mooi as hy sê ons moet dit doen met “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb 12:2). Ja, ons leer ook uit Moses se wandel met God dat gemeenskap met God baie belangrik is. Immers, ons het gehoor dat God met Moses soos met ’n vriend gepraat het. Daarom was Moses die man wat gereeld met God by die tent van ontmoeting ’n afspraak nakom. As hy so doelgerig na die tent toe gestap het, het die res van die volk geweet dat Moses nou met God gaan praat. Ai, as ek maar soos Moses met God kon wandel ...

Die derde persoon wat ek as voorbeeld wil gebruik, is vir my baie nader aan die hart. Sy naam is Dawid, en die Bybel noem hom ook die man wat na aan God se hart was. Ek dink nie die Here het kinders wat Hy bo ander voortrek nie, maar ek dink tog dat sommige kinders die Here se hart baie warmer laat klop as ander kinders. Ja, ek glo dat die Here makliker ’n glimlag op sy gesig kry oor kinders wat ’n loflied tot eer van sy heilige Naam sing en dans van blydskap, as wat Hy sal glimlag oor kinders wat die heeltyd mor en kla oor alles en almal. Ja, uit Dawid se saamloop met God leer ek dat my lewenspad, waarop ek is, ook vrolik en bly kan wees. Tog, soms het Dawid ook gekla en gehuil. Met al sy emosies was hy steeds naby die Here. Dawid het beslis nie ’n persoonlikheidsverskil gehad of ewe skielik aan ’n identiteitskrisis begin lei wanneer hy sy kerkklere aangetrek het nie. Nee, hy was maar net Dawid ... Dawid die feilbare lieflingkoning van God. Die een dag kon hy dans van blydskap ... die volgende dag het hy weer huilend in sak en as gesit, soekend en reikend na God. Dawid was volledig mens in sy wandeling met God. Dawid gee my moed ... daar is nog hoop vir my, soos Paulus ook gesê het: Dít wat in die Bybel opgeteken staan, gee ons hoop (v 4)! Ja, ek wil ook soms uitbundig sing, en van blydskap dans oor God se baie liefde en groot genade, maar ander dae wil ek sommer net in selfbejammering wegkruip en my sondeskuld voor Hom bely. Die wonderlikste les wat ek by Dawid leer, is dat God verstaan. O, Hy keur beslis nie my handelinge altyd goed nie, maar Hy verstaan dat ek soms kan jubel en ander tye net wil tjank omdat ek so groot sondaar is. Ag, ek wens dat ek soos Dawid kan wandel met die Here ...

Maar, broers en susters, ek kán ... en julle kán! Ongeag van wie en wat jy is, jy kán! Dit sê Paulus baie duidelik vir ons in ons gelese gedeelte. Hy is besig om die gemeente van Rome te leer dat hulle onderskeie persoonlikhede en die verstaan van God se Woord geen rede is dat hulle nie eensgesind kan wees nie. Met ander woorde, al wat hy probeer om vir hulle te sê, is dat ons almal vir God steeds kan dien, steeds ’n noue verhouding met Hom kan hê, steeds saam met Hom kan wandel, ongeag van hoe ons sy Woord hoor en verstaan. Nie Abraham nie, ook nie Moses nie, en dalk nog minder Dawid het presies dieselfde gereageer op God se roepstem. Elkeen was ’n mens in eie reg ... elkeen het ’n eie persoonlikheid gehad. Maar één ding was tog dieselfde: Hulle het gewandel met God. Ja, elkeen het op sy eie, unieke manier saam met God geloop. As hulle kon, dan kan ek en julle mos ook!

Maar dit is deesdae blykbaar nie die geval nie. Net omdat Abraham en Moses en Dawid - om maar ’n paar enkeles te noem - nie dieselfde persoonlikhede gehad het nie, het hulle nie besluit om elkeen sy eie manier van saamloop met God te doen nie. O nee, daar is net een manier van saam met God loop! En dit is die manier wat Hy vir ons in sy Woord leer! Daar is immers net één Jesus Christus, net één Verlosser! En as ons almal dít bely, dan is daar net een manier van saamloop met God! Ja, dan moet ons almal ons oë op Jesus gerig hou. Daarom kan ons ook nie vandag sê dat as ons nie met mekaar saamstem oor sekere maniere van hoe dinge gedoen word in ’n kerk nie, dan bly ons eerder weg of breek ons weg. Nee, Paulus sê ons moet tot eer van God se Naam eensgesind wees. Al verskil ons persoonlikhede en voorkeure van hoe om saam met God te loop, dan moet ons almal steeds saamloop, saamloop tot in die ewige lewe. Nie een van ons sal God se roepstem dieselfde hoor nie, want ons is nie een dieselfde nie. Die feit van die saak is egter dat jy wel antwoord op God se roepstem, en dan saam met God sal loop. Ja, elkeen se hoe van jou saamloop met God sal verskil, maar nie die feit dat jy wel saamloop nie.

Daarom moet ons mekaar in die Kerk ook aanvaar in ons verskeidenheid en swakheid en andersheid. Hoekom? Wel, Paulus sê dit baie mooi in verse 2 en 7: “... elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou ... Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”

Gemeente, kan ek soos Abraham of soos Moses of soos Dawid wandel? Nee, want jy is nie Abraham of Moses of Dawid nie! Wat jy wél kan doen, is om te antwoord op God se roepstem, en dan op jou eie manier saam met God te loop. Maar dít moet ons darem onthou en weet: Omdat God oor die eeue nie verander het nie, en omdat ons steeds dieselfde God aanbid as wat Abraham, Moses en Dawid en baie gelowiges aanbid en mee saamgeloop het, sal die pad wat ons met God saamloop, ook nie verskil nie. Net die hoe van ons saamloop sal verskil, maar beslis nie die pad waarop God met ons wil loop nie. Dit is die pad wat lei na die ewige lewe ... dit is die pad waar ons oë gerig is op Jesus Christus, die enigste ware Verlosser! Dit is die pad waarop ons almal eensgesind uit een mond tot eer van God se Naam lofliedere kan sing.
Amen