Johannes 14:1–24

Wat is geluk?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ene Abed ar-Rahman III was van 912 tot 961 nC die heerser (of kalief) van Spanje. Dit word van hom vertel dat hy in daardie dae 'n vloot skepe gehad het waarteen niemand opgewasse was nie. Hy was 'n baie magtige heerser. Maar aan die einde van sy lewe, sê Abed ar-Rahman: Ek het 50 jaar geheers in oorwinning en in vrede. Ek is geliefd onder my onderdane, gevreesd deur my teenstanders, ek word gerespekteer deur my bondgenote. Rykdom en eerbetoon, mag en plesier, dit was alles tot my beskikking en ek het geen aardse genieting tekort geskiet het nie. Onder hierdie omstandighede, het ek noukeurig die dae waarop ek suiwer en opreg gelukkig was, aangeteken. Daar was net 14 van hulle.

Verstommend: 'n baie magtige, fabelagtig ryke heerser wat sê dat hy net 14 dae in 50 jaar gelukkig was - vir die van ons wat 'n kop vir syfers het is dit 14 uit 18 250 dae, of dan - in 50 jaar was Abed ar-Rahman maar net 0,077% van die tyd gelukkig.

In dié 50 jaar, wonder ek, hoeveel keer iemand vir die kalief gevra het ‘Hoe gaan dit’, en ek is redelik seker dat hy die meeste van die tyd geantwoord het ‘Goed dankie!’ Want dit is mos hoe ons maak. Vra jy iemand ‘Hoe gaan dit?’ is die antwoord omtrent elke keer ‘Goed dankie!’.

Maar, broers en susters, as ons al daardie ‘Goed dankies’ bymekaar tel, beteken dit dat ons gelukkig is, regtig eerlik en opreg gelukkig is, al die dae van ons lewe? Of is dit maar net gewoonte? Hoeveel dae wat ons gesê het ‘Goed dankie’ was ons regtig gelukkig – miskien ook maar net 14 uit elke 50 jaar?

Maar kom draai die vraag op die tafel om, en kom ek vra: Wanneer is iemand regtig gelukkig? Of: Wat is ware geluk eintlik? Ek lees die afgelope tyd in ‘n boek van ‘n baie bekende filosoof oor hierdie vraag (eintlik lewensvraag) die volgende: al wat ‘n mens nodig het om gelukkig te wees, is iets om te doen, iets waarop jy kan hoop en iemand of iets om lief te hê. ‘n Uitkyk op die lewe wat sommige sielkundiges ook handhaaf: om gelukkig te wees, moet jy iets hê om te doen, iets waarop jy kan hoop en iemand of iets lief te hê.

Iets om te doen, iets waarop jy kan hoop, iemand of iets om lief te hê - dit klink maklik genoeg. En kom ek maak dit prakties met ‘n baie triviale voorbeeld: iets wat baie mense graag doen, is om te kyk hoe wen die Springbokke – iets wat nie altyd gebeur nie. Dit waarop almal hoop is dat ons die Wêreldbeker sal wen – iets wat nog net een keer gebeur het. Maar al gebeur dit nie so dikwels nie, baie mense het die Springbokke – wil ek amper sê – onvoorwaardelik lief. En nou die eenvoudige vraag: maak dit so iemand werklik gelukkig? U kan maar self die vraag antwoord. My antwoord sal wees: ja, miskien somtyds.

Wat ek met hierdie baie eenvoudige voorbeeld probeer sê, broers en susters, is dat wanneer iemand geluk soek net in die tydelike en aardse dinge van die lewe, ons so te sê elke keer kort gaan kom. Juis omdat die tydelike en aardse nooit, nooit 'n mens in jou siel – daar waar dit saak maak - gelukkig kan maak nie!

Ons moet dit op ‘n ander plek gaan soek. Of kom ek sê dit miskien beter – dit waarna almal van ons eintlik maar soek, ware geluk, kan net op ‘n ander plek gevind word, en dit is in ‘die dinge wat daarbo’ is – om Paulus se woorde in Kolossense 3 te gebruik. En miskien is daar nie ‘n beter gedeelte in die Bybel as Johannes 14 om Paulus se woorde in Kolossense 3 te verduidelik nie. Hoe soek ‘n mens na ‘die dinge wat daarbo’ is? Jesus verduidelik dit baie eenvoudig in Johannes 14. Kom ons kyk na hierdie gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het. In Johannes 14 is Jesus besig om sy dissipels voor te berei op dié tyd wanneer Hy nie meer by hulle sal wees nie. En nou dink ek nie dat 'n mens te veel sou waag as jy sou sê dat Jesus hier vir hulle probeer riglyne gee oor hoe hulle ook gelukkig kan wees wanneer Hy nie meer by hulle is nie.

Gebruik ons die raamwerk van die filosoof waarna ek so pas verwys het, sien ons in die eerste plek dat Jesus in die eerste plek sy dissipels 'n paar dinge gee om te doen. Die eerste ding wat hulle (en natuurlik ook ons) moet doen is om te glo: ‘Glo in God; glo ook in My’, sê Jesus in vers 1. Ons moet glo dat Jesus ons Heer en Verlosser is. Die Samaritaanse vrou wat Jesus in Johannes 4 by die fontein ontmoet het, het baie dinge in die lewe gedoen. Sy was al vyf keer getroud en die man by wie sy toe gebly het, was nie wettig haar man nie. Sy was nie gelukkig nie. Maar toe sy haar geloof en vertroue op Jesus stel, kry sy by Hom die lewende water wat maak dat sy geestelik nooit weer dors was nie. Toe was sy gelukkig. Toe Tomas glo die Here het opgestaan, was hy gelukkig. En toe die Emmausgangers besef het dat Jesus lewe, het hulle harte ‘warm geword’. Hulle was gelukkig.

Dit is egter nie al wat Jesus sy dissipels vra om te doen nie. In vers 12 kom sy tweede opdrag: ‘Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan’. Glo in die eerste plek, en gaan doen die geloof prakties. En julle sal verbaas wees wat gebeur, sê Jesus.

Vers 15 som dit mooi op: ‘As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer’. En net in die vorige hoofstuk, Johannes 13, verduidelik Jesus hoe mens te werk moet gaan om sy opdragte uit te voer: ‘As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.’

En hoor hoe mooi sê Jakobus 1 dit: ‘[I]emand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen’.

Maar julle moet ‘n laaste ding ook doen, sê Jesus. julle moet ook bid. ‘Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen’.

Om gelukkig te wees, moet ons iets hê om te doen: Ons moet in Jesus glo, ons moet sy opdragte uitvoer en ons moet tot Hom bid.

Doen ons dit, kom ‘n mens half outomaties uit by 'n volgende ding wat die filosoof gesê het nodig is om gelukkig te wees - ons moet liefhê. Hoor hoe sê Jesus dit in vers 21: ‘Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar’. En ook verder aan: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

As ons Jesus se opdragte uitvoer, as ons sy woorde ter harte neem, wys ons dus daarmee dat ons Hom liefhet. Dit beteken vir een oomblik dat iemand kan begin dink – o, kyk hoe oulik is ek, kyk al die goeie dinge wat ek doen - ek wys op dié manier darem dat ek baie lief vir die Here is.

O nee, neem ons Jesus se woorde ter harte, verstaan ons heel eerste hoe lief God ons het en dat ons, as ons iets doen, dit doen omdat God ons eerste liefgehad het. Dit is wat 1 Johannes 4 sê: ‘Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê’.

Om gelukkig te wees, moet jy liefhê. Omdat God ons eerste liefgehad het, kan ons dit regkry om Hom ook lief te hê, en behoort ons mekaar ook lief te hê.

Laastens, broers en susters, is hoop nodig om werklik gelukkig te wees. Wanneer Jesus hier, aan die einde van sy aardse bediening met sy dissipels praat, en hulle voorberei op die tyd wat Hy nie meer by hulle gaan wees nie, dan is dit juis dit wat Hy vir hulle gee – iets om op te hoop: ‘Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. Ek gaan om vir julle plek gereed te maak, en Ek sal julle kom haal om ook daar te kom woon. Nou as dit nie, broers en susters, iets is waarop mens kan hoop, vas en seker op kan hoop nie, dan weet ek nie wat is nie.

Ek sluit af: Kyk ek na Abed ar-Rahman se naam, kyk ek na sy geskiedenis, wil dit vir my lyk asof hy 'n Christen was nie. Hy het in sy lewe baie dinge gedoen - hy het stede en lande oorwin, hy het baie manskappe en oorlogskepe gehad waarop hy sy hoop kon stel, hy het baie onderdane gehad waarvoor hy lief kon wees. Tog, tog sê hy aan die einde van sy lewe: ek het noukeurig die dae waarop ek suiwer en opreg gelukkig was, aangeteken. Daar was 14 van hulle. En ons broers en susters, hoeveel gelukkige dae is daar in ons lewens? 14, 140, 1400?

Onthou wat het Jesus gesê: ‘Julle moet nie ontsteld wees nie’ En in ‘n sekere sin is gelukkig nie teenoorgestelde van ontsteld wees. Dus, eintlik sê Jesus hier: ‘Julle moet gelukkig wees!’. Glo in God; glo ook in My. Doen ons dit, het ons iets wonderliks om te doen - ons kan glo in God die Vader, in Jesus Christus ons Verlosser, in die Heilige Gees as ons Trooster, ons het 'n onverbeterlike iemand om lief te hê - ons Verlosser Jesus Christus, en ons het iets onuitwisbaar om op te hoop - die huis van ons Hemelse Vader met sy baie woonplek.

Doen ons dit, doen ons dit werklik, sal ons gelukkige dae miskien net meer as 14 wees!
Amen