Spreuke 4:20-27; 2 Korintiërs 10:4-6

Wat jy saai sal jy maai



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons almal weet dat wanneer jy 'n goeie oes wil hê, of tuin, of grasperk, twee dinge veral belangrik is: jy moet goeie grond hê wat jy goed moet bewerk, en jy moet goeie saad saai. Net jammer, broers en susters, dat ons hierdie waarhede so maklik vergeet as dit by ons harte kom, ons harte waarvan ons soms so maklik sê dat dit aan God behoort.

Dink vir 'n slag aan u hart, broers en susters, as 'n stuk land wat bewerk word, en aan u gedagtes as die saad wat gesaai word, en u sal verstaan wat ek bedoel. Dink aan u gedagtes as saad: party word blomme. En ander word onkruid. Saai saad van hoop en jy geniet gewoonlik optimisme. Maar saai saad van twyfel en onsekerheid kom in jou hart op.

Dat wat 'n mens in jou hart maai wat jy saai, soos 'n mens in 'n gewone land maai wat jy saai, broers en susters, is orals rondom ons te sien. Daar is bewyse net waar jy kyk. Het u al ooit gewonder waarom party mense die vermoë het om negatiwisme te weerstaan en altyd geduldig te wees, optimisties en vergewensgesind? Sou dit dalk die gevolg wees van harde werk om die saad van goedheid te saai, en nou word die vrugte daarvan gepluk? Net so, broers en susters, is ander altyd suur, en het altyd 'n mistroostige siening van sake. Ons sou ook so wees, as ons op ons harte altyd besig is om onkruid en dorings te saai.

Die punt wat ek wil maak, broers en susters, is dat ons ons harte moet bewaak. Dat ons baie seker moet maak watter saad (gedagtes) ons op ons harte saai. Presies wat Spreuke 4:23 ons wil leer: ‘Wees veral versigtig wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe’. Of soos die 1933/ 1953 vertaling dit stel: ‘Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe’.

'n Ongelooflike waarheid, broers en susters, dit wat hier in Spreuke staan. En as u my nie wil glo nie, kom toets dit saam met my vanoggend.

Twee bestuurders sit vasgevang in 'n verkeersknoop. Die een kook van woede want sy hele program is nou omver gewerp. Die ander bestuurder sug egter van verligting: watter wonderlik blaaskansie, sê hy. Of: twee ma's beleef dieselfde tragedie. Die een is verpletter en wonder hoe sy alles gaan oorleef. Die ander ma is hartseer maar vasberade: God, sê sy, sal my hierdeur dra. Of, 'n laaste voorbeeld: twee sakemanne geniet dieselfde sukses. Die een klop homself op die skouer en raak hoogmoedig. Die ander een gee aan God die eer en raak dankbaar. Met ander woorde: presies wat Spreuke hier sê: wees versigtig wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou lewe.

Of kom ons kyk uit nog 'n ander hoek daarna: gestel u vra 'n vriend om na u huis te kyk terwyl u met vakansie gaan. Jou vriend belowe dat hy na alles sal omsien en vir alles sal sorg. Met jou terugkoms, egter, is jou plek in 'n toestand. Die matte is geskeur, die mure is besmeer, en die meubels is flenters. Jou vriend se verduideliking stel jou nie tevrede nie: 'n klomp motorfietsryers het plek gesoek om te bly. Toe het iemand plek gesoek om te oornag. En wel, die huis was mos leeg. Julle was mos weg.

Wat sal ons reaksie wees, broers en susters? Miskien die vraag: maar weet jy nie hoe om nee te sê nie? Buitendien, dit is mos nie jou huis nie. Jy het nie die reg om elke Jan Rap en sy maat in my huis te laat inkom nie.

God, broers en susters, sê vir ons presies dieselfde. Jou liggaam, jou hart, is my tempel. Daarom kan jy nie maar net elkeen daarin laat inkom nie. Maar omdat julle dit doen, is julle harte in 'n toestand.

Is dit nie waar nie, broers en susters? Is ons harte soms ook maar in 'n toestand nie? Maak nie saak wie klop nie, ons maak oop. Klop woede aan die deur, dan laat ons hom in en doen baie moeite om hom gemaklik te laat voel. Is wraak op soek na 'n blyplek, trek ons vir hom 'n lekker gemakstoel nader. Wil selfbejammering inkom om partytjie te hou, wys ons hom onmiddellik waar is die kombuis. Druk skinder die klokkie, dan trek ons die bed skoon oor. En dan vra God: weet jy nie hoe om nee te sê nie?

Baie van ons, broers en susters, weet nie hoe om nee te sê nie. Ja, ons kan ons tyd hanteer, ons program, ons gewig, ons werknemers, maar nie ons gedagtes nie. Daardie saadjies wat ons op ons harte saai, saadjies, sê Spreuke, wat 'n mens se hele lewe kan bepaal. Behoort ons, broers en susters, nie meer begaan hieroor te wees nie? Veral as dit wel so is dat jou gedagtes jou lewe kan bepaal.

Jesus, broers en susters, was begaan daaroor, oor sy gedagtes. Baie gedagtes is deur Hom toegang tot sy hart geweier. Kom ek noem net drie voorbeelde, daar is natuurlik baie meer.

Onthou u die keer daar in Markus 11 toe die skare Hom koning wou maak? Watter aanloklike gedagte was dit nie? Dit sou darem wonderlik wees om koning te kan wees. Maar nie Jesus nie. Dit was nie waarvoor Hy gekom het nie. Daarom is Hy daar weg, alleen die berg op. Met die versoeking daar onder by Jerusalem.

Of wat van die keer daar in Markus 8 toe Jesus sy kruisdood aangekondig het en Petrus gesê het dat hy dit nie sou toelaat nie. Was dit nie vir Jesus 'n makliker uitweg nie? Miskien ja. Maar Jesus het die gedagte nie eers kans gegee om aan sy hart te klop nie. Gaan weg agter my Satan, het Hy Petrus geantwoord. Jy bedink dinge van mense, nie van God nie.

'n Laaste voorbeeld. Hoeveel keer was Jesus nie bespot en uitgelag in sy lewe nie? Aan die kruis, asook toe Hy Jaïrus se dogtertjie gesond gemaak het. Verseker het Jesus, as mens, die gevoel van bespotting en vernedering beleef. Maar anders as die meeste van ons, het hy geweier om die deur van sy hart vir hulle bespotting oop te maak.

Jesus Christus, broers en susters, het sy hart bewaak. Behoort ons dit nie ook te doen nie? Wees versigtig, sê Spreuke, wat in jou hart ingaan en omgaan, want dit bepaal jou lewe. God, broers en susters, wil hê dat ons harte vrugbaar moet wees en moet vrug dra. Hy wil hê ons hart moet soos Jesus s'n wees en word. Dit is God se doelwit vir ons. Hy wil hê dat dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was, ook in ons moet wees (Fil 2:5)

Hoe, wil u vra, kry 'n mens dit reg? Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, is verrassend eenvoudig: jy moet jou hart en gedagtes onderwerp aan die gesag van God. Neem elke gedagte, sê 2 Korintiërs 10:5, maak dit 'n gevangene om aan Christus gehoorsaam te wees. Of anders gesê: bewaak die deur van jou hart. Moenie maar net toelaat dat enigiets daar inkom nie. Keur dit wat daar inkom. Staan gereed met die hand- en voetboeie om alles vas te maak wat nie in die hart mag inkom nie, gedagtes wat nie op jou land gesaai mag word nie. En luister maar net wat die Gees sê, want dit is juis die Gees wat ons die onderskeidingsvermoë gee om te weet wat mag in en wat mag nie.

Prakties, hoe doen ons dit prakties? Kom ons noem net twee voorbeelde. Gestel iemand reken dat jy niks werd is net omdat jy nie sogenaamd voldoen aan wat hy/sy reken nou 'n suksesvolle mense is nie. Of jy kan die gedagte in jou hart saai, en dit begin glo. Of, jy kan die gedagte boei en luister na wat die Gees sê: daar is geen veroordeling vir hulle wat in Christus is nie, almal wat glo het die erenaam kind van God gekry, almal is baie werd in God se oë. ‘Wees veral versigtig wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe’.

'n Laaste voorbeeld: die opmerkings van hulle wat ons prys. Mense wat nie vertel hoe sleg ons is nie, maar hoe goed ons is. Is dit nie lekker, broers en susters, om so 'n gedagte in die hart te verwelkom nie? Bewaak egter jou hart. Wandel deur die Gees. Hoor wat sê die Woord: moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie. Jy het net rede om in Christus te roem wat jou gemaak het wat jy is. Moenie jouself prys nie. ‘Wees veral versigtig wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe’.

Wat ons saai, broers en susters, sal ons maai. Veral in ons harte, en daarom in ons lewens. Daarom moet ons ons harte bewaak. Daarom moet ons ons gedagtes onderwerp aan die leiding van die Gees en die gesag van Jesus. Want hoe kieskeuriger ons is oor die saad wat ons saai, hoe meer ingenome sal ons wees met die oes.
Amen