Romeine 8:31-39

Watter soort donkie is ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die Bybel is vol uitsprake oor die mens, oor ons, wie en wat ons is. Aan die een kant sê die Bybel mooi dinge oor ons. Volgens die skeppingsverhale in Genesis is ons nie alleen die kroon van God se skepping nie, maar ook die belangrikste van alles wat Hy geskep het. En aan die begin, leer Genesis ons, was ons selfs na die beeld van God geskape. En dieselfde gedagtes vind ons in Psalm 8: ons is die kroon van God se skepping, en vir God so belangrik dat Hy elke dag, elke oomblik, aan ons dink.

Hoe lyk hierdie kroon van God se skepping? As ‘n mens vir ‘n keer ‘n bietjie gaan dink hoe God ons liggame aanmekaar gesit het, broers en susters, is dit amper ongelooflik. En kom ek noem vanoggend aan u ‘n paar voorbeelde om te verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Die mens se liggaam het ongeveer 120 000 gevoelsensore, 200 000 pynsensore, 24 000 gehoorsensore (wat tussen ongeveer 1 600 verskillende frekwensies kan onderskei), 100 000 oogreseptore, 800 000 vesels in elke oogsenuwee wat inligting na die brein voer, 206 bene, 656 skeletspiere, 10 kilometer senuwees, 86 000 kilometer are, en meer as 300 miljoen lugsakkies in jou longe om die 100 triljoen liggaamselle van suurstof te voorsien.

Verder het ons elkeen ‘n hart wat ongeveer 4 200 keer per uur klop. As dit as gemiddeld geneem word, klop jou hart dus ongeveer 100 000 keer per dag en 36 miljoen keer per jaar. Ons harte pomp verder 8 000 liter bloed per dag. Dit pomp 5 liter bloed per minuut, en dus 2,6 miljoen liter bloed per jaar.

Ons brein, broers en susters, as ‘n, laaste voorbeeld, het ongeveer ‘n 1000 miljard breinselle, elke senusel in die brein is in kontak met 100 000 ander, en ongeveer 500 000 chemiese reaksies vind elke minuut in jou brein plaas. Elke breinsel verwerk verder ongeveer 50 000 boodskappe per minuut, en verskeie medici oordeel dat ons maar slegs 0,5% tot 5% van ons breinkrag gebruik.

Miskien baie tegnies hierdie inligting, sou u kon reken, maar ten minste laat dit ‘n mens verstom staan: so wonderlik is hierdie liggaam van u en van my, en God, en niemand anders nie, het dit so gemaak. Voorwaar, sou ‘n mens wou sê, die kroon van alles wat God gemaak het!

Maar wat is hierdie kroon van God se skepping nog? Sondaar, pure sondaar. Nie alleen na die sondeval, nie meer die beeld van God nie, maar ook tydelik. Soos ‘n blom van die veld is ons, sê Psalm 103, pragtig kom dit op en blom, maar sodra die son opkom, verwelk dit en vergaan. Soos ‘n aardse tentwoning wat afgebreek sal word, sê Paulus in 2 Korintiërs 5.

En tot dit gebeur, sê Romeine 3, woeker hierdie wonderlike skepping van God, die mens, voort in die sonde. Nie een is verstandig of regverdig is nie, almal het afgedwaal, en nie een is goed of soek na die wil van God nie.

Eintlik ongelooflik: die kroon is ons, maar die kroon verwelk. Ongelooflik het God ons gemaak, en net so ongelowig lewe ons. Fantasties geskep deur God, maar so anders as God. God se kroon, maar skepsele wat God dikwels nie kroon as Koning nie. In kort: sondaars. Mense wat die doel dikwels mis waarvoor God hulle so wonderlik geskep het!

Die boodskap van die Bybel, broers en susters, stop egter gelukkig nie hier nie. Nee, die boodskap van die Bybel leer ons dat ons, al is ons sondaarmense, in Christus, saam met Christus, saam met God, iets werd is. Of anders gesê: eintlik net in Christus mens is, God se mens is.

En dit wil ek vanoggend verduidelik, broers en susters, met ‘n eenvoudige, fiktiewe vertelling. Die hoofkarakter van hierdie vertelling is egter nie fiktief nie, ons lees van hom in onder andere Markus 11:1-11: ‘n donkie.

Die oggend na daardie intog van Jesus in Jerusalem het hy vroeg wakker geword, gloeiende van die vorige dag se trots. Die plesier wat hy ervaar het, het laat hom ril. Hy stap toe na die dorpsput toe en sê vir die mense: ‘Gooi julle nie julle klere voor my neer nie, weet julle nie meer wie ek is nie?’ En ‘n groot man gee hom toe ‘n klap op die boud en jaag hom weg.

Die donkie skuif toe mark toe. Trots, fier en regop kom hy by die mark aan. Maar niemand gee aan hom aandag nie. ‘Waar is die palmtakke’, vra hy toe, ‘gister nog het julle palmblare gestrooi waar ek loop!’. Maar geen antwoord van almal daar nie. Seergemaak en deurmekaar bekla hy sy lot by sy ma. ‘Dom kind’, raas sy liefdevol, ‘besef jy dan nie dat sonder Jesus jy maar net ‘n gewone donkie is nie?’

Sonder Christus is ons nie veel anders as die donkie nie. Wonderlik soos wat God ons gemaak het is ons sonder Jesus maar net gewone, sondaarmense.

Maar die oomblik, broers en susters, wat ons besef en glo dat lewe net sin het in Jesus Christus het, verander ons van doodgewone sondaarmense na mense wat Jesus op ‘n keer sy vriende genoem het. Ons word nuwe mense, mense wat van binne af deur God se Gees nuut gemaak word om nuut te kan leef. Mense wat weer kan begin groei na die beeld van God, mense wat God se verteenwoordigers hier op aarde word, mense wat God se mense word, mense met ‘n toekoms, en mense met ‘n lewe vol sin, vreugde en vrede.

Hoor hoe sê God dit in sy Woord vir ons. God se mense is mense wat:

  • nuwe mens is (2 Kor 5:17);
  • tot alles in staat is(Fil 4:13);
  • die sout van die aarde is (Matt 5:13);
  • die lig vir die wêreld is (Matt 5:14);
  • deel van die liggaam van Christus is (Rom 12:5);
  • in die vrede van God leef (Fil 4:7);
  • nooit verlore sal gaan nie (Joh 10:28-29); en
  • nou reeds besig is om te verander om meer en meer soos Christus te word (2 Kor 3:18).

Of soos ons gelese gedeelte dit stel: ons is mense vir wie God lief is. So lief, dat niks ons van God kan skei nie (vers 35). Ons is deur God uitgekies (vers 33), ons is selfs op sy gebedslys (vers 34.), en meer as oorwinnaars (vers 37). staar ons egter so maklik blind teen dié goed.

Besef ons elke dag hierdie dinge, broers en susters? Of staar ons maar net dag vir dag vas in ons omstandighede? Het dit nie dalk vir ons alles geword nie? Of onthou ons elke dag weer, en weer, wie ons werklik in Christus is?

En as ons dit besef, hoe lewe ons? Lyk ons lewens nuut? Sien ander die vreugde in ons? Is vrede werklik deel van ons lewens? En wat maak ons met daardie liefde van God wat niks of niemand ons van kan skei nie?

Is ons die donkie op die plein en by die waterput, of is ons die donkie onder Christus? Christus alleen maak sin. In my lewe. Ek hoop u kan dieselfde sê. Sonder Christus is ons niks, met Hom is ons alles.

Glo ons dit werklik, broers en susters? En as ons dit glo, hoe lyk ons lewens? Twee vrae wat in wese die mens se lewe voor God, en saam met God, opsom. Daarom miskien die twee belangrikste vrae wat u en ek nog ooit gehoor het!
Amen