Matteus 6:1-4

Wat, volgens die Bybel, is 'n suksesvolle lewe?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Sukses het een van die wagwoorde van ons tyd geword. En laat ek dadelik sê: daar is niks mee fout om suksesvol te wees nie. Inteendeel. Ek dink 'n mens behoort te poog om suksesvol te wees in wat jy doen of waarmee jy besig is.

In ons tyd egter, broers en susters, gebeur dit ongelukkig dikwels dat mense se soeke na sukses al is waarvoor hulle lewe, en dat sukses soms, en dit is jammer, ten alle koste nagejaag word. Maak nie saak wat ek hoef te doen nie, maak nie saak wie dalk in die slag sal bly nie, solank ek net suksesvol is en bo uitkom.

Van hierdie soort sukses wil ons nie vanoggend praat nie, maar eerder oor dit wat die Bybel ons leer 'n suksesvolle mens is. Wat, volgens die Bybel, is sukses, en hoe bereik 'n mens dit, is dus die vraag wat vanoggend aan die orde is. En om hierdie vraag aan die orde te stel, broers en susters, wil ek vanoggend, soos Jesus se gewoonte was, begin met 'n gelykenis, natuurlik eietyds en fiktief (wat ook, terloops, twee eienskappe was van ook al Jesus se gelykenisse).

Eendag het 'n man besluit om 'n boot te bou. Geen koste moes ontsien word nie. Die boot moes die verbeelding van mense aangryp, veral dié van sy seiljagvriende. Die man was natuurlik self 'n seiljagvaarder, en kort voor lank het die reuse raamwerk in sy werkwinkel gestaan. En toe hy met die afwerking begin, het hy by voorbaat al begin dink aan die bewondering wat sy seiljag by almal sou afdwing.

Hoe meer hy oor sy boot gedink het, hoe meer het hy aandag, tyd en geld spandeer aan die dinge wat mense sou raaksien en bewonder. Niks was te duur nie, solank alles net ander sou beïndruk. Op die agterkant van die boot het hy die naam van die boot, en sy eie naam daaronder, met groot letters geverf, sodat niemand sou wonder aan wie die boot behoort nie.

Toe breek die groot dag aan. Almal was beïndruk. Op die oog af was dit 'n meesterstuk, sonder weerga, die trots van die seiljagklub, het almal gesê. Talle ander jagte het die spogjag op sy eerste vaart vergesel die eerste paar seemyle in die see in. Baie was jaloers op die pragstuk, het gesê dat hierdie man beslis die volgende voorsitter van die seiljagklub moes wees. Want dit is mos nou sukses as jy dit iewers al gesien het.

Laatmiddag was daar egter 'n boodskap oor 'n groot tra­gedie. 'n Storm het opgekom en die boot het feitlik binne minute gesink. Niemand kon verstaan hoekom nie. Die storm was tog immers nie so groot nie.

Toe die romp van die boot op die strand uitspoel, was dit egter gou duidelik hoekom die boot die kleinerige storm nie kon oorleef nie. Dit wat onder die waterlyn was, dit wat 'n mens nie kon sien nie, het die boot nie gehad nie. Daar was geen kiel wat die boot kon stuur nie, en bo alles het die boot baie meer gewig bo die water gedra as onder die water.

So 'n dwaas, het die mense gesê, het hy nie geweet dat die see gevaarlik is nie? Hoe kon hy die belangrikste gedeelte van die seiljag miskyk? Hoe kon hy duisende rande spandeer aan dit wat bo die waterlyn sigbaar was, wat in wese onbelangrik was vir 'n boot om bo op die water te bly, maar nie bereid was om enige geld te spandeer aan dit wat die boot moes stuur, of bereid was om aandag te gee aan die boot se gewigsverspreiding nie?

Hoekom het hy nie? Omdat hy gereken het: hoekom geld of tyd spandeer aan dit wat niemand ooit gaan sien of bewonder nie? En so het sy soeke na bewondering en sigbare sukses hom blind gemaak vir die heel belangrikste.

Maak ons nie dikwels dieselfde soort foute in die lewe nie, broers en susters? Ons jaag dinge na wat vir ons belangrik is dikwels net omdat dit vir ander belangrik is, ons gee aandag aan die dinge wat sigbaar is, dinge wat ons meen ander mense gebruik om ons mee te meet, sonder om aandag te gee aan die dinge wat mense nie sien nie, naamlik die toestand van ons siel en die werklike aard en diepte van ons verhouding met ons Here. Met ander woorde, die dinge wat onder die waterlyn lê.

Christenwees, broers en susters, en daarmee saam gesonde sukses, het te doen met dit wat onder die waterlyn lê. Uiterlike dinge, leer die Woord ons, is dinge wat miskien blink en die voorkoms van sukses en voorspoed adem, maar is dinge wat tydelik is en bestem is om te vergaan. Wat binne-in die mens aangaan, leer die Woord ons daarom, is belangriker as die uiterlike. Ware geluk en voorspoed lê onder die watermerk. Dit lê in die siel van die mens.

Wie dus oppervlakkig na geluk en sukses soek, maak 'n groot fout. Want die geheim van ware Christenwees lê opgesluit in die leef van 'n-onder-die-watermerk lewe. En wanneer ons hierdie geheim van die evangelie verstaan, begin ons eers regtig om te leef. 'n Lewe leef wat bestaan uit 'n diepe, heerlike en blywende van God afhanklike lewe. Eers dan het 'n mens 'n verhouding met jou Here wat nie deur alledaagse storms geraak word nie.

Geestelike helde in die verlede en die wie se lewens vir ons in die Bybel beskryf word het daarom deur die eeue almal iets in gemeen. Hulle sou hulle sukses verskillend beskryf en verskillende name daaraan heg, maar almal sou min of meer dieselfde taal praat. Want hulle het almal meer tyd gespandeer aan die onderkant van die boot as dit wat bo die waterlyn sigbaar was.

Dit is presies wat die godsdienstige leiers in die tyd van Jesus gedoen het. Juis daarom waarsku Jesus byvoorbeeld die Fariseërs om nie net die buitekant van die beker skoon te maak nie, nie soos witgepleisterde grafte in die openbaar rond te loop om deur almal gesien te word nie, nie maar net hulle godsdienstige pligte in die openbaar na te kom om maar eintlik net deur mense gesien te word nie, en nie wanneer hulle die armes help dit aan almal uit te basuin nie. Vir hulle was alles net reël op reël, en wet op wet. Uiterlik was hulle dus baie godsdienstig, maar innerlik was hulle baie vêr van God af.

Jesus het egter sy tydgenote gedwing om na binne te kyk. By Hom het dit nie saak gemaak of sommige mense tollenaars of sondaars was nie. Hy het sy hand uitgesteek na die smart van hulle siel. Daardie smart, hulle siel, dit wou Hy bevry.

Waar begin 'n mens, broers en susters, as 'n mens werklik aan jou verhouding met God wil bou waar die klem val op 'n diep, blywende en innige geestelike verhouding met God, en nie maar net op 'n verhouding wat maar net uit uiterlike dinge en vertoon bestaan nie?

Of miskien, kom ons sê waar dit nie begin nie: 'n Diep en innig geestelike verhouding met God, broers en susters, begin nie by 'n studie van God of 'n studie van die koninkryk nie. In hierdie verband het iemand eendag gesê: Om God te ontmoet, beteken om in die grot van 'n tier in te gaan. Dit is nie 'n mak katjie met wie jy kan speel met wie jy hier te doen het nie, maar 'n tier. Want die koninkryk van God is gevaarlik. Iets waarbinne jy moet ingaan, en nie maar net iets waaroor jy inligting inwin nie.

Tweedens, broers en susters, begin 'n diep innige verhouding met God gewoonlik nooit (ek wil amper sê met die hoogste uitsondering) by een of ander geestelike of emosionele ervaring. Ervarings is tydelik, dit verg min dissipline van die siel, is gewoonlik niks meer as 'n kortstondige oplewing nie, en wat meer is, emosionele ervarings laat 'n mens dikwels armer omdat jy daarna nog 'n groter ervaring nodig het om die leegheid weg te neem.

Nee, broers en susters. Daar is net een manier waarop 'n werklike diep, geestelike en innige verhouding met God begin, en dit is deur bekering. Met 'n opregte sielsbekering wat saamgaan met 'n opregte skuldbelydenis . 'n Mens kan amper sê: bekering is die waterskeiding. Dit is 'n nuwe begin met God, waar ek voor God gaan staan en sê: Here, U is heilig, ek is onheilig. Dit is of U, of daar is vir my niks nie. Daarom: vir U kies ek. Maak U van my die nuwe mens wat kan lewe as kind van God.

Tweedens, broers en susters, moet die mens se bekering opgevolg word met 'n bepaalde roepingsbewustheid. En as ons nie verstaan wat met roepingsbewustheid bedoel word nie, kan ons gerus hier verwys na wat van Esra, die Ou-Testamentiese profeet gesê was: Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling daarvan leer.. Ook Jesus het so 'n roepingsbewustheid gehad. Van Hom sê Lukas 19:10: die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore was. Dus, wat moet volg op bekering is 'n lewe wat gewy word aan gehoorsaamheid, die doen van God se gebod, dit wil sê, 'n lewe waardeur God verheerlik word.

Derdens, broers en susters, sal 'n diep geestelike en innige verhouding met God nie sonder die bereidheid om in die geloof te volhard in 'n mens se lewe waar word nie. Al beteken dit ek moet soms teen die wind in seil, dat ek soms teen die stroom moet swem, dat dit soms baie moeilik is en sal wees.

En volharding in die geloof, broers en susters, kom alleen wanneer 'n mens werklik met God kommunikeer/praat deur aanbidding en gebed, deur Jesus se lewenswyse/ voorbeeld na te volg, die Gees van God toe te laat om jou te lei, en om die Bybelse beginsels deel van jou lewe te maak.

So 'n lewe, broers en susters, is volgens die Bybel 'n suksesvolle lewe. Dit is 'n lewe waarvan die sake wat onder die watermerk lê so stewig en vas is, dat die boot nie sal sink wanneer die storms van die lewe daarteen vasslaan nie. Dit is 'n lewe wat nie staat maak op die uiterlike en die oordeel/waardering van ander nie, maar 'n lewe so vas aan God, dat ware lewe moontlik word.

Ek sluit af: alles wat ons vanoggend gesê het, kan saamgevat word met 'n laaste voorbeeld. Iemand het eendag gespog en gesê: Ek is al drie keer reg deur die Bybel, ek het dit al drie keer van heel voor tot agter deurgelees. Waarop een van die teenwoordiges rustig geantwoord het. Dit is mooi, maar sê my, hoeveel keer is die Bybel al deur jou?
Amen