Filippense 3:7-4:9

Wees inskiklik teenoor ander



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ‘n tyd wat nie juis deur welwillendheid gekenmerk word nie, vra ek vanaand u aandag vir Filippense 4:5-6a: ‘Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie’.

Hierdie baie bekende teksvers, broers en susters, is egter nie so maklik te verstane nie. Om mee te begin: moet die middelste deel ‘Die Here is naby’, saamgelees word met die voorafgaande gedeelte ‘wees inskiklik teenoor alle mense’, of saam met die daaropvolgende ‘moet oor niks besorg wees nie’. Anders gestel: die feit dat die Here naby is, moet dit maak dat ons teenoor ander inskiklik moet wees, of beteken dit dat ons daarom oor niks besorg hoef te wees nie? Of is hierdie nie werklik ‘n probleem nie?

Probleem nommer 2: wat beteken dit dat die Here ‘naby’ is? Miskien het ons reeds die antwoord op hierdie vraag in Filippense 3:20 raak gelees: ‘Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag’.

‘n Mens sou hieruit kon aflei dat Paulus wil sê dat die wederkoms op hande is, baie naby. Daarom is die Here naby. Baie sê dan ook dat dit een van redes is waarom hierdie brief so vrolik en vol vreugde is, al sit Paulus in die tronk terwyl hy die brief skryf. Want sy verlossing is immers baie naby.

Hierdie verstaan, broers en susters, lei egter tot ‘n derde probleem: 2000 jaar het intussen verloop, en die wederkoms het nog nie plaasgevind nie. Verder kan ons hierdie vers nie los lees van dit wat die res van die Bybel oor hierdie aangeleentheid sê nie. Trouens, die hele Nuwe Testament is eenstemmig in die oortuiging dat die einde naby is. In 1 Korintiërs 7:29 lees ons byvoorbeeld: Die tyd is min’, en in 1 Johannes 2:18 lees ons iets soortgelyks: ‘Kinders, dit is die laaste uur’. En hierby kan ons 1 Petrus 4:17 voeg: ‘Die tyd van oordeel het aangebreek’.

Maar kan ons hiermee saamstem, broers en susters? Word die feit dat soveel jare nou al verbygegaan het, nie net eenvoudig te veel nie? Ons sing byvoorbeeld graag Gesang 602: ek sien ‘n nuwe hemel kom, ‘n aarde nuut en vry. Die nuwe stad Jerusalem daal uit die hemel neer, en as oorwinnaars sal ons alles erf.

Maar wanneer ons na die wêreld kyk waarin ons leef, sien ons niks hiervan nie. Al wat ons wel sien, is dat die verwagting van ‘n spoedige wederkoms dikwels op snaakse maniere opvlam. Leiers van sektes voorspel die wederkoms dikwels, en dan gebeur dit nie. Of sektes pleeg in groepe selfmoord om so hulle eie wederkoms te skep.

Seker die bekendste voorbeeld is die bekende martelaar, John Blumhoudt uit die vorige eeu. Hy het altyd ‘n koets met perde gereed gehad dat, indien die geklank van die laaste basuin sou opklink, hy sy Verlosser tegemoet sou kon ry.

Hoe dit ook al sy, broers en susters, die feit dat soveel tekste in die Nuwe testament ‘n spoedige wederkoms verwag het, en dat dit nou, na soveel jare nog nie plaasgevind het nie, is vir baie ‘n probleem. Sommiges gebruik selfs die uitbly van die wederkoms as bewys dat dit eintlik maar net ‘n versinsel is, en dus nooit sal gebeur nie.

Ek dink egter nie, broers en susters, dat die uitbly van die wederkoms so ‘n groot probleem is nie. En ek meen verder dat juis ons gedeelte van vanaand ‘n goeie voorbeeld daarvan is.

In ons gedeelte sê Paulus wel dat die einde naby is. Maar hy sê dit nie los van die feit dat die Here ook naby is nie. Hoekom is dit belangrik? Want volgens die Nuwe Testament is Jesus Christus self die einde. En daarom is die einde net so naby as wat Jesus naby is.

Ons lees dit pragtig raak in Openbaring 22:13: ‘ Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde’. Of in Johannes 11:25-26: ‘Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. En wie in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie’. Die ewigheid wat ons dus ontvang het omdat ons glo, is dus nie ‘n ewigheid wat net in die toekoms lê nie, maar alreeds by ons is, ons is alreeds deel daarvan.

Dit is daarom ook nie vreemd dat uitdrukkings in die Nuwe Testament soos ‘die laaste dae’, en ‘die volheid van die tyd’ gebruik word om na die gebeure van Kersfees en Pinkster te verwys nie. Want in albei hierdie gevalle het God naby ons gekom: Jesus is gebore, en die Gees is uitgestort.

Dus: ons is burgers van die hemel, want Jesus is naby ons, by ons. Ons is dus reeds deel van die koninkryk. En met die geloofsoog kan ons die koninkryk ook reeds sien: God is by ons in die sakramente teenwoordig, in sy kerk is Hy teenwoordig, en ook in die lewe van gelowiges op soveel maniere.

Dit is dan juis ook ons taak as Christene om sulke tekens te wees. Tekens van liefde wat ander laat sien dat die koninkryk reeds hier is, en dat die Here naby is, by ons is.
En juis daarom, broers en susters, roep Paulus sy lesers op om inskiklik teenoor alle mense te wees. Sodat ander kan sien dat die Here naby is.

Maar wat beteken dit om inskiklik teenoor ander te wees? Die Griekse woord wat hier gebruik word (epieikein) is nie so maklik te vertaal nie. Baie beskou dit as een van die onvertaalbaarste woorde in die Griekse taal. En ‘n mens kom dit baie gou agter deur eenvoudig na ‘n paar vertalings van hierdie woordjie te kyk.

Die 1953-vertaling vertaal dit met vriendelikheid, die 1979-vertaling vertaal dit met welwillendheid, en die 1983-vertaling vertaal dit met sowel inskiklikheid as met vriendelikheid (2 Kor 10:1). Ander vertalings het ook ander pogings: groothartigheid, gematigdheid, mildheid, goedheid, verdraagsaamheid, of beskeidenheid (soos die Statevertaling dit vertaal).

Die oplossing hier, broers en susters, glo ek is om miskien net weer te gaan kyk hoe in die Griekse literatuur tot ons beskikking hierdie woord verstaan of gebruik word. Vir hulle het dit ‘die soepelheid van die siel’ beteken. Aristoteles het dit byvoorbeeld gebruik vir ‘n persoon wat, in die handhawing van die reg, nie altyd net die letter van die wet streng gevolg het nie, maar ook die persoon aangesien het.

Ek verstaan dit daarom so dat hierdie woord op iemand dui wat teenoor ander leef en optree volgens die liefdesgebod. Iemand wat so optree, is nie hard in oordeel nie, juis omdat hy/sy iets verstaan van die woord genade.

Besonder interessant in hierdie verband is 2 Korintiërs 10:1-2 waar Paulus skryf: ‘In die Naam van Christus, wat nederig en vriendelik is, vra ek julle, moenie my dwing om streng te wees wanneer ek kom nie’. In die Griekse vertaling van Psalm 86:5 word dieselfde woord vir God se goedheid en verdraagsaamheid gebruik.

Ook Psalm 25:3 kom hierdie woordjie voor: dink aan my in mededoë as ek biddend voor u pleit, milde hande, vriend’lik oë, is by U van ewigheid.

Inskiklik wees beteken dus, broers en susters, om nooit jouself te wil handhaaf nie, maar om te vergewe, die liefde te leef, om ‘n oog te hê vir ander. Om, anders gesê, ander te behandel soos God ons behandel.

Maar hoekom, sal ‘n mens wil vra, sal Paulus pleit vir inskiklikheid vanuit die tronk, waar hy juis nie verdien om te wees nie, vals beskuldig word vir oortredings wat eintlik nie bestaan nie?

Omdat Paulus afgesien het van selfhandhawing. Hy hoef nie aanspraak te maak of te baklei vir sy eer, reg en eie belang nie. Want hy doen maar net wat God van hom vra. Christus het, toe hy aan die kruis gehang nie, nie daarop aangedring nie. Hy sal nou ook nie. Wat hy sal doen is om aan God gehoorsaam te wees.

Dit is vleeslik om ‘n groot mond op te sit en net vir jou posisie en belang te veg. Dit is geestelik om aan God gehoorsaam te wees en in die vertroue te leef dat God se wil, in jou lewe en ander se lewe, sal seëvier.

Hierdie houding, het iemand eendag gesê, kan eintlik die beste beskryf word as heilige humor. ‘n Mens met heilige humor is nooit fanaties nie. Heilige humor relativeer alles omdat dit alles sien in die lig van die ewigheid. Dit plaas alles wat gebeur in die lig van die feit dat diem Here naby aan ‘n mens is.

Dit is juis hierdie heilige humor wat Paulus dan ook in 1 Korintiërs 7 so mooi beskryf wanneer hy sê dat diegene wat bedroef is, moet lewe asof hulle nie bedroef is nie, en diegene wat iets aankoop, dit koop asof hulle nie iets besit nie. So gesien, kan ons bly wees, en moet ons leer om niks doodernstig op te neem nie.

Juis omdat Paulus sy situasie nie doodernstig opneem nie, het hy vreugde in sy bestaan, al sit hy in die tronk. Omdat hy alles in die lig van die ewigheid sien. Daarom roep hy ons ook op om ons gedagtes te rig op alles wat waar is., edel is, mooi is en prysenswaardig is. En, sê hy, die God van vrede sal met julle wees.

Die mens wat inskiklik is, broers en susters, neem homself nooit ernstig op nie. Ander beskou miskien inskiklikheid as ‘n swakheid. Hulle staan verbete by hulle standpunt soos ‘n standbeeld. Hulle is hard in hulle oordeel met ander. In hulle eie oë is hulle belangrike en gewigtige mense. Hulle is baie besorg oor hulleself. Hulle handhaaf alles wat hulle glo en wil tot die bitter einde. Daarom is hulle dikwels ook bitter mense.

Inskiklikheid, aan die ander kant, en ‘n onbesorgdheid oor wat jy is en wie jy is en wat jy wil hê, gaan hand aan hand. Wie inskiklik teenoor ander is, is nooit op soek om homself te handhaaf nie. Inteendeel. Hulle is mense wat tekens is van die koninkryk, hulle leef God se liefde, en toon so aan die wêreld dat die Here naby is.
Amen