Lukas 24:13–35

Wie is hierdie Jesus van Nasaret?



A.EKSEGETIESE OPMERKINGS
1.Historiese Jesus -navorsing fokus onder andere op die politieke omstandighede waarin Jesus gebore is en groot geword het, asook die politieke situasie ten tye van sy bediening in Palestina. As gevolg van hierdie fokus het die werke van Josefus weer aandag begin ontvang. Drie Nuwe Testamentici, te wete Dick Horsley (Bandits, prophets and messiahs: Popular movements in the time of Jesus, 1985), Anthony Saldarini (Pharisees, scribes and Sadducees in Palestinian society: A sociological approach, 1988) and Dominic Crossan (The historical Jesus: The life of a Mediterranean Jewish peasant, 1991) het stewige bydraes gelewer in die ontsluiting van Josefus se werke in terme van die beskrywing van populêre bewegings in en om Palestina in die tyd van Jesus. Die populêre bewegings voor, tydens en na die tyd van Jesus kan in drie groepe verdeel word, te wete bendery (brigands), profete en messiasse.

2.Bendery het veral voorgekom onder landboere (peasants) wat hulle grond verloor het (veral as gevolg van swaar belastings). Omdat hierdie landboere sonder heenkome en inkomste was, was byvoorbeeld die roof van Romeinse karavane en aanval van Romeinse vestings met die oog om te buit feitlik die enigste moontlikheid om te kon oorleef. Die volgende voorbeelde van bendery word deur Josefus opgeteken:

  • Hezekia (47-38 v C) loods verskeie aanvalle op Romeinse karavane in die noorde van Galilea. Sy volgelinge bestaan hoofsaaklik uit Galileërs. Hy word later deur Herodes gedood;
  • ‘n groep opstandiges (in 37 v C), wat in die grotte naby Arbela geskuil het, plunder Romeine karavane in die omgewing;
  • Eleazer ben Dinai (30n C);
  • Tolomaus (35 n C);
  • Jesus, seun van Sappias (60 n C), val Sesarea-Filippi aan, bestorm die argiewe en verbrand al die rekords van die Romeine, sodat die Romeine nie kon bepaal wie hulle wat geskuld het nie; en
  • Johannes van Gisala (66 n C).

3.Wat die messiaanse bewegings in die tyd van Jesus betref kan die volgende name genoem word:

  1. Judas, seun van Hezekia (wat homself in 4 v C in Sefforis as koning van die Jode gekroon het);
  2. Simon (wat in 4 v C gepoog het om Jerigo af te brand en homself ook tot nuwe koning verklaar het);
  3. Anthronges (4-2 v C);
  4. Menahem, seun van Judas die Galileër (wat in 66 n C die tempel in Jerusalem ingeneem het en homself tot nuwe koning gekroon het); en
  5. Simon bar Giora (70 n C).
    Gemeenskaplik aan hierdie bewegings is dat hulle gesentreer het rondom ‘n charismatiese persoon met ‘n nederige afkoms (soos Dawid en Elia), die bewegings het hoofsaaklik uit landboere bestaan, en hulle hoofdoel was om die Romeinse en Herodiaanse juk af te gooi. Verder is al hierdie ‘messiasse’, lees ons in die geskiedenisboeke oor daardie tyd, onmiddellik gedood.

4.Wat betref die populêre profete, verwys Josefus na die volgende persone:

  1. Johannes die Doper (20-30 n C);
  2. die sogenaamde Samaritaan (36 n C in die tyd van Pilatus), wat ‘n groot aantal mense bymekaar gemaak het, hulle bewapen het en opgetrek het na Gerisem waar hy beloof het dat hulle die twee tafels van die wet op die berg sou vind. Pilatus het hom egter gedood;
    die Egiptenaar, van wie ons in Handelinge 21:38 lees. Hy het ‘n aantal mense in die woestyn versamel en opgetrek na Olyfberg. Daar het hy gebid dat Jerusalem se mure so val, en dat die Romeine dan oorwin sou word. Ook hy is feitlik onmiddellik gedood;
    Teudas (Hand 5:36) en Judas die Galileër (Hand 5:37), wat beide in opstand gekom het teen die Romeinse heersers met ‘n aansienlike gevolg. Hulle is beide summier om die lewe gebring en hulle volgelinge het uitmekaar gespat.

5.Uit bogenoemde is dit duidelik dat populêre messiaanse en koninklike bewegings, asook georganiseerde bendery aan die orde van die dag was in die tyd van Jesus se optrede in Palestina. Jesus se beweging, lei ons uit die evangelies af, het ook bestaan uit onder andere landlose Galileërs en die randfigure uit die samelewing (die ‘skare’ waarvan die evangelies praat). Sekere ooreenkomste tussen die volgelinge van Jesus en dié van die bewegings hierbo beskryf, kan aangetoon word. Die volgende kan genoem word.

  1. Jesus se volgelinge was meestal die armes, landlose mense wat hom oral gevolg het (die skares wat Jesus oral gevolg en gesoek het);
  2. ook Jesus het opgegaan na Jerusalem, na die tempel, en dit selfs gereinig;
  3. met sy intog in Jerusalem (byvoorbeeld Mark 11) het ‘n groot skare Hom nie alleen gevolg nie, maar Hom soos ‘n koning verwelkom (klere/takke is op die pad voor Hom gegooi), hulle het gesê Hy is van Dawid, en dat die koninkryk aangebreek het;
  4. van sy volgelinge was Simon die Seloot (komende van die Selotiese beweging wat bekend was vir hulle bendery) en Judas Iskariot (Iskariot word waarskynlik afgelei van die woord Sicariï, ‘n groep Jode wat sekere hooggeplaaste Romeine met kort swaarde by wyse van sluipmoorde gedood het);
  5. Pilatus noem Jesus ‘koning van die Jode’, ‘n titel wat ook bo-aan Jesus se kruis geplaas is;
  6. ander weer het gesê hy is ‘n profeet soos Elia;
  7. verder word Jesus nie alleen in die plek van Barabbas (‘n misdadiger komende uit die wêreld van bendery) gedood nie, Hy is ook soos ‘n misdadiger doodgemaak deur gekruisig te word (Jesus hang tussen twee rowers);
  8. van sy volgelinge was gewapen (Petrus)
  9. Jesus is gevange geneem deur soldate wat met swaarde en stokke bewapen was;
  10. een van die klagtes wat teen Jesus ingebring was, was dat Hy sogenaamd die volk ophits; en;
  11. Jesus het self gesê dat Hy die koning van die Jode is (Luk 23:2).

Uit bogenoemde kan afgelei word dat sommiges in die tyd van Jesus se openbare optrede Jesus (en sy beweging) kon sien as maar net dieselfde as nog ‘n populêre (politieke) beweging van die tyd.

6.Bogenoemde word gebruik om te handel oor gelowiges se persepsies oor Jesus Christus en God, maar ook oor die feit dat Jesus Christus dikwels in die geloofspel ‘gebruik’ word. In hierdie verband is Lukas 24:13-35 gepas, aangesien die gedeelte onder andere ook handel oor persone se persepsies oor Christus. Maar ook: hoe hierdie persepsies deur Jesus Christus self reggestel word.

7.Die gedeelte kan gepreek word tydens lydenstyd, by ‘n Nagmaalsgeleentheid, en self by die geleentheid waar openbare belydenis van geloof afgelê word. Die preek moet dan aangepas word om by die betrokke geleentheid en gemeente te pas.

B.MOONTLIKE PREEKSKETS
Skriflesing: Lukas 24:13-35
Tema: Wie is hierdie man, Jesus van Nasaret?
8.Teksvers: Lukas 24:19–21
Prediking:

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Op die vraag ‘Wie is hierdie Jesus van Nasaret?’, is daar al baie antwoorde in die verlede gegee:

1.In die Middeleeue, toe die kloosterlewe gewild was, was Jesus die monnik;
2.in die tyd van die Romantiek is Jesus in die skilderkuns uitgedruk as die man met blonde hare en blou oë;
3.in die Afrika-godsdienste (waar voorvaderaanbidding belangrik is) is Jesus die oudste broer wat vir almal sorg en met die wat nog lewe in staat stel om met die voorvaders te kommunikeer;
4.in baie Derdewêreldlande (waar vryheidsvegters veg teen onderdrukkende strukture) het Jesus die soldaat geword met die geweer in die hand, en
5.in die bevrydingsteologie het Jesus die een geword wat hom uitsluitlik skaar by die verdruktes, die armes/randfigure van die samelewing, die wat te na gekom word, die bevryder uit neerdrukkende sosiale strukture.

Ook in ons tyd, broers en susters, het Jesus ‘n slagspreuk geword. Lees maar op die lamppale, teen mure, op motors: ‘Jesus is die oplossing!” Die oplossing waarvoor? Om die osoonlaag te beskerm/red, om die natuur te bewaar, om die see skoon te hou, om depressie teen te werk, om positief te kan dink, om maer te word, of vir wat ook al.

Dit wil amper lyk asof die mens begin dink het: as ek net die naam Jesus kan koppel aan my program of dit wat ek wil bereik, dan is dit nie alleen mode nie, maar beslis die regte resep vir sukses. En as ons hiervan voorbeelde soek, broeders, dink maar gerus hoe baie Jesus al in die politieke terrein ingetrek is. Haas elke party beroep hulle op die Skrif om aan te toon dat hulle politieke model die regte/enigste/vernaamste een is. En dit gebeur nie net hier ten lande nie, oorsee is dit maar presies dieselfde.

Dit wil dus lyk: kaap Jesus, en jou saak is gewen. Is dit nie tragies nie, broers en susters? Vir so baie in die wêreld het Jesus (en die naam Jesus) ‘n speelbal geword. ‘n Slagspreuk, ‘n resep tot sukses, of wat ook al.

Een troos is, broers en susters, dat dit nie nuut is nie. Want ook in die tyd van Jesus se aardse lewe was daar baie mense wat Jesus wou kaap vir hulle eie politieke ideale en/of sosiale programme, of Hom gesien het as iemand met politieke ideale in die sin dat Hy Israel sou bevry van die Romeinse juk. Dit is byvoorbeeld nie verniet dat koning Herodes Jesus gesien het as Johannes die Doper wat opgewek is nie, of as Elia/een van die ou profete nie (Mark 6:14-15) Selfs Petrus (Mark 8:29) het Jesus gesien as die Messias, as die gesalfde koning, nie die koning wat moes sterf vir mense se sondes nie, maar as koning wat hulle moes bevry van die Romeine.

Hoekom, broers en susters, het hierdie mense Jesus so verstaan? Daar is ‘n baie goeie rede voor, en kom ek verduidelik: Israel het hulleself altyd as God se uitverkore volk verstaan. En telkens het God hierdie gedagte/verstaan van hulleself aan die volk herbevestig. Eers het Moses hulle bevry uit Egipte. En later Elia van Agab. Uiteindelik het Dawid die hele Israel verenig.

Maar hier teen 320 voor Christus het Alexander die Grote Israel verower. En alles vergrieks. Hy het selfs later die Jode verbied om te offer en hulle godsdiens te beoefen. Swaar belastings is ingestel, met die gevolg dat meer en meer mense hulle grond verloor het. Dit, en nog baie ander dinge, het daartoe gelei dat sekere persone in opstand gekom het teen die Romeinse owerheid, met die uitsluitlike doel om Israel (die Jode) van hulle Romeinse heersers te bevry.

Daar was byvoorbeeld die sogenaamde Samaritaan (36 n C in die tyd van Pilatus), wat ‘n groot aantal mense bymekaar gemaak het, hulle bewapen het en opgetrek het na Gerisem waar hy beloof het dat hulle die twee tafels van die wet op die berg sou vind. Pilatus het hulle egter gedood.

Dan was daar die Egiptenaar, van wie ons in Handelinge 21:38 lees. Hy het ‘n aantal mense in die woestyn versamel en opgetrek na Olyfberg. Daar het hy gebid dat Israel se mure sal val, en dat die Romeine dan oorwin sou word. Ook hy en van sy volgelinge is feitlik onmiddellik gedood.

Die volgende voorbeelde is die van Teudas (Hand 5:36) en Judas die Galileër (Hand 5:37), wat beide in opstand gekom het teen die Romeinse heersers met ‘n aansienlike gevolg. Hulle is beide summier om die lewe gebring en hulle volgelinge het uitmekaar gespat.

Dan was daar ook ‘n groep opstandiges (in 37 v C) wat in die grotte naby Arbela geskuil het en die Romeinse karavane geplunder het. So ook lees ons van ‘n ene Tolomaus (35 v C) en Jesus, seun van Sappias (4 v C). Hy het byvoorbeeld die argiewe in Sesarea-Filippi bestorm en al die rekords verbrand, sodat die Romeine nie kon bepaal wie hulle wat geskuld het nie.

Dan was daar ook persone hulle wat hulself as konings gekroon het van wie daar goeie getuienis oor bestaan: Hezekia (wat homself in 4 v C in Sefforis as koning van die Jode gekroon het); Simon (wat gepoog het om Jerigo af te brand en homself ook tot nuwe koning verklaar het) en Menahem (wat in 66 n C die tempel in Jerusalem ingeneem het en homself tot nuwe koning gekroon het). Ook al hierdie persone, lees ons in die geskiedenisboeke oor hierdie tyd, is onmiddellik gedood.

Gemeenskaplik, broers en susters, aan al hierdie bewegings was die volgende:
almal was gelei deur ‘n charismatiese figuur;
almal het bestaan uit landboere wat hulle grond verloor het;
op een of ander manier het al hierdie bewegings opgetrek na plekke wat belangrike, heilige en godsdienstige betekenis vir die Jode gehad het (plekke soos Jerusalem, Geresim, die tempel, die woestyn of die Jordaanrivier);
al hierdie bewegings het die doel gehad om die Romeinse juk af te gooi;
die meeste van hierdie bewegings se leiers is gesien as herlewings van Moses, Elia, Dawid of selfs Johannes die Doper;
hulle optredes is vergelyk met dié van die profete en konings van ouds; en
almal is gedood.

Wanneer ons nou die kenmerke van hierdie bewegings in/om die tyd van Jesus vergelyk met van die eienskappe van die Jesusbeweging, broeders en susters, dan word dit verstaanbaar dat sommiges (soos Herodes, die skare en Petrus) kon gemeen het dat Jesus ook een van hierdie soort charismatiese leiers was met politieke doelwitte.
Ook sy volgelinge was meestal die armes, landlose mense wat hom oral gevolg het (lees maar gerus weer van die skares wat Jesus oral volg en soek);
ook Jesus het opgegaan na Jerusalem, na die tempel, en dit selfs gereinig;
met sy intog in Jerusalem (byvoorbeeld Mark 11) het ‘n groot skare Hom nie alleen gevolg nie, maar Hom soos ‘n koning verwelkom (klere/takke is op die pad voor Hom gegooi), hulle het gesê Hy is van Dawid, en dat die koninkryk aangebreek het;
van sy volgelinge was Simon die Seloot (komende van die Selotiese beweging wat bekend was vir hulle bendery) en Judas Iskariot (Iskariot word waarskynlik afgelei van die woord Sicariï, ‘n groep Jode wat sekere hooggeplaaste Romeine met kort swaarde by wyse van sluipmoorde gedood het);
Pilatus noem Jesus ‘koning van die Jode’, ‘n titel wat ook bo-aan Jesus se kruis geplaas is;
ander weer het gesê hy is ‘n profeet soos Elia;
verder word Jesus nie alleen in die plek van Barabbas (‘n misdadiger komende uit die wêreld van bendery) gedood nie, Hy is ook soos ‘n misdadiger doodgemaak deur gekruisig te word (Jesus hang tussen twee rowers);
van sy volgelinge was gewapen (Petrus)
Jesus is gevange geneem deur soldate wat met swaarde en stokke bewapen was;
een van die klagtes wat teen Jesus ingebring was, was dat Hy sogenaamd die volk ophits; en;
Jesus het self gesê dat Hy die koning van die Jode is (Luk 23:2).

Met al hierdie ooreenkomste tussen die beweging van Jesus, broers en susters, en die bewegings hierbo genoem, reken sommiges dat ons eenvoudig moet aanvaar dat Jesus van Nasaret niks meer of minder as ‘n kind van sy tyd was nie: ook Hy was maar net nog ‘n charismatiese, politieke leier soos die ander leiers van sy tyd met politieke motiewe wat betref die Romeinse owerheid. Is dit daarom nie dan reg dat Jesus deur almal en nog gekaap word vir al wat politieke ideaal of sosiale program is nie?

Ons antwoord hierop, broeders en susters, is ‘n baie duidelike NEE! Dit is nie wie Jesus van Nasaret vir ons is nie. Maar wie was Hy dan? Ek wil hierdie vraag antwoord deur u te nooi om saam met my na ons gelese gedeelte (Lukas 24:13-35) te kyk.

Ons sien hier dat twee mense op pad is vanaf Jerusalem na Emmaus. Waaroor, lees ons, praat hulle? Hulle praat oor die dinge wat die afgelope dae in Jerusalem gebeur het (met ander woorde, hulle praat oor Jesus se kruisdood en sy opstanding). Verder sien ons dat, wanneer Jesus by hulle aansluit, en hulle vra waaroor hulle praat, hulle Hom nie herken nie. En dit is baie belangrik dat ons dit nie hier sal mislees nie.

Verder: uit die wyse waarop hulle aan Jesus beskryf wat in Jerusalem gebeur het, sou ‘n mens kon aflei dat hulle ook gedink het dat Jesus maar net een van baie ander was wat in opstand teen die Romeinse owerheid gekom het. Ons praat oor Jesus van Nasaret, sê hulle, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk. Ons het so gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos. Ja, ook vir hulle was Jesus een van die profete wat Israel sou verlos. Iemand soos Elia of Dawid, of een van die ander profete.

Daarna begin Jesus, lees ons, om die Skrifte aan hulle uit te lê. Hy begin selfs so vroeg in die geskiedenis as by Moses en al die profete. Maar steeds herken hulle Hom nie. Maar toe hulle by die huis kom, toe gebeur daar iets. Jesus seën die brood aan tafel, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. En toe, toe herken hulle Hom.

Toe verstaan hulle wie hierdie man, Jesus van Nasaret was. Hy was nie die een wat gekom het met politieke ideale/sosiale program nie. Nee, Hy is die een wat gekom het om sy liggaam aan die kruis te gee sodat sondaarmense met God versoen kan word. Want toe Jesus die brood breek, die simbool van sy liggaam aan die kruis, toe gaan hulle oë oop. Toe herken hulle Hom. Toe verstaan hulle wie hierdie man, Jesus van Nasaret, was.

Wat sê dit vir ons, broeders en susters? Ons vraag aan die begin was: ‘Wie is hierdie Jesus van Nasaret?’ Die antwoord op hierdie vraag is: Hy is nie iemand wat gekaap moet word vir persoonlike ideaal of strewe in die lewe nie. Jesus is nie maar net ‘n slagspreuk nie. Hy is nie dit wat ons wil hê Hy moet wees nie. Hy is nie gelyk aan ons verwagtinge oor Hom nie. Nee.

Hy is die een wat aan die kruis gesterf het vir ons sondes. Dis wat hierdie twee wat op pad na Emmaus was, Kleopas en sy metgesel, besef het toe Jesus die brood gebreek het.

Net so, broeders en susters, het ons die voorreg om elke keer Jesus te erken wanneer ons aan sy tafel aansit. Daar waar die brood vir ons gebreek word. Daar waar Jesus vir ons sorg. Ook daar waar Hy vir ons sorg het ons die voorreg om Jesus teenwoordig in ons lewens te herken. Noem gerus maar op. Wat het u en ek wat nie van God af kom nie?

Ja, broeders en susters, dit is Jesus, die man van Nasaret. Hy wat gekom het, nie om persoon­like ideale te kom vervul, om gekaap te kan word vir wat ook al nie, maar om te dien. Om ons met ons Vader in die regte verhouding te plaas. Dat ons weer mense van God kan word, met die erenaam, kind van God.
‘n Laaste opmerking: Wat het Kleopas en sy metgesel gedoen nadat hulle Jesus herken het? Of anders gevra: wat het hulle gedoen nadat hulle met Jesus se teenwoordigheid gekonfronteer was? Hulle het dadelik opgestaan en gaan vertel wat die Here God aan hulle gedoen het. Hulle kon nie stilbly nie.

Wat maak ons wanneer ons telkens met God se teenwoordigheid gekonfronteer word? Wan­neer ons aan sy tafel sit, wanneer ons Hom in sy Woord ontmoet of wanneer Hy ons in ons lewens so begenadig dat ons nie anders kan as om dit raak te sien nie?

Doen ons dieselfde? Vertel ons met woord en daad dat God kom? Dat ons nie sonder Hom kan lewe nie? Of is Jesus maar net die slagspreuk, die spaarwiel, wanneer ons Hom nodig het? Is hierdie man van Nasaret net nodig wanneer Hy inpas in my persoonlike ideale?

Dan het ons Jesus nog nie herken toe Hy die brood gebreek het nie.
Amen