Johannes 8:1-11

Christus, ons Verlosser



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek glo dat van u vanoggend hier al die Christus-die-Verlosser-standbeeld (Christo Redentor) gesien het wat uit kyk oor die stad Rio de Janeiro in Brasilië. Dit is ‘n indrukwekkende standbeeld. Niemand kan dit miskyk nie.

Dit staan sowat 2200 meter bokant Rio op die Corcovado-berg, is dertig meter hoog, en gemaak van driehonderd en twintig ton Brasiliaanse teëls. Die kop alleen is drie meter hoog, en die afstand van vingerpunt tot vingerpunt (die beeld het uitgestrekte hande) is een en dertig meter. So groot en so hoog is hierdie standbeeld, dat al 7 miljoen inwoners van Rio dit gelyktydig kan sien.

Daar is egter twee dinge wat vreemd aan hierdie standbeeld is. Die beeld het blinde oë. Goed, kan u sê, maar alle beelde se oë is mos blind. En u is reg. Maar dit is asof die beeldhouer van hierdie Christo Redentor beeld bedoel het dat die oë blind moes wees. Want die beeld het geen pupille nie, en daar is geen sirkels wat sê die beeld het oë nie. Met ander woorde, die beeld het nie oë nie. Al wat daar is, is twee niksseggende gaatjies.

Die tweede vreemde saak rondom die beeld is die beeld se hart. Op die buitekant van die beeld se mantel is daar ‘n hart uitgekerf. Nie binne nie, maar op die buitekant. ‘n Duidelike hart, ‘n hart van klip, ‘n kliphart.

En hierdie twee eienaardighede, broers en susters, kan nie anders as om ‘n mens te laat vra nie: maar watter soort Verlosser is dit dié? Blind, wat nie een van die 7 miljoen mense onder dit sien nie, en met ‘n hart van klip. Met ‘n hart, nie aanmekaargesit met liefde nie, maar met beton, teëls en pleister. ‘n Blinde en hartelose Verlosser. Niemand kan tog so ‘n Verlosser wil hê nie!

U mag dit vreemd vind, broers en susters, maar daar is mense wat juis so ‘n Verlosser het. Nie dat hulle sal erken dat hulle ‘n blinde Verlosser met ‘n kliphart het nie, maar hulle het. Want vir sommiges, broers en susters, is die Jesus Christus niks meer en minder as ‘n gelukbringer nie. Sakformaat. Handig. Gerieflik verpak. Maklik om te verstaan en te hanteer. Altyd beskikbaar as jy Hom nodig het. ‘n Ware versekeringspolis. Beleef jy ‘n krisis, vra en Hy sal help. Het jy so ‘n bietjie min vir die eksamen geleer, bid en Hy sal jou help. Enige ander probleem? Roep Hom in.

Maak nie saak dat jy Hom eintlik nie ken nie. Jy hoef eintlik nie ‘n verhouding met Hom te hê nie. Jy hoef Hom nie lief te hê nie. Vergeet van Sy hart vol liefde vir jou. Hou Hom net byderhand vir die kere wat jy Hom nodig het. Maar as jy Hom nie nodig het nie, vergeet maar van Hom.

Vir ander weer is Hy die een wat gee en gee en gee. Dit is tog Sy werk. Vra net wat jy wil, en Hy moet dit gee. Vergeet wat Hy van jou vra. Vergeet dat Hy jou liefde en toewyding vra. Vergeet dat Hy elke dag sien wat jy doen, en dat Hy graag wil hê jy moet op Sy liefde vir jou antwoord. Hou Hom net naby vir die kere wat Hy moet gee.

En vir ander, broers en susters, is Jesus ‘n goeie ruiltransaksie. ‘Goed God, kom ons maak ‘n ooreenkoms. Twee-en-vyftig Sondae elke jaar sal ek myself baadjie en das, en die preek wat ek moet aanhoor verduur. En in ruil daarvoor gee U my genoeg genade en ‘n plekkie agter hemelpoort nommer drie.

Ja, broers en susters, party mense het sulke Verlossers. God die gelukbringer, God die gewer, God met wie ek kan onderhandel. Ek stel nie belang in Sy hart vol liefde nie, ek wil nie hê Sy liefdevolle oë moet my volg, stuur en rig nie. Om die waarheid te sê, ek stel nie belang om met Hom ‘n verhouding te hê nie.

Al waarin ek belangstel is wat Hy vir my kan doen, en dan ook net wanneer ek wil hê Hy dit moet doen. ‘n Verlosser wat nie ‘n hart hoef te hê nie, en ook nie hoef te kan sien nie. Want ek sal vir Hom sê wat ek nodig het, en ek sal vir Hom sê wat Hy in my lewe hoef raak te sien.

Die Verlosser waarvan ons in die Woord van God lees, broers en susters, is egter nie so nie. Want vergelyk gerus vanoggend die Verlosser daar by Rio de Janeiro, en die Verlosser met die hart wat een oggend vroeg ‘n baie bang vrou se nood raakgesien het.

Wat daardie oggend so vroeg in die tempel Jesus se onderwerp was, weet ons nie. Miskien gebed. Miskien angs of kommer. Ons weet nie. Maar daar was baie (die hele volk) wat rustig gesit en na Hom geluister het.

En ewe skielik word hierdie rustigheid onderbreek deur ‘n aantal godsdienstige leiers van daardie tyd wat opdaag en ‘n skamel geklede vrou tot voor Jesus stoot. Nog oomblikke tevore was sy in die bed met ‘n man wat nie hare was nie. Was dit hoe sy haar geld verdien het? Was sy getroud? Ons weet nie. Wat ons wel weet is dat die godsdienstige leiers van Jesus oordeel eis. Want die wet van Moses is tog duidelik: sy moes gestenig word.

Daar word nie veel van die vrou gesê nie. Hoe het sy gevoel op daardie oomblik? Wat het sy gedink? Ons weet nie. Wat sy gesien het, kan ons miskien raai. Geen deernisvolle blik van die godsdienstige leiers nie. Net beskuldiging. Skrefiesoë. Stywe lippe. Knersende tande. Starende oë wat vonnis. Koue klipharte wat veroordeel. Met klippe in die hande. Gereed om met wellus te stenig.

En Jesus, toe Hy na haar kyk, wat het Hy gesien? Het Hy haar gesien soos ‘n Vader sy volwasse dogter sien as sy by die bruilofspaadjie afstap? Of toe sy nog klein was en nog pop gespeel het? Het Hy soos ‘n Vader haar in sy gedagtes weer sien grootword – van doeke tot poppe, van klaskamers tot kêrels, van matriekafskeid tot troudag? Ons weet nie. Maar wat ons wel weet, is dit wat ‘n Vader sien as hy na sy dogter kyk wat hy liefhet.

Wat Jesus beslis ook gesien het, broers en susters, was Elkeen anders, nie een dieselfde nie. Hoe God almal wat daardie oggend daar was, gemaak het. Met harte om ander lief te hê. Met tonge om mekaar te bemoedig. Met hande om mekaar vas te hou.

En wat sien Hy nou? Mense met tonge wat gebruik word om mekaar soos dolke te steek, met harte wat brand van haat en oordeel, met hande vol klippe om dood te maak.

En hoe antwoord Jesus? Hy kon gevra het hoekom hulle die man nie ook gebring het nie, want volgens die wet is hy immers ook skuldig. Hy kon hulle gevra het hoekom hulle skielik die stof van ‘n baie ou bevel afgeblaas het wat eeue al ongebruik op die rak gestaan het. Hy kon hulle gevra het hoekom hulle nie maar net eerlik is en erken dat hulle die vrou gebruik om Hom by te kom nie. Maar Hy het nie.

Hy rig ‘n uitnodiging. ‘Ek skat as julle nog self nooit ‘n fout gemaak het nie, julle die reg het om hierdie vrou te stenig’. Daar was stilte. Iemand het keel skoongemaak asof hy iets wou sê. Voete het geskuifel. Oë het afgekyk. En toe het die klippe in die hande een vir een op die grond begin val. En een vir een het hulle verdwyn. Almal. Tot net Jesus en die vrou oor was.

‘Is daar niemand oor om jou te veroordeel nie’, het Hy gevra. ‘Niemand nie, Here’. ‘Dan veroordeel Ek jou ook nie’. ‘Gaan maar, maar moet van nou af nie meer sonde doen nie’.

Die vrou het omgedraai en in naamloosheid weggeloop. Ons lees nêrens weer van haar in die Bybel nie. Maar van een ding kan ons seker wees: daardie oggend het sy Jesus gesien, en Hy vir haar. En as ons haar daar na Rio toe kon neem voor daardie standbeeld op die Corcovado-berg, sou sy heel waarskynlik gesê het: die is nie die Jesus wat ek gesien het nie. En sy sal reg wees. Want die Jesus wat sy gesien het, het nie ‘n harde hart gehad nie, en die oë wat haar gesien het, was nie blinde oë nie.

Aan die ander kant: as ons haar na daardie dag op Golgota na die kruis kon bring, sou sy gesê het: Dit is Hy. Sy sou die hande erken. Die enigste wat nie klippe, vasgehou het nie. Sy sou die stem herken het, die stem wat gesê het: Vader, vergewe hulle. En sy sou die oë herken het. Oë wat haar nie gesien het soos sy was nie, maar soos sy bedoel was om te wees. Ons Verlosser, nie met ‘n kliphart nie, nie met blinde oë nie.

Liewe katkisante, net soos hierdie vrou, net soos die skare, net soos die godsdienstige leiers van daardie tyd, staan julle vanoggend voor God. En voor ‘n Verlosser met ‘n hart vol liefde, en oë wat sien: oë wat nie sien wie en wat ons is nie, maar wat ons kan wees.

Anders as die mense daardie oggend daar, gaan julle nou met God praat. Julle gaan met Hom diep in gesprek tree. Julle gaan ‘n paar dinge belowe. Julle gaan weer sê dat julle werklik glo. Daaraan twyfel nie een van ons nie. Julle gaan sê dat julle gaan poog om julle elke dag weer en weer tot die Here te bekeer. Julle gaan belowe dat julle gaan meehelp om Sy koninkryk waar julle beweeg in die kerk en wêreld meer en meer sigbaar te maak. En julle gaan vra dat ons julle daarin moet help, deur julle in liefde te kom vermaan en ophelp as julle dit nie doen nie.

Wat gaan gebeur as dit alles verby is. As God vanoggend klaar gepraat het? Gaan julle net wegraak, een vir een, en gaan niemand julle weer sien nie? Of gaan julle soos, die vrou, bly. En bly. En weer kom. En weer. Om te hoor: jy is vergewe. Ek maak jou nuut. Gaan, gaan probeer weer, en moenie gaan sondig nie.

Waarvoor gaan julle julle oë gebruik? En julle hande? Wat gaan julle maak met die feit dat God julle elkeen uniek gemaak het, elkeen met sy besondere gawes, vermoëns en talente? Hierdie vrae moet elkeen van julle vanoggend ernstig in julleself antwoord.

Vir my persoonlik bly een vraag onbeantwoord: hoe kan iemand, soos dit met ons almal vanoggend weer gebeur het, hoor van God se hart van liefde, en onder Sy oë kom wat die goeie in ons sien, en maar net wegstap?

Hoe tragies is dit nie, en hoe alleen moet dit nie wees nie.
Amen