Jeremia 1:4-9; 15:15-21; 20:7-12

Die Here is by my!



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Dit is vanoggend vir die finalejaarkatkisante van **** ‘n oggend vol opgewondenheid: hulle kry vanoggend die geleentheid om hulle geloof in die openbaar te bely. ‘n Geleentheid, hoop al ons ander, wat hulle vir altyd sal onthou en koester. Ons gaan net nou ook aan elkeen ‘n Bybel oorhandig wat ons hoop hulle altyd aan hierdie dag sal herinner (en natuurlik hoop ons ook dat hulle daardie Bybels sal lees!)

Ek wil egter vanoggend eers die mooi en die opgewondenheid van hierdie oomblik so 'n bietjie bederf. Dit wil ek doen deur julle in julle gedagtes iewers heen te vat, na ‘n plek waar ‘n mens nie eintlik wil gaan nie. Na ‘n begraafplaas toe.

En by hierdie begraafplaas wil ek julle iets wys. En wat ek vir julle wil wys is een van die baie grafstene in hierdie begraafplaas. Nader nog: iets wat op daardie grafsteen staan wat op alle grafstene staan. Twee datums, ‘n datum waarop lewe begin het (geboorte), en ‘n datum waarop lewe geëindig het (dood). Maar ook dit wil ek nie eintlik vir julle wys nie. Wat ek vir julle wil wys is die strepie wat op elke grafsteen tussen hierdie twee datums uitgebeitel staan.

Hoekom? Want hierdie strepie, jongmense, is eintlik belangriker as die datum wat voor dit staan en die datum wat na dit staan. Want hierdie strepie verteenwoordig die tyd wat jy op aarde deurgebring het. Dié klein strepie sê wat jy beteken het toe jy op aarde was, want, as dit by jou grafsteen kom, maak dit nie meer saak wat jy besit het en hoeveel goed jy gehad het nie. Wat saak maak is watter herinnering jy agterlaat, wat ander onthou oor hoe jy geleef het, watter waardes jy aangehang het, en natuurlik wat jy met jou tyd gedoen het wat deur hierdie strepie uitgebeeld word.

Dit is dan ook waaroor ek graag met julle vanoggend wil praat — die strepie van elkeen van ons se lewens. Hoe lyk die klein strepies van ons elkeen se lewens? Is ons tevrede met hoe dit lyk? Of is daar dalk iets wat ons daaraan wil verander, juis omdat ons nie weet hoeveel tyd daar oor is voor ons strepies dalk op 'n grafsteen uitgebeitel word nie.

Soos met die lewe, wat begin met jou geboortedag en eindig met die dag van jou afsterwe, is daar baie ander dinge wat ook 'n beginpunt en 'n eindpunt het. Een daarvan is dit wat gebeur in die geloofslewe van 'n klompie jongmense vanoggend, hulle wat hulle geloof gaan bely. Ek is baie seker daarvan dat julle al lankal glo — dit is nie asof hulle geloofslewe eers vanoggend begin nie. Maar tog begin daar iets nuuts vir julle vanoggend — deur in die openbaar julle geloof te bely, neem julle nou, met die hele gemeente as getuies, self verantwoordelikheid vir julle geloofslewe. Tot nou toe het julle ouers, op grond van hulle doopbelofte, julle hiermee bygestaan. Nou neem julle self verantwoordelikheid en in daardie opsig is dit 'n nuwe begin. Ons glo en hoop en vertrou almal dat dit wat dan vanoggend op hierdie manier begin word, ook in julle lewens sal voortduur tot op die dag dat julle te sterwe kom. Maar weer, wat belangrik is in ons geloofslewe is nie die beginpunt nie, nie die eindpunt nie, maar wel die strepie tussen in!

U sal verstaan, broers en susters, as ek sê dat ek, oor 'n baie persoonlike rede, al 'n baie lang tyd loop en dink oor wat ek by hierdie geleentheid kon sê in die preek. Die beeld van die strepie het my nogal aangegryp en ek het aanvanklik gedink om met julle te praat oor die geleenthede wat daar op julle pad gaan kom wat julle moet aangryp sodat die strepie van julle geloofslewe die meeste betekenis sal hê. Ek het gedink om 'n teks soos Efesiërs 5:16 (Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd) te gebruik. Maar toe vra een van julle vir my in die onderhoude wat ons met julle gevoer het: Dominee, hoe het dit vir dominee gevoel om daar voor te staan en belydenis van geloof te doen?

Die vraag het my nogal aan die dink gesit. Dit is natuurlik baie jare terug, om presies te wees 28 jaar terug, dat ek belydenis van geloof gedoen het, en om eerlik te wees, ek kan nie meer onthou (weet nie meer) hoe ek toe gevoel het nie. Maar tog: as ek nou moet terugdink oor wat het ek op daardie stadium van my lewe die meeste nodig gehad om te weet, wat was dit? Was dit wat ék alles nog sou moes doen in my geloofslewe? Ek dink nie so nie. Ek dink eerder dat ek op daardie stadium, as gevolg van verskeie omstandighede en besluite wat ek reeds oor my toekoms geneem het, eerder die intense behoefte gehad het om te weet en te ervaar dat God by my was en besig met my was. En dat ek heimlik gehoop het dat Hy tog deur my iets vir ander sou doen.

En dit is om dié rede dat ek vanoggend uit Jeremia gelees het, ‘n gedeelte wat ons vertel hoe God hom geroep het om sy profeet te wees. Belangrik van die gedeelte wat ons gelees het (al staan dit nie hier nie), is om te besef dat Jeremia maar ‘n skrale 17 jaar oud was toe hy geroep is om op te tree as profeet. Met ander woorde, hy was omtrent so oud soos julle wat vanoggend julle geloof gaan bely.

Daarom is Jeremia se antwoord op God se roepstem eintlik te verstane: Ag Here, ek is nog te jonk, en praat nie eintlik goed nie. En hoe antwoord God? Moenie sê jy is te jonk om my dienskneg te wees nie. Gaan net na hulle na wie ek jou stuur, en sê net vir hulle wat Ek gesê het jy moet sê. Dan hoef jy nie bang te wees nie, want Ek is altyd by jou.

En toe gaan doen Jeremia dit. Maar wat gebeur toe met hom? In Jeremia 15 lees ons hoe bly Jeremia aanvanklik was dat die Here hom uitgekies het. Maar toe hy God se woord begin verkondig en uitleef, het baie ander hom verstoot. Hulle wou nie hoor van God se wet en dit wat God van sy kinders verwag het nie. En voor Jeremia sien, was hy alleen. Een kant, deur almal verstoot.

Meer nog: Jeremia het selfs in God teleurgesteld geword. Hy het God se beloftes van voorspoed en vreugde en redding verkondig, maar rondom hom was daar net teleurstelling en swaarkry en wanhoop. As profeet het hy vertel van die nuwe lewe wat God bied, maar al wat hy gesien het was die gebrokenheid van die mense om hom. Dit was so erg dat hy later gesê het: Ek kan nie op U reken nie Here.

En dan antwoord God vir Jeremia (Jeremia 15:19-21): Ek hoor Jeremia. Maar hou maar net aan om die regte ding te doen, hou maar net aan om jou roeping uit te leef. Ek sê vir jou niks meer as wat Ek reg aan die begin vir jou gesê het nie. Want sien, dit is die heel beste wat Ek vir jou kan beloof: Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help en jou red.

Maar Jeremia hou nie baie van God se antwoord nie. Want al sê God wat, alles rondom hom het steeds stukkend en sleg gebly. Verder het die ongeregtigheid, die verkeerde dinge, bly seëvier.

Daarom antwoord Jeremia die Here baie bitter: Nee wat Here, U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U het gesê doen net dit en sê net, en alles sal reg wees. Ek het dit gedoen en gesê, maar nou is niks reg nie. Ek word uitgelag, en almal spot met my.

Maar dan lees ons in Jeremia 20 dat Jeremia tot inkeer kom. Want toe hy gaan sit en dink oor dit wat vir hom die belangrikste in die lewe is, toe besef hy: dit is die Here. En dat die Here hom so nuut gemaak het toe Hy hom geroep het, dat hy nie anders kan as om God se boodskap te verkondig nie. Hy het besef: dit, en niks anders maak hom gelukkig nie. Al lyk dinge soms hoe skeef en sleg. Want dit is die Here wat hom sy lewe gegee het, dit is die Here wat hom steeds laat lewe. En dan doen hy ‘n pragtige ding: die Here se belofte aan hom: ‘Ek is by jou’ maak hy sy belydenis ‘U is by my, Here’.

Al hierdie dinge wat met Jeremia gebeur het, liewe jongmense, gaan na vanaand heel waarskynlik ook met julle gebeur. Vanoggend is julle opgewonde, soos Jeremia was toe God hom geroep het. Vanoggend is julle positief, en is dit verseker julle voorneme om te gaan leef soos God vra. En ek glo julle is opreg as julle so voel en sê. En ook glo julle dat die Here by julle sal wees.

Maar môre gaan die lewe aan. En so elke nou en dan gaan die werklikheid van hierdie harde lewe aan julle ruk. Jy kry daardie wiskunde toets waarvoor jy so hard geleer het terug en is geskok as jy jou punt sien. Jy probeer goed doen aan mense, en kry niks terug nie. Jy leef soos God vra en ander verstoot jou. En so nou en dan gaan jou oë oop vir al die hartseer en seer in die wêreld, dalk in jou eie wêreld. En dan sit jy daar waar Jeremia gesit het. Nee wat, dit was nie die moeite werd nie. God het my in die steek gelaat. God het my mislei.

Liewe jongmens, glo my, as dit in ons vermoë was om julle te kon spaar van al die swaarkry en seerkry en teleurstellings wat nog oor julle lewens gaan kom, sou ons dit doen sonder om twee keer te dink. Maar ons kan nie, niemand kan dit vir julle doen nie, maak nie saak hoe lief hulle julle het nie.

As ek terugdink aan die 28 jaar sedert ek my belydenis van geloof afgelê het, en ek moet in woorde sit dit wat ek in dié tyd geleer het, dit wat die lewe die moeite werd gemaak het, is dit nie een of andere hogere filosofiese beginsel of stuk teologie wat ek op universiteit geleer het nie. Nee, wat in my lewe sin gegee het, en in baie ander hier vanoggend se lewens, glo ek, dit wat gemaak het dat ons aangehou het, al het wat ook al gebeur, was dit om te kon weet, te ervaar en te kon bely: Maar U is by my, Here, en U is magtig en sterk.

Daarom, liewe jongmense, hier waar julle vanoggend staan aan die begin van 'n nuwe tydvak in julle geloofslewe, wil ons julle een ding saamgee op julle reis deur die lewe: Hou vas aan God se beloftes, hou vas daaraan dat God ook vir jou sê : Ek is by jou. Hou vas aan God se belofte en maak dit jou belydenis elke dag, sodat ook jy kan aanhou om te doen wat God ook al in en deur jou wil doen, al gaan dit soms ook maar baie moeilik. Maak God se belofte jou belydenis U is by my, Here, en U is magtig en sterk.

En ons wil ook vir julle sê hoekom dit moontlik is om dit te glo dat God sê ‘Ek is by jou’ en dan ook te kan bely ‘U is by my, Here, en U is magtig en sterk’. OP ons elkeen se grafsteen gaan daar eendag twee datums en een strepie wees. Maar nog iets. Voor die laaste datum op ons grafsteen gaan daar nog iets wees. Nie een strepie nie, maar twee strepies. Twee strepies wat mekaar kruis. Twee strepies in die vorm van ‘n kruis, wat gewoonlik gebruik word om die datum van afsterwe aan te dui. En wat sê hierdie kruis? Dit sê dat God in Jesus naby aan ons gekom het, so naby dat ons nooit, maar nooit van Hom kan loskom nie. Nie eers in die graf nie.

Die kruis van Jesus maak die woorde van Jeremia 20:11 waar: U is by my, Here, en U is magtig en sterk. Dit maak dat ons soos Jesaja 43 kan bely: Ek is nie bang nie, Here, want U verlos my. U het my op my naam geroep, ek behoort aan U. As ek deur water en riviere en vuur moet gaan, is U by my, want U is die Here my God. Ek is nie bang nie, Here, U is by my!

Mag die strepie van julle lewe ‘n getuienis wees dat julle so geleef het. En onthou, ons het elkeen net een strepie. Wat vandag opnuut begin.
Amen