Markus 4:35-41

Geloofsvertroue in tye van storms



Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van ons prediking is: Geloofsvertroue in tye van storms. Luister ook na wat die dissipels se reaksie was op die Here Jesus se wonderwerk: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Broers en susters, daar was eendag ’n jong meisie, wat in die Vrystaat op ’n plaas groot geword het. Die enigste groot waters wat sy geken het was die Vaaldam en hulle eie plaasdamme. Sy het besluit om op Stellenbosch te gaan studeer, en dit is dan ook dáár wat sy haar vriend ontmoet het. Hy, op sy beurt, was natuurlik gewoond aan die see, en soos die baie van die Kapenaars, het hy ook ’n seilboot besit. Een naweek het die jongman sy vriendin genooi om saam met hom te gaan seil in die Kaapse hawe. Omdat sy nie vir hom wou wys sy is bang nie, het sy met ’n redelike beklemming om haar hart ingestem. Wat egter daardie dag gebeur het, het sy in haar wildste drome nie gedink nie.

Voor hulle uitgevaar het, het die ervare jongman sy vriendin so bietjie touwys gemaak van die basiese beginsels van seevaart. Hy het daarna vir haar ’n reddingsgordel aangetrek en haar van twee dinge verseker: Eerstens, daardie seilboot was so gemaak, dat dit nie kon omslaan nie, en tweedens: dit kon ook nie sink, sou daar wel ’n fratsongeluk kom en die bootjie omslaan. Toe sy hom half skepties aangekyk het, het hy met ’n glimlag gesê: “Solank ek daar is, sal jy veilig wees.” Wat dink julle was daardie jong meisie, wat nog nooit op die see gevaar het nie, se gewaarwordinge? Sou julle hom geglo en vertrou het?

Wel, die jong meisie het nietemin in die seilboot geklim, en toe begin haar nagmerrie! Sy het nooit geweet dat golwe so groot kan wees nie ... die seilboot het eers die kant toe en dan daardie kant toe gekantel ... en deurentyd moes sy en haar vriend van kante wissel om die seilboot te balanseer teen die aanslae van die golwe. Sy was mettertyd so uitgeput dat sy kon huil. Dit is toe ook net daar wat sy besluit het: genoeg is genoeg! Sy het na die middel van die seilboot geskuif, die maspaal met altwee arms krampagtig vasgeklou en haar oë styf toegeknyp. Weet julle wat? Dit het niks gehelp nie, want vir haar het dit tien maal erger gevoel, want sy het besef dat sy nie meer in beheer was nie ... ja, sy het nie geweet wanneer die volgende golf gaan kom nie ... daar in haar eie wêreldjie het die golwe soos berge gevoel! As die boot kantel, voel dit vir haar of haar maag sulke draaie maak ... seesiek op sy beste!

Toe sy haar oë weer oopmaak, en sien hoe haar vriend, sonder vrees en met die grootste gemak, die seilboot op sy eie hanteer, het sy vir ’n lang ruk in verwondering na hom gekyk. Hoe langer sy hom dophou, hoe meer het sy besef dat hy inderdaad ’n uitstekende seiljagvaarder is ... hy het beslis nie vir haar gejok nie! Ewe skielik het sy baie skaam gekry vir haar wantroue in haar vriend se vermoë. Stadig het sy haar vrees oorwin en begin om te ontspan. Ja, ewe skielik lyk die golwe toe vir haar nie meer so groot nie ... en toe haar vriend haar weer uitnooi om hom te kom help, het sy nie geskroom nie, maar langs hom ingeval en gehelp om die seilboot te balanseer. Sy het die uitdaging aanvaar en skielik ervaar hoe lekker dit eintlik kan wees om saam met ’n ervare seiljagvaarder die golwe aan te pak. En toe maak daardie jong meisie nog ’n verdere, wonderlike ontdekking: die seilboot hoef nie net saam met die wind te vaar nie, nee, dit kan selfs teen die wind in seil! Al wat ’n mens moet doen, is om jou seile reg in te span en dan kan jy teen die wind invaar! Wat ’n belewenis! Toe sy en haar vriend uiteindelik aan wal stap, was sy baie teleurgesteld dat die vaart verby was.

Gemeente, hoe lyk die wêreld wat nuwe, jong lidmate van die kerk deesdae moet aandurf? In een woord: onstuimig! Dink maar aan die dinge waarmee hulle gekonfronteer word ... dinge wat, toe ons jonger was, nie eers bestaan het nie of feitlik ongekend was! Vandag is daar motorkapings, rooftogte, moord, verkragtings, dwelms, bedrog en korrupsie, en vele meer! Te midde van dit alles sien ons maar baie min naasteliefde en opregtheid en eerlikheid. En dit is ook geen wonder nie dat die Kerk, en ouers, bekommerd is oor die feit dat so baie jong lidmate deur hierdie onstuimige wêreld opgeslurp word ... ja, ons jong lidmate verdwyn uit die Kerk wanneer hulle met die wêreld in al sy aanslae en venynigheid te doen kry.

Besef julle dat die Kerk deesdae sy jong lidmate die wêreld instuur, enersyds met groot trots en afwagting, maar andersyds ook soos ’n bekommerde moeder. Ja, ons is baie trots om nog ’n kind van die Here die wêreld in te stuur om vir Hom te gaan werk. Maar terselfdertyd is ons baie benoud oor of hulle die mas gaan opkom. Kyk, ons stuur hulle beslis nie sonder die nodige kennis die wêreld in nie! Nog minder stuur ons hulle, sonder ’n ervare Stuurman, die onstuimige wêreld in! Nee, soos in die geval van die jongmeisie vertel ons hulle ook al die dinge wat nodig is om saam met God die vaart aan te pak. Ons verduidelik baie mooi vir hulle die gevare, die moets en moenies. En ons verseker hulle ook dat daar beslis nie ’n beter Stuurman vir die taak is nie!

En dit is presies wat met baie van ons jong lidmate gebeur die dag as hulle hulle geloof kom bely. Ja, hulle hoor ook die belofte en versekering by God self dat “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:38-39), en tog, as die eerste groot golf van krisisse of probleme oor hulle pad kom, dan gee die meeste jongmense sommer boedel oor! Ja, soos die jongmeisie, gryp hulle ook met mening hulle lewensbootjies se maspale vas, en knyp die oë styf toe en hoop dat alles sal verdwyn het as hulle hulle oë weer oopmaak! Ja, dan ontaard hulle jongmenslewe in ’n nagmerrie! Seesiek, met hulle oë styf toegeknyp, sit baie jongmense in bondeltjies ineengetrek. Ag, watse patetiese figuurtjies maak ons nie baiekeer voor hierdie hemelse Stuurman uit nie! En dit alles net omdat ons Hom nie wil vertrou of glo nie!

Ja, geliefdes van ons Here Jesus, dit is nie net jaarliks wat die Here jongmense uitnooi om saam met Hom in die geloofskuitjie te klim nie, maar daagliks! Elke dag van jou lewe kry ’n mens te doen met krisisse, probleme en versoekings ... en elke keer is dit soos ’n storm wat van nuut af om jou kop losbars. Uit die storie van die jongmeisie en die verhaal van die dissipels leer ons ’n waardevolle lewensles: As jy bereid is om saam met die Here in die skuitjie te klim, móét jy ook bereid wees om Hom aan die stuur daarvan te vertrou!

Die vraag wat die dissipels in ons Skrifgedeelte gevra het, naamlik wie was hierdie Here Jesus dat selfs die natuur vir Hom luister, verwag nie eintlik ’n antwoord nie. Hoekom nie? Omdat elkeen van ons vandag self vir jou hierop ’n antwoord moet vind. En die antwoord is geleë in die feit dat, te midde van die storm wat die dissipels op die see beleef het, Jesus saam met hulle was. Hierdie Jesus is terselfdertyd God wat beheer het oor alle magte en storms in die lewe ... ook dié in jou lewe! Glo jy werklik dat hierdie God by magte is om enige krisis en probleem in jou lewe met ’n enkele woord weg te neem? Vertrou jy werklik God se bestuursvermoë met jou lewe die dag as alle hel om jou losbars? Wel, dan moet jy nie net vandag nie, maar vir die res van jou lewe bereid wees om Hom daarmee te vertrou ... ja, dan móét jy ook glo die Here weet waarvan Hy praat as Hy vir jou uitnooi met die volgende woorde: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Mat 11:28)!

Daar is baie definisies wat oor die jare al aan geloof gegee is, maar vir die doeleindes van ons prediking wil ek hê dat ons vandag geloof soos volg moet probeer verstaan: Dit is die gereedskap wat jy nodig het om te leef soos wat die Here Jesus van jou verwag. Net soos ’n deeglike vakman weet watter gereedskap vir watter situasie aangewend moet word, so moet ons ook weet wanneer om watter aspek van ons geloofslewe in sekere situasies in te span om tot eer van die Here te leef.

En ons het vandag van een so ’n voorbeeld gelees in hierdie verhaal waar die Here Jesus die storm stilmaak. Terwyl Jesus Christus en sy dissipels op die see was, het daar ’n storm losgebars. Die Here Jesus self lê rustig en slaap terwyl die dissipels vreesbevange probeer om Hom wakker te kry. Vir hulle het dit gelyk of Hy nie omgee as hulle omkom nie. Jesus het opgestaan en die storm beveel om te gaan lê. Toe vra die Here Jesus vir sy dissipels: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie” (v 40)? Hoe is dit moontlik dat Jesus so iets van sy dissipels kon vra? Behoort hulle dan nie, as sy getroue volgelinge, geloof in Hom te gehad het nie?

Ja, broers en susters, besef julle dat baie moderne gelowiges in presies dieselfde skuitjie sit? Ja, hulle glo, maar hulle geloof lewer nie die gewenste resultate nie! Hoekom nie? Omdat ons nie die regte gereedskap vir die regte situasie gebruik nie! Die dag as ’n jong lidmaat sy of haar geloof openlik voor die gemeente kom bely, is dit nie omdat jy volleerd en alwetend is nie. Dit is ook nie omdat jy aan die einde van jou geestelike leerskool gekom het nie. Nee, dit is veel eerder die begin van ’n nuwe pad ... ’n (geloofs)vaart waar jy die Here sal moet vertrou as die bekwame stuurman van jou bootjie. En glo my: daar sal beslis storms wees, hewige storms wat party dae vir jou gaan voel asof jou skuitjie enige oomblik gaan sink, en, soos die dissipels, ook gaan wonder of die Here ooit omgee.

Maar een ding moet ons – veral die belydende jong lidmate – baie goed besef en verstaan, en dit is dat, soos in die verhaal van die jongmeisie en haar vriend, begin geloof eers wanneer ek die Here se uitnodiging aanvaar om saam met Hom in hierdie geloofsbootjie te klim. Die Here gee jou die geleentheid om saam met Hom die vaart mee te maak ... dit hang nou net van jou af of jy dit wel gaan geniet, en of dit eerder ’n nagmerrierit gaan word. As dit vir jou ’n nagmerrie word, is dit omdat jy die Here nie vertrou en glo nie! Onthou, nie almal is op die eerste vaart al gesoute matrose nie! Nee, dit vat baie tyd en geduld om by die Stuurman te leer. As jy sy instruksies noukeurig volg en getrou doen wat Hy jou beveel, sal jy spoedig agterkom dat dit eintlik ’n onvergeetlike en wonderlike geloofservaring is. En jou geloof kan net groei namate jy meer betrokke raak by die aktiwiteite van jou gemeente, én jy jou deel van die bydrae lewer om te sorg dat hierdie gemeente vaardig bly. Onthou, ek het dit al vantevore gesê: ’n gemeente is nie ’n passasierskip nie, maar ’n oorlogskip waar elke lidmaat sy of haar deel moet doen, ongeag hoe groot of klein dit is!

Gemeente, die kerk stuur ons jongmense werklik in ’n baie boos en onstuimige wêreld in! En, soos Paulus, wil ons ook vir hulle sê: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (Fil 2:15-16). En die groot probleem van ons jongmense lê nie in hulle bereidwilligheid om dit, wat die Here van hulle vra, te gaan doen nie, maar in hulle onvermoë om midde-in die storms van die lewe steeds geloof in Hom te behou!

Luister dan weer na die dissipels se vraag nadat Jesus die storm stilgemaak het: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Besef dan dat dit nie gevra is uit ongeloof nie, maar in nederige erkenning dat God by magte is om die onmoontlike moontlik te maak. Ook vir jou, as jy dit glo!
Amen