Markus 2:1-12

Jou sonde is vergewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ongelowige mense verwag nie iets van die Here nie.  Hulle ken die Here immers nie.  Hulle meen in elk geval dat hulle vir hulleself kan sorg en dat hulle niemand nodig het nie – ook nie vir God nie.

Gelowige mense, daarenteen, het bepaalde verwagtinge van die Here, en daarom verwag hulle ook baie dinge van die Here.  As ons bid, vra ons dat die Here vir ons sal sorg en ons goeie gesondheid sal gee.  Dat Hy ons sal beskerm teen gevare, dat Hy ons voorspoedig in ons werk sal maak, dat Hy ons in die geloof sal bewaar en ons geloof sal versterk, dat Hy sy hand oor sy kinders sal hou.  Dat Hy sal help dat ons goeie ouers sal wees.

Op grond hiervan, broers en susters, wil ek vanoggend vra: Wat verwag ons, broers en susters, van die Here?  Wat verwag u en ek van die Here?  Wat dink ons behoort die Here vir ons te doen?  En dan beslis ‘n tweede vraag wat hiermee saamgaan: wat dink ons behoort ons vir die Here te doen?  Wat dink ons verwag die Here van ons?  Kom ons stel hierdie vrae vanoggend aan die orde op grond van die gedeelte wat ons in Markus 2 saamgelees het.

Wanneer Jesus in Markus 2 weer in Kapernaum aankom was Hy reeds aan die inwoners van hierdie dorpie bekend.  Veral dit wat Hy kon doen.  In Markus 1 lees ons dat Hy vroeër in Kapernaum op een dag ‘n eers ‘n besetene genees het, toe Petrus se skoonma, en daarna – al was dit al laat in die aand – baie siekes wat allerhande kwale gehad het, genees het.  En die nuus hiervan het so vinnig versprei dat, sê Markus 1:33, die hele dorp later by die deur van die huis saamgedrom het.

In Markus 2:1-12 lees ons dat Jesus weer in Kapernaum aangekom het.  Toe dit bekend word, het baie mense weer by die huis saamgedrom.  Hy het begin preek, en kort voor lank was die huis so vol mense dat niemand meer naby Hom kon kom nie.

Terwyl dit aan die gebeure was, bring vier mense ‘n verlamde man op ‘n draagbaar na Jesus.  Omdat daar so baie mense was, kon hulle nie naby Jesus kom nie. Maar hulle het ‘n plan: Hulle klim op die huis se dak, maak ‘n gat in die dak en laat die verlamde man op ‘n draagbaar afsak sodat die verlamde voor Jesus op die grond kon lê.

Dit is baie duidelik dat hierdie verlamde man, en die vier wat al die moeite gedoen het om hom by Jesus te kry, die verwagting gehad het dat Jesus hom sou kon help.  Hulle het verwag dat Jesus hom sou kon genees, omdat hulle geweet het wat Jesus gedoen het toe Hy die vorige keer in Kapernaum was.

Hulle kom dus na Jesus toe met ‘n gebed en ‘n verwagting: Maak hierdie man gesond!  Help hom in sy nood!  Maar dan doen en sê Jesus wat hulle nie verwag het nie, en waarvoor hulle nie gevra het nie: Vriend, jou sondes is jou vergewe!

‘n Mens kan jou hierdie verlamde man se teleurstelling voorstel.  Hy het gehoop hy gaan opstaan en loop.  Maar nou is net sy sondes vergewe, en hy lê nog steeds op die draagbaar, hy is nog steeds verlam.  Jesus het dus nie aan sy verwagting voldoen nie.

Na hierdie gebeure vertel Markus dat die skrifgeleerdes wat daar was om te luister na Jesus se prediking en sy uitleg van die Skrifte, baie ontsteld was.  Hulle het gemeen Jesus het God gelaster deur vir die verlamde te sê jou sondes is vergewe.  Immers, net by die tempel, deur die bring van een of ander offer, kon God sondes vergewe deur die bemiddeling van ‘n priester.  God vergewe sondes, maar daarvoor is die tempel nodig.  En ‘n offer.  Maar ‘n mens, hoe kan ‘n mens nou kom staan en sê dat iemand se sondes vergewe is.  Daarom: wat Jesus nou hier doen is om God te laster.

Hoe reageer Jesus?  Dit waaraan die skrifgeleerdes sit en dink, antwoord Hy: Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek die mag het om sonde te vergewe.  En wat doen Hy?  Hy beveel die verlamde om op te staan, sy bed te vat en huis toe te gaan.  En die verlamde staan toe op loop daaruit.

Wat wil Markus ons met hierdie vertelling sê, broers en susters?  Jesus kan mense gesond maak.  Hy kan lammes laat loop.  Maar Hy het in die eerste plek nie gekom om siekes gesond te maak nie.  Nee.  Hy het mens geword vir ‘n baie spesifieke saak, Hy het aarde toe gekom vir dit wat die mens die nodigste het, die vergewing van ons sondes.

Die evangelies vertel dit aan ons duidelik: Jesus se hele lewe hier op aarde loop uit op sy kruisiging, sy sterwe en sy opstanding uit die dood.  Die hele Nuwe Testament verkondig dit aan ons: die doel waarvoor Jesus mens geword het was om vir sondes aan die kruis te kom boet, om ons met God te kom versoen, om deur sy opstanding vir ons ‘n nuwe lewe in verhouding met God moontlik te maak.

En ook die verlamde man kon hierdie wonderlike stuk bevryding beleef, hierdie vryspraak: Jou sonde is vergewe!

Wat verwag ons van die Here, broers en susters?  Min of baie?  Verwag ons voorspoed en gesondheid?  Om te kan loop?  Dat ons rustig sal kan lewe?  Dat dit altyd met ons en ons kinders goed sal kan gaan?  Is dit nie wat ons dikwels in die eerste plek, heel eerste vir God vra nie?

Die Bybel verkondig nêrens dat God aan ons voorspoed, gesondheid en welvaart waarborg nie.  Inteendeel - die Bybel sê op verskillende plekke dat jy jou kruis moet opneem as jy Christus wil volg, dat die Christen dikwels ‘n swaar en moeilike pad loop, net soos Christus die swaar en moeilike kruisweg geloop het.

Ons word almal oud, sieklik, ons sterf almal, ons staan almal geliefdes aan die dood af.  Ons leef almal in ‘n land wat vol misdaad en geweld is.  Ons leef almal tussen mense wat die lewe vir ons moeilik kan maak.  En in al hierdie omstandighede is dit nie maklik om ‘n Christen te wees nie!

Dikwels vra ons die Here: vat hierdie moeilike goed weg uit my lewe!  Soms word ons gebed verhoor, dan staan ons weer op en ons loop.  Maar partymaal gebeur dit nie.  En dan raak ons teleurgesteld, self kwaad vir God, en verwag ons niks meer van God nie!

Wat vergeet ons dan, broers en susters?  Dat die Skrif ons verseker dat wanneer ons met die regte gesindheid na God toe gaan, ons sondes vergewe word en is!  Dit is waarvoor Christus gesterf het, in die eerste plek, en dit skenk God aan elke gelowige mens wat opreg daarvoor vra.

Wanneer ons volgende Sondag aan die nagmaalstafel gaan aansit, gaan ons hierdie wonderlike woorde hoor: jou sondes is vergewe!  Jy wat in geloof die brood en wyn eet en drink, wat glo dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het - jou sondes is vergewe.

Dit, broers en susters, is die grootste en wonderlikste gawe uit die hand van God - want nou is ek vry, nou kan ek met vreugde in God se teenwoordigheid leef!  Meer nog: Hy gee dit aan elkeen wat opreg smagtend daarna soek.  Ja, Hy geen die ander dinge ook.  Veral die dinge wat Hy weet vir ons die beste is.  Maar dit wat ons die nodigste het, dit gee Hy altyd: ons sondes word vergewe.

Ek sluit af:  Wat verwag God van ons, ons wat gehoor het - jou sonde is vergewe!  Die Here verwag van ons om op te staan, om te loop, om huis toe te gaan, in die wêreld in te stap, om te gaan leef as ‘n verloste mens!   Gaan leef by jou huis en in die wêreld as iemand wat vrygespreek is.  Gaan leef as iemand wat God se kind is  -  vrygespreek van al ons sonde en swakheid.  Nuutgemaak, sodat ons ook ander rondom ons nuut kan laat lewe.

En julle wat vandag belydenis van geloof gaan aflê – doen dieselfde.  Julle gaan nou belowe dat julle julle elke dag tot die Here sal bekeer, dat julle sal smag na die vergifnis van sonde.  Jesus Christus het ook vir julle sondes gesterwe.  Gaan leef dan nuut, gaan leef dankbaar, gaan leef gehoorsaam.  Ook ons, broers en susters, ons almal, want ons sonde is vergewe!
Amen