Markus 8:27-38

Laat dinge wees soos dit lyk



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Dinge, broers en susters, lui die bekende spreekwoord, is nie altyd soos dit lyk nie. 'n Spreekwoord wat ons ook op ons skrifgedeelte van toepassing kan maak. Want dit is inderdaad presies wat Petrus se belydenis in Markus 8:29 was: dinge is nie altyd soos dit lyk nie. Want toe Petrus (wat as die belangrikste dissipel in Markus voorgehou word) bely het dat Jesus die Christus is, met ander woorde, die Messias, die Verlosser is, het hy nou wel een ding gesê, maar eintlik presies iets totaal anders daarmee bedoel.

Om te verstaan wat ek hiermee bedoel, moet ons so 'n bietjie teruggaan in die evangelie wat Markus aan ons oorgelewer het. Om die waarheid te sê, ons moet eintlik heel voor in die evangelie begin, daar waar Jesus sy dissipels vir die eerste keer roep.

Die merkwaardige van die vertelling in Markus 1:16-20, waar Jesus sy eerste vier dissipels roep (Simon/Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes), is dat hierdie vier, toe Jesus hulle roep, alles net so gelos het, van hulle werk opgestaan het, en Jesus onmiddellik gevolg het.

Kom ons probeer ons indink presies wat daar gebeur het. 'n Vreemde/onbekende man, Jesus, kom aangestap waar twee mans (Simon en Andreas), wat Hy nie ken nie, en hulle nie vir Hom nie, besig is om vis te vang. En wanneer Jesus hulle roep om Hom te volg, los hulle alles net so: Hulle werk, hulle eiendom, hulle bootjie, hulle families, hulle kinders, al hulle verantwoordelikhede, en hulle stap agter Jesus aan. En wanneer Jesus by Johannes en Jakobus kom, gebeur presies dieselfde.

Nou maak dit nie saak, broers en susters, op watter manier ook al ons hierdie gebeurtenisse wil verklaar nie, die feit van die saak is dat ons onmiddellik hier 'n bepaalde prentjie van die dissipels kry: hierdie is mense wat nie skaam is, of omgee, om, al vra dit wat, agter Jesus aan te stap nie.

'n Beeld van die dissipels, broers en susters, wat sommer ook baie gou in die evangelie telkens weer en weer bevestig word. Wanneer Jesus sy eerste genesings, asook sy eerste uitdrywing van bose geeste doen, is hulle by. Wanneer Jesus na die oorkant van die see van Galilea gaan om verdere genesings uit te voer en die evangelie te verkondig, is hulle by. Wanneer Jesus in Markus 4 vir hulle en die skare in gelykenisse leer, vat Hy hulle later een kant toe en lê vir hulle die gelykenis van die saaier uit sodat hulle presies sal verstaan waaroor alles gaan, en wie en wat Hy presies is.

Wat uit Markus 6 blyk wel die geval was. Dit wil sê, dat die dissipels presies verstaan het wie en wat Jesus was, want wanneer Hy hulle uitstuur om te gaan verkondig, bose geeste uit te dryf en mense gesond te maak, is die berig wat ons oor hulle sending kry, baie positief: Hulle het verkondig, baie duiwels uitgedrywe en baie siekes gesond gemaak (Mark 6:12).

Wie van ons, broers en susters, sal nie ook graag so 'n pragtige getuigskrif wil hê nie? Soos Martin Luther eendag gesê het: 'n Mens moet so lewe dat, eendag wanneer jy sterf, mense maar alles van jou kan vergeet, maar nie sal kan vergeet dat jy 'n Christen was nie. Dan het jy Jesus werklik gevolg.

'n Getuigskrif wat ons seker ook aan die dissipels sou kon toedig. Of, sou ons dalk nie kon nie? Want wat lees ons verder van hulle in die evangelie? Net na hulle terugkeer vanaf hulle sending vra Jesus hulle om aan die skare kos te gee. So pas het hulle verskeie wonders gedoen. Maar nou kan hulle ewe skielik nie. En wanneer Jesus hulle na die oorkant van die see stuur, en 'n storm breek los, word hulle doodbang. En later, toe hulle in gesprek is met die Fariseërs, kan hulle nie verduidelik hoekom hulle nou eintlik vir Jesus volg nie.

En dan, die hoogtepunt: Wanneer Jesus aan hulle vra wie die mense sê Hy is, is hulle dadelik gereed met baie antwoorde: Johannes die Doper, Elia, een van die profete. Maar dan, sien ons, maak Jesus die hele saak baie meer persoonlik: Goed, Ek hoor julle, maar kom Ek vra, wie sê julle, nie die mense nie, wie sê julle is Ek. Julle wat in my naam duiwels uitgedryf het en mense gesond gemaak het, julle wat my Naam en die verlossing wat Ek bring, gaan verkondig het. Julle wat amper elke dag by My is. Julle wat Ek telkens persoonlik eenkant geneem het en geleer het. Wie sê julle is Ek?

En dan Petrus se antwoord: Ons sê U is die Christus, die Messias, die Seun van God. Wat 'n mooi antwoord, broers en susters. Wat 'n mooi belydenis. Of nie? Want wanneer Jesus vir Petrus begin uitspel wat sy belydenis inhou/beteken, hou Petrus niks waarvan hy hoor nie.

Jy sê Ek is die Christus/Messias, Petrus, en jy is reg. Ek is egter nie die Messias wat julle lankal verwag wat die Romeine se onregverdige regering gaan omverwerp nie, maar die Messias wat aan 'n kruis gaan sterf om mense van hulle sondes te verlos. Waarop Petrus dit selfs waag om Jesus te berispe. Want hoe kan Jesus dan nou gaan staan en sterf as hulle Hom hier en nou so nodig het? Met ander woorde, broers en susters, dinge was toe nie soos dit gelyk het nie, Petrus se belydenis was nie dit waarna dit gelyk het nie.

Na die prediking, broers en susters, gaan ons aan vier persone geleentheid gee word om in die openbaar hulle geloof te bely. Soos die meeste van ons dit in die verlede gedoen het. ‘n Geleentheid wat vir enige gelowige baie belangrik behoort te wees.

Vir hierdie vier persone gaan ons vra of hulle in die drie-enige God glo, of hulle bereid gaan wees om elke dag by hierdie belydenis te bly, of hulle bereid is om hulle elke dag weer en weer tot die Here te bekeer, en of hulle bereid is om deur ander, deur mekaar, aangespreek te word as hulle nie by hierdie belydenis bly in leer en lewe nie.

By implikasie gaan ons aan hulle dieselfde vraag vra wat Jesus aan sy dissipels gevra het: Wie sê julle is Ek? En julle gaan antwoord: U is die Vader wat altyd vir my sorg, die Seun wat vir my aan die kruis gesterf het, en die Heilige Gees wat in my woon en my lei om gehoorsaam te lewe (om dit nou baie eenvoudig te stel).

En mag dit so wees, en in julle lewens word, dat dinge is soos dit lyk, sal wees soos dit lyk. Dat wanneer julle bely, soos Petrus bely het, dat Jesus die Here is, die Christus is, die enigste Verlosser van die wêreld is, anders as Petrus (aanvanklik, want by Petrus kom daar duidelike inkeer), julle met julle lewens julle belydenis waar sal maak. Dat julle so sal gaan lewe dat almal sal kan sien dat julle werklik glo. Dat dinge sal wees soos dit lyk.

Hoe doen 'n mens dit? Dit verduidelik Jesus self aan ons vanaf vers 34: dit is om jou kruis op te tel, jouself te verloën, en dan agter Jesus aan te stap. Wat beteken dit? Wat doen 'n gelowige as hy sy kruis optel, as hy/sy hom/haarself verloën, en Jesus volg? Die volgende twee verse gee vir ons die antwoord hierop:

Daar staan dat, as iemand hom/haarself vir Jesus skaam, vir hom/haar sal Jesus hom skaam wanneer hy eendag weer kom. Om jouself vir iemand te skaam, broers en susters, in die tyd van die Bybel, het beteken dat jy nie met so iemand geassosieer wil word/wees nie, of anders gesê: om jou vir iemand te skaam het beteken dat jy met so iemand niks te make wil hê nie, dat jy nie saam met so iemand gesien wou word nie, juis omdat jy bang was dat daardie een se skaamte ook skande en oneer oor jou sal bring — natuurlik dan nou omdat jy saam met so persoon gesien word, met hom/haar assosieer.

Met ander woorde, om jou kruis op te neem, jouself te verloën en Jesus te volg, beteken om jou nie vir Jesus te skaam nie, om met Jesus Christus geassosieer te wil wees, elke dag in alles waarmee ek besig is met Christus te make wil hê, nie bang is dat ander sal sien dat jy in Jesus Christus glo nie. Dat jy nie omgee dat Christus deel is van jou lewe elke dag nie, en daarom ook toelaat dat Christus se teenwoordigheid by jou elke daad, woord en gedagte bepaal.

Anders, as dit nie so is nie, sê Jesus, sal Hy, wanneer Hy eendag weer kom, nie met ons geassosieer wil word nie, Hy sal nie saam ons gesien wil word nie, Hy sal ons nie wil ken nie. En wie van ons sal dit graag wil hê?

Daarom, laat dinge in julle lewens wees soos dit lyk. Petrus het bely, maar met sy lewe sy belydenis onwaar gemaak, of ten minste dan, ontbloot dat sy belydenis nie 'n opregte belydenis was nie. Mag dit met julle anders wees. Mag julle belydenis nie alleen opreg wees nie, maar mag julle ook na julle belydenis so gaan leef soos mense wat vir almal wys dat julle belydenis nie alleen opreg was nie, maar ook dat julle met julle lewens julle belydenis elke dag waar wil maak in julle lewens.

Want slegs as dinge is soos dit lyk, sal Jesus Christus Hom nie vir ons skaam nie.
Amen