1 Timoteus 6:11-17

Maak jou Bybel 'n venster en 'n spieël



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die Bybel is seker die boek in ons tyd wat nie alleen die mees beskikbare is nie, maar ook die boek wat deur die meeste mense besit word. In een huis is daar gewoonlik meer Bybels as wat daar mense woon. Iets wat ons van geen ander boek in die wêreld kan sê nie.

Ook is daar seker nie 'n taal waarin die Bybel nie vertaal is nie. Ook dit kan ons van geen ander boek sê nie. Verder is daar die afgelope 10 jaar, volgens die syfers van die Wêreld Bybelgenootskap, meer as 28,5 miljoen Bybels regoor die wêreld versprei. Ook dit kan ons van geen ander boek sê nie.

Wat verder baie interessant is, broers en susters, is dat die Bybel nie alleen net meer en meer beskikbaar geword het nie, maar ook al hoe meer toeganklik geword het. Want behalwe vir die feit dat daar haas geen taal is waarin die Bybel nie vertaal is nie, het die rekenaar era op sy manier ook die Bybel al hoe meer en meer toeganklik vir mense gemaak. Ek noem net een voorbeeld: waar ons in die verlede, indien ons byvoorbeeld wou bepaal hoeveel keer die woordjie liefde, en in watter verband, in die Bybel voorkom, ure en ure moes sit en alles moes gaan soek, ons nou letterlik met die druk van 'n knoppie dit in sekondes kan bepaal.

Die tragiese is egter, broers en susters, dat al is dit so dat die Bybel meer en meer beskikbaar en toeganklik vir mense geword het, hoe minder en minder mense van die Bybel af weet. Laat my aan u twee voorbeelde noem: terwyl ek met my studies in die VSA besig was, het ek eendag in 'n koerant 'n berig gelees wat gehandel het oor 'n ondersoek wat in die VSA gedoen is oor mense se Bybelkennis. Die uitslag was verstommend: alhoewel tagtig persent van die ondervraagdes gesê het hulle is Christene, het net die helfte van hulle geweet wie die bergrede uitgespreek het, en net een kwart kon een van die tien gebooie onthou.

My tweede ervaring was meer spesifiek. Die stad St Louis in Missouri is die plek waar die eerste brug oor die baie groot en breë Missisippirivier gebou is, en daarom ook die plek waarvandaan die Christelike geloof in die weste van Amerika sy loop geneem het. Ter herdenking hiervan staan daar by die rivier 'n pragtige klein kerkie wat intussen as monument verklaar is. Ek en my gesin het een oggend die kerkie gaan besoek, en 'n gids het pragtig aan almal teenwoordig die geskiedenis van die kerkie vertel. 'n Seuntjie van so ongeveer tien jaar het na die pragtige Christusfiguur regvoor in die middel van die kerk gewys, en kliphard aan sy ouers gevra: ‘Wie is dit?’ Toe die gids vir hom sê dit is Christus aan die kruis, het die vraagteken tussen sy oë net dieper geword.

Ons moet egter nie die fout maak, broers en susters, om te sê dit is nou maar net weer tipies Amerikaans nie. Want ook op eie bodem, in ons eie land, gaan dit nie veel beter nie. Hier kan ek maar net verwys na 'n onlangse ondersoek oor die Bybelkennis van Suid-Afrikaanse Bybelkunde studente. Ook by hulle is daar 'n skromelike ge­brek aan Bybelkennis. En nou praat ek nie kennis wat nodig is om 'n Bybelvasvra te antwoord nie, soos byvoorbeeld om die tien seuns van Jakob te kan opnoem nie.

Dit is nie belangrik nie. Die probleem lê by kennis van die basiese verhaal van die Bybel. Min van hulle kan vir jou die storie van Rut, Jona of Job oorvertel. Min van hulle weet waar om die boek Nahum of Sefanja in die Bybel te kry. En om te reken dat studente byvoorbeeld die gelykenisse van Jesus ken, of jou vir langer as twee minute iets oor die bergrede kan vertel, het ons lankal in die eksamenlokaal agterkom, in die meeste gevalle, te veel gevra is.

Nou sal u miskien wil sê, broers en susters, maar wat van ons ander, ons wat kerkmense is? By ons is dit darem seker nie so nie? Miskien is u reg, miskien nie. Wat ek wel bereid is om stellig te sê, is dat daar onder kerkmense talle mense is wat 'n hele aantal Bybelversies ken. Maar om versies te kan opsê, beteken nie om die Bybel te ken nie.

Dit kom veral na vore op die wyse waarop sommige Christene hulle kennis van Bybelversies inspan. Wanneer hierdie versiekenners van opinie met ander verskil, kan hulle gou 'n aantal versies uitrits om hulle standpunt te steun. Maar die versies wat téén hulle standpunt getuig, dít ken hulle gewoonlik nie. En al sou hulle hierdie versies ook ken, ken ook hulle nog nie die Bybel nie?

Hoekom nie? Want die Bybel, broers en susters, is nie 'n versieboek nie. Die Bybel is eerder 'n verseboek en 'n verhaleboek. En iewers het ons as gelowiges, as Bybellesers, kontak verloor met God se Boek as verseboek en verhaleboek Daarom sukkel ons so dikwels om die lewe te verstaan. Want ook ons lewens, broers en susters, is 'n verhaal. ‘n Verhaal wat vir ons baie meer verstaanbaar sou kon wees as ons dit aan die hand van 'n Bybelse voorbeeld kon interpreteer.

Want om 'n mens se lewe te kan sien in byvoorbeeld die verhaal van Dawid en sy sonde, van 'n Rut wat getrou bly volg het, van 'n Jeremia wat bekommerd was oor die volk se ongehoorsaamheid, van 'n Daniël wat bly getuig het te midde van geweldige teenstand, en byvoorbeeld van 'n Job wat as getroue kind van God letterlik alles in die lewe verloor het en dit moes verstaan in terme van die feit dat 'n God van liefde sy Vader is, kan vir 'n mens nie insig, maar ook uitsig en hoop, in jou lewe bring.

Maar ook, broers en susters, om jou lof teenoor God in die woorde van 'n psalm, of jou hartseer en vrae in die woorde van 'n klaaglied voor God te kan uitstort, help 'n mens nie alleen om een te wees met ander gelowiges van ander tye nie, dit gee jou ook woorde om vir God te sê wat binne jou aangaan.

Dit is dan ook, meen ek, presies, wat ons gedeelte uit 2 Timoteus vanoggend vir ons wil sê: die Bybel is die Boek wat 'n mens kan help hoe om te lewe. En die wyse waarop die Bybel ons help om te lewe is dat die Bybel vir ons 'n spieël en 'n venster is. Dit is 'n spieël, want as ons daarin kyk, sien ons wie en wat ons is. Sondaarmense wat net deur Christus gered kan word, dit wys vir ons waar dwalinge is, waar verkeerdhede is, en hoe dit reggestel moet en kan word.

En net so is die Bybel vir ons 'n venster, 'n venster wat ons wil wys, as ons daardeur kyk, hoe ons kan en moet gaan leef in die wêreld wat ons deur hierdie venster sien. Juis daarom sê Timoteus dat die Bybel die Boek is wat ons die kennis kan gee hoe om te gaan lewe, wat ons in die waarheid onderrig sodat ons daarbuite kan weet wat reg en verkeerd is. Of, soos 2 Timoteus 3:16 dit self stel: die Bybel het groot waarde om die regte lewenswyse aan te kweek.

Waar lê die fout, broers en susters? Hoekom ken en gebruik ons die Bybel nie meer, af dan ten minste, al hoe minder om te wete te kom hoe ons moet lewe nie? Party sê dit is omdat die verhale van die Bybel te outyds geword het, dat dit vertel van 'n tyd wat lankal nie meer met ons tyd vergelyk kan word nie. Ander weer sê dit is die gevolg van die wyse waarop ons die Bybel in die kategese van die kerk gebruik. En so kan ons aangaan.

Maar is die hoofrede dat mense die Bybel nie meer ken nie, broers en susters, nie dalk die feit dat ons net nie meer die Bybel lees nie. Of verwag dat ander vir ons daaruit moet voorlees, soos in die erediens? Hoe lyk u Bybel, broers en susters? So baie van ons Bybels is so pragtig en netjies. So mooi skoon en sonder merke.

Moet ons Bybels nie eerder vol merke wees nie, vol penstrepe, vuil gevat, die meeste bladsye met oortjies met selfs 'n paar bladsye wat los geraak het nie? Want is dit nie alles 'n teken daarvan dat ons hierdie heilige Boek lees, daardeur blaai, in ons rugsak dra wanneer ons gaan stap, in my skooltas dra en daarom deur die ander boeke in my tas geskuur en gevou word nie? Nie dat dit beteken dat iemand se Bybel wat netjies en skoon is nie beteken dat dit 'n Bybel is wat nie gelees word nie. Maar laat ons elkeen maar self voor God vanoggend verantwoording doen wat ons elkeen met ons eie Bybel maak.

Ek sluit af: julle as katkisante gaan elkeen van die gemeente 'n pragtige Bybel ontvang, 'n Bybel wat julle elke dag kan herinner, as julle dit sien, vashou of daaruit lees, aan vandag. Aan die dag toe julle bereid was om in die openbaar, voor almal teenwoordig te sê: Ek glo!

Mag dit egter nie net daarby bly nie. Gaan, en gaan maak van hierdie Bybel wat julle elkeen sal ontvang, 'n spieël en 'n venster. 'n Spieël waarin julle julleself kan sien, wat julle en wie julle voor God is. Maar ook 'n venster, 'n venster waardeur julle na buite kan kyk en kan sien hoe julle daarbuite moet gaan lewe.

En natuurlik gaan dit nie maklik wees nie. Want dit kos moeite, tyd en inspanning om die Bybel te verstaan. 'n Mens moet tyd maak om die Bybel te lees, soos 'n mens deesdae in elk geval tyd moet maak om enigiets sinvols te lees. Maar as julle, en ook ons, broers en susters, tyd daarvoor maak, bereid is om moeite met God se Woord te maak, sal julle nie alleen God se stem daarin hoor nie, maar gedigte en verse en verhale daarin raaklees wat oor duisende jare aan mense hoop gebring het waar daar wanhoop was, insig waar daar verwarring was, vrede waar daar spanning was. Sin waar daar geen sin was nie.

Mag julle Bybels vir julle waarlik spieëls en vensters word! En mag julle Bybels waarlik, in die woorde van Timoteus, julle leer hoe om waarlik te lewe!
Amen