Markus 8:27-38

‘n Belydenis voor mense of voor God?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die aflê van openbare geloofsbelydenis het in die lewe van die Kerk in ‘n baie groot mate ‘n stuk tradisie en gewoonte geword. Tradisie in die opsig dat jongmense, wanneer hulle in Graad 11 kom, belydenis van geloof aflê. Gewoonte in die opsig dat by hierdie geleentheid die ouers gewoonlik teenwoordig is, baie van ons maats hier op uitnodiging is, en daar soms lank getob word oor wat aangetrek moet word.

Om maar net, broers en susters (en dit lyk vir my het ook ongelukkig tradisie in die Kerk geword), na hierdie aand te sien hoe die meeste van ons jongmense uit die Kerk “verdwyn”. Totdat, in baie gevalle, daar getrou word, en dan later, as daar gedoop moet word.

Daar kan seker verskeie redes hiervoor genoem word. Miskien is die probleem dat die Kerk in sy kategese nie daarin slaag om die jongmense van die Kerk opgewonde oor en betrokke by die Kerk te maak nie. Miskien het hierdie geleentheid te veel van gewoonte en tradisie geword - ‘n saak van die uiterlike en nie werklike innerlike oortuiging nie. Of dalk is die probleem dat ons begin vergeet het waaroor dit vanaand hier werklik gaan: dat hierdie ‘n saak van opregte erns behoort te wees.

Juis omdat hier vanaand onder andere belowe gaan word dat ons ons voortaan daagliks tot die Here sal bekeer en dat ons voortaan na die beste van ons vermoë die voortgang van die kerk van die Here sal bevorder deur betrokke te wees, deel te wees, en te help waar ons kan.

Die vraag wat dus by my leef, broers en susters, is of ons werklik besef wat die implikasies van ‘n daad van belydenis soos vanaand is, of ons weet waarvoor ons ons inlaat wanneer ons vanaand op die vrae wat kom “ja” gaan antwoord. Veral as ons in ag neem dat ons antwoord in die eerste p;lek nie ‘n antwoord aan die kerkraad, gemeente of ons ouers is nie, maar ‘n antwoord aan God, ‘n belofte aan God, eintlik ‘n eed voor God.

Ons ken mos die spreekwoord: “Dit is makliker gesê as gedaan”. Op vanaand van toepassing gemaak: dit is maklik om hier ja te sê, maar dit is nie so maklik om te gaan doen wat ek belowe het nie. Waarvan ons ‘n baie goeie voorbeeld in die Markusevangelie het, dié evangelie van die vier in die Bybel wat juis handel oor navolging, oor die volg van Jesus, en veral, oor die implikasies daarvan.

Wanneer Jesus sy dissipels roep, vertel Markus ons, is die antwoord dadelik “ja”. Alles word net so gelos, ‘n skuit, nette, ‘n lewensbestaan, ‘n inkomste, om Jesus te volg. Wanneer jesus ‘n bietjie later siekes genees, is die dissipels by. Wanneer hy bose geeste uitdryf, is hulle by. Wanneer Jesus in sy konfrontasies met die Fariseërs en skrifgeleerdes hulle telkens letterlik ore aansit, is hulle by.

Wat meer is, wanneer Jesus hulle later uitstuur om te gaan doen wat hy doen (dit is, om sondes te vergewe, bose geeste uit te dryf, mense gesond te maak), is sy volgelinge ‘n toonbeeld van prestasie en sukses. Hulle doen alles wat Jesus hulle geleer het om te doen.

En dan, wanneer Jesus vra wie Hy is, antwoord hulle, by monde van Petrus, tog te pragtig. Waar ander meen Jesus is Johannes die Doper, ‘n nuwe Elia, of maar net nog ‘n profeet, antwoord Petrus: nee, U is meer as dit. U is die Christus, die Seun van God, God self, die Verlosser. Die een wat gevolg behoort te word. Net soos julle vanaand gaan antwoord. Here, ons weet wie U is.

Maar wat gebeur dan? Wanneer Jesus vir die dissipels verduidelik dat ‘n “ja”-antwoord ook gehoorsaamheid beteken, dat ‘n “ja”-antwoord beteken dat ek van nou af die dinge van God en nie die dinge van mense moet bedink nie, dat ‘n “ja”-antwoord beteken dat ek van nou af die dinge van God behoort te doen en nie die dinge wat ek as mens graag wil doen nie, dan kom daar teenstand, opstand en verwydering. In so ‘n mate, vertel Markus 14:50 ons, dat al sy dissipels Hom in die steek gelaat het en weggehardloop het.

Met ander woorde, waar die dissipels eers altyd by Jesus was, is hulle nou weg. Waar hulle nie kon wag om die woorde uit sy mond te hoor nie, vermaak hulle mekaar nou met hulle eie woorde waar hulle weer, soos tevore, besig is om vis te vang. En gaan hulle lewens weer voort asof niks met hulle gebeur het nie, asof hulle Jesus nooit ontmoet het nie. Asof hulle Hom nooit geken het nie.

Presies, broers en susters, soos ons dit soms in die Kerk aantref. Terwyl ons jongmense nog nie belydenis van geloof afgelê het nie, is hulle gereeld in die kerk. Hoor hulle graag in die kategese en in die erediens die woorde van Jesus. Om maar net, wanneer vanaand se gebeure verby is, voort te gaan met die lewe asof niks gebeur het nie. Asof ons nie God ontmoet het nie, asof ons Jesus nie leer ken het nie. So asof God nie meer saak maak nie. Daarom ook nie meer die Kerk en gemeente waaraan ons behoort nie.

Die vraag is dus: weet ons waarmee ons vanaand besig is? Verstaan ons werklik wat die implikasies van vanaand se “ja” vir ons gaan wees? Het ons dit al gaan bereken? Weet ons wat dit beteken om Jesus werklik te volg? Veral in ‘n grootmenswêreld? Weet ons wat dit van ons gaan vra? Weet ons wat dit beteken om ons kruise op te neem soos Jesus dit vir ons gedoen het? Wat dit beteken om myself te verloën ter wille van Christus? Om werklik en altyd te volg waar God ons deur sy Gees lei?

In my jong dae (en dit is darem nou nie so lank gelede nie) was daar ‘n liedjie wat baie gewild was en gehandel het oor die sogenaamde “candy-coated gospel”. In die liedjie word gesê dat baie mense die geloof sien as ‘n heerlike vet en groot lekker. Want deel van die bestanddele van die geloof is mos dinge soos vergifnis, genade, God se versorging. Daardie dinge wat ons sou graag uit God se hand ontvang.

Om maar net, wanneer hierdie boonste lagies van die lekker afgesuig is, uit te vind dat die kern van die lekker dinge bevat soos navolging, gehoorsaamheid, betrokkenheid, toewyding, die verloën van myself, dienslewering, die vergewe van ander, geduld met ander, en so kan ek aangaan.

Is ons wat vanaand belydenis van ons geloof gaan aflê hiertoe bereid? Is ons bereid om na vanaand myself elke werklik tot die Here te bekeer? Met ander woorde, is ek bereid om elke dag in alle omstandighede biddend voor God te vra wat Hy van my in die lewe verwag? Is ons bereid om na vanaand na die beste van ons vermoë, dit wil sê, met alles wat ons het die vooruitgang van die kerk van die Here te bevorder?

As julle wat vanaand belydenis van geloof kom aflê dit gaan doen, sal julle julle belydenis van vanaand waar gaan maak. Maar die van ons wat vanaand maar net kom bely en dan gaan verdwyn, se belydenis van vanaand sal niks meer as ‘n leë belydenis wees nie. Soos Petrus se belydenis in ‘n baie groot mate ‘n leë belydenis was.

Ek weet, broers en susters, dat hierdie woorde harde woorde is. Wat meer is, as sommige van u sou argumenteer dat hierdie woorde by ‘n geleentheid soos vanaand liewers miskien kon gebly, moet u nie verbaas wees as ek dalk met u saamstem nie.

Ons het egter, broers en susters, nie in die eerste plek ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar nie, maar teenoor God. Want dit is tog teenoor God wat u as katkisant vanaand in die eerste plek ‘n belofte gaan aflê. Wat meer is, dit is teenoor hierdie selfde God wat ons eendag rekenskap sal moet gee, soos vers 38 dit vir ons baie duidelik stel.

Miskien, as ons dit verstaan, sal vanaand se gebeure vir ons meer as maar net tradisie en gewoonte wees en word. En ons almal se gebed, glo ek, vir julle pragtige jongmense, is dat julle sal verstaan dat julle vanaand hier, in die eerste plek, voor God kom staan, en, nadat julle “ja” geantwoord het, so sal gaan lewe, binne en buite die kerk, dat julle sal toon dat julle belydenis vanaand ‘n ware en opregte belydenis was.
Amen