Josua 24

Om vir God te kies is ‘n ernstige saak



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons wat vanoggend hier is sal saamstem met die harde feit dat ons lewens gejaag is. Of ons nou op skool is, studeer of werk, ons is besig. So besig, dat ons nie altyd tyd het vir alles wat ons moet doen nie, om nie eers te praat van dit wat ons graag wil doen nie. Ons kom net nie altyd by alles uit nie.

Daarby, broers en susters, leef ons nie net in ‘n gejaagde tyd nie, ons leef ook in ‘n moeilike tyd. ‘n Tyd waarin so baie dinge so vinnig rondom ons verander, ‘n tyd waarin daar soveel onsekerhede is, ‘n tyd waarin so baie ou vaste sekerhede eenvoudig wegval, ‘n tyd waarin baie mense swaarkry, ‘n tyd waarin ons byvoorbeeld ons sente baie moet omdraai voor ons dit kan uitgee.

Daarom, broers en susters, soms sonder dat ons altyd daarvan bewus is, is ons die hele tyd besig om prioriteite op te stel. Sekere dinge is vir ons belangriker as ander, om verskeie redes, en daarom kom hierdie dinge nie alleen eerste nie, ons bestee ook meer aandag en tyd daaraan. Wat meer is, ons kan dikwels nie anders nie, Want as ons dit nie doen nie, oorleef ons soms nie.

Hierdie lewensingesteldheid, broers en susters, het ongelukkig dikwels ‘n besliste en negatiewe invloed op ons geloof en ons geloofslewe. Ons verloor perspektief. Want wanneer ons so in alles vasgevang word, vergeet ons gou dat die grond van ons bestaan geloof is nie. Ons besef nie dat ons lank nie meer ons uit geloof leef nie. Ek wil selfs sê: ons besef later nie meer die belangrikheid van geloof nie.

Want wanneer ons ons so besig hou met al die ander dinge, vergeet ons dat nie hierdie dinge nie, maar geloof, die belangrikste saak in ons lewens is en behoort te wees. En wat gebeur aan die einde van alles? Ons geloof word maar net een van die dinge naas so baie ander dinge, en dan beslis nie eerste op ons lysie van belangrikheid nie. In kort gesê: in die gejaag van elke dag, steur ons ons nie eintlik meer aan God nie.

Wat, broers en susters, sê die Woord van God oor so ‘n lewe? Meer spesifiek, wat sê die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees oor so ‘n lewe? Kom ons sê eers in kort wat ek meen die gedeelte vir ons wil sê, en dan brei ons ‘n bietjie daarop uit.

Die kind van God, maak nie saak wat sy omstandighede is nie, kan nie maar net leef asof God nie daar is nie. Wat meer is: ons word voor ‘n keuse gestel. God is nie tevrede met halfhartige diens nie aan Hom nie. Geloof kan nie maar net nog een van baie dinge in ‘n vinnige wêreld wees nie, want geloof raak ‘n mens se hele lewe. Daarom, God vra dat ons sal kies, en baie mooi sal dink voor ons kies. Want geloof raak ‘n mens se hele lewe. Nie maar net aspekte daarvan nie.

Kom ons kyk nou na Josua 24. Josua 24 is een van die kerngedeeltes in die Ou Testament, juis omdat die ontstaan van die volk Israel as God se eie volk, God se enigste volk, in hierdie hoofstuk beskryf word. Dit word dan ook beskou as die hoogtepunt in die boodskap van die boek Josua.

In die gedeelte word vertel hoe Josua al die stamme van Israel, wat tot op die stadium as losstaande stamme geleef elkeen in sy eie gebied en met sy eie leiers, by Sigem bymekaar laat kom in ‘n soort van ‘n volks­vergadering. Die byeenkoms is egter meer as maar net ‘n volksvergadering. Want Josua laat hier die volk hulle plekke inneem in die teenwoordigheid van God. So, in werklikheid gaan dit hier oor ‘n godsdienstige byeenkoms met ‘n besliste godsdienstige doel. Soos ons byvoorbeeld vanoggend hier saam is om aan jongmense die geleentheid te gee om belydenis van geloof af te lê nie.

As ons mooi na die gedeelte kyk, sien ons dat Josua met hierdie godsdienstige byeenkoms vier dinge doen: in die eerste plek stel Josua die volk voor ‘n besliste keuse. Maar dit doen hy nie voor hy die volk weer wys op wat God al vir hulle in die verlede gedoen het nie.

Toe hulle voorvaders ander gode gedien het, het hy ingegryp in die lewe van Abraham. Toe hulle in Egipte slawe was en gely het, het God ingegryp en hulle verlos. Hy het aan hulle ‘n land gegee wat hulle nie bewerk het nie, stede wat hulle nie gebou het nie, en wingerde wat hulle nie geplant het nie. God, sê Josua dus, het deur die geskiedenis getoon dat hy ‘n God van liefde is, dat Hy altyd met hulle was en dat Hy na hulle omsien.

Op grond van hierdie liefde en trou van God gaan Josua dan, in die tweede plek, en stel hy die volk voor ‘n keuse. Hulle moet kies wie hulle wil dien. Maar hy doen ook meer as dit. Hy gaan die volk voor en stel aan hulle ‘n baie duidelike voorbeeld: ‘wat my en my familie betref, ons sal die Here dien’. Dus: maak julle nou julle keuse.

Wanneer die volk dan ook kies om die Here te dien, gaan Josua (en dit is die derde saak wat hier belangrik is), nog een treetjie verder: hy spel baie duidelik die erns van die keuse uit wat die volke gemaak het.

Die keuse om God te dien, sê hy vir die volk, het geweldige implikasies. Voor ‘n mens hierdie keuse, en veral daarna, moet die mens baie goed besef wat hierdie keuse inhou. Want God vra onverdeelde diens aan Hom. Wie die Here dien, moet Hom nie alleen met sy hele lewe dien nie, maar ook net vir Hom dien. Want God duld geen ander gode naas hom nie. (En let ook maar mooi op, ter wille van volledigheid, hoe Josua beklemtoon dat die wat kies om die Here te dien en nie hulle keuse uitleef nie, rampe sal beleef en sal sterf.)

Ten slotte vra Josua die volk om die keuse wat hulle gemaak het te bekragtig deur alle vreemde gode onder hulle te verwyder, alle afgodsbeelde en altare te vernietig, asook alle afgodsbeelde uit hulle gedagtes te weer, en dan te gaan en in volkome toewyding aan die Here lewe. Te lewe volgens die wil van God en God alleen.

Wat, broers en susters, wil hierdie gedeelte vanoggend vir ons sê, vir julle wat belydenis van geloof gaan aflê? Kom ek noem net ‘n paar van die sake wat ek meen hier na vore kom.

In die eerste plek kan ons nie, broers en susters, verby die feit kom dat God ook weer hier aan ons elkeen voor ‘n keuse tel nie. Wat, vra God, wil ons met ons lewens maak? Wil ons maar leef soos ons wil, wil ons maar leef asof daar nie ‘n God is of nie, of wil ons weer ons onvoorwaardelik aan God bind? Miskien, broers en susters, het ons so ‘n keuse meer nodig as ons dink. Veral diegene wat sê hulle glo, maar tog maar met hulle lewens maak wat hulle wil, en sommer ook sê dat dit nie ander raak wat hulle met hulle lewens doen nie. En kom ons sê dit maar hard en duidelik: die mens wat nie vir God kies nie, eintlik maar net teen God. Kies vir iets anders, kies eintlik maar net vir homself.

Voor ons hierdie keuse maak, broers en susters, wil die Here vir ons hier in sy Woord egter een saak baie duidelik stel: hierdie keuse is ‘n ernstige keuse, dit kan nie ligtelik opgeneem word nie. Geloof is nie en kan nooit maar net ‘n saak naas ander sake nie in my lewe wees nie. Geloof is nie maar net een ietsie in my lewe naas baie ander ietsies nie. Dit kan nie maar net een item om my prioriteitslysie naas baie ander items wees nie. Nee. Dit moet die een saak wees wat bepaal hoe my prioriteitslysie moet lyk. God is nie ‘n God wat maar met ‘n plekkie in ons lewens tevrede is nie. Hy vra ons hele lewe, in sy totaliteit.

Derdens, en hierdie is miskien die moeilikste van alles, wanneer ons die keuse gemaak het, vra God aksie van die mens. Om vir God te kies, is om te sê dat ek alles aanvaar wat God vir my gegee het. Vergifnis, versorging, liefde, genade, geduld, noem maar op. Of, in kort gesê: uit die wyse waarop ons lewe moet mense kan sien dan ons gelowiges is. dat ons regtig vir God gekies het. En kom ons sê maar, broers en susters: as dit kom by die geloof, dan help praat niks. Die uiteindelike toets, die enigste toets of ons werklik aan God behoort of nie, werklik vir Hom gekies het of nie, is dit wat ons doen, dit wat ander sien.

Reeds Calvyn, een van die vaders van die Hervorming, het gewys op die belangrike rol wat dankbaarheid in ons lewens behoort te speel.

Gaan ons weer kies, vanoggend, broers en susters? En as ons gaan kies vir God, weet ons waarvoor ons ons inlaat, en wat dit van ons gaan vra? As ons gaan sê ‘ja’ op die vrae wat gevra gaan word, gaan ons ons werklik daagliks bekeer, en werklik meewerk tot die vooruitgang van die kerk? As ons sê ja, en volgende keer aan die tafel van die Here kom aansit, gaan ons bereid wees om soos ons vergewe word, te vergewe? Soos ons versorg word, te versorg? En soos ons liefde ontvang terug te gaan liefhê?

‘n Keuse vir God roep die dankbaarheid na vore. Dit is immers een van die aspekte van die boodskap van die Reformasie. ‘n Keuse vir God vra aksie.

Hoe lyk ons lewens, broers en susters? Is daar aksie? Hoe lyk ons prioriteite? Om lief te hê? Dit lyk soms alles behalwe so? Om te vergewe soos God vergewe? Ek weet nie: waarom dan al die haat en bitterheid? Om lief te hê soos Hy ons eerste liefgehad het? Besluit u maar self.

Mag, God, broers en susters, ons genadig wees. Mag Hy ons genadig wees. Vir wat ons is en vir hoe ons lewe. Maar: maag Hy ons ook so genadig wees, dat ons elkeen weer sal kies, en wel so dat ons keuse en ons lewe na die keuse Hom, en Hom alleen sal behaag.
Amen