Filippense 1:1-11

Ons bid vir julle


Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Julle wat vanoggend belydenis van julle geloof gaan aflê, lê vir baie mense na aan die hart.  In die eerste plek beslis vir julle ouers.  Hulle wat julle ten dope gebring het, julle van kleins af van God geleer het, julle kerk toe gebring, gesorg het dat julle by die kategese uitkom, en vandag met trots hierdie mooi geleentheid met julle kan deel.

Hier is ook van julle vriende teenwoordig.  En van julle families.  Lidmate van die gemeente wat deur die jare julle in hulle kategeseklasse gehad het, is ook hier.  Ook hulle is trots op julle en bly saam met julle vandag.  En ons as predikante, wat die afgelope jaar met julle ‘n besonderse verhouding opgebou het, is net so trots op julle toewyding en mooi gesindheid van die afgelope jaar.  Julle lê vir ons almal na aan die hart.  En daarom, ook dit wat van nou af verder met julle gaan gebeur, is vir ons net so belangrik.

Wanneer ons Paulus se brief aan die Filippense lees, sien ons dat hierdie gemeente, soos julle na aan ons harte lê, ook vir Paulus geweldig na aan die hart gelê het.  En daar is ‘n rede voor: die gemeente in Filippi was die eerste gemeente wat Paulus op Europese bodem gestig het.

Paulus is in die tronk wanneer hy hierdie briefie aan hulle skryf.  En twee dinge is myns insiens merkwaardig van hierdie brief.  Eerstens: ten spyte van sy slegte persoonlike omstandighede, is die hooftema van hierdie brief dat Paulus vir die gemeente sê : Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (Fil 4:4).  En dit is merkwaardig.

Maar miskien is die tweede saak wat ek nou gaan noem, nog meer merkwaardig.  Paulus begin sy brief aan hierdie gemeentetjie deur vir hulle te bid.  Hy bid hulle drie dinge toe, waarby ons nou sal kom.  Drie dinge wat hy hoop meer en meer in die toekoms deel van hulle lewens sal word, drie dinge wat hy glo hulle nodig gaan hê om vorentoe in die geloof voluit te bly lewe, drie dinge wat sal maak dat hulle verhouding met God vorentoe net sal verdiep en versterk.  Drie dinge wat hulle nodig gaan hê om altyd in die Here bly te kan wees.

Wat is hierdie drie dinge waarvoor Paulus bid?  Hy sê God dankie vir hulle, hy vra dat hulle sal toeneem in liefde, en hy bid vir onderskeidingsvermoë (om reg te kan kies).  Om dankie te sê, om lief te hê, om onderskeidingsvermoë te hê.  Nie nuwe dinge wat julle nog nooit vantevore van gehoor het nie.  Dit is almal begrippe wat ons goed ken.  Maar kom ons probeer om vanoggend met nuwe o? na dié drie dinge te kyk.

Paulus bid en hy sê dankie: Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.  Dit is iets baie wonderliks as iemand tot geloof kom, maar dit is net so wonderlik dat mense gelowig bly en as gelowiges bly saamwerk aan die verkondiging van die evangelie.  Dit doen die gemeente in Filippi – en Paulus dank God hieroor in gebed.

Ek dink dat ek met redelike sekerheid kan sê dat ons baie keer dankie sê wanneer ons bid: ons is dankbaar vir lewe en gesondheid, vir vriende en familie.  Vir die gawes en talente wat God ons gegee het.  Maar hoe baie keer sê ons dankie, opreg dankie vir die gemeente waaraan ons kan behoort? Vir die gemeente waarin ons kon grootword?

Vir elke kategeet wat Sondag vir Sondag voor julle in die kategeseklas gestaan het?  Vir die ouderling en diaken wat julle as gesin gereeld tuis besoek het?  Vir lidmate wat offergawes gee sodat ons in ‘n gebou kan kerk hou, dat daar vir ons elkeen ‘n kategeseklas is?

En vir ons ouers.  Wat met toewyding julle aan die kerk bly vasknoop het.  Wat julle iets van God elke dag voorgeleef het?  En wat vandag hier is om julle te ondersteun?  As julle so gelukkig is om julle ouers hier te kan hê?  Gaan sê vandag maar weer dankie.

In die tweede plek bid Paulus dat die gemeente sal toeneem in liefde: Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.  Dit gaan goed in die gemeente in Filippi.  Paulus is baie dankbaar daaroor, baie bly daaroor.  Maar nie die gemeente in Filippi of enige ander gemeente bereik ooit die vlak van volmaaktheid nie, en daarom bid Paulus vir dié mooi ding: dat die gemeente se liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.

Ek wil dit so probeer verduidelik: in 'n groot akwarium is een van die gewildste plekke omtrent altyd die haaitenk.  Ons is op 'n snaakse manier gefassineerd deur hierdie groot roofvisse.  Maar weet julle, 'n haai se grootte is direk eweredig aan die grootte van die haai se omgewing:  as jy 'n klein haaitjie vat en in 'n klein tenk sit, dan word daardie haai 'n volwasse haai word, maar hy sal baie klein bly.  So kan jy 'n haai kry wat heeltemal volwasse is, maar net ses duim lank is. As so 'n haai in die wye oseaan vrygelaat word, sal hy groei tot sy normale grootte van om en by agt voet.

Weet julle – ons loop die gevaar om sulke sesduim Christene te wees in ons eie klein ou wêreldjie. Ons omgee, ons betrokke wees by word beperk tot dié mense naby aan ons, dié mense wat ons ken.

Dit kan nooit goed genoeg wees nie.  Beslis nie vir God se mense nie.  Julle gaan nou onderneem om diensbaar in die kerk (en by implikasie in die wêreld) te wees.  Wat beteken dat ons liefde so moet toeneem dat ons ook onvoorwaardelike moet leef teenoor dié mense wat saam met ons in die gemeente is, maar ook teenoor alle mense.

En as ons net wegraak, soos baie doen, doen ons dit nie.  Kyk daarom van vanoggend af met nuwe oë na die liefde, en veral hoe ons liefde kan toeneem, toeneem veral in begrip en fyn aanvoeling.  Waar ons woon, werk, besig is, maar ook in die gemeente waarvan julle deel is.

Derdens bid Paulus dat die gemeente in Filippi groter onderskeidingsvermoë sal hê.  Hy bid dat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Dit word vertel dat Michaelangelo, die groot beeldhouer en skilder, 'n stuk swaar rots teen 'n skuinste opgestoot het om dit so op sy werksoppervlak te kry sodat hy met sy beeldhouwerk kon begin.  'n Buurman het gestaan en kyk hoe hy vir langer as 'n halwe dag gestoei het om die stuk rots te kry op die plek waar dit moet wees.  Uiteindelik vra hy: ‘Michaelangelo, hoekom sukkel jy so met daardie stuk swaar en lelike stuk rots?’ Hy het geantwoord: ‘Omdat daar 'n engel daarbinne is wat wil uitkom’.  ‘Hoe gaan jy die engel uitkry’ vra die buurman.’ ‘Maklik’, antwoord Michaelangelo, ‘ek gaan net alles afkap wat nie soos 'n engel lyk nie...’.

As ons dankbaar is vir die voorreg om aan 'n gemeente te kan behoort, as dié dankbaarheid ons daartoe bring dat ons liefde toeneem, dan is een manier hoe ons dit kan regkry deur van ons lewens alles af te kap wat nie soos 'n kind van God lyk nie; ons moet ontslae raak van dié dinge wat nie pas by die lewe van 'n gelowige nie, dinge soos skinder, ander mense seermaak, wrokke koester, ensovoorts - ons moet, in die woorde van Paulus, dié dinge onderskei waarop dit werklik aankom.  Of, in ander woorde, dat ons ons gedagtes en kragte sal rig op die dinge wat werklik saak maak.

En kom ek gee ‘n paar voorbeelde.  Van nou af is julle geloofslewe, kerklike betrokkenheid en kerkbywoning, julle eie verantwoordelikheid.  Julle is nou lidmate.  Nou is dit so maklik om maar laat te slaap op ‘n Sondagoggend, en Sondagaand die verskoning te hê dat my huiswerk te veel is.  Daarom sien die kerk my nie weer nie.  En later word dit ‘n gewoonte.  En eers wanneer ek trou, en kinders het, sien die kerk my weer. Onderskei ek dan nog regtig dié dinge waarop dit werklik aankom?

Ek sluit af: moet nie sommer die lewe en elke nuwe dag as iets vanselfsprekends aanvaar nie.  Onthou elke oomblik dat elke nuwe lewensdag is 'n kosbare geskenk uit die hand van God.  En gaan leef die woorde van Efesiërs 5 – Kom ons maak die beste gebruik van elke geleentheid.  Om by ons belydenis dat God drie-enig is, dat Jesus die Here is te bly, om elke kans aan te gryp om my telkens weer tot God te bekeer, om diensbaar te wees in die kerk, omdat die kerk aan die Here behoort.

Welkom as lidmate in die gemeente.  Ons sê vir God dankie vir julle.  Mag julle elke dag in liefde toeneem, en mag julle fokus op dié dinge waarop dit regtig aankom!  Ons bid vir julle!  En mag julle elke dag saam met ons bly wees in die Here, van vreugde juig omdat God ons sy kinders gemaak het.
Amen