Matteus 7:24-29

Op watter fondament bou ons?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die gelykenis wat ons saamgelees het, sê Jesus dat 'n mens jou (jong) lewe, die sport wat jy beoefen, jou ontspanning, jou studies, jou skoolloopbaan — of watter saak ook al — op een van twee maniere kan aanpak: of jy pak dit wys en verstandig aan, of jy pak dit dom, onhandig en lomp aan.

Jy pak iets wys aan wanneer jy aan die regte/nodige dinge die nodige tyd en aandag gee, maar jy is dom wanneer jy aan die verkeerde/onnodige dinge al jou tyd en aandag spandeer. Om so dom te wees wanneer ons byvoorbeeld aan die voordeur, die dak, en die verf binne in die huis baie aandag, tyd en geld spandeer, maar vergeet om seker te maak dat die grond waarop ons bou in orde is. En voor ons weet, stort die huis op ons in. Dit is 'n dwaas, sê Jesus, wat toelaat dat deur sy eie domheid hy onder sy huis begrawe word.

Die voorbeeld wat Jesus in hierdie gelykenis gebruik om hierdie twee wyses van lewe aan ons te verduidelik, sien ons, is dié van die bou van 'n huis. Let wel: nie die bou van huise waarin mense bly nie, maar die bou van ons elkeen se lewenshuis, ons lewe, die huis wat is wat ek is.

Kom ons dink 'n bietjie, jongmense, hoe ‘n mens ons sy of haar lewenshuis bou. Aanvanklik, wanneer ons nog baie klein is, doen ander vir ons die bouwerk. Die liefde van ons vaders en moeders lê die eerste stene van ons huis. Dit is die liefde van ons ouers wat sorg dat ons aanvanklik skoon, versorg, gevoed en gesond bly. Dit is die liefde van 'n moeder en vader wat ons leer om asseblief en dankie te sê, wat ons leer om 'n mes en vurk vas te hou, ouer mense te respekteer, goed oor onsself te voel. Veilig te voel. Geborge te voel.

So is dit ook die liefde van 'n moeder wat ons die eerste klanke van ons taal leer, wat die eerste keer ons hande vou, ons aantrek en ons hare kam. Deur die liefde van 'n vader en moeder word liefde die eerste keer in ons lewens ingedra, liefde waarsonder die mure van ons elkeen se lewenshuis nie na die hemel sou verrys nie. Alles dinge waarvoor kinders hulle ouers nie genoeg kan bedank nie. Daarom, doen dit sommer vanoggend gerus weer 'n keer wanneer julle by die huis kom.

Daar kom egter 'n tyd, liewe katkisante, wanneer ons self verder aan ons huise moet bou. Ons gaan skool toe, en daar hoor ons: jy moet fluks wees, jy moet dit of dat self begin doen, anders sal jy nêrens in die lewe kom nie. En baie vinnig word ons verantwoordelikhede meer. En net so vinnig begin ons ons eie besluite te neem (soms tot groot ontsteltenis van ons ouers!). En voor ons sien is ons lewenshuise gebou, steen vir steen, die mure mooi reguit. Om dan, aan die einde van alles, met vreugde en trots te sien dat my lewenshuis geslaagd is: ek is suksesvol in wat ek doen, ek is verantwoordelik, ek kan met trots my plekkie volstaan. My lewe is ‘n sukses, nie ‘n mislukking nie.

Nie dat dit altyd met ons bouwerk goed gaan nie. Soms is daar en kom daar ook barste en krake in die mure. Want daar is ook tye van terugslae en geen vordering van ons bouwerk nie. Soms neem ons die verkeerde besluite, soms tree ons onverantwoordelik op. Soms doen ons eenvoudig dom dinge, en vang dinge aan waaroor ons baie gou bitter spyt is. Dan stop ons die krake toe, en verf daaroor.

Soms gebeur dit ook dat daar storms in ons lewens kom, hewige winde en erge reën, wat ruk en uitmekaar wil breek, en dan nie net wat die mure en dak van ons lewenshuise betref nie, maar veral aan die fondamente van ons elkeen se huis. Ja, daar kom tye, en dit sal julle nog leer, wanneer ons lewenshuise getoets word: nie of dit mooi is, altyd silwerskoon is, lekker warm in die winter is nie, maar of dit in die diepte stewig is, so stewig dat dit in alle omstandighede sal bly staan.

Dit is dan ook waarop Jesus sy vinger in hierdie gelykenis lê: die fondamente van ons lewens. En die vraag wat Jesus by implikasie met hierdie vingeroplegging vra, is die volgende: wat is die ware fondament van jou lewe, van jou lewenshuis?

Dalk, liewe jongmens, is ons fondament die feit dat ons so gewild onder ons maats is. Of dat ons so goed by die skool in die klas of buite op die sportveld, of op kulturele gebied presteer. Dalk is ons fondament hoe ons lyk. Ons fondamente kan selfs ons eie selfbeeld wees, wie en wat ek in my eie oë is, en daarom wie en wat ander in my oë is. Dan is my fondament nie reg nie.

Dit help nie, liewe katkisante, sê Jesus in ons gelykenis, dat iemand sogenaamd 'n ‘helder kop’ het nie, wat tel is watter lig hierdie helderheid afgee, dit maak nie saak of iemand baie sterk is en met albei voete realisties in die werklikheid staan nie. Wat saak maak is op watter fondament hy/sy moet staan, want gee die fondament mee, help iemand se sterk bene, helder kop, of wat ook al, hom/haar niks.

Wat, liewe jongmens, is die fondament van ons elkeen se lewenshuis? Jesus sê as dit enige iets anders is as die Woord van God, sal ons almal se lewenshuise op ons koppe intuimel, sal ons soos dwase onder ons eie huise begrawe word.

Hoekom sê Jesus so, broers en susters? Want die Woord van God (wat Jesus Christus self is) is al wat vir ewig bly staan: dit is die Woord wat oor ons gespreek word daar waar ons nog in die wiegie lê, of in die doodskis. Dit was teenwoordig toe julle gedoop is, en is nou teenwoordig waar julle belydenis van geloof aflê. Toe julle geestelik ontwaak het deur te sê ‘ek glo’, was julle reeds daarbinne. En wanneer ons onsself vir ons laaste oomblikke gereed maak, as ons die druk van die geliefde hand nie meer voel nie, selfs dan sal hierdie Woord nie van ons wyk nie.

Ja, dit gee lewe in dood, rykdom in armoede, hoop wanneer geen uitkoms op die horison sigbaar is nie. Dit is dus altyd daar, nog voor ons begin lewe, en ook nadat ons gelewe het. Want die Woord word nie geraak deur storms wat raas en woed nie. Die Woord, God se Woord, en dus God self, is die enigste blywende, ewige en onveranderlike.

Maar Jesus gaan hier ook verder, broers en susters. Die Woord — die Bybel — soos dit hier voor my lê en soos ek dit in my hand vashou, die Bybel wat julle net nou gaan ontvang en in julle hande gaan vashou, is nie op sig self die waarborg en fondament van my lewe nie. Nee. Dit word alleen die fondament wanneer ons dit lees, gebruik, vuil blaai. En dan nie maar net by wyse van afgerammelde gebedjies en gejaagde Bybellees oomblikkies nie, maar wanneer ons, sê vers 24, volgens hierdie Woord, handel. Wanneer ons dit regtig doen.

Hoe handel ons volgens God se Woord, jongmense, hoe doen ons God se Woord? Kom ek noem u net drie voorbeelde:

Eerstens doen ek die Woord wanneer ek besef dat ek, omdat ek myself Christen noem, myself so reeds aan die inhoud en opdragte van die Woord verbind het. En laat ek vanoggend hieroor geen doekies omdraai nie. Iemand wat werklik kind van God is, die een wat vanoggend hierdie belydenis wat afgelê gaan word werklik ernstig opneem, is iemand wat volgens die Woord van God leef en gaan leef. In elke opsig. Altyd. In alle omstandighede. Sonder uitsondering. Ek kan nie woorde vind om dit duideliker uit te druk nie. Die kind van God luister na die woorde van God en doen die woorde van God. Vir God is dit nie onderhandelbaar nie. Al dink ons soms so. God het vir ons alles gegee, en al wat Hy vra is ‘n bietjie toewyding. So, besluit maar self waar u — en ek — wat hierdie saak betref, staan. Of gaan staan maar op die eie, selfgeskepte fondament. Glo my, een of ander tyd sal dit inmekaartuimel.

Tweedens beteken doen van die Woord die vaste vertroue dat God my nie in die steek sal laat nie. Dit beteken dat ek die kwellinge in my lewe, my bekommernisse en probleme, wel ernstig opneem, maar vas glo en oortuig is dat die God van hierdie Woord groter as al my bekommernisse, my kwellinge en krisisse is. Dat môre wat kom, waaroor ek dalk met reg so bekommerd, besorg en bevrees kan wees, in die hande van hierdie God van die Woord gehou word en ek daarom behoue sal bly.

Derdens beteken om volgende die Woord te handel om alles, letterlik alles wat op my afkom, in die geloof te aanvaar as dinge wat uit die hand van die Here kom. En dan nie alleen al my suksesse en vreugdes nie, maar ook my terugslae, my mislukkings, of wat ook al.

Wie dit alles doen, sê Jesus hier, bou sy lewenshuis op 'n stewige fondament, bou verstandig, bou op 'n fondament wat nooit onder ons sal pad gee nie.

Wat, liewe jongmense, is die ware fondament van u en my lewenshuis. As u en ek vanoggend baie eerlik moet wees, wat is die halssnoere wat ons om ons nekke hang? Op wie en wat verlaat ons ons werklik? Ons moet dit elkeen maar vir onsself antwoord.

God se genade is egter groot. God gee altyd weer kans. By die bou van 'n regte huis, kan ons baie baie moeilik later, wanneer die mure begin bars, iets aan die fondasies doen. Maar nie by die bou van ons lewenshuis nie. Wie vandag begin om die Woord te doen, daarvolgens te handel, dit wil sê, dit te lewe, te gehoorsaam en te aanvaar dat God altyd met ons reg en tot ons voordeel handel, hy/sy se lewenshuis se gekraakte fondament word onmiddellik met 'n nuwe, ewige en onskuifbare een vervang.

Ek sluit af. Matteus 7:28-29 sê: Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag. Die hoor van die Woord het hulle dus aangespreek. Hulle rigting gegee, hulle hoop gegee. Hulle sin gegee in hulle soms baie bitter en moeilike omstandighede. As hierdie nie ook ons reaksie vanoggend is nadat ons deur die Gees na die Woord van die Here geluister het nie, moet ons vra of die Woord werklik ook al fondament in ons lewens is.
Amen