Josua 7:1-5

Selfversekerdheid en arrogansie lei so maklik tot ondergang



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gedeelte wat ons vanaand saamgelees het, wil veral op een saak wys: die mens wat in arrogansie optree en leef asof God nie in die lewe nodig is nie, se arrogansie en optrede lei eindelik maar net tot daardie mens se eie ondergang.

Soms, broers en susters, kan dit so goed gaan met ‘n mens. Al jou drome word waar, dit wat jy beplan word ‘n groot sukses, die raad wat jy vir ander gee werk, en wat jy doen is altyd reg en word deur ander erken. Jy vaar goed op skool, goed op die sportveld, en alles gaan net voor die wind.

Wanneer ons so op die kruin van sukses ry, broers en sus­ters, vergeet ons dikwels so maklik en so gou dat ‘n mens maar net mens bly. Vergeet ons so gou dat alles in my lewe net so maklik totaal anders kon gewees het. En bo alles, ons vergeet so maklik dat wanneer dit met ons goed gaan, wanneer ons sukses beleef, dit nie onsself is wat die sukses oor ons gebring het nie. Dat dit nie jy self was wat dit so beskik het nie. Dat alles niks anders as genade is nie.

Wat meer is, die mens met wie dit goed gaan dink dikwels dat hy/sy nie eintlik vir God nodig het nie. Dit is nou maar eenmaal in ons aard, ons wil soms so graag God self wees, al besef ons dit nie altyd nie. Ons wil nie erken dat ons van God afhanklik is nie. Ons wil nie ons sukses aan sy hand in ons lewens toeskryf nie. Want was dit nie ons wat so oulik was nie? Daarom, wanneer dit goed gaan dink ons dikwels en tree ons dikwels op asof God nie bestaan nie. Dat ons Hom in elk geval nie nodig het nie, want ons kan mos self, ons het mos die vermoë en die krag.

So ‘n lewenshouding, broers en susters, is eintlik niks anders as ongeloof nie. Want geloof is ook om te besef dat ek sonder God tot niks in staat is nie. Geloof is ook om te kan bely: sonder God kan ek niks nie, en sonder God se krag is ek niks nie. Dat ek geen toekoms sonder God het nie.

Of, in kort gesê: die mens wat God nie meer ken in sy optrede nie, die mens wat arrogant teenoor God leef, teenoor die God wat vir ons alles gee en vir ons alles moontlik maak, moet besef dat dit tot sy ondergang sal lei. ‘n Geloofswaarheid wat pragtig deur ons gelese gedeelte geïllustreer word.

Josua 7, die gedeelte wat ons gelees het, begin met 'n opmerking wat aanvanklik lyk asof dit niks met die res van die verhaal te doen het nie, maar eintlik die sleutel van die hele verhaal is. Akan het van die goed wat aan die Here geoffer moes word, vir homself geneem. Hoekom, het hy heel waarskynlik gereken, moet ek dit wat deur ons harde werk buit gemaak is, vir die Here gee? Ons het tog die land verower, daarom kon ons tog seker ook iets van die buit kry?

Wat meer is, ons lees dat, toe die verspieders terugkom vanaf Ai, hulle besonder selfversekerd was. Nee wat, sê hulle vir Josua, ‘die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is maar min mense in Ai’. Waarmee hulle eintlik wou sê: met ons vorige veldslag (die val van Jerigo) het ons teen ‘n taamlik oormag eintlik glad nie so sleg gevaar nie. Ons het mos nou gesien ons is eintlik onoorwinbaar. Hierdie entjie, Ai, gaan ons sommer op ‘n drafstap inneem. ‘n Houding, lees ons verder in die verhaal, wat hulle duur te staan gekom het, want druip­stert moes hulle wegvlug voor die inwoners van Ai.

Wat, broers en susters, het hier gebeur? Met die val van Jerigo — die vorige verhaal — het die klem daarop geval dat die Here gepraat het en dat Josua en die volk geluister en toe gedoen het. Presies die teenoorgestelde het egter in die geval van Ai gebeur. Die volk vra nie wat die wil van die Here is nie voor hulle Ai aanval nie. Hulle besluit sommer self wat hulle moet doen en hoeveel manskappe nodig is. Hulle skakel dus die Here uit hulle beplanning uit. Hulle dink dat hulle hom nie nodig het nie, dat hulle sonder Hom kan klaarkom, dat hulle dit self kan doen, dat hulle self in staat is om Ai in te neem. Hulle is dus, om dit sag te stel, so bietjie arrogant, en wel in die eerste plek teen die Here God.

Daarmee saam moet ons onthou dat met die val van Jerigo die volk niks van die buit gekry het nie, alles moes aan die Here offer word. Miskien het die volk gedink dat as hulle nou self alles doen sonder die Here, hulle alles vir hulle self sou kon vat. In wese het hulle dus gedink dat hulle daarby kon baat om die Here uit die prentjie te laat.

Juis dit, broers en susters, sien ons, lei egter tot hulle ondergang. Juis omdat hulle gedink het dat hulle God kan uitskakel, sonder Hom kon klaarkom, lei tot hulle onder­gang. Hulle selfverhoging lei dus tot vernedering.

Is hierdie verhaal van die volk in Josua 7, broers en susters, nie maar te dikwels ook ons verhaal nie? Gebeur dit nie maar ook te dikwels in ons lewe dat ons, al sê ons ons glo, ons eintlik sonder God lewe nie? Veral wanneer dit met ons goed gaan, wanneer ons suksesvol is, En veral wanneer harde werk met sukses beloon word.

Want dit is tog ek wat so hard gewerk het, dit is tog ek wat so goed beplan het, dit is tog eintlik net ek wat so oulik was. Ja, dit is eintlik ek wat God geword het, want kyk wat het ek alles, so op my eie, reggekry.

Hierdie lewenshouding, broers en susters, kry ons dikwels ook, en dit is so tragies, onder ons jongmense in die kerk. Wanneer ons jongmense klaar is met die kategese, en daar met hulle persoonlike gesprekke gevoer word met die oog op die aflê van belydenis, is nie een van hulle saam om te sê dat hulle werklik glo nie. Dat dit so is, is wonderlik. Wat meer is, hulle is ook volledig eens met wat hulle gaan bely: dat hulle in God glo, dat hulle elke dag by hierdie belydenis sal bly, dat hulle hulle voortdurend tot die Here sal bekeer, die vooruitgang van die kerk sal bevorder en selfs, dat indien dit nie gebeur nie, die kerk met hulle mag en moet kom praat oor so ‘n onverskillige lewe.

Maar wat gebeur? Deur net ‘n baie oppervlakkige som­metjies te maak oor al die jongmense wat die afgelope tien jaar in hierdie gemeente belydenis van geloof afgelê het, kom ‘n mens tot ‘n skokkende resultaat. Hulle glo nog, ja, maar van die daaglikse bekering, van die insette in die gemeente om die vooruitgang van die kerk te bevorder, kom daar weinig. Inteendeel. As hulle hieroor aange­spreek word, soos hulle in wese gevra het die kerk moet doen, tree die sogenaamde mondige mens na vore wat baie duidelik en reguit laat blyk dat niemand moet waag om te karring of aan te spreek nie.

Ja, toe hulle by Jerigo se mure gestaan het, het hulle na God geluister, maar toe die mure val, en Ai lê voor hulle, toe was God nie meer nodig nie.

Hierdie is harde woorde, broers en susters. Ek weet dit. Wat meer is, u kan sê dat dit die geval is met hulle wat in die verlede belydenis van geloof afgelê het, en dit dus so ‘n bietjie te gou is om te praat.

Feit van die saak is: julle wat vanaand hier sit, julle weet wat julle motiewe is. Met die kategese het dit goed gegaan. Ook met die persoonlike gesprekke. Uit alles het geblyk dat julle ernstig is wat hierdie saak betref. Daarom kan ons nie anders, en wil ons nie anders, om julle geleentheid te gee om lidmate van die kerk te word nie.

Maar God, die Een wat ons nooit kan ontwyk of kan bedrieg nie, Hy weet wat in ons harte aangaan. Hy weet wat ons motiewe is. Hy weet of ons voortaan by ons belydenis gaan bly, of dat ons, soos die volk, in arrogansie teenoor Hom gaan opstaan deur met ons hele lewe te sê: Here, staan nou maar net so ‘n bietjie aan kant toe. Ek sal self regkom.

Ons bid egter, liewe katkisante, dat in julle lewens wat voorlê, julle nie alleen net by Jerigo op julle knieë in afhanklikheid voor die Here sal gaan staan, maar ook by die spreekwoordelike Ai, en by elke ander punt in julle lewens. Dat julle werklik God met julle in die lewe sal saamneem.

Mag julle na julle aflegging van openbare geloofsbelydenis die Here met julle saamvat elke treë in julle lewe. Dan sal dit met julle goed gaan, al gaan dit sleg.

Want die mens wat in arrogansie voor God opstaan met ‘n lewe wat sê: Here, ek het U eintlik nie nodig nie, is dieselfde mens wat eendag sonder God sal sterf. Want wie kan saam met God sterf, as hy/sy sy hele lewe sonder God geleef het? Mag dit in julle lewens nie so wees nie.
Amen