Prediker 9:1-12

Waarom glo jy?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
By ons vanaand is daar 'n groep jong mense, asook 'n aantal volwasse katkisante, wat volgende Sondagoggend die geleentheid gaan kry om in die openbaar belydenis van hulle Christelike geloof te doen. Tydens hulle geloofsbelydenisaflegging gaan hulle onder andere bely dat hulle

  • in die drie-Enige God glo;
  • hulleself daagliks sal bekeer;
  • die vooruitgang van die Kerk na die beste van hulle vermoë sal bevorder; en
  • indien nodig, die Kerk in liefde hulle onder die opsig sal vermaan indien hulle nie by hierdie belydenis in leer en lewe bly nie.

Hierdie gebeurtenis, broers en susters, waar gelowiges hulle geloof in die openbaar bely, is in 'n sekere sin die klimaks van al die jare se kategese. Maar tog, alhoewel dit 'n eenmalige gebeurtenis is, sal dit nie die eerste keer wees dat hulle hulle geloof so sal bely nie.

Want Sondag vir Sondag, broers en susters, of ons nou klein of groot is, jonk of oud, bely ons in die erediens allerlei dinge oor God:

  • dat Hy die Skepper van hemel en aarde is;
  • dat Hy sy Seun mens laat word het uit 'n vrou;
  • dat sy Seun aan die kruis tereggestel is en weer opgestaan het;
  • dat sy Gees die kerk tot stand gebring het waar mense mekaar se broers en susters word;
  • dat die lewe nie by die graf eindig nie, en so kan ons aangaan.

Kom ons vra onsself vanaand die vraag ernstig af, broers en susters, hoekom ons al hierdie dinge bely, waarom julle volgende Sondagoggend dit gaan bely. Of die vraag anders gestel: hoekom glo ons? Hoekom is ons Christene?

Ek meen dat dit goed is, broers en susters, dat ons onsself op 'n keer hierdie vraag afvra. Want hierdie vraag, broers en susters, gaan homself al hoe meer aan ons opdring namate ons lewensomstandighede in hierdie land van ons al hoe meer en meer gaan verander. Dit enersyds.

Andersyds, broers en susters, is dit ook so dat hierdie vraag heel waarskynlik deur almal van ons vanaand hier gevra is, veral daar waar ons in een of ander persoonlike krisis beland het. Want wanneer 'n mens in 'n persoonlike krisis beland wat werklik 'n krisis is, dan is die versoeking baie groot om saam met die moedelose volk van God daar vêr in ballingskap oor jou geloofslewe te sê: Ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet in die geloof afgesloof. Want kyk, hier is ek nou in die krisis, maar God is nie by my nie.

Want daar is baie mense wat meen dat geloof voorspoed verseker. Daarom kry ons Christene wat soms sê: as jy 'n gelowige mens is, sal God jou seën. Daarom: as jy siek is, sal God jou gesond maak. As jy werkloos is, sal God jou van 'n werk voorsien. En as dit nie gebeur nie, is dit omdat jy nie ten volle aan God oorgegee is nie. Of miskien was jou pa of oupa nie gelowig genoeg nie. Miskien boet jy maar net vir hulle sonde.

Mense wat só oor die Christelike geloof dink, broers en susters, het selfs Bybelse gronde daarvoor. 'n Mens hoef maar net deur boeke soos Spreuke of Deuteronomium te blaai om talle tekste te vind wat hierdie siening steun. Spreuke 8, byvoorbeeld, belowe dat die gevolg van geloof sukses en mag sal wees, rykdom en eer, blywende en duursame besittings, geregtigheid en reg en vol skure. En dit is hoe baie mense vandag presies nog glo. Meer nog, dit is vandag dikwels nog die rede waarom sommige mense glo. Hulle geloof moet vir hulle voorspoed verseker. Hulle geloof is 'n voorspoedgeloof.

Maar nou is dit ongelukkig so, broers en susters, dat die lewe nie net voorspoed is nie, en dikwels — so voel ons soms altans — meer teenspoed as voorspoed is. Wat meer is, is dat ons soms voel dat ons teenspoed ervaar sonder dat ons dit ‘verdien’. Dit is immers die dilemma waarmee die boek Job homself besig hou: Job. 'n vrome en godsdienstige man, iemand wat gereeld kerk toe gegaan het, sy kinders mooi opgevoed het, 'n man wat deur God geseën is, verloor skielik alles.

Sy vriende hou vol dat die rede vir Job se teëspoed die feit is dat hy iets verkeerd gedoen het, anders sou God hom nie so gestraf het nie. Job egter hou vol dat hy nie iets verkeerds gedoen het nie, en dat God se straf der­halwe onregverdig is. En so vervloek Job later selfs sy geboortedag, en moedig sy vrou hom selfs om God te vloek en dan maar te sterf.

As teenspoed kom, broers en susters, help geloof wat niks minder of meer as voorspoedgeloof is, 'n mens niks in die sak nie. Inteendeel. Dan word 'n mens se geloof vir jou 'n geweldige probleem, en maak dit jou wroeging net groter.

Maar kom ons raak 'n bietjie meer positief. In 'n ander boek in die Bybel, Prediker, besin 'n ander gelowige oor dieselfde probleem as dié waarmee Job gesit het en ook hy kom tot dieselfde gevolgtrekking. Een en dieselfde lot tref almal, sê hy in Prediker 9:2, of jou nou regverdig of goddeloos is, goed of sleg, rein of onrein. Die lewe, sê hy, het my geleer dat dit nie die vinnigstes is wat altyd die reisies wen nie, nie die sterkstes is wat die oorlog wen nie, nie die verstandiges is wat alleen ryk word nie, en nie net die met kennis met wie dit goed gaan nie. Met ander woorde, net soos by Job, kom die Prediker tot presies dieselfde gevolgtrekking: geloof bring jou nie noodwendig iets in die sak nie, geloof beteken nie outomaties voorspoed nie.

Maar, broers en susters, en hierdie is in vanaand se geval die belangrike ‘maar’: waar Job met hierdie ontdekking (dat geloof nie noodwendig voorspoed beteken of tot gevolg het nie) swaarmoedig word, 'n sak aantrek en as oor sy kop strooi, daar is die Prediker (na presies dieselfde gevolgtrekking) allesbehalwe swaarmoedig en mismoedig. Want kyk wat sê hy in Prediker 9:7-10: ‘Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet jou lewe met die vrou wat jy liefhet. En doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen’.

In die ‘dus’ waarmee Prediker sy sin hierbo begin, sit die regte verstaan van die geloof. Want wanneer die Prediker sê dat jy ‘dus’ die lewe moet geniet, vrolik bly en hard werk, het hy so pas gesê, en let mooi op, dat daar na die dood geen hoop is nie. Solank jy onder die lewendes is, sê hy, het jy hoop, maar die dooies weet niks, daar wag vir hulle niks meer nie. Doen alles met toewyding, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.

Met ander woorde, broers en susters, in die gesig van uitsigloosheid en loonloosheid sê hy: salf jou hare, wees bly en werk hard.

Hierdie verhaal van die Prediker, broers en susters, is dus nie maar net blote negatiwiteit of sinisme soos baie dit wil afmaak nie. Want al kon hy nog nie in Paassondag glo nie, roep hy sy lesers by herhaling op om die lewe as geskenk uit die hand van God te aanvaar. Vir hom gaan dit nie om vroomheid/godsdiens wat aan beloning gekoppel word nie. En al vind hy die lewe as agterstevoor en soms onverstaanbaar, en al het hy geglo dat die dood die loonlose einde van die lewe is, het dit hom nie sy geloof ontneem of sy band met God deurgesny nie. Hy bly glo, al glo hy dat daar eendag vorentoe geen beloning wag nie. Hy bly glo, al is sy lewe soms onverstaanbaar, want, sê hy: die lewe is 'n wonderlike gawe uit die hand van God wat geleef en geniet moet word.

Die vraag wat die Prediker daarom vanaand aan ons, as Paasfees- en Kersfeeskinders vra, is dít: Waarom glo jy? Is dit om voorspoedig te wees? Is dit omdat jy nie tog maar anderkant die graf 'n beloning verwag nie? Is dit omdat jy nie die ewige verdoemenis wil beërwe nie?

Of glo jy omdat almal maar glo? En wil julle belydenis van geloof aflê omdat almal dit maar doen? Of loop ons agter die Christus van Paasfees en Kersfees aan omdat ons meen dat ons Hom eendag dalk net sal nodig kry?

Die geloof waarvan die Bybel praat, broers en susters, ware en opregte geloof, is nie geloof wat op 'n beloning wag nie. Dit is nie geloof wat voorspoed verwag nie. Ook nie geloof wat dalk net kan help in die tyd van krisis nie.

Nee. Die geloof waarvan die Bybel praat is 'n geloof sonder voorwaardes. Dit is 'n geloof, omdat dit agter die Kersfeeskind en die Paasfeesgekruisigde aanloop, wat verstaan wat die woorde prysgawe, selfverloëning, diens en opoffering beteken.

Want in die krip het die Seun van God, wat God was, die gestalte van 'n dienskneg aangeneem, en aan die kruis het Hy Homself ten volle aan en vir ander oorgegee.

Met ander woorde: ware geloof beteken dat die gesindheid van die krip en die kruis deel van ons lewens word sonder om iets in ruil daarvoor te verwag. Geloof beteken daarom om met gesalfde hare en met wit klere agter Jesus aan te stap, al word jy nie daarvoor beloon of word alle teëspoed van jou af weggehou nie. Om agter Jesus aan te stap, al is dit nie altyd so maklik nie. Om jou daagliks tot God te bekeer, al is dit hoe moeilik. Om die vooruitgang van die kerk van Christus na die beste van jou vermoë te bevorder.

Is dit waarom ons elke Sondag die geloofsbelydenis opsê, broers en susters? En is dit waarom julle volgende Sondag belydenis van julle geloof wil kom aflê? Nie omdat ons iets uit ons geloof sal kry nie, maar omdat die lewe 'n gawe is, ons die voorreg in hierdie lewe het om God te kan ken, en daarom sy kinders genoem te kan word? En as sy kinders bereid is om deur God tot sy voordeel gebruik te word, en nie God maar net te wil gebruik tot ons voordeel nie? Is dit, broers en susters, waarom u en ek glo?
Amen