Job 42:1-6; Matteus 16:13-23

Wat is ware geloof?



Geliefdes van ons Here Jesus Christus
Daar is nou eenmaal dinge in die lewe wat by mekaar hoort: lig en donker, naald en gare, rugby en braaivleis, en ons kan nog baie ander voorbeelde noem. Hierdie dinge, sou ons saamstem, kan nou eenmaal net nie van mekaar los gemaak word nie. Maar dit is ook waar van ons geloof.

Die finalejaarkatkisante sal vandag vir u kan sê dat ons hulle geleer het dat geloof ‘n saak van kop, hart en hande is. Geloof en kennis (kop) kan nie van mekaar losgemaak word nie; netso kan geloof en emosie (hart), en geloof en dade(hande) nie van mekaar losgemaak word nie. Die Heidelbergse Kategismus (die Sondagskoolboek van die kerkhervorming) sê geloof is: ‘n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue in my hart.

Ware geloof, is iets wat ons nie kan uitdink nie, maar ons kan dit slegs vind in die Woord van God. God eis ware geloof, en niks anders nie. By ware geloof kan ons nie iets byvoeg of wegneem nie, ons kan nie ware geloof vermeng met iets anders, of dit verander nie. Ware geloof is waar en eg en suiwer. Enige iets anders as ware geloof is ongeloof. 1 Korintiërs 15 stel dit so: “As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom ... dan is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. Verder sou dit beteken dat ons vals getuies oor God afgelê” en “dat ons teen God in getuig het”. “[D]an is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook die wat in Christus gesterf het, verlore” en “is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” As ons nie ware geloof het nie, dan bluf ons net onsself en mors ons ons eie tyd. Dan kan ons nou maar huis toe gaan en nooit weer terugkom nie.

Daarom die vraag: wat is ware geloof? Geloof is slegs waar en suiwer as ons alles aanvaar wat daarmee gepaard gaan. Ware geloof, moet ons onthou, is nie net iets waarna ons strewe nie, maar dit is iets wat God reeds aan ons gegee het. Dit is so ryk in waarde, dat ons seker nooit die volle betekenis daarvan sal besef nie.

Ons kan daarom nie in die eerste plek ware geloof verstaan en verklaar nie, maar ware geloof is iets wat ons slegs kan bely. Die Bybel is vol van mense wat hulle geloof in God bely, en ek gaan vanoggend se prediking inrig aan die hand van twee mense in die Bybel se geloofsbelydenisse.

Die eerste voorbeeld wat ek gebruik, vind ons in die boek Job. In Job 42:1-6 vind ons nie alleen die einde van Job se verhaal nie, maar ook Job se geloofsbelydenis. Uit hierdie gedeelte sien ons ten minste drie dinge wat met geloofsbelydenis te make het, te wete berou, verwondering en openbaring. Kom ons kyk na hierdie drie sake.

Geloofsbelydenis en berou
Die eerste wat ons uit hierdie gedeelte sien is dat geloofsbelydenis en berou nie van mekaar losgemaak kan word nie. Geloofsbelydenis is in wese ook ‘n skuldbelydenis. Wanneer ons besef wie God is en wat Hy alles vir ons doen en beteken, besef ons ook wie ons is. Dit het inderdaad dan ook so met Job gebeur. Luister wat sê hy van homself: “nou verag ek myself en sit ek vol berou in sak en as.”

Dink maar self hoe dit ook telkens met ons die geval is. Terwyl ons ver weg dwaal van die Here af is daar gewoonlik nie eers sprake van berou en bekering nie. Nee, dit is eers wanneer ons weer op een of ander wyse nader na God geroep word of gedwing word, dat ons besef hoe sondig en swak ons is. Dit is dan wanneer ons ons koppe in skaamte laat sak vir die kere wanneer ons so onbeskaamd so selfversekerd van onsself was, wanneer ons so blatant gedink het ons weet beter. Iemand het een keer gesê dat — en ek dink dit is waar — egoïsme, die liefde vir die eie ek, die grootste bron van alle sonde is. Ek is belangrik, nie God nie. Wat ek wil doen, maak saak, nie wat God van my verwag om te doen nie. Ek kom eerste, God moet maar agter in die ry staan. Die wonderlike is egter dat ons kan weet dat wanneer ons God weer eerste stel, God ons weer in sy arms inneem. Ja, God se reaksie op ons geloofsbelydenis en skuldbelydenis is altyd wonderbaarlik genadig. Hieroor sal ek later meer iets sê.

Geloofsbelydenis en verwondering
Die tweede wat ons in hierdie gedeelte raaksien is dat geloofsbelydenis en verwondering ook bymekaar hoort. Job staan verwonderd oor wie God is. “Tot nou toe het ek nog net van God gehoor, maar nou het ek u self gesien”. ‘n Geloofsbelydenis is met ander woorde nie iets wat die mens uit sy eie uit besluit om te doen nie, dit is ‘n gehoorsame reaksie op dit wat God doen. Wanneer die mens besef met wie hy te doen het; wanneer die mens besef wie is hy wanneer hy voor God staan, dan kan hy nie anders as om in verwondering voor God te staan en te bely “Ja Here” nie. Iemand het eenkeer gesê om te glo is amper soos om te skrik. Om te skrik is ‘n onkeerbare reaksie waaroor mens amper nie beheer het nie. En so gebeur dit met ons. Wanneer ons besef wie God is, wanneer ons besef met wie ons te doen het en wat Hy alles vir ons doen, dan kan ons nie anders as om te glo nie.

Geloofsbelydenis en openbaring
Geloofsbelydenis is nie iets wat by die mens begin nie, maar dit is iets wat by God begin. Wanneer ons ons geloof bely gaan dit juis nie oor ons nie, maar oor God. Ons kerk is vanoggend lekker stampvol, maar die rede hoekom dit so is, is nie vanweë menslike redes nie maar vanweë God. Ook gaan dit vanoggend hier nie oor die wat hulle geloof bely nie, maar oor die God in wie hierdie katkisante glo, oor die God in wie hulle hulle geloof bely. Geloofsbelydenis kom nooit eerste van mense af nie, maar altyd eerste van God af. Die mens kan nooit eerste praat as dit oor God gaan nie. Geloofsbelydenis is maar net ‘n antwoord op die Woord van God. In ons ander skrifgedeelte, Matteus 16, kom dit ook duidelik na vore. Soos ons gesê het – geloof is kennis van God, maar hierdie kennis kom nie uit onsself nie, dit is wat God van homself aan ons bekendmaak. As ons oor God praat, is ons in werklikheid maar net besig om God na te praat. Wanneer ons daarom in die kerk ons geloof bely, doen ons dit nederig en beskeie, want ons praat nie net oor God en van God nie, maar ons praat met God, nadat God gepraat het.

Wat ons tweede gedeelte betref, te wete Matteus 16:13-19, is daar ‘n verdere drie sake wat vanoggend vir ons van belang is. Hierdie drie sake is geloofsbelydenis en kerk, God se reaksie op die mens se geloofsbelydenis en geloofsbelydenis en opdrag. Kom ons kyk daarna:

In hierdie gedeelte doen Petrus ‘n geloofsbelydenis: “U is die Christus, die seun van die lewende God.” Jesus se antwoord hierop is “Jy is Petrus en op hierdie rots sal ek my kerk bou.” Jesus verwys hier na die naam van Petrus wat rots beteken. Maar ons moet vir geen oomblik dink dat dit beteken dat die kerk van Jesus op ‘n mens gebou is nie. Nee, waaroor dit hier gaan is dat Jesus sê: op hierdie geloofsbelydenis sal ek my kerk bou.

Daar is mense wat sê: “Ek kom nie regtig in die kerk nie. Kyk, ek glo in my Here, ek weet waar staan ek met Hom en Hy weet waar staan Hy met my. Dan is dit mos nie vir my nodig om kerk toe te kom nie. Ek sit liewer by die viswater en dink aan die kerk as wat ek in die kerk sit en dink aan die viswater.” Daar is, met ander woorde, mense wat sê dat geloof en kerk van mekaar losgemaak kan word..

God leer ons egter in sy Woord dat daar ‘n direkte verbintenis is tussen geloof en kerk — kerk en geloofsbelydenis kan eenvoudig nie losgemaak word van mekaar nie. Want God, broers en susters, bou juis sy kerk op ‘n ware geloofsbelydenis. En liewe finalejaar katkisant, dit is hoe God reageer op ‘n ware geloofsbelydenis. Vir Petrus het Hy gesê dat hy sy kerk daarop sal bou en daarom moet jy weet dat Hy vandag vir jou sê: op hierdie geloofsbelydenis van jou sal ek my kerk voortbou. Jy is vir God ‘n bousteen in sy kerk. Jou geloofsbelydenis het ook ewigheidswaarde — die sleutels van die koninkryk van die Hemel .

Verder gee God aan ons elkeen ook ‘n opdrag: Dit kan ook nie losgemaak word van ‘n ware geloofsbelydenis nie. Dit is nie maar net ‘n ja sê op iets wat in die verlede gebeur het nie, dit is gerig op die toekoms; dit is gerig op dit waarna jy gaan strewe in die toekoms. Dit is ‘n belofte dat jy gaan strewe om in dit toekoms gehoorsaam te wees aan God se opdrag. Dit is ‘n belofte dat jy God eerste gaan stel in jou lewe. Toe Petrus God se wil voorop gestel het was hy ‘n bousteen in God se kerk gewees, maar die oomblik toe hy mensewil voorop gestel het, het Jesus baie skerp gereageer: Satan, jy is vir my ‘n struikelblok!

Soos wat dit met Petrus gebeur het, broers en susters, so gebeur dit ook soms met ons. Die een oomblik sal ons nog “ja” sê op God se opdrag; die een oomblik sal ons met soveel ywer en soveel oortuiging glo, en net die volgende oomblik is al ons beloftes en al ons mooi voornemens vergete. Die een oomblik is ons ‘n bousteen vir God en die volgende oomblik is ons ‘n struikelblok. ‘n Ware geloofsbelydenis is daarom nie eenmalig nie, maar moet telkens herhaal word. Ons moet maar keer op keer herinner word aan wat ons glo. Ons moet keer op keer mekaar weer herinner aan wat dit is wat tussen ons en God gebeur het — daarom bely ons elke Sondag opnuut ons geloof — en daarom sê elkeen van ons in sy hart ja netnou as die vrae aan die katkisante gevra word.

Laat ons dan vandag saam met ons finalejaars daarna strewe dat ons geloofsbelydenis ‘n ware geloofsbelydenis sal wees. En dat ons dit nie net vandag so bedoel nie, maar elke keer as ons ons geloof in die drie-enige God bely.
Amen