Matteus 27:57-61; 28:2-10

Die gevaar om op te hou om te probeer



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Miskien het dit ook al met u gebeur dat u vir die tweede keer na 'n bepaalde film gaan kyk het, en terwyl u daar sit, besef u dat u so pas iets gesien, verstaan of gehoor het wat u nie die eerste gesien, gehoor of verstaan het nie.

Of dalk het u al vir 'n derde of vierde keer u gunsteling boek, kortverhaal, gedeelte in die Bybel of gedig gelees, en skielik kom u agter dat u nou iets raak lees waaroor u in die verlede doodeenvoudig gelees het, of (en so sê ons dikwels wanneer dit met ons gebeur) iets wat beslis in die verlede nie daar gestaan het nie. Presies dit het my hierdie week oorgekom. En kom ek sê ietsie meer hieroor.

Die feestyd (die tyd rondom Kersfees en draai van die oujaar na die nuwejaar) is en was nog altyd vir my ‘n teken van (nuwe) lewe. Kersfees, eenvoudig, omdat God vir ons gebore is (wat dui op nuwe lewe), maar ook die draai van die oujaar na die nuwejaar: ‘n oue is verby, die nuwe kom, nuwe dinge kom, so amper asof ‘n nuwe lewe kom. Nuwe geleenthede, weer ‘n kans om dieselfde dinge nuut (en dalk beter) oor te doen, asook dinge om na uit te sien.

Om by hierdie gedagtes aan te sluit, het ek deur die Bybel geblaai om te kyk watter gedeeltes in die Bybel alles oor nuwe lewe praat. En natuurlik, broers en susters, het ek baie vinnig by die opstandingsverhale in die evangelies uitgekom. Want Jesus se opstanding beteken mos nuwe (eintlik ware lewe). Maar dit is ‘n tema vir ‘n ander geleentheid. Hoe dit ook al sy: so met die lees van hierdie gedeeltes gebeur die ding met my: ek lees iets raak in ‘n gedeelte wat ek seker al honderde kere gelees het. ‘n Gedeeltes wat ek amper uit my kop kan opsê, ‘n gedeelte waarvan ek selfs vir u kan sê presies hoe Matteus van Lukas se vertelling oor die opstanding verskil, of byvoorbeeld Johannes se weergawe daarvan teenoor dié van Markus.

Maar wat ek raakgelees het, broers en susters, het ek nooit vantevore opgemerk nie. Nie dat ek sê dat ander dit nog nie raakgesien het of selfs al daaroor geskryf het nie. Wat ek wil sê is dat God my hier verras het, en wel in so mate dat ek skielik besef het dat dit tog nie so verkeerd is om 'n dromer te wees nie: om te droom oor die toekoms, oor wat dalk kan wees en kan word, oor wat ‘n mens nog kan bereik, wat dalk alles nog waar kan word. Oor omstandighede wat dalk kan verbeter. Noem maar op wat ook vanoggend in u hart leef.

Maar voor ek met u deel wat ek hierdie week vir die eerste keer raakgelees het, kom ons kyk eers na die verhaal wat ons vanoggend saamgelees het. Dit was nog vroeg die Sondagoggend, dit was nog donker. Maar ook donker op 'n ander manier: Dit was donker in Petrus se hart omdat hy Jesus verloën het, dit was donker omdat die dissipels kort te vore Jesus heeltemal verlaat het, dit was donker omdat die Joodse leiers van Jesus se dood en opstanding 'n leuen wou maak.

Twee dae gelede was Maria Magdalena en die ander Maria (die moeder van Jakobus en Josef) die laastes wat by Jesus se graf gewaak het. Hulle was daar om sy liggaam voor te berei om begrawe te word. Hulle was daar om die bloed uit sy baard te was, om die bloed van sy arms en bene af te vee, om sy oë toe te maak, om vir die laaste keer aan sy gesig te raak.

En soos hulle die laastes was om by Jesus te waak, was hulle die eerstes wat hierdie Sondagoggend op pad was na sy graf. Die taak wat voor hulle gelê het was maar somber. Hulle afspraak was 'n afspraak met 'n lyk. (Onthou dat die twee Marias nie geweet het dat dit die eerste Paasfees was nie, hulle het nie geweet of gehoop dat die graf leeg sou wees nie.)

Daar was 'n tyd toe hulle drome kon droom. Toe hulle gehoop het dat Jesus, as die verwagte Messias, dalk koning sou word. Maar nie nou nie. Dit was te laat vir die onmoontlike. Want die voete wat op water geloop het was nou vol gate van die spykers. En die hande wat melaatses genees het, was nou stil. Al hulle edel verwagtinge is op die Vrydag aan die kruis vasgespyker. Al wat hulle nou kom doen het was om warm olie aan 'n koue liggaam te smeer.

So, dit is dus nie hoop wat hulle na die graf lei nie, eerder plig. Naakte toewyding. Hulle verwag ook niks daarvoor terug nie. Want wat kon Jesus hulle bied? Wat kon 'n dooie man bied? Hulle stap dus die pad af, nie om iets te ontvang nie, maar om te gee.

So is dit dikwels ook maar in ons lewens, broers en susters. Daar is tye wanneer daar van ons verwag word om ander te vergewe wat ons nie wil vergewe nie, om vroeg te gaan en laat te bly, om maar net weer geduld met iemand te hê. Om maar net weer alles self te doen, om maar net weer dieselfde goed oor en oor te doen. Dit is tye wanneer ons dan maar net doen wat ons moet doen.

So was die taak wat voor die twee Marias gelê het. Jesus se liggaam moes vir sy begrafnis voorberei word. Petrus het nie aangebied om dit te doen nie, hy was nêrens te vind nie. Andreas ook nie. Die owerspelige vrou wat deur Jesus vergewe is, die blindes wat gesond gemaak is, die melaatses wat genees is — niemand van hulle was daar nie. En daarom het die twee Marias maar besluit om die taak op hulle te neem.

Ek wonder of hulle nie dalk halfpad op pad na die graf gaan sit het en alles heroorweeg het nie. Dalk het hulle na mekaar gekyk en gesê: ‘Wat is die nut daarvan?’. Dalk het een van hulle van frustrasie die hande in die lig gegooi en gekla: ‘Ek is moeg daarvan om die enigste een te wees wat omgee. Laat Andreas of Petrus vir 'n slag iets doen. Of laat Natanael hom vir 'n slag as leier bewys’.

Of hulle wou omdraai of nie, weet ons nie. Maar ons kan bly wees dat hulle nie het nie. Dit sou tragies gewees het. Wat meer is, ons weet iets wat hulle nie weet nie. Ons weet dat God by hulle was, dat die Vader besig was om hulle dop te hou. Maria en Maria het gedink hulle was alleen. Maar hulle was nie. Hulle het gedink dat niemand van hulle reis geweet het nie. Maar hulle was verkeerd. God het geweet. Hy het gekyk hoe hulle tree vir tree die pad afgestap het. Hy het hulle treë getel. Hy het geglimlag en was ontroer deur hulle toewyding. En bo alles, Hy het vir hulle 'n verassing of twee gehad.

Want skielik was daar 'n aardbewing, 'n engel het van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit. En juis hier, broers en susters, moet ons mooi lees om nie weer oor 'n baie belangrike saak in hierdie verhaal te lees nie. Waarom het die engel die klip weggerol? Vir Jesus, sodat Hy uit die graf kon kom? So het ek altyd gedink. Maar kom ons dink 'n bietjie daaroor.

Was dit nodig vir die klip om weggerol te word sodat Jesus kon opstaan? Sou ‘n klip in die pad kon staan van Hy was Hy wat die dood oorwin het? Ek dink nie so nie, en buitendien, die vertelling impliseer baie duidelik dat Jesus reeds uit die graf was toe die klip weggerol was.

Maar vir wie is die klip dan weggerol? Luister wat die engel sê: ‘Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het’. Met ander woorde, die klip was nie weggerol sodat Jesus kon uitkom nie, maar dat die vroue kon inkyk. Dat hulle kon sien dat Jesus opgestaan het, dat hulle weer kon begin hoop.

En soos hulle hulle haas na Galilea om dit vir Petrus en die ander te vertel, kom die tweede verassing: skielik het Jesus voor hulle gestaan en met hulle gepraat. Dit was amper of God wou sê: ‘Ek kon nie langer wag nie, julle het so ver gekom om my te sien, julle was so hooploos en terneergedruk, maar kyk, ek lewe, en daarom sal julle lewe. Alles gaan vir julle nuut word. Kyk, Ek is in julle lewens teenwoordig, en daarom kan julle droom, daarom is julle toekoms oop’.

God doen dit aan die wat Hom getrou volg, broers en susters. Net toe die moederskoot te oud word vir babas, toe word Sara swanger. Net toe mislukking en sonde Dawid wou onderkry, vergewe God hom. En net toe die pad te donker wou word vir die twee Marias, verskyn Jesus aan hulle, tree God in hulle situasie in, en sou hulle lewens nooit weer dieselfde wees nie.

Ek wil weer sê: God doen hierdie dinge vir die getroues. Dalk het u, toe u jare gelede belydenis van geloof afgelê het, dit werklik bedoel toe u gesê het dat u u elke dag sal bekeer, en die Kerk en die werk van die kerk met toewyding sal ondersteun. Maar dit het nooit gebeur nie. Wat meer is, u persoonlike verhouding met God is lankal ook nie meer as dit wat en waar u dit self wil hê nie.

Dalk lê ook soveel van u ander drome in skerwe. U sal weet wat dit is. Planne het dalk nie uitgewerk nie. Beloftes het nie gerealiseer nie. Of dit wat nog daar was, en sinvol was, het ook die pad gevat. U sal in u hart weet, uit u eie lewe, waarvan ek nou praat.

Dit is wanneer ons so voel, broers en susters, dat die boodskap van hierdie gedeelte — soos Jesus Christus reg voor die twee Marias gaan staan het, ook reg voor ons kom staan. ‘n Boodskap wat sê: moenie moed opgee nie. Is die pad donker? Hou maar net aan. Is die pad lank? Moenie ophou stap nie.

Moenie ophou probeer nie. Moenie moed opgee nie. En moet nooit ophou droom nie. Want God weet van ons. Hy hou ons dop. Vir al wat u en ek weet, sê Hy nou vir die engel om die klip uit u pad te rol. Miskien is God nou besig om u gebed te verhoor, miskien laat God dit so gebeur dat u lewe van môre af totaal anders verloop.

Daarom, moenie ophou probeer nie. Hou maar aan om daardie verbintenis wat u op ‘n keer met Jesus Christus aangegaan het, uit te leef. Al is dit hoe moeilik. Al voel u niks gebeur eintlik nie. Al voel u dat u al te veel kere gefaal het.

Maar moenie tou opgooi nie. Want as ons dit vandag doen, mis ons dalk môre se antwoord op al die jare se gebeure. Mis ons dalk volgende week die geleentheid om raak te sien hoe God ons wil verras.

Want dit is die gevaar wat geleë is in ophou probeer: dat ons nie sal raaksien dat God vir ons die klip uit die pad rol nie.

Mag ons in die nuwe jaar nooit moed opgee nie, want dan sal ons nie een oomblik mis van al die kere wat God sal kom en kom verras nie!
Amen