1 Petrus 1:3-9

Die hoop wat God gee



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Dit is nie moeilik om die wêreld wat op ons wag in 2006 te teken nie.  Vir duisende jare al woed daar iewers op moederaarde konflik en oorlog.  In 2006 sal dit ook so wees.  Statistieke vertel ons dat in die 20ste eeu (wat volgens baie die hoogtepunt van die beskawing moes wees) nie minder as 191 miljoen mense in hierdie konflikte en oorloë gesterf het.  In 2006 sal hierdie getal vermeerder.  Statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie toon in elk geval dat daar tans 35 mense elke uur iewers in die wêreld aan gewapende konflik sterf.

Vir baie van ons sê hierdie situasie en syfers niks nie.  Want dit is vir ons daar vêr.  Iewers.  Gelukkig nie by ons nie.  En so sit ons daarom dikwels, broers en susters, en kyk in ons sitkamers op die TV na beelde van bebloede lyke, verwronge metaal, geboue wat pynhope geword het en ontwortelde kinders en ou mense, maar dit raak ons eintlik nie.

Tog is hierdie soort van wêreld nie so vêr van ons af nie.  Want op eie bodem lees ons en hoor ons daagliks van sinlose moorde, verkragtings en doodslag in ons land.  Onskuldige vrouens wie se motor langs die pad onklaar geraak het word deur onbekende verbygangers doodgeskiet sonder om iets te roof.  Bejaarde boere word feitlik daagliks op barbaarse wyses doodgemaak.  Mense is bang om in die aand selfs kerk toe te gaan, en sommige mense gaan nie uit hulle huise as dit werklik noodsaaklik is.  En ja, broers en susters, vir ons wat nog nie onder ‘n kaping of gewapende roof of huisbraak deurgeloop het nie, is hierdie dinge soms ook vêr.  Dit raak ons nie werklik nie.

Maar die geweld in ons samelewing lê nog nader.  Baie huishoudings is vol onvrede, met ‘n ander soort van konflik teenwoordig.  Daar is haat en nyd, en verbale aanranding is aan die orde van die dag.  Maar ook daarmee het sekere mense, lyk dit, geleer om mee saam te leef.

Ja, broers en susters, ons leef in ‘n wêreld van geweld, seer, verlies, kommer, bang wees, haat, oorlog en doodslag.  Daarom het so baie mense moedeloos geword.  Nie ophou lewe nie.  Nee.  Ons leef nog.  Maar met ‘n stuk moedeloosheid wat ons dikwels met ons saamdra.  Waar ons kan, probeer ons maar aanpas.  Toegee.  Stilbly.  Maar moedeloos het baie geword.  En hoop opgegee.  So hoop opgegee, dat mense nie meer hoop het nie.

Dit het ek hierdie week weer besef toe ek na ‘n liedjie van Theuns Jordaan geluister het.  Luister gerus wat sing hy:

Kyk die waansin loop met ‘n masker op,
en die tyd gaan verby, maar die toekoms stop.
Voor die vensterraam lê ‘n ope boek,
waarin die wind alleen na rigting soek
Ek sit en ek staar en ek wens dat ek niemand was,
geen naam, geen lewe, geen verlede,
geen dag wat op my wag -
nes ‘n skadu in die nag

Baie lewe, maar sonder ‘n toekoms.  Baie min het nog rigting.  Mense voel hulle is niks meer nie.  Sommige mense het nie eers meer ‘n verlede nie.  Geen dag wag nie.  Alles is soos ‘n skadu in die nag.  En wat is ‘n skadu in die nag?  Niks.  Daar is nie so iets nie.  So het baie mense geword.  Hulle is nie meer iets nie.  En daarom hoop hulle nie meer nie.  Hulle het hopeloos en hooploos geword.

Om te kan lewe, broers en susters, om werklik en voluit deel van God se skepping te kan wees, het ‘n mens egter hoop nodig.  En praat jy met mense oor die soort goed wat in die lewe gebeur, dan hoor jy dit duidelik – al word dit nie onder hierdie spesifieke woord(e) gebring nie – ons het hoop nodig.  Hope hoop nodig.  Daarom: kom ons praat vanoggend so bietjie met mekaar oor hierdie woordjie ‘hoop’.

Duisende jare terug het die filosoof Plato gesê dat dit wat die mens van die res van die skepping onderskei is die feit dat de mens kan hoop.  Die kraaie in die lug hoop nie.  Klippe hoop nie.  Maar mense hoop.  Emil Brunner het pragtig gesê dat hoop vir die mens soos suurstof vir die longe is.  Sonder hoop sterf die mens.  Sonder hoop versmoor die lewe jou.

Daarom hoop mense met oorgawe.  Ons soek silwer randjies om donker wolkies.  Ons hoop more is mooier.  Ons hoop die jaar wat kom is beter as die een wat verby is.  Of dit nou die uitslag op ‘n bloedtoets of klastoets is, ons hoop vir die beste.  Ons hoop die matrieks van verlede jaar sal werk kry.  Ons hoop alles sal nie duurder word nie.

Maar wat beteken dit om te hoop, broers en susters?  Wat beteken dit prakties?  Party mense sê om te hoop is om in te sien dat wat met jou gebeur, nie so erg is nie.  Dinge kon altyd erger gewees het.  Jy ry in iemand vas.  Maar dit is nie so erg nie.  Jy kon in duie verkeerskonstabel se motor vasgery het.  Jy breek jou been.  Sien in dat dit nie so erg is nie, want jy kon albei bene gebreek het.

Of: hoop beteken eintlik maar net hoop op hoop.  ‘Ek hoop maar vir die beste’, sê mense soms.  Ek hoop maar dit sal beter gaan.  Al het ek geen versekering dat dit so sal wees nie.  Al weet ek dinge sal eintlik nooit beter wees nie.  Dus: ek hoop maar dat my poginkie tot hoop iets sal beteken.

Maar wat, broers en susters, as jy een oggend opstaan en besef dat die kankerselle nie gaan ophou groei nie?  Wanneer jy besef jou besigheid gaan dit nie maak nie.  Vandag gaan nie mooier as gister wees nie.  Dat dinge nie erger kan wees nie.  Dat my hoop dat ek maar mag hoop hopeloos geword het.  Wat dan?  Wat gemaak as sogenaamde ‘positiewe denke’ nie meer werk nie?

Dan, broers en susters, dit is dan wanneer ‘n mens besef dat jy ‘n ander soort hoop nodig het, ‘n hoop wat hierdie wêreld jou nie kan gee nie, ‘n hoop wat God alleen aan jou kan gee.

Wat is hierdie hoop wat God alleen aan ons kan gee?  1 Petrus 1:3-4 verduidelik dit so.  Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat.  Maar wanneer God aan ons die geloof gee, saam met sy Gees, dan word ons nuut.  Ons natuur verander.  Ons word nou van nature geneig om God en ons naaste lief te hê.  Dit kom nie uit onsself nie.  God doen dit vir ons en in ons.  Ons word nuut, en lewe nuut.  Die Bybel noem dit die weergeboorte van die mens.

Presies dieselfde, sê 1 Petrus, geld vir hoop in die mens se lewe.  Om werklik te kan hoop, teen alle omstandighede in, selfs daar waar dit nie erger kan wees nie, is alleen moontlik as God jou nuut gemaak het, as God aan jou ‘n lewende hoop gegee het, sê 1 Petrus 1:3.  ‘n Lewende hoop omdat Jesus lewe.  Omdat Jesus die graf oorwin het.

Kom ons sê dit anders: Christelike hoop is opstandingshoop.  Dit is hoop wat gevestig is op iets wat gebeur het en nie kan verander nie.  Dit is hoop wat nie afhanklik is van ons nukke en grille, ons sentimente en gevoelens, ons pessimisme of optimisme, ons hoop of wanhoop nie.  Dit is hoop wat gegrond is op ‘n leë graf, en op iets selfs nog verder terug: op God se groot ontferming.  In kort: die Christen se hoop is geanker in die barmhartigheid van God en die leë graf van sy Seun.

Met ander woorde: so seker as wat Jesus opgestaan het, so seker kan ons weet, kan ons hoop, dat God barmhartig sal wees.  Dat Hy altyd daar vir ons sal wees.  Al lyk dinge of dit nie erger kan wees nie.  Al lewe ons in ‘n 2006 wat lyk soos dit lyk, al lewe ons in ‘n wêreld vol haat en nyd en konflik wat afspeel in woestyne, kantore en sitkamers.  Want omdat Jesus Christus lewe, is Hy ook daar.  En waar God is, is daar hoop en hoop vir nuwe lewe, want God is lewe, want God alleen maak nuut.

Iemand het daarom op ‘n keer dit pragtig en reg gesê: wanneer God aan ons sy hoop gee, laat dit ons drome droom en gesigte sien van hoe alles kan wees.

Meer nog: omdat God aan ons hierdie lewende hoop gee, begin ons nuut en anders te lewe.  Omdat Hy ons ‘n hoop gee gevestig in sy opstanding, raak God se mense opstandig oor dit wat rondom hulle verkeerd is.  Omdat God se hoop gevestig is in sy ontferming (barmhartigheid), word sy mense ook vol ontferming vir ander en barmhartig teenoor ander.  In kort, God se hoop verander nie alleen die mens van God se eie lewe nie, dit maak die mens van God se lewe so nuut, dat hy of sy ander mense se lewens ook nuut begin maak.

Ons het so pas Kersfees gevier.  Ons het Jesus Christus as die Vredevors aanbid.  As die Een wat vrede gebring het.  Wie deur God nuut gemaak is, die een aan wie God sy lewende hoop gegee het, kan daarom ook nie anders as om vrede te leef en te bring nie.

Want, sê 1 Petrus 1:9, die hoop wat God gee vervul sy kinders met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.  Dit maak God se mense soos wind wat ‘n vars briesie in die wêreld inwaai, wat soos ‘n vars briesie die muwwe en doodse atmosfeer van hooploosheid verander in ‘n gryp na die lewe, ‘n gryp na elke moontlikheid in die lewe, dit laat ander selfs lewe.

En so ‘n lewe, broers en susters, ‘n lewe vol van God se hoop, omdat God nuut gemaak het, dit is ‘n lewe met ‘n toekoms.  Dit is nie maar net ‘n skadu in die nag nie.  Inteendeel.  Dit verdryf alles skaduwees.  Want dit wys dat lewe in God, saam met God, ware en moeitewerd lewe is.

Mag ons in die jaar wat kom almal God se hoopdraers wees, hoopdraers wat ook iets sigbaar maak van God se ontferming en liefde.  Terwyl ons elke dag lewe met die vaste wete: so seker as wat Jesus opgestaan het, so seker kan ons hoop.  So seker kan ons weet sy ontferming sal elke dag saam met ons stap.  Al lyk ons wêreld of omstandighede hoe!
Amen