Johannes 6:1-15

Dit wat God God maak



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons het al in daardie situasie beland waarin 'n mens na die gepaste antwoord of opmerking soek, maar dit net nie kan vind nie. En dan die hele volgende week loop en dink: Ek wens ek het dit of dat gesê.

Een spesifieke keer wat dit met my gebeur het was by 'n byeenkoms waar predikante van verskillende kerke en allerhande affiliasies bymekaar was om te praat oor een of ander godsdienstige saak. Ek kan nie eers meer onthou waaroor dit gegaan het nie.

Langs my het 'n evangelis gesit en na die uitruil van 'n paar gedagtes so tussen mekaar het hy met die volgende gekom: Nee wat, ek werk nie meer vir 'n kerk of gemeente nie, ek preek elke week op 'n ander plek by ope byeenkomste. Want die kerk is dood, verlore, op pad hel toe en siek tot in sy diepste wese.

Daarom, wanneer ek preek, skud ek hulle so bietjie wakker, want Christene is aan die slaap. Hulle bid nie. Hulle het mekaar nie meer lief nie. Hulle gee nie meer om nie. Nee wat, hulle is te vet, te ryk en almal te lui.

Dit moes 'n mens seker nie ontstel het nie, broers en susters, want wat hy kwytgeraak het was darem seker nie heeltemal en alles waar nie. Maar vir my het dit. Ek was ongemaklik. En wat meer is, ek het die hele week wat gevolg het geloop en gewens dat ek die prediker gepas kon geantwoord het. En wat ek sou gesê het, sou die volgende gewees het:

God se getrouheid het gelukkig nog nooit afgehang van die getrouheid van sy kinders nie. Hy bly getrou, selfs al is ons nie. Wanneer die moed ons ontbreek, ontbreek dit Hom nie. Wanneer ons lui is, bly Hy werk. En wat meer is, die geskiedenis is vol van voorbeelde dat God mense gebruik ten spyte daarvan dat hulle swakke en sondige mense is.

Ons gedeelte van vanoggend, die voeding van die 5000, is maar net nog een voorbeeld van baie. Die dag begin met die nuus van die dood van Johannes die Doper. Dan volg die terugkeer van die dissipels na hulle kort, maar tog baie suksesvolle sending waar hulle duiwels uitgedryf en baie mense gesond gemaak het. En saam met hulle kom 5000 mense.

Jesus, vertel Johannes ons, het probeer wegkom om in stilte oor sy vriend te rou, miskien om te gaan dink, heel waarskynlik om alleen te wees met sy getrouste volgelinge, maar nou was Hy omring deur 5000 honger mense.

Daarom draai Hy na Filippus en vra `Waar kan ons brood koop sodat die mense kan eet?’ Onthou, hou nou in gedagte dat Filippus kort vantevore met groot sukses duiwels uitgedryf en mense gesond gemaak het. Dit, terwyl hy die afgelope paar weke saam met Jesus gereeld gesien het dat die onmoontlike telkens kan gebeur.

Daarom sou 'n mens miskien verwag het dat Filippus optimisties sou wees, dat 'n bietjie meer as die gewone geloof sou gepas het. Maar hoe reageer hy: amper soos die evangelis wat ek tydens daardie byeenkoms ontmoet het. Bewus van die probleem, maar met geen idee hoe om die probleem op te los nie. Hy kan die statistieke aanhaal, maar weet nie wat om daarmee te doen nie. Hy kan syfers uitryg, maar kan nie met 'n oplossing vorendag kom nie.

Soos Filippus: `Ons sal almal 'n maand lank moet werk om 'n stukkie brood vir elkeen van hierdie mense te kan koop’. En die ander dissipels vaar volgens Johannes ook nie veel beter nie: `Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop’.

Wat Jesus eerder sou wou hoor, broers en susters, meen ek sou die volgende wees: `U kan vir hulle kos gee, Jesus. Want geen uitdaging is vir U te groot nie. Ons het gesien hoe u siekes genees en dooies opwek; daarom weet ons U kan die skare voed’. Maar dit is nie wat hulle gesê het nie. As geloof 'n kers was, was hierdie mans in die stikdonker duister.

Met ander woorde broers en susters, dit het nooit by die dissipels opgekom om die probleem vir Jesus te gee nie. Andreas, sou ons kon sê, het darem naby daaraan gekom: `Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies. Maar wat is dit vir so baie mense?’

Darem miskien 'n idee, maar nie met baie geloof nie. Om die waarheid te sê, daar was maar min geloof te kry daardie dag op die heuwel waar almal saam was. Filippus was sinies, Andreas was vol twyfel. En die ander was negatief.

Die evangelis op die byeenkoms wat ek ontmoet het sou met ander woorde baie tuis tussen hulle gewees het. Kyk na hulle, sou hy kon sê as hy daar was: hulle bid nie. hulle glo nie, hulle soek nie eers na 'n oplossing nie. Al wat hulle doen, en kan jy dit glo, is om vir Jesus te sê wat Hy moet doen: `Stuur die mense weg!’ Dus, miskien was die evangelis tog reg gewees. Miskien was die dissipels en is die kerk te gemaklik in hulle geloof. Miskien is almal tog maar te lui. Miskien wil niemand in die geloof waag nie. Miskien is die kerk tog siek tot in sy diepste wese.

Maar dat die kerk en almal in die kerk sogenaamd, om nou selfs die woord te gebruik, op pad hel toe is, broers en susters, kan ek nie saamstem nie. Want God is groter as ons swakheid. Inteendeel. Ons swakheid toon juis hoe sterk God is. Want het Hy nie vir Paulus gesê: `My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’

En hiervan is die voeding van die 5000 'n pragtige voorbeeld. Want hierdie toneel antwoord pragtig die vraag: `Wat doen God wanneer sy kinders swak is?’ Gebruik Hy dit as 'n ekskuus om moed op te gee met hulle? Verban Hy hulle totdat hulle besluit om weer te begin glo? Aanvaar Hy hulle net weer terug wanneer hulle een of ander geloofstoets geslaag het?

Kyk wat sê Johannes: Hy het die brood geneem, God daarvoor gedank, en dit aan die mense wat daar was, uitgedeel, ook van die vis, soveel as wat hulle wou hê.

Toe die dissipels nie gebid het nie, het Hy gebid. Toe die dissipels se geloof nie in staat was om God te sien nie, het Jesus God in hulle midde geplaas. Toe hulle swak was, was Jesus sterk. Toe hulle geloof gefaal het, het Jesus in geloof tot God gebid.

Maar waarvoor? Hoekom? Miskien 'n belangriker vraag as wat ons kan vermoed. Vir die skare? Omdat daar chaos was? Omdat almal moeg en honger was? Nee: omdat Hy ten minste daarmee wou toon dat Hy nie met ons moed opgee nie. En wat meer is: dat Hy ons gebruik soos ons is. Want kyk wat maak Hy: die ongelowige dissipels is die wat aan die ander die kos moet uitdeel.

As Jesus, broers en susters, opgetree het volgens sy dissipels se geloof, sou die skare honger gely het. Net so: as God moet optree op grond van hoe ons geloof soms is, sal daar ook niks gebeur nie. Maar God doen dit nie. Nie op daardie heuwel tussen 5000 nie, ook nie vandag nie. God is getrou selfs wanneer ons van Hom vergeet. Sy getrouheid word nie bepaal deur ons getrouheid nie.

Wat meer is: sy seën word uitgedeel volgens die rykdom van sy genade, en nie volgens die diepte van ons geloof nie. Hoor maar wat sê Timoteus in hierdie verband: `as ons ontrou is - Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie’ (2 Tim 2:13).

Waarom is dit belangrik, broers en susters, om dit weer te hoor en te weet? Veral so aan die begin van die nuwe jaar? Kyk maar om u rond. Wat sien u? Meer monde as wat daar kos is? Meer ongelukkiges as gelukkiges? Meer siekes van hart en gemoed as gesondes? Meer geweld as vrede? Meer onreg as reg? Meer negatiwiteit as positiwiteit?

Of: hoe voel u oor die jaar wat kom? Opgewonde? Negatief? Vol moed? Vol hoop? Of vol wanhoop? Wil u moed opgee? Wonder u wat alles op u pad gaan kom?

Hoor dan: As ons ontrou is, Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie. Sy seën word uitgedeel volgens die rykdom van sy genade, en nie volgens die diepte van ons geloof nie. Sy getrouheid word nie bepaal deur ons getrouheid nie.

Dit is wat God God maak, broers en susters. Dit is wat elke dag die moeite werd maak. Dit is wat elke jaar die moeite werd maak. Dit is wat die lewe die moeite werd maak.

Dat God getrou is, al is sy kinders nie. Wie dit nie glo nie, is die ellendigste van alle mense.
Amen