Matteus 14:22-33

‘Ek is’



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Op 13 September 2001 het Frank Silica die veters van sy stewels vasgemaak, sy hoed opgesit en by die deur van sy huis in New Jersey uitgeloop. Eintlik was hy ‘n konstruksiewerker, maar die afgelope twee dae het hy as vrywilliger by die Wêreldhandelsentrum (die sogenaamde Tweetoring-gebou) wat inmekaar gestort het nadat ‘n vliegtuig in elk vasgevlieg het, uitgehelp.

Op daardie dag het Frank gehoop dat hy dalk nog saam met die ander ‘n aantal lewendes uit die puin sou kon haal. Maar hy het nie. Hy het sewe en veertig dooies gevind.

Maar te midde van die slagting het hy op ‘n geweldige simbool afgekom — ‘n ses meter hoë kruis van ysterbalke gemaak. Die ineenstorting van Toring en op Gebou Ses het ‘n snaakse holte in die bouval gevorm, en in hierdie holte het die toring gestaan. Geen katrol het dit daarheen opgehys nie, geen sement het dit vasgehou nie, sonder mensehulp of menseskepping het dit daar gestaan. Etlike dae later het die ingenieurs besef die balke van die groot kruis het uit twee verskillende geboue gekom. Toe die een gebou op die ander ingetuimel het, het die twee balke as gevolg van die geweldige hitte van die brand aanmekaar vasgesmelt.
‘n Geweldige simbool tussen skerwe. ‘n Kruis te midde van ‘n krisis. ‘Waar is God in dit alles’, het almal gevra? Net daar in die middel, het hierdie vreemde kruis gesê.

Kan dieselfde, broers en susters, oor ons lewens gesê word. Oor ons krisisse, oor die jaar wat verby is, oor die jaar wat kom? Wanneer die ambulans met ons kind wegry, wanneer ons sonder enige hoop of uitsig 2004 ingaan (of ten minste: sonder enige geesdrif of werklike opgewondenheid), wanneer die ekonomie my aftreegeld insluk, wanneer my kinders nou finaal die huis verlaat het en ek/ons alleen is — kan ons, soos Frank, Christus in ons lewens en krisisse vind?

Ons kan, broers en susters. Ons kan. Ons kan die ambulans hanteer — as God in daardie ambulans is, ons kan die waaksaal sluk — as God daarin is, ons kan die leë huis in die gesig staar — as God daarin is. Maar is Hy? Is God by ons? En sal Hy by ons wees in die jaar wat kom? Matteus wil vanaand vir ons hierdie vraag beantwoord.

‘n Storm op die mere van Galilea was die een ding wat vissers in daardie tyd die meeste gevrees het. Die noordelike vallei in Galilea het ‘n windtonnel gevorm wat windvlae saamgepers en oor die meer gestuur het. Drie tot vier meter hoë golwe was algemeen.

Matteus se vertelling in Matteus 14 begin teen sononder. Jesus bid op die berg en die dissipels in die skuit is vreesbevange. Hulle was reeds, vertel Matteus 14:24 ons, ‘reeds ‘n paar kilometer van die kus af en deur golwe geteister’. En wanneer het Christus na hulle toe gekom? Matteus 14:25 antwoord die vraag: eers teen dagbreek die volgende oggend. Dus, hulle was die hele nag op die see. Dit was stormagtige ure. Seker lank genoeg vir meer as een dissipel om te gevra het: ‘Waar is Jesus? Hy weet ons is in die skuit. Om hemelsnaam, dit was tog sy idee. Is God dan nêrens naby nie?’

En dan kom die stem uit die storm: ‘Ek is’. Jesus praat. ‘Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie’. ‘n Letterlike (woord vir woord) vertaling van hierdie vers, broers en susters, lees: Hou moed. Ek is. Moenie bang wees nie!. Julle is nie alleen nie. Saam met julle in die storm is God wie geken word as ‘Ek is’.

En het ons nie al voorheen, broers en susters, hierdie woorde gehoor nie?

  • Vanuit die brandende besembos praat God met Moses en sê: Ek is wat Ek is.
  • Wanneer Jesus met die Jode in gesprek gaan oor dat hulle nie in Hom wil glo nie, sê Hy in Johannes 8:58: ‘Voordat Abraham al gebore is, was Ek al wat Ek is.

En amper half om seker te maak dat ons dit verstaan, broers en susters, herhaal Christus hierdie woorde keer op keer:

  • Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:48);
  • Ek is die lig vir die wêreld (Joh 8:12);
  • Ek is die ingang (Joh 10:9);
  • Ek is die goeie herder (Joh 10:11);
  • Ek is die Seun van God (Joh 10:36);
  • Ek is die opstanding en die lewe (Joh 11:25);
  • Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6);
  • Ek is die ware wingerdstok (Joh 15:1)

Anders gesê: Ek is die teenwoordige tyd Christus. Ek is die hier Christus. Let op: Jesus sê nooit ‘Ek was’ nie. Ja, ons doen dit. Ons doen dit juis omdat ‘ons was’. Ek was jonger, vinniger en mooier. Ek was beter. Ek was gesonder. En so dink ons terug. Want ons is maar mos geneig om verlede tyd mense te wees. Ons tob. As dinge maar net kan wees soos dit altyd was, soos dit vroeër was. As volgende jaar maar net soos die of daardie jaar was. Maar God doen dit nie, broers en susters. Hy sê nooit ‘Ek was’ nie. Want die hemel het nie truspieëltjies nie.

Ook het die hemel nie kristalballe nie. Want God sê ook nooit, broers en susters, ‘eendag sal Ek wees nie’. Maar weer eens, ons doen dit. Deur drome gedryf wil ons allerhande dinge bereik. ‘Ja, eendag, eendag, gaan ek dit wees of dat wees’. Nie God nie, broers en susters. Want kan water natter word? Kan wind windloos word? Kan God meer God word?

Nee, God kan nie. Want Hy verander nie. Want Hy is die ‘Ek is’ God. Nie die ‘God was’ of ‘God wat sal wees’ nie. Hy is die ‘Ek is’ God. ‘Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid’, sê Hebreërs 13:8 dit pragtig.

In die middel van die storm roep Jesus ‘Ek is’. In die puinhope van die Wêreldhandelsentrum sê daardie kruis ‘Ek is’. In die waaksaal by my kind sê Jesus ‘Ek is’. Op die slagveld van die lewe, in die raadsaal, in die tronksel, in die kraamsaal, waar ook al u en ek of die storm van die dag is, daar roep Jesus Christus: ‘Ek is’. En as die klok slaan en 2004 breek aan, sê Jesus Christus: ‘Ek is’. Ek is in die middel van jou bestaan as mens.

Selfs ons gelese gedeelte sê dit op ‘n pragtige manier. Die vertelling bestaan uit twee gedeeltes, elk ses verse lank. Vanaf vers 22 tot 27 word vertel van Jesus se wandeling op die see. En vers 28 tot 33 vertel ons van Petrus se geloofs- ongeloofswandeling. En presies in die middel van hierdie twee verhaaltjies net twee woorde: ‘Ek is’.

God, broers en susters, klim in alles in, om dit so te stel. Hy klim in die Rooisee in, in groot visse se mae in, in leeukuile in brandende oonde in . Ja, ook in bankrot besighede in, in tronkselle in, in hospitaalteaters in, in waaksale, intensiewe afdelings, begrafnisse, noem maar op. Maar ook is Hy in my kind se skooljaar, my werk, my verdienste, by troues, by feeste, in my sukses, en ja, in elke jaar. Ook 2004.

Frank Silica het Hom in die middel van al daardie puin en menseslagting gesien. Al het hy daardie dag drie en veertig dooies gevind. Matteus het Hom in die middel van daardie storm gesien. Al het Petrus in die water ingesink.

En u en ek? Sien ons Hom ook in die middel van alles wat daar te siene of te beleef is? Kyk net mooi. Hy is daar. In die middel van alles. Ook in 2***. Want Hy is ‘Ek is’. Nie ‘Ek was’, of ‘Ek sal wees’ nie. Nee. Ons God is ‘Ek is’. Die teenswoordige-God.
Amen