Esra 8:1, 15-36

God is in beheer



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In Johannes 1 lees ons hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het, onder andere Filippus. Filippus het toe vir Natanael raakgeloop, en vertel vir hom dat hulle dié Een gevind het van wie Moses en die profete geskryf het, naamlik Jesus van Nasaret. Natanael se spontane reaksie was die bekende vraag: `Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?' (Joh 1:46).

Wel, 'n soortgelyke vraag kan ek myself voorstel op die lippe van 'n klomp Joodse bannelinge 'n bietjie meer as 500 jaar tevore in Babilonië: `Kan daar uit Susa, die hoofstad van Persië, iets goeds kom?' Want sien, in die jaar 539 v C het daar 'n dramatiese wending in die geskiedenis gekom: koning Kores van Persië het die stad Babel ingeneem en die hele Babiloniese ryk verower. Wat sou dit vir die Jode inhou die mense wat so veertig, vyftig jaar vantevore deur koning Nebukadnesar van Babilonië uit Jerusalem en Juda weggevoer is en in Babilonië hervestig is? Kon hulle van die imperialistiese Kores enigiets beter te wagte wees as van Nebukadnesar? `Kan daar, dus, dalk uit Susa iets goeds kom?'

Wel, daar het. Want Kores het vir sy tyd 'n rare buitelandse beleid gevolg. Anders as die ander wêreldheersers van die ou Nabye Ooste het Kores nie die volke oor wie hy heers met mag en dreigemente probeer beheer nie; hy het hulle goedgunstigheid probeer wen. En een belangrike manier waarop hy dit gedoen het, was deur die volkere wat deur die Assiriërs en Babiloniërs uit hulle vaderlande weggevoer is, toe te laat om daarheen terug te keer.

Esra 1:2-3 vertel die verhaal soos volg: `Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem te bou. Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort...mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel'.

Juis dit is die onderwerp van die boeke Esra en Nehemia: die verhaal van die Jode se groot trek uit Babilonië, terug na Juda en Jerusalem. Volgens die boeke Esra en Nehemia het hierdie trek in drie fases plaasgevind: eers het 'n groep Jode teruggekeer om die tempel te herbou, daarna het Esra, die priester en skrifgeleerde, met nog 'n groep Jode na Jerusalem teruggekeer om die gemeenskap en hulle lewenswyse te hervorm, en uiteindelik het Nehemia met 'n volgende groep Jode teruggekeer om Jerusalem te herbou en die stadsmure te herstel.

Die belangrike ding om raak te sien, is die Bybel se getuienis oor die gebeure: God gebruik die magtige wêreldheerser Kores om sy volk te help. God stuur die regte mense (Esra en Nehemia) om die groot taak uit te voer. En: God sorg vir die mense aan wie Hy 'n belangrike opdrag toevertrou. Kortom, en dit is eintlik wat Esra hier wil sê: God is deurgaans in beheer.

Dit sien ons ook duidelik uit ons skrifgedeelte: eers het die Here 'n opregte en geleerde man, Esra, gestuur om sy verwarde mense in Juda te gaan opbou. Wanneer Esra vertrek, voorsien die Here ook die nodige priesters, Leviete en tempelslawe om hom in sy taak te ondersteun.

En wanneer Esra se geselskap uiteindelik die lang reis deur vreemde en gevaarlike gebiede aanpak, met 'n klomp waarde volle goed in hulle besit en sonder die beskerming van die keiser se soldate, vertel Esra 8:31: `Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande of rowers langs die pad nie'.

En dan, wanneer hulle die koning se opdragte aan die plaaslike owerhede, die goewerneurs van Wes-Eufraat, oorhandig, staan daar in Esra 8:36: `[H]ulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel'.

Wat, broers en susters, sou God se doel dan met al hierdie dinge wees? God wou verseker dat sy volk Hom weer kan dien. God wou sorg dat sy verbond met sy kinders voortgaan, deurgaan. God wou seker maak dat sy beloftes aan sy volk nie maar net by leë beloftes bly nie.

Eintlik is dit dus nie iets nuuts wat God hier in Esra doen nie. God maak dit nog altyd vir sy kinders moontlik om Hom te dien. Daarvoor gebruik Hy magtige konings, maar ook charismatiese rigters, begeesterde profete, toegewyde priesters, inspirerende herders en leraars en 'n oneindige getal opregte gelowiges in verskillende hoedanighede.

Hiervan getuig die Nuwe Testament ook op verskillende plekke. In die boek Handelinge lees ons bladsy vir bladsy hoe die Here God in die vroeëre kerk mense voorsien het om die evangelie die wêreld in te dra: Petrus, die Here Jesus se impulsiewe dissipel, saam met ander in Jerusalem. Paulus, die voormalige Fariseër, dwarsdeur die beskaafde wêreld van daardie tyd en tot in Rome, die hoofstad van die Romeinse ryk. Stefanus, Filippus, en talle ander van wie ons meestal nie meer die name ken nie, in haas elke dorp en stad van die Ou Nabye Ooste. Talle mense, geroep deur die Gees van God, toegerus deur dieselfde Gees. Sodat die eerste Petrusbrief later kan sê: `Die kerk van Jesus Christus is 'n uitverkore volk ... die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat (h)ulle ... geroep het' (1 Petrus 2:9).

Ja, ook van die hedendaagse lidmate van sy kerk, was gedoem om vir ewig vreemdelinge, bannelinge in die wêreld, bannelinge sonder God, te wees. Maar God het ons geroep, God het sy Seun gestuur, God het apostels gestuur. God het predikante gebruik, ouers, onderwysers, vriende almal om ons deel te maak van sy uitverkore volk.

Broers en susters, dan kyk ons vandag na die wêreld om ons na al die ellende en die onsekerhede, na al die hartseer en eensaamheid, na al die geweld en armoede en ons vra of daar vir Suid Afrika iets goeds uit Pretoria of Kaapstad kan kom? Of Witbank, of Kroonstad, of Kimberley of Pietermaritzburg?

Of ons kyk na die uitdagings wat op ons kerk se pad kom, en al hoe meer gaan kom, en ons vra: `Kan daar vir die Nederduitsch Hervormde Kerk iets goeds uit Pretoria kom, uit Potchefstroom of Potgietersrus, of uit Bloemfontein?' Of ons kyk na ons eie gemeente en ons vra: Kan daar vir hierdie gemeente iets goeds uit ons omgewing kom, of kan daar vir ons gemeenskap uit hierdie gemeente iets goed kom?

Ja, broers en susters, daar kan. Altyd. Want God is in beheer. Hy sorg vir sy uitverkore volk, vir sy kinders wat Hy liefhet. Hy verseker altyd dat ons Hom kan dien. Hy voorsien die leiers vir elke situasie. Hy gebruik tallose mense met verskillende gawes in verskillende omstandighede: predikante, ouderlinge, diakens, susters, jongmense, bejaardes, lidmate. En Hy hou sy beskermende hand oor elkeen wat in sy diens staan. En Hy rus dié toe wat Hy aanstel.

Daarom is dit ook in ons tyd, hier so by die draai van die jaar, in ons land, in ons kerk, en in ons gemeente, nie nodig om moedeloos te raak of net donker spoke te sien nie. Want soos die Here vir die Jode wat saam met Esra uit die ballingskap teruggekeer het, gesorg het, so sal Hy ook vir ons sorg. Dit leer ons gedeelte vir ons baie duidelik. God maak seker dat sy volk Hom kan dien. God sorg dat sy verbond met sy kinders voortgaan, deurgaan. God maak seker dat sy beloftes aan sy volk nie maar net by leë beloftes bly nie.

God is dus altyd by ons. Hy gaan waar ons gaan. Hy gee wat nodig is. Hy voorsien altyd. Hy sorg en sal sorg.

Mense wat dit werklik glo, broers en susters, weet God is hier by ons. Mense wat dit werklik glo, is mense wat die jaar wat op ons wag met moed en durf kan stormloop. Mense wat dit werklik glo is mense wat bereid is om deur God gebruik te word. Ja, mense wat dit werklik glo, is mense wat kan sê: niks is ooit verlore nie. Niks is ooit hopeloos nie. Niks is ooit onoplosbaar of onveranderbaar nie. Want God is in beheer.

En wat meer is: Daar kan iets goed uit Upington kom, en uit Witbank, of Kaapstad of Messina of Bloemfontein, of waar ook al.

Die vraag is net: Toe God in hierdie jaar wou gebruik, was ons bereid? En in die volgende jaar: wat sal dan ons antwoord wees?

Wie verstaan dat God en hoe God in beheer is, wie verstaan dat God se heerskappy (en verandering van die gemeenskap) ons insluit, ons kragte benodig, sal weet hoe om God in die jaar wat kom, daar waar Hy ons nodig het, te antwoord.
Amen