Matteus 1:1-16

God is in beheer



Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Die laataand nuus is selde ‘n goeie slaappil om te drink net so voor ‘n mens bed toe gaan. Dit ontstel ‘n mens nie altyd oormatig nie, maar laat ‘n mens soms so ‘n bietjie wakker en dink. Maar soms, soos laas week een aand, laat die nuus ‘n mens wakker lê. Dit het begin met ‘n verslag oor Amerika en die Weste se oorlog teen terreur. Toe is dit die oorlog in Afganistan. Die verspreiding van miltvuur in die VSA deur posstukke. Toe kom die wêreldwye ekonomiese depressie aan beurt. En natuurlik, die verval van die Suid-Afrikaanse Rand in die internasionale ekonomie. Bo-oor dit kom toe nog die sousie: die ineenstorting van die Argentynse ekonomie en die verdere impak daarvan op die Rand. Die petrol prys gaan waarskynlik die hoogte inskiet, en kospryse sal waarskynlik volgende jaar tot en met 40% styg.

Volgende op die lys was die kommer oor die presidentsverkiesing in Zimbabwe in 2002 en wat alles daarmee mag saamhang. Dit is gevolg deur meer plaaslike nuus: ontsteltenis hier in Pretoria oor die ineenstorting van ’n deel van die Kolonnade Inkopiesentrum waarin meer as 40 mense beseer is, sommige ernstig Dit is gevolg deur die slagting op die paaie, en die verskerping van misdaad en gewapende roof. Ten slotte was daar maar net weer ‘n berig oor die geweldige hoeveelheid verkragtings wat elke dag aangemeld word, en nie eers meer op vrouens nie, maar op kinders so jonk as vyf maande oud.
(Die liturg sal, wat hierdie inhoud betref, uiteraard na resente nuusgebeure moet verwys op die preek in die konteks van die lidmate te laat grondvat).

‘En dit is die wêreld vanaand’, het die nuusleser die nuus so half opgewonde afgesluit. En ek het gewonder: waaroor klink die man so opgewonde? Kan ‘n mens nog enigsins opgewonde probeer wees in ‘n wêreld wat so pas oor die nuus beskryf is? Kan ‘n mens nog hoop? Sal alles ooit weer regkom? Of ten minste net beter? En later, toe by die kinders ‘n draai maak om te kyk of alles reg is, kon ek nie anders as om te wonder toe hulle so lê en slaap nie: wat lê nog vir hulle voor? Wat gaan van hierdie wêreld word? Is daar vir hulle, en soveel ander jongmense, nog iets van ‘n toekoms oor?

Toe ek oor hierdie vrae begin dink het, broers en susters, het ek, vreemd genoeg, baie gou ‘n antwoord gekry. En van alle plekke, sommer in die heel eerste hoofstuk van Matteus. Nou nie juis ‘n baie boeiende en interessante gedeelte nie, sal ek toegee.

Maar ‘n gedeelte wat een boodskap, veral vir ons vanaand, baie duidelik wil tuisbring: ‘Bevrees vir die toekoms?’ vra Matteus? Geen rede daarvoor nie, gaan kyk maar net na die verlede. Want God het op ‘n keer ‘n Messias belowe deur die bloedlyn van Abraham, en Hy het sy woord gehou.
Desnieteenstaande dit wat die mense — wat Hy gebruik het om die Messias gebore te laat word — gedoen het. God het sy woord gehou, niks kon Hom keer nie.

Nie eers ‘n Abraham, die vader van sy volk, wat meer as een keer ‘n blatante leuen vertel het om uit die moeilikheid te kom nie;
of Jakob, Abraham se kleinseun, wat eintlik skelmer as skelm was nie. Hy het nie alleen sy broer verkul nie, vir sy pa gejok en later sy oom bedrieg;
of Juda, wat met sy skoondogter ‘n onbehoorlike verhouding gehad het;
of Batseba (wat op bedenklike plekke gebad het), en Dawid (wat Batseba maar te gretig dopgehou het);
Ragab se naam staan daar — die prostituut;
en dié van Rut ‘n uitlander;
en dan was daar Manasse, wat sy eie seun as offer verbrand het; en sy seun Amon, wat God openlik verwerp het.

Dus: dit lyk of die helfte van die konings skelms was, die res was bedrieërs, en met die uitsondering van enkeles, het almal ‘n afgod of twee aanbid.

Waarom, wil ‘n mens vra, het God hierdie mense gebruik? Hy het nie nodig gehad om dit te doen nie. Kon Hy nie beter mense gebruik het nie, wil ‘n mens amper vra. Wat meer is: waarom vertel die Ou testament vir ons al hierdie verhale? Hoekom word almal se misstappe soms so in detail beskryf?

Die antwoord is maklik. God weet dat ons, by wyse van spreke soms na die nuus luister en ontsteld raak oor wat ons alles hoor. God weet ons tob soms daaroor. Hy weet dit maak ons moedeloos. Hy weet ook dat dit ons soms so negatief maak dat ons nie kans sien vir ‘n môre, ‘n volgende week, om nie eers te praat van ‘n volgende jaar nie. En juis daarom wil God hê ons moet weet dat Hy kalm bly, dat niks Hom raak, wanneer dit vir ons lyk of die wêreld op loop gaan nie.

Die bewys daarvoor, vra u? Lees maar net die laaste naam op die lys van Jesus se geslagsregister. Ten spyte van al die tekortkominge en misdrywe van sy voorgeslagte, en daarmee saam alles wat oor hierdie tydperk van die geskiedenis gebeur het (vanaf Abraham tot by Josef, die man van Maria), is die laaste naam op die lys die eerste een wat belowe is: Jesus Christus.

Soos Matteus 1:16 dit stel: ‘Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word’. Punt. Geen ander name word genoem nie. Daar is niks meer nodig nie. Dit is asof God hiermee wil aankondig: ‘Kyk, Ek het dit gedoen. Presies soos Ek belowe het Ek sou. Niks kon dit keer nie’.

Hongersnood kon dit nie keer nie. Vier honderd jaar se slawerny in Egipte kon dit nie onderdruk nie. ‘n Swerftog in die woestyn kon dit nie verongeluk nie. Die Babiloniese ballingskap kon dit nie keer nie. Ook nie al die ander onreg waarvan ons in die Ou Testament lees nie. God is en bly in beheer.

Ook wanneer ons laat in die aand na die nuus luister en wonder wat van die wêreld gaan word. Wanneer dit vir ons klink en lyk of alles buite beheer geraak het. Wanneer ons moed ons begin begewe vir dit wat vir ons in die nuwe jaar voorlê.

Want ‘n atoomoorlog, broers en susters, is nie vir God ‘n bedreiging nie. Ekonomieë wat wipplank ry, intimideer nie die hemel nie. Leiers wat gryp en sug na mag, ten koste van alles en almal, laat God se plan nie ontspoor nie.

Want God bly in beheer. Dit wil Matteus 1 vir ons sê. God hou sy beloftes. En as u nie wil glo nie, gaan kyk maar self.

In die krip. Hy is daar.
In die graf. Hy is nie daar nie!

Sy beloftes hou stand. Hy is in beheer! Dit is iets, reken ek, waaroor ‘n mens opgewonde kan raak! Ja, dit maak die lewe die moeite werd. Mag [2002] vir u ‘n wonderlike en moeitewerd-jaar wees. En bo alles, mag u ervaar dat God nie alleen sy beloftes ook aan u persoonlik hou nie, maar dat Hy ook in beheer van u lewe is, en ook die lewe van u gesin.
Amen