Genesis 32:22-32

God, Jabbok en ons



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wil vanoggend met u praat oor God, oor Jakob, en oor die verhouding tussen God en Jakob. Anders gesê: ek wil saam met u praat oor ons God, ek wil met God praat oor ons (in die hoop dat u hier vanoggend met God sal praat oor uself), en oor ons verhouding met God (in die hoop dat u met God sal praat oor u verhouding met Hom).

En ek wil begin by Jakob, 20 jaar gelede. Eers steel Jakob die eersgeboortereg by sy broer met ‘n pot lensiesop, en dan, op ‘n skelm manier, kry hy by sy pa Isak die seën wat Esau moes kry. Dus: Jakob die bedrieër, Jakob die hakskeenbyter. Ons almal ken hierdie verhaal. Na hierdie gebeure vlug Jakob Kanaän toe. Waarheen hy vlug, maak nie eintlik saak nie. Wat saak maak is waarvan hy probeer wegvlug. Hy probeer wegvlug van sy verlede af. Altyd die maklikste opsie. Vlug weg van wat verkeerd is en eintlik reggemaak moet word. Vlug dit weg. Swyg dit dood. Ignoreer dit. En miskien, net miskien, sal dit weggaan.

Is dit nie, broers en susters, hoe ons as mense soms ook doen nie? Maak of wat gebeur het, dit wat verkeerd is, nie bestaan nie. Ignoreer dit. Swyg dit dood. Verkrag jou gewete. Leef jou lewe soos jy goeddink! Dit maak tog in elk geval nie saak nie. Want alles gaan tog eintlik net oor jouself. En solank jy dit kan hanteer, wat maak alles dan eintlik tog saak?

God, broers en susters, dink en doen egter nie so nie! God laat ons nie toe om te breek en te verwoes en dan maar net van alles te vergeet nie. So ernstig is God oor hierdie dinge dat Hy sy Seun gegee het om alles weer heel te kom maak. En met Jakob doen Hy presies dieselfde, want God verander nie.: 20 jaar later, kom God se opdrag aan Jakob: gaan terug na jou familie. Gaan maak die saak reg. Klaar dinge uit. Kry weer vrede. Vrede met ander, met my en met jou lewe. En so trek God vir Jakob terug in sy verlede in.

En hoe reageer Jakob? Op ‘n tipiese manier van sy tyd. En kom ek verduidelik: in die Bybelse tyd was die belangrikste ding in die lewe om deur ander as ‘n eerbare mens gesien te word. Wat beteken het dat jy moes doen, optree en lewe soos ander van jou verwag het. ‘n Pa was goed en eerbaar as hy sy huis kon beheer, ‘n vrou was eerbaar en goed as sy nie alleen water by die put gaan haal het, kinders was eerbaar as hulle aan hulle ouers gehoorsaam was.

Kom ek noem een verdere voorbeeld dat ons hierdie saak goed kan verstaan. Indien iemand jou vir ete nooi, moes jy aan hom ‘n plek aan tafel toeken wat by sy eer en status gepas het. Anders het jy skande oor so iemand gebring, hom in wese onteer. As jy iemand aan tafel met eer behandel het, het dit beteken dat daardie persoon jou weer vir ete moes nooi. Anders het daar skande oor hom gekom. En as hy jou eervol behandel het aan sy tafel, dan moes jy weer ‘n teenprestasie lewer. En so het dit aangegaan.

Presies dieselfde gebeur hier met Jakob en Esau. Jakob is in die skuld by Esau, dit is baie duidelik. Wat doen Jakob daarom: eers stuur hy boodskappers na Esau om te sê dat Jakob homself as Esau se mindere sien. Hy is onderdanig aan hom. En dan gaan Jakob verder: hy stuur aan sy broer ‘n geweldige groot geskenk vooruit. En dan die laaste deel van sy plan: hy stuur sy nabye familie (twee vrouens en elf kinders) ook vooruit na Esau.

En so is Jakob se plan in plek. Indien Esau ‘n eerbare man was, sou hy nou nie anders kon as om ook goed aan Jakob te doen nie. Jakob het gesê hy is sy mindere, hy het gesê hy is onderdanig aan hom, hy het die beste wat hy het vir hom gegee. En nou sou Esau eintlik geen ander keuse hê as om Jakob met ope arms te ontvang nie. ‘n Baie goeie plan, diplomaties en strategies eintlik briljant. Maar ook: ‘n plan wat beteken dat, as dit werk, die verlede maar die verlede kon bly. Sonder ‘n woord, sonder ‘n belydenis van skuld, sonder ‘n sweempie sleg voel sou alles maar net verdwyn.

God, broers en susters, laat Jakob egter nie toe om sy menslike plan tot uitvoer te bring nie. Jakob het alles mooi beplan, maar hy het God buite rekening gelaat. Want daardie nag konfronteer God vir Jakob met sy verlede. Konfronteer God vir Jakob met God self. Sê God vir Jakob: jou planne is goed in jou oë, maar hopeloos in my oë. Want ek is nie deel van jou plan nie.

Daarom stoei God met Jakob reg deur daardie nag by Jabbok (wat nie toevallig stryd beteken nie). En, lei ons af uit die gedeelte, Jakob het baie vinnig besef wat hier aan die gang was: dit was God wat met hom gestoei het oor sy lewe, oor sy verlede, oor al die bedrog en leuens. Hy het gou besef dat God vir hom hier eintlik wou sê: jy kan nie eintlik, Jakob, jou lewe wil gaan lewe soos jy wil en sonder My nie.

En die verrassende! Toe Jakob dit besef, het sy geveg met God iets positiefs geword. So graag wou hy, nou dat hy weer in God se teenwoordigheid was, alles met God regmaak, dat hy die man nie wou los voordat God hom geseën het nie. En God het: Jakob word Israel en Jabbok word Pniël, albei woorde wat in wese God beteken. Jakob was nou iemand wat God se naam gedra het, op plekke waar God was. Hy was nou nuut. Die verlede was uitgewis. Want God was nou deel van sy toekoms.

Daar is so baie dinge in ‘n mens se lewe, broers en susters, wat maak dat hierdie gebeure ‘n mens ruk, soos ‘n skerp mes deur jou sny, jou absoluut tot stilstand bring. Kom ek noem u ‘n paar so een of twee voorbeelde: daardie ding het gebeur, en in plaas van vergifnis, het bitterheid en wrok in my hart begin groei. Ek kan eintlik maar net die telefoon optel, ek moet eintlik maar net sê ek is jammer. Want ek weet maar te goed: dit is wat God van my en al sy ander mense vra.

Maar wat maak ek? Ek trek weg (soos Jakob). Ek ignoreer dit. Ek tob soms nog daaroor. En wanneer ek dit doen, en hoe meer ek dit doen, word dit al hoe makliker om my eie optrede te regverdig. Ek was nie so verkeerd nie. Dit was eintlik nie my skuld nie. Ek het nie alles begin nie. Ek kon eintlik nie anders optree nie. Eintlik was ek reg. En so word ek iemand wat my eie gewete meesterlik kan sus. Maar ook: iemand wat die spreke van God se Gees in my lewe dood kan dink en dood kan druk. En wanneer ek daar gekom het, is ek reg. O, so reg vir die lewe en vir alles en vir almal. Maar tragies: ‘n lewe sonder God!

‘n Tweede voorbeeld, en dit waarby ek eintlik wil uitkom vanoggend: in ‘n sekere sin begin die nuwe jaar vir ons nou eers. Die skole het begin, ons het weer begin werk, alles gaan weer sy gang. Ewe skielik is ons terug in die werklikheid. En soos dit maar is, ewe skielik besef ons dat daar so ‘n paar dingetjies is wat ons sal moet hanteer. En dan, half outomaties, begin ons om planne te maak. Dit gaan ek so hanteer. Dit sal ek so doen. Met dit gaan ek dat maak en met dat gaan ek so maak. Want ek wil dit bereik, of dat bereik, ek wil hier uitkom en nie daar uitkom nie.

Party van ons noem dit nuwejaarsvoornemens (wat natuurlik in beginsel nie verkeerd is nie). Deesdae word dit egter net makliker om sulke voornemens te maak. Dink maar aan al die sms’e wat u hierdie jaar ontvang het. Hulle sê sommer vir ons waarna ons in die nuwe jaar moet soek en streef: vreugde, hoop, liefde. Dans die lewe, gryp elke kans aan, maak tyd vir jouself. Lewe voluit. Beplan. Gebruik jou kanse. U weet waarvan ek praat.

Maar, broers en susters, is dit nie soms maar alles planne voor Jabbok nie? Is dit nie dikwels planne sonder God nie? Is dit nie dikwels maar net planne soos Jakob se aanvanklike planne nie? Ek sal so maak, want dan kan hy of sy nie anders as om te sus en te so nie. Ek sal hier so doen, want dan sal alles uitwerk. Dan sal alles my pas. Dan sal gebeur wat ek wil hê met my moet gebeur. En dan sal my jaar wonderlik wees!

Dink gerus vanoggend, broers en susters, oor wat u hierdie jaar (wil of) wou doen. Was God deel van ons planne? Is God deel van ons planne? Dikwels nie. En wat gebeur dan dikwels? God keer ons vas, daar by ons elkeen se Jabbok. En dan kan ons nie verstaan hoekom God so met ons maak nie. Soms gaan God so ver om ons mank te slaan, en dan wil ons nog nie verstaan nie.

Soms voel ons of ons pragtige, uitgewerkte lewens inmekaar tuimel. En dan ervaar ons dit negatief. Ek wil vanoggend waag om te sê dat dit soms goed is dat dit gebeur. Veral wanneer ons krisisse Jabbok-ervarings is. Ervarings is waar God eintlik met ons praat, met ons worstel oor wie ons is en wat ons is en hoe ons soms lewe en beplan.

Ek wil selfs verder gaan. Kom ons vra die Here dat Hy ons hierdie jaar nie spaar nie. Dat daar, waar dit nodig is, ons by Jabbok sal inhaal, voorkeur, gryp en met ons stoei. En dat ons dan God nie sal wil los voordat Hy ons gewys het wat Hy van ons verwag, van ons wil hê, of vir ons beplan nie.

Dan sal ons lewe ‘n monument vir God wees! Dan word ons naam verander: van sondaar na kind! Dan leer ons: om saam met God te loop is om met God te worstel. Waar ons nie kan wag vir ons volgende Jabbok-ervaring nie.

Want wanneer dit gebeur, weet ek: God het my lief, so lief, Hy kan my nie los nie. Hy wil my in sy hande vashou. Hy wil my naby Hom hou. Bid saam met my, dat God hierdie jaar met ons elkeen so sal maak!
Amen