Filippense 2:1-11

Godsdienstige sentimentaliteit



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek het die vakansie uiteindelik by 'n boek uitgekom wat ek lankal wou lees, die boek Immortality van Milan Kundera.  In sy boek maak hy 'n paar interessante opmerkings, waarvan ek een vanoggend aan die orde wil stel, naamlik dit wat hy oor die gevoel van die mens te sê het.

Ware gevoel, opregte gevoel, sê hy, is iets wat in 'n mens gebore word sonder dat jy dit wil, dit kom as 't ware vanself na vore.  Valse gevoel, daarinteen, is iets wat 'n mens wil voel, met ander woorde, wanneer ek byvoorbeeld besluit dat ek bly wil wees, dat ek wil omgee, dat ek wil hartseer wees.  En dit, sê hy, is nie gevoel nie, maar bloot nuttelose sentimentaliteit.

Em kom ek gee u dadelik twee eenvoudige voorbeelde om te verduidelik wat hy met hierdie verskil bedoel.  Neem byvoorbeeld 'n akteur wat besig is om op die verhoog die rol van koning Lear te vertolk.  Hy staan voor die gehoor ewe hartseer, met selfs trane op die wange, oor die verraad wat teenoor hom gepleeg is, maar sodra hy van die verhoog afstap, lag en gesels hy, en gaan doodgewoon aan met sy lewe.  Sy gevoel was dus eintlik geen gevoel nie, dit was vertoon, pure sentimentaliteit.

'n Tweede voorbeeld: die nuusleser op die TV lees een na die ander grusame berig oor moord, doodslag, ellende, korrupsie, of wat ook al.  Maar met geen hartseer op die gesag of enige betoning van medelye nie.  Want hy of sy mag nie, al wil hy of sy.  Want dit word van hom of haar verwag op geen emosie te toon nie.  Dit is immers die nuus wat gelees word.  Maar baie duidelik: ons sien geen ware gevoel nie, eintlik geen gevoel nie.  Want eintlik word daar toneel gespeel.

Nou wil ek vanoggend beweer, broers en susters, dat baie van ons presies net so geword het.  Ons leef in omstandighede waar vrees, hartseer, ellende, moord en korrupsie nie net voorkom nie, maar eintlik heers.  Op die TV-skerm, in die koerante, oor die radio, maar ook op straat sien ons dit elke dag.  Aanvanklik skok baie van hierdie dinge ons, maar baie gou, te gou, raak ons daaraan gewoond.

En gou begin ons maar net te maak of dit ons skok.  Ons begin toneel speel.  Want sodra die nuusberig oor een of ander aaklige ding of stuk hartseer verby is, verdamp ons skok en is daar soms baie gou feitlik geen medelye by ons te bespeur nie.

En kom ek noem maar nog 'n voorbeeld waarmee ek miskien finaal my punt kan maak: ons hoor onder die meelewing na die erediens dat een van ons medelidmate gehoor het dit is kanker, ons hoor iemand se kind het gesterf, dit raak ons, ruk en skok ons selfs.  maar net tot ons by die kerkdeur uitstap om te gaan doen wat more van my vra.

Ja, broers en susters, ons ontwikkel wat hierdie dinge betref, mettertyd iets van Hiskia se gesindheid in die tyd van Jesaja toe Jesaja vir hom kom sê het dat die Babiloniërs Jerusalem gaan verwoes en al die kinders gaan vermoor, en hy eenvoudig geantwoord het: Waarom dan nie, solank en maar net vrede en bestendigheid kan beleef.  Of ons sê net: ‘Solank dit net nie met my gebeur nie!'  En kort voor lank, broers en susters, maak ons soos die mense in Jakobus se tyd gemaak het.  Ons sê vir die wat ly en swaarkry: `Gaan heen in vrede, word warm, waor versadig', maar ons doen niks om die ellende of hartseer te verlig nie.

En tog, broers en susters, kom ons Sondag vir Sondag kerk toe en hoor ons dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.  Wat volgens die Bybel beteken dat my medemens se hartseer en vrese moet wees en word soos my hartseer en vrese.  Dat die ellende rondom ons ons moet raak asof dit ons ellende is.  Want die Christelike liefde, sê die Bybel, speel mos nie toneel nie.  Inteendeel.  Liefde wat toneel speel is vals.  Want dit is immers omdat God ons liefgehad het dat hy sy lewe in Jesus van Nasaret op die spel geplaas het en uiteindelik tussen misdadigers gesterf het.

Of kom ons stel dit anders, broers en susters: As ons Sondae kom en in die erediens met lied en gebed loof en prys omdat Hy Hom weer eens oor ons ontferm het en ons nog steeds opreg liefhet, maar afgestomp is oor die nood van hulle wat dit saam met ons hier doen, hoe opreg kan hierdie lof en dank aan God van ons wees?  Is ons godsdiens nie dan maar net sentimentele toneelspel nie?  Of nog meer: mense raak soms emosioneel tydens die erediens, van hulle sê selfs dat die preek tog so pragtig was, dat die preek hulle geraak het.  Maar hoe lank hou daardie gevoel, my broer en suster?  Miskien net tot na die vertoning.

Nou sal dit nie help, broers en susters, om terug te kom by Kundera se opmerking oor ware gevoel, dat ons nou gaan en sê of besluit: maar ek dink tog dat ek miskien hieraan skuldig is, so daarom besluit ek nou dat ek voortaan meer sal omgee.  Ek neem my voor om ernstig hieraan aandag te gee.

Hoekom nie?  Want ware Christelike reageer sonder besluit.  Dit reageer spontaan.  Dit kom as 't ware eenvoudig net na vore.  En dit, broers en susters , kan in 'n mens se lewe op net een manier waar en moontlik word: deur jou te vereenselwig met Jesus Christus.  Of, soos Filippense 2:5-8 dit stel: `Dieselfde gesindheid wat in Jesus Christus was, moet ook in julle wees.  Hy het homself verneder om 'n slaaf vir ander te word, Hy was bereid om gehoorsaam te wees, ja, selfs tot in die dood'.

Dit is die enigste manier, broers en susters, om van godsdienstige sentimentaliteit verlos te word.  Om verlos te word van geloof waarvan ware liefde en medelye eintlik nie werklik deel is nie.  'n Ware en persoonlik verhouding met Jesus Christus.  'n Verhouding met Christus waarin ons die Gees toelaat om ons minder te maak en Christus meer in ons, waarin ons die Gees toelaat om ons aan Christus gelykvormig te maak, om dieselfde gesindheid wat in Christus was ook in ons te skep en in stand te hou.

Nou weet ek maar te goed, broers en susters, dat 'n oproep in die prediking om aan Christus gelykvormig te word, om jou medemens lief te hê, om ware medelye te betoon 'n oproep is wat u al baie gehoor het.  Selfs die woorde waarin hierdie oproep verpak word, is al by ons oorbekend.  Daarom het ons selfs al vir die oproep as sodanig stomp van oor en dik van vel geword.  Maar steeds bly ons sê (en dit is terloops die groot stuk hartseer van alles): nee man, ons is mos Christene.  Ons kom tog kerk toe, ons lees tog die Bybel.  Ons glo tog mos.  Maar kom ons vra maar vanoggend, broers en susters, ons elkeen self baie eerlik af: hoe vêr dink ons, sal sulke godsdienstige sentimentaliteit ons bring?

En laat ons ook maar onthou: daar was 'n tyd in die geskiedenis van Israel toe God gesê het dat die Israeliete se eredienste, met hulle wonderlike psalms en uitgestrekte gebedshande, vir Hom 'n pyn geword het om dit te aanskou (Jes 1), en dat daar 'n tyd sal kom dat selfs die vroomste gebede van kerkgangers hulle nie meer van ondergang sal red nie (Jer 7 en 15).

Daarom, broers en susters, kom ons sê dit maar weer: daar is net manier waarop 'n mens gered kan word: deur opregte geloof in Jesus Christus, geloof wat raaksien dat God ons in Christus eerste liefgehad het, en dat hierdie liefde van God ons so aangeraak het dat ons, sonder om besluite daaroor te neem, en soms teen ons wil in, ons dring om soos Christus te leef.

Om te glo, sê Jakobus daarom, is om te doen wat Christus doen.  Sonder spontane medelye en die nimmereindigende beoefening van die Christelike liefde (wat ons by Christus sien) is godsdiens niks meer as blote sentimentaliteit nie.  Dan klink ons lofliedere tot God soos iemand wat op 'n stuk yster slaan, sê Paulus in 1 Korintiërs.  Dan is ons soos die akteur wat koning Lear met betraande oë vertolk, maar na die vertoning terukeer na 'n gewone traak-mu-nieagtige lewe.

Eintlik, broers en susters, kan ek maar hier stop.  Maar vergun my die geleentheid om vanoggend af te sluit met 'n laaste oproep, gerig tot u maar net soveel, indien nie meer, ook aan my: die nuwe jaar lê voor ons.  Nuwe jaar sê: iets is verby, en iets nuuts begin.  Vir ons dan ook gewoonlik 'n tyd om bietjie te dink oor wat verby is en wat kom.

Veral om so 'n bietjie te vergelyk.  Het ek verlede jaar in my werk gevorder?  In my verhouding met my eggenoot en my kinders?  Is my finansiële posisie beter as 'n jaar gelede?  Is my probleme minder?  Hoevel van hulle het ek opgelos gekry?  Dit is mos die soort vrae wat ons vra.

Maar gaan vra vanoggend gerus ook maar die volgende vrae, broers en susters: hoe lyk dit met my verhouding met God.  het dit gevorder.  Het ek meer aan Jesus gelykvormig geword?  Het daar 'n dieper dimensie in my geloof gekom?  Of is my verhouding met God maar nog net presies dieselfde?  As ons hierdie vrae eerlik antwoord, broers en susters, sal ons miskien geskok wees, of miskien sal ons tevrede wees.

By my bly daar egter 'n paar sake spook.  Hoekom bly daar 'n gebrek aan ware meelewendheid in ons gemeente?  Hoekom bly ons aanderedienste leeg?  Hoekom kan ons nie daarin slaag om nie eers vir elke wyk een kerkraadslid te kry nie?  Is dit omdat ons te besig is?  Of omdat die lewe daarbuite so veeleisend geword het dat ons net nie meer kan nie.  Of is dit dalk omdat ons verhouding met ons Skepper niks meer is as godsdienstige sentimentaliteit nie?
Amen