Numeri 20:14-19; 21:4-9

God se ompaaie met die mens



Geliefdes van ons Here, Jesus Christus, die tema vir hierdie prediking is: God se ompaaie met die mens. Om hierdie tema beter te verstaan, wil ek graag die volgende gedeelte as teksvers uit Spreuke 20 vers 24 vir ons voorhou: “Die Here bepaal ’n mens se koers; hoe sal ’n méns weet waarheen hy moet gaan?”

Broers en susters, God se pad met sy volk is vir ons heel dikwels ’n ompad. Ja, ons kan soms nie die nut daarvan insien nie! Maar dit is nie net die volk Israel se omswerwinge wat vir ons soms duister is nie, nee ... ook ons eie lewe is soms duister en onverstaanbaar. Ons begryp dikwels niks daarvan nie! God lei ons lewe nie altyd op die pad wat die minste hindernisse en teëspoed het nie. Inteendeel, die lewenspad van die gelowige is juis die moeilike pad ... daardie lang pad ... daardie ompad! Ja, dit is dikwels daardie ompad deur die woestyn na ons eintlike bestemming toe. En dit is juis dán dat ons, net soos die volk Israel hier in die woestyn, ongeduldig raak met God. Ons wil eerder die kortpad, die maklike uitweg kies! Ons wil nie die láááng en moeisame pad volg nie. Nee, ons soek eerder die vinnigste en maklikste manier! Ons vergeet maar al te maklik dat dit juis God is wat die pad ken waarlangs Hy ons lei, en ook weet waarom Hy ons juis op hierdie pad heen lei!

Die meeste van ons ken die geskiedenis rondom die volk Israel se omswerwinge vir veertig jaar in die woestyn. Volgens ons gelese gedeelte, het die volk uiteindelik na daardie veertig jaar weer die geleentheid om die beloofde land binne te gaan. Nóú wag daar ’n mooi en rooskleurige toekoms op hulle; nóú sal hulle in hulle eie land rus en vrede kan hê! Dáár sal hulle wingerde kan plant, landerye kan bewerk, veekuddes kan laat aanteel en vir hulleself en hulle kinders kan sorg. Ja, ons kan onsself indink hoe hierdie volk na die beloofde land uitgesien het. Ons sou onsself ook kon in dink hoe haastig hulle was om hierdie land in besit te neem. Om na veertig jaar ’n eie land en eie huis te hê, het soos ’n wortel voor ’n donkie se neus geruik. Die kortste pad na Kanaän moet geneem word, want die volk is nou haastig!

Maar tog gebeur dit nie so nie. Toe die Israeliete by die land van Edom kom, weier die koning van Edom om hulle deurgang deur sy land te gee. Ten spyte van al die versekerings wat Moses hom gee, bly die koning van Edom steeds weier. Hy gaan selfs so ver as om vir Israel te dreig met oorlog as die volk dit sou waag om voet in sy land te sit. Moses besluit toe maar om eerder met ’n ompad om die landgebied van Edom te trek. Daarom moes die volk Israel nou van die Horberg af in die rigting van die Rietsee met ’n groot ompad na die suide trek. En hierdie ompad wat die volk nou moes neem om om Edom te trek, gaan deur ’n uiters onherbergsame woestynstreek. Hiervoor het die volk beslis nie kans gesien nie! En soos te wagte, begin hulle teen God en Moses murmureer. Het Israel dan nie al genoeg ontberinge in die woestyn gehad nie? Waarom moes hulle juis nou, noudat die beloofde land voor hulle lê, met ’n ompad daarheen trek? Waarom kan hulle nie deur Edom trek nie?

Gemeente, is dit nie maar tipies van ons eie lewens nie? Net as jy meen dat jy nou jou ideale bereik het, dan ... ja, dan keer die Here alles weer om. Net as die toekoms vir jou mooi en oop lê, dan word jou planne verydel! Net as die pad mooi voor jou uitstrek, dan moet jy weer die woestyn in. En die mens is oor die eeue steeds dieselfde: Elke jaar maak jy nuwe voornemens vir daardie jaar, maar hoeveel van dit kom tot ’n werklikheid of realiseer? Waarom kan my drome en ideale nie ook waar word nie, Here? Hoekom moet dit altyd voel asof my lewenspad ’n ompad is? Waarom kan jy nie maar die kortpad, die maklike pad loop nie? Ja, ons ervaar dikwels hierdie waarheid ook so in ons eie lewens. Soms lei God ons met ’n ompad weg van ons eie beloofde land af! En dan is dit juis wanneer ons begin met daardie baie “Waarom?”-vrae. Ons sou graag die maklike pad wou loop, die kort pad wou neem, maar nee ... nou moet ons al weer die lang pad, die ompad neem! Waarom, Here? Waarom?!

Kan julle die ongeduld teen God aanvoel met al hierdie “Waarom”-vrae? Kan julle hoor hoe ongeduldig raak die mens met God se manier van dinge doen? Ons lees ook in vers 4 van ons gelese gedeelte uit hoofstuk 21 dat die Israeliete ongeduldig geraak het. Nie net teen Moses nie, maar ook teen God! Hulle is nou opstandig en verwytend! Waarom kan hulle nie die Edomiete verslaan en uitwis soos hulle met al hulle vorige vyande gedoen het nie? Of nog beter: Waarom kan God nie die Edomiete se hart versag sodat sy volk deur Edom kan trek nie? Hy is tog immers die Almagtige, die God van sy volk Israel! Hy is tog daartoe in staat om sy volk die oorwinning te gee oor die Edomiete. Ons hoor egter in hierdie ongeduld van die volk iets anders. Ons hoor ook ’n tikkie kleingeloof daarin! Wie sê daar is werklik ’n beloofde land? Swerf hulle nie maar net rond soos verdwaaldes sonder heenkome nie? Gaan en kan God werklik sy belofte aan die voorvaders waar maak, of is Hy dalk te swak daarvoor?

Ja, dit is die ontsettende waarheid van ons eie ongeduld en opstandigheid teenoor God. Waarom moet ek juis nou weer in die woestyn van my eie lewe in foeter? Waarom moet ek op hierdie ompad gaan, en waarom kan ek nie maar die kortpad neem nie? Waarom help die Here my dan nie? Is dit regtig nodig dat ek so moet worstel en spartel? Ek bid tog gereeld dat die Here my moet bystaan en my moet help, maar telkens kom ek op ’n doodlooppad by Horberg uit. Dan moet ek maar gedweë omdraai, en ’n ompad volg. Waarom ... waarom?

Geliefdes van ons Here Jesus, kom ons wees nou maar eerlik met onsself. Ons sal nooit tevrede wees met wat ons het nie ... ja, al het ons die kortpad gevat sou ons tien-teen-een daarmee ook fout gevind het! Die volk is so ondankbaar dat hulle selfs begin kla oor “hierdie slegte kos” wat hulle tot dusver moes eet! Niks is nou meer goed nie! Toe die volk nie kos in die woestyn gehad het nie, gee God manna en kwartels uit die hemel. Tóé was dit goed genoeg, maar nóú ... nee, nóú is dit ewe skielik “slegte kos”! Hulle hunker terug na die vleispotte van Egipte!

Ai, hoe kan hulle tog wil terug hunker na Egipte? Ja, goed en wel, daar het hulle kos en huise gehad, daar was volop vleis en brood. Vergete is egter die wonderlike verlossing wat God vir sy volk bewerk het uit die slawerny uit; vergete is die wonder toe God die bitter waters van Mara soet gemaak het; vergete is die wonder toe God by die barre Rafidim water uit ’n rots laat vloei het. Ja, vergete is al God se ryke seëninge. En wat van ons vandag? Wel, ons en die Israeliete kon identiese tweelinge gewees het ... ons is presies dieselfde! Ja, vergete is al die goeie en wonderlike dinge wat God al vir ons gedoen het in ons lewe. En dit alles net omdat God nie nou in óns diens wil staan nie! Ons stel mos nie ’n te onredelike eis aan Hom nie! Hy kan mos al ons doodlooppaaie in kortpaaie verander! Of kan Hy nie?

O ja, Hy kan as Hy wil! Maar God weet ook wat die beste vir ons is. Hy weet wat die beste pad vir ons is om te loop, selfs al moet dit dan soms ’n ompad wees! Hy weet ook watter pad vir ons tot voordeel en watter tot nadeel sal wees. God se ompad met ons is niks anders as sy genadepad met ons nie.

Maar, broers en susters, ons moet besef dat God op hierdie genadepad met die mens, nie met Hom laat mors nie! Hy sal nie toelaat dat sy volk se opstandigheid en ongeduld ongestraf bly nie! Inteendeel, God kan nie toelaat dat die opstandigheid teen sy heilige majesteit ongestraf bly nie! Dit is ’n gruwelike sonde en God haat die sonde. Daarom straf Hy dit gewis en seker. Hy stuur giftige slange om die volk te pik, en diegene wat gepik is, het gesterf. Toe die volk hulle sonde besef, het hulle vir Moses gevra om vir hulle voorbidding by God te doen. En weer eens is dit God se genade en liefde wat sterker is as sy straf. Hy bring vir hulle uitkoms in die vorm van ’n slang wat teen ’n paal vasgemaak moet word. Elkeen wat gepik was en dan na die paal opgekyk het, sou gesond word. God sal nooit toelaat dat sy straf en oordeel die oorhand kry oor sy liefde en genade nie. God se woede en sy straf bly steeds ondergeskik aan sy liefde. Daar is egter ’n voorwaarde aan verbonde: Daar moet eers opregte berou en boetedoening by die sondaar wees, alvorens God sy straf van die mens af wegneem.

Die ompad wat van Horberg af na die Rietsee gelei het om uiteindelik by die beloofde land uit te kom, was die veilige pad, die verlossingspad. Dit was op hierdie pad wat God sy volk wou bewaar en spaar van die ellende en pyn van nog ’n oorlog met die Edomiete ... ’n oorlog waar geliefdes kon sterf. Op hierdie wyse en langs hierdie ompad red Hy sy volk van verdere seerkry en hartseer, van trane en ellende ... hulle het die afgelope veertig jaar genoeg gehad. Ja, die uitkoms is in die oog en nou wil God hulle nie deur nog verdere hartseer en pyn laat gaan nie. Dit is hierdie moeisame ompad deur die woestyn wat die volk se verlossing en uitkoms was, maar wat ook ons eie verlossing kan wees!

Nou kan julle vir my vra watter woestynpad moet ons volg? Die antwoord is eintlik eenvoudig: Dit is die pad wat Christus geloop het ... daardie pad van lyding en vervolging ... daardie smal paadjie wat lei tot in die beloofde land, die ewige lewe. Het Christus dan nie gesê dat Hy die weg en die waarheid en die lewe is nie, en dat niemand na die Vader kom nie behalwe deur Hom (vgl Joh 14:6)? Ja, dit is waar, maar ons is nou maar eenmaal so: Ons wil graag die kortpaaie van die lewe vat - daardie breë, maklike paaie - maar dit is gewoonlik daardie paaie wat deur die “Edomiete” in ons lewe versper word. Miskien kan ons vir onsself ’n pad oop baklei, maar miskien is ons dalk die een wat die knie sal moet buig voor die vyand en verslaan word! Christus het nie gesê deur Hom te volg sal rose en maanskyn wees nie. Nee, inteendeel ... om die pad van dissipelskap van Christus te loop, sal moeilik en vol gevare wees. Dit mag miskien die lang, moeisame ompad wees, maar dit is die pad waarop God ons sal bewaar, die pad waar God self die leiding sal neem, die pad wat by die kruis verbygaan, die pad wat deur Christus tot in die beloofde land gaan. En so kom ons ook veilig aan by die beloofde land, die ewige Kanaän.

Ja, God weet beslis watter pad die veiligste vir ons is, al is dit ’n ompad na ons eindbestemming toe. Ons kan op God vertrou vir sy leiding en sy versorging. En al word ons verstand deur ons sonde verduister, sodat ons nie meer so helder en duidelik God se pad met ons kan raaksien en kan begryp nie, kan ons nog met vertroue sy hand vat en Hom volg. Hoekom? Omdat God die pad ken! Hy ken dit nie net nie, nee ... Hy bepaal ook die pad. God lei ons juis met ’n besondere doel langs ons lewenspad. Langs hierdie pad ontmoet ons vir Hom in en deur Jesus Christus, en sodoende vind ons lewe sy hoogste sin en doel, naamlik die verheerliking van God.

Kom, gemeente, kom ons vertrou God met ons lewenspaaie. Ja, moenie dat ons teen die prikkels van ons eie hardkoppigheid skop nie ... moenie dat ons die toekoms ingaan met gister se probleme en laste nie ... moenie dat ons steeds vashou aan die verlede se dinge nie. Dit is veral in tye van teëspoed en ellende, met feitlik geen hoop op verwagte uitkomste en oplossings in die oë nie, dat ons toekomsvisie baie keer verduister word deur ons kortsigtigheid. Kom ons dank eerder vir God vir die ompaaie deur die woestyn van ons lewe, want ons weet dit is die regte pad tot die ewige lewe. Die mens weet immers nie watter pad hyself moet loop nie. Daarom sê ons teksvers ook: “Die Here bepaal ’n mens se koers; hoe sal ’n méns weet waarheen hy moet gaan?”

En ja, al draai ons paaie ook af van Horberg na die Rietsee toe, dan is dit steeds God se pad, en daarom ook my pad waarop ek met blydskap en met dankbaarheid móét en wíl en sál gaan. Soos Paulus in 1 Korintiërs 13 vers 12 ook sê: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”
Amen